Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
My place
Saartjie Botha Saartjie Botha is a playwright and theatre impresario. She has won great praise as a playwright, particularly for Spanner, Die Goue Seun and 1975. As a producer she has tackled productions like Peter Verhelst's Aars!, Tom Lanoye's Mamma Medea and Astor Piazzolla's tango operita Maria de Buenos Aires under the banner of the production company Vleis, Rys & Aartappels. She is also involved with community theatre on wine farms in the Boland. She managed a coffeeshop before going into full-time theatre work in 2001. The establishment of a permanent theatre company is her next goal. She lives in Cape Town.
"En nou is ek verby 30, verby my onbesonne jeug. My huisraad is amper drie jaar al in storage, my boeke in ‘n vriendin se huis, my skilderye in my suster s’n. Iemand het my bank geleen, maar ek weet nie meer wie nie, sal dit seker nooit terugkry nie, wil dit ook nie regtig terughê nie. Wat ek wil hê, weet ek nie. Ambivalensie is so onderskatte state om in te wees."
"And now I'm over 30, beyond my wild youth. My furniture has been in storage for almost three years, my books at a friend's house, my paintings at my sister's. Someone borrowed my couch, but I can't remember who, will probably never get it back, don't really want it back. I don't know what it is that I do want. Ambivalence is such an underrated state to be in."

Ek soek 'n plek

Saartjie Botha

Also available as: I'm looking for a place

Ek soek 'n plek. Om te koop. Om in te bly en bly te wees oor. So soort plek. (Om 'n plek te verloor moes jy dit eers gehad het.)

Die woonstel waar ek nou bly, is nie myne nie. Die eienaar klim berg in Rusland; vermoedelik is hy besig om van sy vrou te skei - dis die storie wat ek hoor. In elk geval.

See view dié kant, sokkervelde daai kant. Dié kant hoor jy see, daai kant verkeer. In die gang hoor jy beide. Dis nooit stil nie. Monsteragtige mansions weerskante van die beskeie blok. Vakansiegangers en Jode 50/50 wat die mansions bewoon. Voor en na werk 'n toestroming van mense, hier na dié kant van die land, asof hulle wil vlug en nie verder kan nie, verbete die kuslyn patrolleer vir opsies weg. Fikses wat draf, kinders op fietse en rollerblades, ou mense in rolstoele wat deur verpleegsters gestoot word. Honde. Almal on the move. Die essensie van die plek lê in die beweging: die oseaan, die karre, die mense.

Ek bly al langer as 'n jaar hier. Voor dit, 18 maande in 'n obskure hotel. Voor dit, tien jaar lank in spierwit, stagnante Stellenbosch. Voor dit was dit die Vrystaat. Dit sou my plek kon wees, die Vrystaat, die erwe van my vader, maar ek wil nie daar bly nie. Om daarna te hunker het meer bekoring, besoeke verskaf meer plesier.

Dis veilig waar ek bly. Eenkeer het ek my beursie op my kar se dashbord vergeet en 24 uur later was al die vensters heel, die beursie steeds daar. (Die garage is so vol junk van my en ander dat ek nie daar kan parkeer nie.) Dis ook gerieflik naby die snelweg. (My tyd is glad nie myne nie.) Veral is dit bekostigbaar, die klein beskeie blok tussen die mansions, en dit reflekteer in die inwoners, die bekostigbaarheid: oud en jonk, wit, bruin, swart, gay, enkelouer. My ma dink dis psigologies sleg om so in die lug te bly; mens moet grond onder jou voete hê, glo sy.

Onder my bly Mrs Barrett. Sy woon al 18 jaar in haar woonstel. Haar naam is Cynthia en hoewel sy haarself so voorstel, noem niemand haar so nie. Mrs Barrett en haar stokou poedel stap gereeld stadig om die een sokkerveld. Mrs Barrett is ook oud, maar nie so oud soos die hondjie nie. Die hondjie is 14. Ek kry hulle gereeld in die hysbak en weet nooit waaroor om te gesels nie. Dan vra ek maar hoe oud is die hondjie, besef te laat dat ek dit altyd vra. Dan sê sy 14 en dan kyk ons albei af. Ou hondjie, Mrs Barrett se stapskoene, haar bene pofferig van waterretensie en bultende are, sien ek. Sien sy my vuil skoene, of net die hondjie wat haar lewe is? wonder ek. Daar was eers twee hondjies, maar êrens in die winter het die een die gees gegee. Ek het nog nie die moed gehad om te vra wat met die tweede hondjie gebeur het nie.

Mrs Barrett is die voorsitter van die body corporate. Sy los gereeld handgeskrewe blou koki-notas in die hysbak met vermanings oor vullissakke en parkering.

Mrs Barrett het 'n vriendin wat soms kom kuier. Sy ry met 'n blou BMW en noem Mrs Barrett "Barry". Mrs Barrett se vriendin het 'n baie welluidende stem. Die aanspreekvorm geval Mrs Barrett, dink ek, want sy glimlag effens wanneer haar vriendin haar so noem. (Dit kan ook uit verleentheid wees.)

Eenkeer was Mrs Barrett se kar stukkend en het sy my gevra om haar in die stad af te laai. Die aand het sy kom dankie sê met 'n bord gekookte kos (aartappels, pampoen, rys, vleis en tamatie-en-uie-slaai.) Alles het soos mekaar gesmaak. As ek in die aande in die hysbak by Mrs Barrett se vloer verby ry, ruik ek aartappels, pampoen, rys, vleis en tamatie-en-uie alles in een.

Bokant my het 'n man gebly wat nooit met niemand gepraat het nie. Verlede jaar het hy homself een nag uit sy woonstel gesluit en probeer om van die dak af by 'n oop venster in te klim. Hy het sy balans verloor en homself dood geval, agt verdiepings ver. Hy moes reg voor my venster verbygeval het, en ek was waarskynlik wakker, maar het niks gesien nie, ook niks gehoor nie. Julius, die opsigter, het hom eers vroeg die volgende oggend gekry. Niemand van ons het geweet wat sy naam is nie, en Mrs Barrett was te geskok om te onthou. Ek weet nie meer hoe ons geweet het dat hy by die venster wou inklim nie, en hoekom ons nie gedink het dat hy maar net gespring het nie. Ek wonder baie waarom hy nie gegil het nie, hoe vinnig hy by my verbygeval het en hoe dit moes geklink het toe hy die sement tref. Ek weet steeds nie wat sy naam was nie.

Sy woonstel het 'n ruk lank oopgestaan voor 'n jong couple aan die begin van die jaar ingetrek het. Ek het eers toe besef hoe stil die man was wat hom doodgeval het, hoe min hy in sy woonstel beweeg het, nooit geluide van lewe gemaak het nie.

Die jong couple is 'n paar naweke gelede een nag in die woonstel at gunpoint aangehou; blykbaar het die rowers toegang gekry deur van die dak af by 'n oop venster in te klim. Sedertdien is die sekuriteit by die blok opgeknap en is daar baie blou Mrs Barrett-notas met nuwe reëls oor buzzing en remote gebruik in die hysbak.

Daar bly 14 bergies op die sokkerveld. Oor naweke is hulle 17. In die somer bly hulle naby die pad, waar die kraan is, maar in die winter trek hulle na die middel van die sokkervelde, waar die dreinering beter is en die water vinniger wegsyfer. Hulle het elkeen 'n stuk swart bouersplastiek wat hulle net voor donker oopvou, twee rye van sewe elk. In netjiese gelid gaan hulle dan die nag binne. In die oggend vou elkeen sy bondeltjie toe en een bly agter om die bondeltjies op te pas.

Hierdie jaar het hulle op 'n mooi sonskyndag na die binneveld getrek. Die weerburo het gesê sonnig en warm vir 'n week. Die aand het dit begin reën. Vir dae aaneen. Op die derde dag van reën het ek vir Mrs Barrett gevra of hulle nie maar in my garage kan intrek nie, net tot die reën bedaar. Sy het volstrek geweier. Het toe maar vir hulle 'n pot sop gekook met baie vleis in en drie bottels soetwyn gevat om my gewete te besweer, my skuld te versag. Hulle was blyer oor die sop as die wyn. Toe die son weer skyn, het hulle al hulle besittings en klere in formasies en patrone op die sokkerveld gepak. En toe eers die wyn gedrink. Hulle is oulike bergies, hulle mors nie, hulle is stil behalwe Vrydagaande, en hulle vra nooit vir geld nie, net vir ou klere. Behalwe Anton. Hy wil gedurig jou kar was en 'n vyfrandjie hê.

Ek weet hoe langer ek hier bly, hoe moeiliker gaan ek trek. Uit Stellenbosch het ek getrek toe die wit te verblindend word, toe die apteek, die bank, die coffeeshop my naam en besigheid ken, maar hoofsaaklik weens 'n seer hart. Uit die hotel het ek getrek toe een van die ander inwoners in die sitkamer omslaan van sy kop af op acid of iets, en ek net oor hom klim en hom daar los om te krepeer in sy ellende. Te moeg vir my generasie en spesifiek die area se afhanklikheid en eksperimente en verveling. En oor hulle my favourite barman in die straat af geskiet het vir R2 000. En oor iemand een aand vir 'n lighter gevra het en toe 'n gun teen my kop druk vir 'n selfoon. (Hy het nie geweet van die R10 000 cash wat ek by my gehad het na 'n show nie.) Die hele insident sou nie gebeur het as die hek na die veilige parking lot nie toegeparkeer was en ek in die straat moes stop nie. Terwyl hy die gun teen my kop gedruk het, en ook teen my maag, het drie mense verbygestap wat niks gedoen het nie. Net Sally, die dronk bergie wat vyf jaar in die tronk was oor sy haar man met 'n gevriesde snoek doodgeslaan het, het gegil en my vasgehou toe ek ná hy met die selfoon weg is, onbedaarlik begin huil het.

Jy bly nie 'n dag langer hier nie, het my vriend gesê en vir my die plek waar ek nou bly, gekry. Gemeubileerd. Ek kom my klere pak en trek uit die hotel.

En nou is ek verby 30, verby my onbesonne jeug. My huisraad is amper drie jaar al in storage, my boeke in 'n vriendin se huis, my skilderye in my suster s'n. Iemand het my bank geleen, maar ek weet nie meer wie nie, sal dit seker nooit terugkry nie, wil dit ook nie regtig terughê nie. Wat ek wil hê, weet ek nie. Ambivalensie is so onderskatte state om in te wees.

Ek lewe klein in my woonstel waarvan tien vriende weet wat die adres is. Ek maak selde die deur oop as iemand kom kuier. Ek lewe vinnig in my kar wat elke jaar 60 000 km bykry. Ek werk hard in 'n kantoor tussen ontwerpers en kopieskrywers en kunstenaars. Ek werk hard in skoolsale en kerksale en primitiewe repetisieruimtes. Selde, bitter selde in 'n teater. My laptop, waarop my lewe was, is onlangs in Grahamstad gesteel. Die nuwe een leer ken ek nog, versigtig soos 'n nuwe minnaar, vingertjie vir vingertjie. Daar is nog te min op die hardeskyf om 'n bloudruk van my te wees, my taal te verstaan. En weg is die mails om na terug te verwys oor wat en waar en wanneer. En veral wie. Daardie plek, daardie toegang tot die verlede het ek verloor.

Na my pa se dood sit my gesin met familiebyeenkomste elke ete op 'n ander stoel. Daai plek het ek ook verloor. Ons gesin ry nooit meer met een kar nie, my plek agter die bestuurder is gone. My ma bly nou in 'n kleiner huis op die dorp. Ek slaap in die gastekamer.

Sondag na Sondag kyk ek huise en woonstelle en veral na wat mense in hulle huise en woonstelle het, uitgestal vir die vreemdes wat plekke jag. Misken deur agente met calculators en kontrakte reg vir die teken. Ek kry nie 'n plek wat ek wil hê nie.

As ek 'n plek sou koop en dit myne maak, en probeer om my lewe daarin te plaas, as ultimate verwysingspunt om vanuit te lewe, sal ek moontlik 'n ruimte kan vul en kan benoem as myne. My plek. Iets om te versorg en te beskerm, wat sin gee met verantwoordelikhede en verbande, my wanderlust temper. En dan, miskien, sal ek groter kan dink oor 'n land en 'n kontinent.

<< Back to all authors <<


LitNet: 15 October 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.