Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Om vuil te word

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

My landlady skryf "Die sterre voorspel" vir 'n poniekoerant. Sy is 'n digter. My sterre het verlede Vrydag gelui:

VIS (20/2-20/3)
Jy ontdek die lewe opnuut. En opnuut. Die sirkel van die lewe voltrek hom/haarself in jou drome, jou sit en jou staan, jou liefde en jou verwesenheid. Gooi jouself in die diep, donker stroom, en klief snakkend terug na die oppervlak waar die son in duisend diamante breek. Forel van die Hel.
Ek deel met 'n paar eposvriende my jongste gevolgtrekking: as 'n mens werkloos is, raak jy onvermydelik vuil. Later skryf my landlady 'n epos oor hierdie gevolgtrekking:
en dit, liewe vriende, is presies hoekom ek transkei toe is.
en hoekom ek my jop volgende week weer opgee. die fenomenologie van beliggaming. dis ongelukkig net een sin lank, want dit praat nie klanke nie, behalwe poep en burp. om vuil te wees van die aarde - visible kisses - maak my gees oper as ... wel, as enigiets anders.
Vrydagoggend breek bewolk en blink soos 'n pêrel. Ek en my landlady, altwee semiwerkloos, laai die honde in die kar. Onderweg brand sy mpepho. Met seënbedes wuif sy die brandende plant deur die oop venster in die rigting van gestresde motoriste. Sy is 'n thwassa, of leerlingsangoma. Sy dra wit krale en stokke. Sy is kaalvoet. Haar blou oë gloei soos 'n onderwater swembadlig. Die honde bewe soos riete en uiter kermgeluide en klein krete van ekstase. Op die strand hardloop hulle snoethoogte die lagoon in waar sluwe seevoëls hulle siele uittrek.

Op die strand sien ek meer as wat my brein kan prosesseer. Daar is 'n oranje seespons wat presies soos 'n handskoen lyk en vlak daarnaas 'n regte oranje plastiekhandskoen. Wie boots vir wie na? 'n Bloesende tamatie het heelhuids uitgespoel. Op die rand van die jetty sit 'n katatoniese figuur met 'n trench-coat oor sy kop: vooroorgebuk en manies soos The Grim Reaper of The French Lieutenant's Woman. Nee, sê die strandwag, hy sit daar en Bybel lees. Ek hou maar 'n ogie oor hom.

Op pad terug, met die honde nou effens bedaar en geurig soos nat hoenders, draai ons by die een of ander suburb aan die rand van 'n industriële area in. Verwaarloosde huisies het wortel geskiet in 'n wilde moerasland vol vullis, voëls en bergiekak. Teen dié tyd is ek ook kaalvoet. Ons voetsole suig met smakgeluide aan die moerasgras vas. 'n Guerrillabende muskiete vergryp hulle aan my sappige enkels. Oral is afvalpapier en varkore. Die honde is ballerinas wat mekaar probeer pootjie aan die rand van die vuil waterstroom. Ons bondel weer die kar in en ry straatop en straataf om die argitektuur in te neem. Die hele suburb is werkloos en hang vir kwaadgeld op straathoeke rond. Daar is verflenterde honde en luierige polisie-aktiwiteit. Daar is huise wat jou hart sal breek, aangrypend, skilderagtig, boos soos Norman Bates se ma se motel.

Nou het die uitstappie in 'n volwaardige road trip ontaard. Op pad Langa toe verdwaal ons en beland in Valkenburg. Baie van die waardige geboue het leeggeloop toe befondsing opgedroog het, en 'n sigeunerbende kunshandwerkmense het dit betrek. Ons gaan loer in by 'n saaltjie waar kinders op 'n uitstappie erdwurms onder mikroskope en in borde Bourneville dark kleigrond bekyk. Daar is bokke, ponies, hoenders, skape, varke. 'n Karnaval-atmosfeer heers. Valkenburg is 'n dorpie waar die tyd stilgestaan het. Victoriaanse huise steier aan die soom van parkagtige grasperke. Daar is 'n toweragtige park.

Ons vaar die breë strate van Langa in. Hier is ook eilande tussen huise waarop mak beeste wei. "Say goodbye to shiny skin!" nodig 'n advertensiebord. Daar is baie mense op straat en hulle lyk besonder ongestres. Ons hou stil by 'n goudgeverfde silo. Dit is 'n soort handwerk-gemeenskapsentrum met bont mosaïekwerk op die mure. Daar is allerhande woorde uitgemosaïek, ja selfs Afrikaans: kuns, drama, gees, ens. Binne sit mense rustig en skep. Daar is kamers vol pottebakkers. My landlady raak in gesprek met 'n kraleman wat aanbied om haar van muti te voorsien. Ek verstaan nie die hele gesprek nie, want dis besprinkel met Xhosawoorde. As ek reg verstaan het, het hy gesê sy pa en oupa het onder uit die rivier gekom, watergeeste. Daar is 'n kamer vol ystersmede met 'n lieflike smeltoond.

Ons klief snakkend terug na die oppervlak van die dag waar die son in duisend diamante breek. Ons stem saam dat dit 'n sonde is om voltyds te werk. Ons is moeg en begeesterd. Vuil van die aarde, werkloos, oop en ekstaties.

Forel van die hel.


LitNet: 02 Augustus 2005

Klik en stuur jou geliefde 'n geskenkie

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.