Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Maak plek in die middel van die kombers

Deborah Steinmair

Groepsdruk. Toe ek baie jonk was, het dit by my verbygegaan. Ek was nooit eers seker wie my groep is nie. Sekere woorde bestaan net nie in Afrikaans nie. My ma het in Swaziland grootgeword en slaan in die helfte van 'n sin oor na Engels, veral as sy vloek en skel. My pa se familie slaap in die helde-akker in Pretoria, waar strate na hulle vernoem is. Hy praat 'n versigtige Afrikaans. Wat is peer in Afrikaans? Groep, gelyke, wat? Op hoërskool het ek, virginaal, sober en presterend, saam met die rokers, drinkers, fornikeerders en onderpresteerders uitgehang. My "peers" het ek in die sewentigs en tagtigs van die twintigste eeu (met jeugdige arrogansie) in die stemme van skrywers herken. Ek het nooit gedroom ek sou in die volgende millennium saam met hulle wyn drink nie.

Dit het so begin: my eerste ernstige kennismaking met alkohol was op 'n kanoklub-braai op universiteit. Daar was minder dames as mans in die kanoklub. Die paar dames wat daar was, was meestal lenig, blond en aanvallig op 'n joolkoningin-manier. As ek deur ou foto's kyk, was ek self nie onaansienlik nie, soort van 'n fraai gesiggie en fraai lyfie, maar beslis nie blond en blink genoeg nie. Daardie aand het ons groepie op 'n groot kombers langs die Mooirivier gesit. Soos dit maar gaan, het die mooiste meisies in die middel van die kombers gesit, met die mans rondom hulle en vaalmuise soos ek aan die buitewyke van die kombers, met een boud op die koue gras en die mans se rûe op my gekeer. Aan die rand van die kombers het ek stilweg aan die drink gegaan en gaandeweg dringend bewus geword van my inherente briljante sjarme en begeerlikheid. Ek het keel skoongemaak en my nuutgevonde spitsvondigheid getoets. Inderdaad. Nes ek gedink het. Luide gelag het opgegaan en party van die mans het oor hul skouers na my begin loer terwyl die joolkoninginne in die middel van die kombers beginne frons. Met elke kwinkslag het ek 'n halwe boud nader aan die middel van die kombers geskuif totdat ek 'n joolkoningin of twee weggeskouer en die geselskap aan my voete gehad het. A, alkohol, alkohol, formidabele vriend van skames en vales!

Ek was alyd 'n late bloomer. My pynlike puberteit het laat aangebreek en anderhalf dekade geduur. Nou, uiteindelik, voel dit vir my asof ek besig is om boudjie vir boudjie nader aan die middel van die kombers te beweeg. Hier kom ek! Soos 'n vaal bibliotekaresse in 'n Anita Brookner-roman in haar binneste geskree het: "LOOK AT ME!"

Met die jare word ek minder sinies. Drome, lyk dit my, word waar. Of miskien was drome in die eerste plek maar spesmase: 'n vae intuïsie van wat, met 'n groot gespook, dalk moontlik mag wees.

Ek wou altyd in die Kaap woon. O Moederstad, Beloofde Land, hartland van skrywers en boeke! Van die vale Gauteng af, met 'n draai in die Weskus en 'n blaaskans in die Bos, het ek op my boude nadergeseil na die middel van die kombers. En hier is ek nou gesetel in 'n woonstel in Vredehoek, waar die wrede wind heeldag waai, teen die hange van Tafelberg, digby die drie Tampax-torings. Deur my slaapkamervenster kan ek 'n driehoekie Atlantiese Oseaan sien. O die vrolike, o die salige!

Wie weet of ek dit in my het om tot in die middel van die kombers te vorder? Waarskynlik is ek 'n voordoener (wat is tog die Afrikaanse woord vir impostor?) en sal iemand my eerlank op die skouer tik en terugstuur na die buitewyke van die kombers. Ons sal maar sien. Maar soos Rod Stewart is ek besig om te seil. Maak plek, maak plek!

Ns: My gunsteling banieropskrif van alle tye het ek dié Desember van 'n lamppaal in Pretoria gesteel. Dit het my amper in die lamppaal laat vasry. Dis 'n Beeld-kop wat stof in die oë van Die Burger en Son skop. Dit pryk nou teen my yskas: VROUE BAKLEI OOR POP MET PENIS. Hiert, voorspoedige nuwe jaar!



LitNet: 14 Januarie 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.