Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die hart is eensaam en jagser

Deborah Steinmair

Laasnag het ek gedroom ek en Kleinboer is getroud. Die toneel was so knus en disfunksioneel. Hy is op sy knieë besig om die badrand met Handy Andy te skrop. Ek staan voor die badkamerkassie en sien sonder verbasing in die spieël dat ek amper heeltemal bles geword het, so 'n blink pankop met yl hare om die rand. "Ek weet nie of ek jou loving arms kan bied nie," sê ek vir Kleinboer terwyl ek 'n comb-over oefen met die lang slierte bokant my ore. "Ek is ook maar rof. En afwesig." Kleinboer luister nie juis aandagtig nie. Hy loer na sy polshorlosie (sy voorarm nie besonder gespierd nie, ten spyte van al die baddens skrop). Hy is ongeduldig om sjebien toe te gaan. Ha, dink ek in die droom: sy volgende boek gaan in Zoeloe wees, sodat ek in die duister moet bly oor sy avonture.

Dis amper weer Februarie. Cardies, Cadbury, Interflora, Hallmark en American Swiss se boerpotmaand. Weet jy watter liefdesverhale het my nog altyd aangegryp? Die onmoontlikes, die verregaandes, die gedoemdes. Die sywurm wat op 'n moerbeiblaar verlief raak. Die leeuwyfie wat ek onlangs op TV gesien het wat 'n bababokkie ontvoer en aangeneem het. Sy het hom liefdevol aangestaar terwyl hulle al twee stadig besig was om dood te gaan van die honger. Dan was daar ook 'n seekoeiwesie wat op 'n groot skilpad gefikseer het.

Het u geweet (Chappie-papiertjie-oomblik)? Wat ook al die eerste ding is wat 'n eendjie sien nadat sy uit die dop kom, dié glo sy vas is haar ma. Praat van jou ouma vir 'n eendvoël aansien! Ek dink die eerste ding wat ek gesien het toe ek uit een of ander dop sukkel, was Leonard Cohen. En ja, dan is daar 'n sekere hopelose Kleinboer-fiksasie. Dink net: ons twee sou mekaar op voorheen ongekende maniere kon verwond. Ek sou 'n gewigsvoordeel hê, hy kan beter spel.

Ek is 'n veteraan van die slagveld van die hart. Terwyl ek hier sit en tik, swymel die TV in die agtergrond oor 'n polis genaamd Lasting Dignity Plan. Helaas te laat, in my geval. Vir enigiets om blywend te wees, moes dit in die eerste plek bestaan het.

Baie van die slagvelde in my hart is fiktief. Ek het van altyd af 'n ding oor skrywers en digters. (Toemaar, ek sal nie nog drome oorvertel nie.) Die herhalende Cohen-droom hoort nie op 'n webwerf waartoe kinders toegang het nie. Ook nie die buigsame Joan Hambidge-een wat nou en dan deurglip nie. Ook nie die rowwe Roof Bezuidenhout-een sedert ek op SêNet gelees het dat hy die selferkende soenkoning van die heelal is nie. ('n Mens kan ver kom met 'n insomniak wat 'n talentvolle soener is.) Ek bewaar maar die swye oor my Etienne van Heerden-hunkering en hoop die kikoejoe sal dit toegroei. En as Toast Coetzer se oë warm roosterbrood was, was my hart botter.

As 'n ligte, ironiese kniebuiging aan die Valentynsmaand het ek 'n lysie opgestel van gedoemde en halfwaarskynlike Afrikaanse literêre affêres:

  • Kleinboer en Poppie Nongena (en Mabalel en Amakeia en Sarafina en Agaat)
  • Die gevalle Zoeloe indoena en Lina Spies (fatale attraksie)
  • Arnoldus Pannevis en Ina Paarman
  • Vincent Oliphant en Dalene Matthee
  • Stef Bos en Dalene Matthee
  • Emsie Schoeman en Nataniël
  • Die Skim en Karel Schoeman
  • Vaselinetjie en Fiela se kind
  • Holden Caulfield en Jackie Nagtegaal
  • Sy wat met die sekelmaan gekom het en Gert Vlok Nel
  • Niggie en Boerneef
  • Tryna du Toit en Oom Lokomotief
  • Leipoldt en Trompie
  • Evita Bezuidenhout en Die Ambassadeur
  • Mark Behr en dr Serfontein van Keurboslaan
  • Boetman en die Bleek Klein Bet.

Dan is daar 'n volgende faksie: skrywers en medeskrywers, of skrywers en karakters, wat al die jare in die geheim getroud was:

  • Bart en Ronel Nel
  • Karel en Emsie Schoeman
  • Alexander en Alexa Strachan
  • Andries en Evita Bezuidenhout
  • Dr Andrew en Ena Murray
  • Doktor en Dot Serfontein
  • Reynaard en Annesu de Vos
  • Anton en Jeanne Goosen
  • Steve en Laurinda Hofmeyr
  • Dolf en Marlene van Niekerk
  • Eugène en Sarie Marais.
Ek en Leonard sluit af met 'n hipnotiese duet: "Everybody wants a box of chocolates and a long-stemmed rose …"



LitNet: 26 Januarie 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.