Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Stasies na die hemel

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

Laasnag het ek gedroom ek moet my jongste kind leer vlieg. Met flappende arms sukkel ek om hoogte te kry met die tienjarige kind op my rug. Uiteindelik besluit ek ons het 'n aanloopbaan nodig - ons moet van 'n huis se dak af wegspring. Terwyl ons (ek half vliegend en sy klouterend) teen 'n huis se muur opklim, maak een van die inwoners 'n venster oop en wil weet wat ons probeer doen. "Ignoreer ons," maan ek die bemoeisieke vrou. "Dink aan ons as voëls."

Vandag het my jongste kind (per vliegtuig) Pretoria toe gevlieg, waar sy by haar ouma en oupa woon. In 'n ander provinsie, in 'n somerreënvalgebied waar ander reëls geld. Waar mense praat van my mô en my pô en ak.

Die lewe is 'n lap. Op Engels praat 'n mens van the fabric of existence. Ja, die alledaagse is 'n verslete stuk lap wat uit tyd en ruimte geweef is. Hier en daar is 'n gat waardeur 'n mens kan ontsnap die vreemde in. Hierdie gate in die materiaal van bestaan noem ons lughawes.

'n Hawe van waar 'n mens toegang tot die wolke kry.

Diegene wat 'n kaartjie kan bekostig, kan soos Alice deur die spieël klim en voet aan wal sit in 'n parallelle heelal. 'n Heelal wat min of meer in dieselfde tyd afspeel, alhoewel 'n mens hier en daar 'n handvol ure soos kleingeld uit 'n sweterige palm verloor. 'n Mens skeur jou los van swaartekrag en klim die hoogte in. Nadat jy vir twaalf ure in die buik van 'n ystervoël gehang het, strompel jy 'n ander halfrond binne, 'n ander seisoen vol vreemde plantegroei en onverstaanbare spyskaarte. Die maan hang onderstebo: in plaas van 'n hasie sien jy nou 'n glimlaggende gesig in die volmaan.

Lughawes laat 'n mens gehawend. Dit is nou diegene wat op vaste aarde agterbly en weer hul kar moet probeer opspoor in die oorvol parkeerterrein waaraan daar ewig verbou word, 'n dagreis te voet ver.

Lughawes is vogtig soos 'n reënwoud, die lug klam en sout van gestorte trane. Soos Lot se vrou kyk die vertrekkende reisiger weer en weer oor haar skouer terug na die bedremmelde groepie wat haar kom afsien het. Die agtergeblewenes gaan lawe hul hartseer in die Spur se kroeg wat uitkyk oor die aanloopbaan.

Ek sluk met mening om 'n mondvol Amstel draught verby die knop in my keel te kry. Ek sluk 'n groot hap lug. Met my neus teen die ruit, vlak langs die tafel van 'n ordentlike gesinnetjie aan 't middagete, ontsnap 'n allemintige snik-burp oor my lippe. 'n Onbetaamlike, ontredderde moeder, 'n groot lomp voël wat nie haar kuikens bymekaar kan hou nie. Ek wonder of die kind ons deur die vliegtuigvenstertjie kan sien: haar onwennige ma en dié se vriendin wie se goue hare elke week nog 'n dreadlock bykry: 'n kaalvoet-thwassa met wit krale wat selfs in die Spur eers 'n skeutjie bier vir die voorvaders uitgiet voordat sy dit na haar lippe bring.

"Jy is so weird, Ma. Jy is die weirdste mens op aarde en ek haat dit."

Op lughawes huil 'n mens akkumulatief oor al die afskeide wat al weggekalwe het aan jou siel.

Lughawes is corny. Cardies-winkels floreer daar. Die klankbaan is beroerd. In gelaaide oomblikke, wanneer langafstandgeliefdes vir ses maande uit 'n mens se lewe wegstap, speel die CD-speler in jou kop stokou Country & Western-nommertjies soos: "I'm leaving on a jet plane" of "By the time I get to Phoenix, she'll be rising ..."

In my gunstelingkinderboek, The night swimmers van Betsy Byars, is die kinders na wie die titel verwys, se pa 'n Country & Western-sanger met die naam Shorty Anderson. Hul ma, wat ook 'n Country-sangeres was, is in 'n vliegongeluk dood. Al wat van haar oorgebly het, is 'n denimrok met fraiings en 'n sequin-kitaartjie daarop geborduur. Shorty Anderson het die trefferparade gehaal met 'n song wat hy oor haar dood geskryf het: "My baby went to heaven in a DC7".

Ja, op lughawes krakel die lug boonop met die moontlikheid van dood en terrorisme. Lughawes is stresvol soos die oog van 'n naald.

Anders as Laika, die Russiese hond wat in 'n spoetnik die ruimte in gelanseer is, het die meeste van ons 'n retoerkaartjie. Nadat ons deur 'n klein venstertjie ontsnap en die alledaagse vir 'n week of drie gefnuik het, land ons weer vanwaar ons begin het. In ons gewone lewens.

Aankoms en vertrek. Beam me up, Scotty.



LitNet: 10 Oktober 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.