Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fanus Rautenbach

Hallo daar!

Fanus Rautenbach

Die kind het 'n naam gekry: Umfaanus! Só het ons rubriekers in die stemming vir 'n naam vir hierdie rubriek beslis. Die persoon verantwoordelik vir die naam en wenner van die dubbel CD 'n Hele Opvoering is Renier de Villiers. Annalize Oosthuizen se naam het uit die hoed gekom met die trekking vir almal wat gestem het. 'n Eksemplaar van die CD is ook oppad na haar toe. Hierdie is almal wat lus het om saam te speel se rubriek. Rubriekers kan saam klets, vertel, nuwe woorde skep en humor deel. Kom rubriek in die rubriek sonder brieke by pietc@sybaweb.co.za. Daar is reeds 'n mooi klompie rubriekers wat saam brieklosmaak. Aanstaande week kry ons ook 'n nuwe mashoof vir die nuwe naam.

Eers het die haaie besoekers aan Kaapstad se strande die skrik op die lyf gejaag. Nou is hulle tweebenige familie ook teen die hange van Tafelberg doenig. Gister word berig dat stappers aangeraai word om nie teen die hellings van die berg te gaan stap nie, want … "verskeie stappers het hulle al daar teen misdadigers vasgeloop."

Tossel sê: My pa het 'n ooreenkoms met die haaie: Hy bly uit die water en hulle kom nie in die kroeg nie!

*****

Ons leef in 'n vreemde wêreld, oom Thabo!

Daar is verlede Saterdag in Umhlanga 'n herdenkingsdaggapartytjie gehou deur die nakomelinge van die lede van die eerste Suid-Afrikaanse suikerrietwerkersvereniging. Suid-Afrikaanse Indiërs het vertel onder watter omstandighede hulle gewerk het. Daar was ook baie pret. Mnr Maharaj Gringwa, 'n man wat deesdae twee groot suikerrietplantasies besit, het vertel van sy oupa wat as suikkerrietwerker een keer per maand besoek van 'n lid van die SAP ontvang het:

"Naam ... Maharaj …
"Van ... Gringwa …
"Waar werk jy? Wie is jou werkgewer ... ens"

Dan word 'n tabaksakkie vol dagga ewe plegtig aan hom oorhandig. Dit was sy rantsoen van die maand en sy krag vir die dag. Elke oggend, voor werk, soms om drie-uur soggens het elke werker vir hom 'n zol gerol, en het hy eers 'n dampie geslaan voordat hy gaan werk het. (Ja, hoe ouer hulle geword het, hoe vroeër het hulle opgestaan!)

Daar was die nie 'n dopstelsel nie, maar 'n zol- of dalk skopstelsel. Dit laat my ook dink aan 'n ryk vriend van my wat oor sommige van die sosiale gewoontes van party kennisse vertel hy het hoë vriende in kringe!

Maharaj sê dat hulle die dagga vir g'n geld te wêreld sou verkoop nie. Dagga, ook bekend as die Indiese hennep en marijuana, is nie vernoem na Maharaj of andersom nie.

*****

Minstens een briefskrywer het in Die Burger na aanleiding van die geurtjie daar by die KWV 'n voorval uit die Flinkveria-dae onthou. Buks Venter, Paarl, skryf:

Die hoofberig 'Geurskande tref KWV' (DB 7/12) herinner my dat die man wat deesdae 'n rubriek op LiNet behartig, Fanus Rautenbach, op die radioprgram, Flink uit die vere, die liedjie gespeel het. Nou eers hoor ek dat Fanus dit nie net gespeel het nie, maar self geskryf het. Dit is op die wysie van "Die Bok Se Klok" en is gesing deur die bekende sportkommentator, Joe Venter.

Ekke isse ou Marthinus
Ek hette die maat
Ons het mos saam
Daar by Duitswes gepraat
Ons klim by die water
Dit is nie so mooi
Wie het die gif by die koffie gegooi?
Wie maak die koffie
Wie is die kok
Wie het die koffie
So lekker laat skop?

Destyds het almal gewonder wie brandewyn by Carpio se koffie gegooi het, maar 'n vorige bestuurder van Volkskas, Paarl, het 'n afdruk van 'n tjek vir vyftig dollar … en daar is vir die hele bedrag KWV-brandewyn gekoop. Dis 'n klomp skop!

Daai KWV-koffie moes 'n vreeslike indruk op die VVO gemaak het, want vandag is Koffie Kan die baas daar!

*****

Nadat hy in Februarie vanjaar uit die Rondevlei-natuurreservaat ontsnap het, is 'n jong seekoei bul uiteindelik hierdie week in Zeekoevlei by Kaapstad aangekeer. "Dit het 'n groot span, ses verdowingspyle, 'n vragmotor en 'n jagtog deur digte riete, water en weer gekos om hom te vang," word berig.

Dis een ding om 'n bul 'n koei te noem, maar om jou agterent as 'n veepyltjiebord aangesien te kry, is darem te erg!

*****

Praat van skop. Moenie hierdie berig lees as jy nog nie ontbyt geëet het nie.

'n 33-jarige vrou van Peru is in hegtenis geneem nadat sy Maandag op 'n vlug van Buenos Aires af in Kaapstad geland het. Die polisie het beslag gelê op die grootste hoeveelheid kokaïene wat nog op een slag in 'n mens se maag deur die Kaapstadse lughawe binnegesmokkel is. Sy het die kokaïne in kondome versteek, en ingesluk - 155 kapsules. Dis nou 'n klomp hoenderkopbabas. Sy is lakseermiddels ingegee. Teen eergistermiddag, na sowat 60 uur in die kleinhuisie, is nog net 153 kapsules herwin. Sien julle nou - kondome werk nie altyd nie, want sy het nie verwag om gevang te word nie en toe is sy in tamatiestraat!

*****

Die wolprys styg … die wolprys daal … die rand is te hoog, die rand is te laag … die wolprys styg, die wolprys daal, die dollar is te laag.

Maandag het ons vertel waar die uitdrukking wolhaarstories se oorsprong lê. Jy kan jou miskien nie voorstel waaroor daar alles in die ou dae tydens so 'n wolskeerdery gesels is nie. Nou moet jy skaap na skaap met die hand afskeer … en met jou medeskeerders gesels. Die skaapskeerders het skaapwol geskeer … die bokskeerders bokhaar.

Hul stories het seker nie ooreengekom nie. Jy het wolstories gekry. Jy het haarstories gekry. Die een het met die ander meegeding. So het jy wolhaarstories gekry. Daarom is 'n waarwolhaarstorie so 'n mooi vertaling van Urban Legend.

Hier is 'n storie wat vir die waarheid vertel word, want dit is waar! 'n Waarwolhaarstorie. Lank voor TV, en net voor Gerhard Viviers, was daar 'n sportkommentator by die Afrikaanse Radio, Awie Labuschagne. Van die ouer luisteraars sal hom onthou as die rugbykommentator wat Nieu-Seeland toe is, daar 'n hartaanval gekry het, en waar Jan van der Merwe sommer die mikrofoon gegryp het en beginne rugby uitsaai het. Net soos Morkel van Tonder een aand vir Toweel laat wen het, het Jan van der Merwe daardie dag darem die Bokke baie bevoordeel. Dit net terloops.

Awie Labuschagne kom toe terug en hy besluit om verder te studeer. Hy kry sy doktorsgraad by The University of London … en wel in International Law. Hy beveel 'n klompie van ons jong omroepers om hom te help om sy tesis te bind. Daar was veertien eksemplare … ek sien nou nog hoe ons dit op die vloer in sy kantoor uitpak. Dit is gebind en Awie Labuschagne word dr AB Labuschagne … spreek uit Labusjaan!

Ek kan getuig van daardie wolhaarstorie, want ek was daar by die geboorte … dis die heilige waarheid …dis 'n waarwolhaarstorie!

*****

Nog ene van Awie ... Een van daardie selfde jong omroepers wat die tesis gebind het, sê vir Doktor Labusjaan dat hy dringend in Durban moet kom. Awie aan die woord: "Weet jy wat jy moet doen? Gaan staan langs die pad … en gooi duim … nie lank nie of 'n ryk boer in 'n swart kar sal jou oplaai. Hy sal tot by sy plaas ry, vra of jy nie ietsie wil eet nie. Hy sal jou binnenooi, en jou jou kamer wys.

'Jy kan solank gaan stort, ek gaan kyk of Maria vir ons kos het …' Nadat jy gestort en julle geëet het, sal die boer sê: 'Haai, dis so laat al, hoekom slaap jy nie maar hier vanaand nie, dan vat ek jou môre deur.'"

"Het dit met jou gebeur, Doktor?" vra die jong omroeper.

"Nee, nie met my persoonlik nie, maar met my suster … drie keer!"

*****

Klein Schalkie was al vyf en het nog nie een woord in sy hele jong lewe gepraat nie. Dit was baie droog en hy het elke dag by die boor deurgebring, waar niemand hom gepla het nie.

Toe op 'n dag storm hy die kombuis binne en skree:"Water! Water!" En hy sleep sy laggende mammie aan haar voorskoot boorgat toe. "Kyk, water!"

"My seun! Schalkie, my liefling, jy kan praat! hoekom het jy nog nooit voorheen gepraat nie? Schalkie lag:"Ek het nog nooit iets gehad om te sê nie !"

*****

Hier is nog 'n paar beroepskleure:

Die kroegman is wynrooi;
Die visserman is seegroen;
Die mynbaas is goudgeel; en
Die stoker is asvaal.

*****

Toe besluit die bekende Madame Tussaud-museum in Londen om met hulle wasbeelde van bekendes 'n Kersuitstalling te maak. Met David Beckham en sy reputasie in die rol van Josef kan 'n mens nog verstaan dat hulle sy vrou Victoria daarvan verdink dat sy 'n maagd is. Maar Tony Blair, George W Bush en prins Philip wyse manne?!

Groetnis

Fanus



LitNet: 10 Desember 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.