Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Geen goeie daad bly ongestraf nie

Deborah Steinmair

As teaterresensent kry ek elke aand komplimentêre kaartjies vir die Ikhwezi-gemeenskapsteaterfees wat by die Baxter aan die gang is. Die plays is wild, luisterryk, lewendig. Dit gryp my aan en laat my voel ek woon in Afrika. My vriendin die wit thwasa (leerling-sangoma) is ook gaande oor die fees. Sy besluit met evangeliese drif dat haar vriende uit die Transkei ook hierdie inheemse plays moet sien. Die Baxter sê dis fine, ek kan nog ‘n handvol comps kry.

Ons trippie teater toe met regte mense is ‘n logistieke nagmerrie.

Ons begin ons evangelisasiewerk op die vryskut-tuinier, ‘n wakker gryskop met die naam van Bubaze. Terwyl hy in die grond vroetel, buk ek en die thwasa ywerig oor hom. “Do you want to come to the theatre with us, see a play, a show, almost like cinema?” Hy antwoord sonder ‘n oomblik se aarseling, onthuts soos iemand aan wie ‘n onwelvoeglike voorstel gemaak is: “No!” Na baie oorreding gaan wag hy op die stoep op die onvermydelike. Gelate soos ‘n lam ter slagting staan hy daar met sy rugsakkie.

Ons volgende slagoffers is Johnnyboy en sy ouers, Bhuti en Mama. Bhuti woon in die piepklein buitekamer van ‘n groot huis in Pinelands waar hy werk. Sy vrou, Mama, is op besoek uit die Transkei. Hul seun, Masibulele aka Johnnyboy, woon ook by hulle in die kamer terwyl hy kontrakwerk doen en geld spaar om sy huis in die Transkei klaar te bou. Mama is amper geen Engels of Afrikaans magtig nie, maar het ‘n mooi, wye teenwoordigheid.

Ons gaan haal hulle in Pinelands. By die hek vra die miesies: “Have you come to see Alexander?” Die thwasa praat, sedert haar agtmaande-verblyf in die Transkei, Engels met ‘n Xhosa/Pondo-aksent: “Nô, we kaaam forrr Bhu-ti.” Vir die onkant-gevangde oumense in die buitekamer sê sy: “Haibo, come, get up, we go for the theatre.”

Johnnyboy is witvaal van verf en pleister en moet inderhaas stort.

Ons vyfde slagoffer is Madambi, die student uit Venda wat, soos ek, ‘n loseerder in die thwasa se huis is. Alhoewel hy die fynbesnede gesig van ‘n Masai-beeswagter het, is hy witter en meer Westers as ek, met sy designer jeans, laptop en MP3-speler.

Ons bondel almal in die bakkie. Mama sit voor by die thwasa. Laasgenoemde pluk nog eers ‘n dooie krap (muti) agter uit die bakkie en slinger dit die bedding in. Die kajuit stink ten hemele. Ek klim laaste in en sit presies op die kolletjie waar die krap gelê en vrot het. Ons is laat.

By die teater draf ek vooruit om die kaartjies te gaan afhaal. Toe ek die trappe twee-twee ophardloop, hoor ek die aankondiging dat die deure vir die vertoning gaan toemaak. Ek vra hulle om twee minute te wag, storm weer uit en sien ons geselskappie stadig met die trappe opkruie.

Ons plekke is in die voorste ry. Mama verstaan nie die Engelse aanmaning om haar selfoon af te skakel nie. In ‘n emosiebelaaide moment piep ‘n sms luidkeels en herhaaldelik vanuit haar boesem. Sy vis die selfoon uit en gooi dit soos ‘n warm aartappel na Johnnyboy.

Die play is heel anders as die vorige aande. Vanaand s’n bestaan uit vyf jong meisies wat, ontdaan van die Afrika-energie van die ander vertonings, heel Westers wroeg, vol monoloë en eksistensiële angs, alles in Engels met skaars ‘n handvol Xhosa-woorde.

Ek laat my oë oor ons groepie gly. Mama lyk agterdogtig, asof sy haar staal teen ‘n aanslag. Bhuti lyk ewig vrolik-inskiklik soos die apartheidslagoffer wat hy is. Die ou man, Bubaze, lyk stoïsyns, soos iemand wat hom regmaak vir ‘n lang en vervelige kerkdiens. Johnnyboy lyk pootuit en gelate. ‘n Klein, agterdogtige glimlaggie speel om die mond van Madambi, die student uit Venda. Die thwasa lyk doodbekommerd dat haar kuddetjie nie aangegryp gaan word nie.

Die soepel meisies op die verhoog wroeg en dartel om die beurt. Hulle dra nousluitende swart rokke met halslyne wat laag afduik. Hier en daar ontsnap ‘n tietie en swaai vry op die maat van woede en verontregting. Madambi se glimlaggie word breër. Die ou man bly onverstoorbaar stoïsyns. Mama het vertrek na ‘n plek binne haarself; haar oë is glasig soos ‘n weglê-hen. Bhuti knik nou en dan amper aanmoedigend die kop. Die thwasa frons.

“It’s finished now?” vra Johnnyboy gretig toe die handeklap bedaar. Ons klouter weer in die bakkie. Die oumense gesels in Xhosa oor werk en gewone dinge, asof die ervaring nie ‘n rimpel op die oppervlak van hul dag gelaat het nie. Hulle het alreeds weer aanbeweeg. Wanneer ons hulle pols, glimlag hulle breed, diplomaties, en sê: “Nice.” Madambi het baie daarvan gehou, maar ons vermoed dit het meer om die losswaaiende borste as om die dialoog gegaan.

Al wat die ou man sê toe ons hom voor sy kamer in Gugulethu aflaai, is: “Next time you tell me before, so I can tell my daughter. She’s very cross when it’s still night and I’m not home.”



LitNet: 14 Maart 2006

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.