Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Blik-Sim, Mr Wonderful!

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

Dis skoolvakansie en dis moeilik om by my laptop uit te kom. My laptop is oorgeneem deur 'n gemeenskap popmooi mensies in perfekte huise. My hardeskyf word bewoon deur die Sims, of People Simulator, 'n rekenaarspeletjie. My kinders sit geboë oor die muis - soos God mag hulle nie sluimer of slaap nie. Hele dorpies vol mense moet geskep, gevoer, werk toe gestuur en gelukkig gehou word op my skerm. Dit verg baie memory en groot konsentrasie.

Vanoggend het my dogtertjie 'n vloermoer gegooi, want een van haar skepsels, mev Van der Linde, was laasnag nog hoogswanger (dit vat baie moeite en tyd om hulle pregnant te kry, sê sy). Voordat my kind uiteindelik omkap en slaap, het sy die speletjie gesave, maar op onverklaarbare wyse stap mev Van der Linde vanoggend met 'n plat magie rond in gewone klere. Boonop het mnr Van der Linde sy werk verloor. En hy het juis net gister 'n promosie gekry, ook nie maklik om te bereik nie, verseker sy my. Van sekuriteitswag tot kadet in die polisie. En nou weer werkloos tuis. Sekuriteitswag was goed genoeg vir een van ons groot digters, Gertvloknel, wil ek sê, maar bedink my.

Ek wonder of die skeppers van hierdie program die speletjie dalk té lewensgetrou gemaak het. Baie kan oornag gebeur, verseker ek my woedende kind. Soos God moet ons soms toesien hoedat ons skepsels wemel van ontwerpfoute en obsternaat 'n eie koers inslaan. Beheer is 'n vervlietende illusie, dit het rekenaars my lankal geleer.

Die Sims is 'n soort gesaniteerde gemeenskap. Die mense is Barbiemooi, die strate reguit soos lineale, die gras altyd groen. Die woonbuurte lyk soos sommige van ons nuwer suburbs, soos Legoland. Boonop kan 'n mens 'n deursnitblik op die interieur van huise kry, soos 'n oopgesnyde sardienblik. Soos 'n god kan 'n mens inzoom en inmeng. Die mensies sit regop en eet by splinternuwe tafels, spring (met privaatdele geblur) in 'n borrelbad, spoedlees 'n boek of speel blikkerig klavier. Die vloerteëls en elke meubelstuk blink.

Die kind voor die skerm is, binne gereglementeerde riglyne, vry om die Sims se lewens te skep, skaaf en vorm. Op die boksie staan die volgende:

Create your Sims
Control their world
Push them to extremes
Fulfil their dreams
Or realize their fears.
My kind het in die speletjie 'n karakter met my naam en (min of meer) temperament geskep. Anders as in die regte lewe het sy vir my 'n droomman geskep. Sy naam is Mr Wonderful Smith. Hy bly tuis en pas die kinders op, kook en deel vryelik rugmasserings uit. Ook anders as in die regte lewe, is my karakter ryk en suksesvol in haar beroep. Sy het al elke denkbare promosie ingeryg.

Soms kriewel my nekhare oor hierdie voodoo wat op my uitgevoer word. Ek loop al regopper, sit statig by die tafel en eet en wonder of ek maar weer 'n tweestuk-magpakkie moet aanskaf vir die kantoor. Moet ek my hare laat groei en meer glimlag?

Jeanne Goosen sê altyd 'n mens kan nie 'n hele kilogram toffies op een slag opeet nie. Vir mense soos ek, wie se oog maar immer gevang word deur die onvanpaste, die gekantelde, die minieur noot in die triomfantelike mars, is 'n gemeenskap soos die Sims eenvoudig te sakkariensoet. Om my aandag te trek, sou die vervaardigers 'n Hillbilly Sims moes skep, of Die Zef Sims, Die Sigeunersims of Die werklose kunstenaar-Sims.

My dogtertjie is egter ook 'n gebore rebel en nonkonformis. Haar eerste held was Quasimodo. Dit het my laat wonder oor die aantrekking van die Sims. Ek het besluit dat die aantrekkingskrag reeds hierin lê: 'n mens kan gaan sit en binne konvensioneel-aanvaarde norme vir jou 'n probleemlose gesin en huisopset skep. Dit moes ons vroeër maar in ons koppe doen, met baie memory maar minder pixels.

Ek moet nou gaan - mev Van der Linde moet weer geïmpregneer word, of daar moet besluit word of die Van der Lindes maar die aanneem-roete gaan volg. My alter ego, Deborah, en haar man, Mr Wonderful Smith, moet kwaliteit-tyd saam spandeer. Sy is hoeka effens geïrriteerd en kortgebonde wanneer sy in die laat agtermiddag van haar veeleisende beroep terugkom. Op 'n Sondag moet hulle op die sitkamerbanke sit en gesels, mekaar komplimenteer en gebraaide hoender by die eetkamertafel eet.

Dit is wel, dit is wel met my siel.



LitNet: 03 Oktober 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.