Godsdiens / ReligionArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Luister fyn, God fluister soms deur Stephan Joubert

Ben de Klerk

Luister fyn, God fluister soms
Stephan Joubert
ISBN: 0 79630 298 7
R79.95

Stephan Joubert het ‘n deeltydse bediening by die e-kerk in die ooste van Pretoria. Deel van hierdie bediening is ‘n weeklikse oordenking wat hy per e-pos wêreldwyd beskikbaar stel. Hy het die oordenkings verwerk en gepubliseer as Luister fyn, God fluister soms. Joubert is ‘n bekende teoloog wat veral op die gebied van die Nuwe Testament betekenisvolle bydraes gelewer het. In aansluiting by sy vorige boek, Vrygespreek, vestig hy die leser se aandag op die Bybel as God se goeie nuus in ‘n omgewing waar goeie nuus verswelg word deur slegte nuus in die media.

Die skrywer wil in die meeste van die kort oordenkings gelowiges en soekendes help om fyn na God te luister. Hy sê:

Soms praat God bulderend hard. Sy woorde klink soos donderslae en gaan gepaard met stormwinde, aardbewings, verwoestende golwe en vuur. Dit vul die mensdom met groot ontsag. Die Israeliete het dit ervaar toe die Here op die berg Sinaï met Moses gepraat het. En ons het dit ervaar met die tsoenami-ramp wat derduisende lewens geëis en geboue soos papier opgefrommel het. Maar soms is God se stem so sag soos ‘n fluistering in die windstilte. Dan moet jy fyn luister om te hoor wat hy vir jou wil sê … Ongelukkig het ons so gewoond geraak aan die geraas van die wêreld om ons dat stilte vir ons ‘n bedreiging geword het.

In die kort stukkies behandel Joubert oorsigtelik meer as een Skrifgedeelte, pas dit in die konkrete situasie toe en eindig dan met ‘n kort gebed. In Vrygespreek het hy daarop gefokus om op ‘n radikale wyse die pad van genade met die leser te loop. Hy het met opset kras uitsprake oor genade gemaak, soos: “Genade is God op sy heel beste.” In Luister fyn klink dit meermale of die kort oordenkings iets hiervan weerspreek, want die skrywer is soms sterk voorskriftelik. Hy noem selfs dele daarvan les een, les twee, of stap een, ensovoorts. Die vraag ontstaan of dit geslaagd is om e-pos-oordenkings wat ‘n “gehoor” van soekende en dalk lou Christene in die oog het, net so te gebruik in ‘n publikasie wat ‘n effens ander fokusgroep in die oog het.

God stel geen voorwaardes aan genade nie, maar sy genade is so omvangryk en radikaal dat elkeen wat dit in die geloof omhels, uitdelers van God se genade word. Joubert skryf op ‘n aangrypende wyse oor die uitwerking van genade in die nuwe lewe van die kind van God. Hy sluit sy boek af deur te beklemtoon dat gelowiges van die begin tot die einde groot vreugde op God se genadepad, asook die triomf van genade, sal beleef.

Omdat Stephan Joubert ‘n fyn eksegeet is, is die hoogtepunte van hierdie boek sy verklarings van die ter sake Skrifgedeeltes. Op ‘n vars en gemaklik verstaanbare wyse gee hy, in gehoorsaamheid aan die gesag van die Skrif, nuwe perspektiewe op bekende gedeeltes.

Die boek lees maklik, want dit is geskryf in toeganklike taal. Dit is 52 verskillende oordenkings wat oor ‘n tydperk geskryf is en in die boek onder een titel uitgegee is, dus sluit al die gedeeltes nie ewe sterk by die sentrale tema aan nie en kan die indruk dalk verkry word dat die skrywer in sommige stukkies die tema op die oordenking afgeforseer het. Die taal is deurgaans vars en prikkelend, hoewel dit soms net te veel opeengestapelde beelde uit ander sfere van die samelewing bevat.

Hierdie goedversorgde boek is tegnies netjies afgerond en deurgaans prikkelend en Skrifgetrou. Dit kan aanbeveel word vir elkeen wat voel dat sy/haar diens aan die Here oppervlakkig en leweloos is. Die uitgangspunte en standpunte in die boek getuig nie alleen dat die skrywer buig voor die gesag van die Woord nie, maar ook dat hy eietyds hierdie waarheid kan oordra.




LitNet: 09 Februarie 2006

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.