Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Deur 'n spieël in 'n raaisel

Deborah Steinmair

'n Gesiglose internetvriend nooi my nou die dag om te kom jol op die Eilande van Langerhans. Nou, sulke woorde is my kos. Omdat ek 'n voorkop vir nuttelose inligting het, onthou ek vaagweg dat hierdie eilandjies in die pankreas voorkom. Dit verminder g'nsins my vreugde aan die uitnodiging nie. Op die Eilande van Langerhans, verbeel ek my, kan 'n mens loslyf en langarm sakkie-sakkie, soos op ta' Mossie se boeredans. Balke toe!

Soos Kleinboer wat biltong maak van die 1933-Bybelvertaling en teksverse soos wasgoed aan die draad laat wapper, voer ek my nes uit met woorde. Kraaloog bespied ek uit die hoogte totdat iets blink my pupil vang. Die wêreldwye web is my diamantveld. Ek is 'n digger. Google is 'n sif.

Nou die dag kom ek op die woord interferometry af. Gmfff, ek is wel bekend met daardie begrip. Fokof en los my asseblief uit! Dit laat my dink aan my eksman wat by die een of ander werk 'n tegniese kursus gedoen en onder andere 'n sertifikaat in Faultfinding ontvang het. I rest my case.

Interferometry het te doen met hologramme, nog 'n skim wat my lankal fassineer. 'n Hologram, het ek my weer gaan vergewis, is 'n beeld of projeksie wat, anders as 'n foto, driedimensioneel is, dit wil sê 'n mens kan óm dit beweeg en 'n voorwerp agter die hologram ook waarneem.

Op die webbladsy oor hologramme vang nog 'n paar gelaaide terme my oog. HUD of Heads Up Display klink soos my ma se dringende vermaning toe ek as verskimmelde tiener skielik Dolly Parton-proporsies aangeneem, my blaaie gekrom en my ken laat sak het om te kompenseer. HUD word deur loodse gebruik: 'n deurskynende hologram van die paneelbord word op die voorruit van die vliegtuig geprojekteer sodat hulle nie hul koppe hoef te laat sak om die kontroles dop te hou nie, maar hul oë op die aanloopbaan hou en terselfdertyd die paneelbord, wat lyk asof dit vlak voor die ruit rondsweef, dophou.

Nog 'n term wat uit die hologram-webbladsy in my oog spring, is Planes of Bragg: "These interference fringes are called Bragg planes, and actually go all the way through the medium, but are visible to our eye only where they meet the surface."

Bragg Planes klink vir my soos 'n vliegtuigrit waarop 'n mens langs 'n trotse ouma met 'n beursie of album vol foto's van haar kleinkinders beland.

Ek is bly om te lees dat die wetenskap besig is om die wetenskapsfiksie in te haal. Een van die dinge waaraan hulle werk, is 'n hologram wat 'n mens ook kan voel, waarteen 'n mens kan aanstoot. Dit behoort goeie nuus vir die porn- en seksspeeldingbedryf te wees. Uiteindelik behoort die beelde te kan praat ook. "Pasmaats" en "By die opsitkers" sal so ook uitgefaseer kan word.

Die volgende paragraaf, wat ek nie eens gaan probeer vertaal nie, het my kop laat sing soos 'n woer-woer:

In contrast to the virtual image, an image that light has actually passed through is called a real image. The difference between the real image and the virtual image is that the real image can be caught on a screen placed in its plane without additional lenses. The real image is used in the two-step process which really is a hologram of a hologram. The real image is focused just in front of the recorded filmplate and so a reflection hologram can be produced.
Benewens die regte ding is daar, lyk dit my, ook 'n beeld daarvan en 'n beeld van die beeld. Daar is dus 'n virtuele beeld en 'n regte-egte beeld wat nog steeds nie die ware jakob is nie. 'n Hologram van 'n hologram. My kop haak ligweg uit en swalk op sy atlaswerwel.

Nog 'n idee wat my katswink slaan, is dié van holographic video conferencing. Dat 'n mens in jou kantoor kan sit, en opeens val die een muur weg en jy sien 'n raadsaal met 'n klomp mense wat om 'n tafel sit. Een van die mense is jyself! Dit herinner my aan 'n boek van die Japannees Haruki Marukami, waar 'n vrou 'n senu-ineenstorting kry nadat sy een aand by haar venster uitkyk en voor haar woonstel 'n Ferris Wheel in 'n park sien. In een van die koetse sien sy haarself, in vurige omhelsing met 'n vreemde man. Fiksie is ook nie meer so vreemd nie.

Die oplees oor hologramme herinner my aan my ou vriend, die hiperaktiewe ballerino in my ooghoek. Is daar nog mense op aarde wat aan hierdie sindroom ly? Van kleins af dans 'n deursigtige hologram van 'n loslit mannetjie tussen my en die wêreld rond. Hy het 'n groot kop en latlyf wat tot allerlei kontorsies in staat is. Ek vermoed dis toe te skryf aan skade aan die retina of so iets. Hier en daar loop ek hom op TV of in boeke op die lyf. Ek dink aan die dansende baba in Ally McBeal en Delores se vliegende voorvader in Reinet Nagtegaal se boek.

Ek het al eenmaal oor foki geskryf. Miskien is die probleem dat die hologram wat voor my oë ronddans, dikwels interessanter is as die werklikheid daaragter. Oë op die regte bal, meisie!



LitNet: 29 November 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.