Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Come home, Speedy Gonzales

Deborah Steinmair

Stadig is die nuwe vinnig. 'n Nuwe boek, In Praise of Slow, beveel 'n Zen-agtige verla-a-a-a-angsaming aan. Die klem is op kwaliteit eerder as spoed.

Nóú sê hulle my.

Ek is altyd uit pas met elke tydsgees. Ek's 'n vetgesmeerde blits. Ek haak in vyfde rat vas. In die hoek van my oog verkorrel die landskap tot kaleidoskoopkraletjies.

Nie net agter die stuur nie - alles wat ek doen word gekenmerk deur 'n bewende haas. Ek eet in die verbygaan, gebukkend oor die kombuiswasbak soos die Boggelrug van Notre Dame. Ek steek maskara in my oogappel terwyl ek op een voet staan en 'n sandaal met die ander voet probeer aantrek. By die werk sien ek dat 'n oogpotloodstreep soos 'n cheetah-traanspoor oor my wang biggel.

As ek iets aanmekaarslaan, is daar nooit tyd om die instruksies te lees nie. Wanneer alles wankelrig in een stuk is, ontdek ek 'n lewensbelangrike bout en moer onder in die boks. Ek bespeel die kitsbank soos 'n helleveeg wie se Ritalin opgeraak het; ek tokkel hom soos 'n eenarm-bandiet, soos 'n spykertafel, zap-zap-zap pliennnnkkk. Toe ek nog eksamens moes aflê, het ek myself nooit die tyd gegun om die vrae te lees nie, net 'n woord of twee, 'n blitsige aanname, 'n blinde raaiskoot.

Verhoudings werk nie vir my nie, omdat geliefdes hulle nie laat aanjaag nie. Ek en 'n man het eenkeer hand aan hand deur 'n goue agtermiddag gestap. Die voëltjies het tjilpend neswaarts begin keer. Die skaduwees was lank en lui. Skielik skrik ek vir die moorddadige geroggel van 'n groot hond agter 'n heining. Eensklaps bevind ons ons drie treë verder. Sy arm is uit die potjie geruk. Ons kyk oor ons skouers na waar ons 'n oomblik gelede was. Daar staan sy flipflops nog in gelid en wag. Nou hou ek maar my hande vir myself. Toe my arme kinders begin loop het, het hulle net hier en daar grondgevat. Hulle het lang arms. Huiwerende, hakkelende kindervragies wat in die lug wou hang, het ek summier kortgeknip en beantwoord. Oor en uit.

My niggie was met 'n skilpad getroud. Hy is intussen onder raaiselagtige omstandighede dood (die dossier is vyf jaar later nog nie gesluit nie). Hy was die soort man wat daarop aangedring het om alle sogenaamde manswerkies self te doen. As ons die slag braai, begin hy teen nege-uur die aand die sak houtskool oopmaak. Die oopmaak van die sak duur vyftien minute. Om hom dop te hou, was soos om 'n fliek in slo-mo te kyk. Ek het later grondboontjiebotter in die kombuis gaan eet en 'n bietjie in die gastekamer gaan huil. Mense wat stadig is, dryf my tot trane. (Ek wil net noem dat ek 'n waterdigte alibi vir die tyd van sy dood het.)

My eksman het geglo dis tydmors om betyds op te daag. Ek wonder of hy weet hoe naby my duime so dikwels aan sy strot was. In my gunsteling Roald Dahl-verhaal los 'n vrou haar moedswillige laatkommerman in die vasgehaakte hysbak van hul verlate mansion en gaan op vakansie. Sy bly my rolmodel.

Vandag leef ek alleen en voltrek in vrede my sinnelose rituele. Staan douvoordag op, glip deur die bad, trek aan en grimeer blitsig, sluk iets af vir ontbyt en lê dan vir 'n uur of wat rond en dink. Ek daag 'n halfuur vroeg by enige bestemming op en kry my hartklop in pas met die ambience.

Waarheen haas ek? Na die oomblik wanneer ek op die bank kan gaan lê en my neus in 'n boek begrawe. Die oomblik wanneer tyd oplos. Dis waarheen ek haas.



LitNet: 10 Februarie 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.