Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My memory
Manie de Waal Manie de Waal is a partner in XPLANE, a company that visually communicates complex business. He grew up in the Cape and studied at Stellenbosch University and UNISA. After qualifying as a chartered accountant in 1998 he worked in the investment banks of London and Switzerland. It was during this time that he wrote his debut novel, trips, which was nominated for the Rapport/Jan Rabie Prize. He returned to Africa in 2002, spending time in Mozambique before settling in Cape Town.
"Die skemer was windstil en warm toe ons fakkels aangesteek word. Die Afrikaanse Taalmonument afgeëts saam met die Paarlberg. Twee duisend Voortrekkers (’n jeugbeweging), tussen ag en agtien jaar oud, staan ’n erewag vir die staatspresident, PW Botha. En hy is laat. En ek moet pis. Dríngend."
"The evening is windless and warm as our torches are lit. The Afrikaans Language Monument is etched against the twilight sky together with the Paarlberg. Two thousand Voortrekkers (a youth movement), between the ages of eight and eighteen, form a guard of honour for the state president, PW Botha. And he is late. And I need to pee. Urgently. "

Terugflitse: Ek wil pis, maar weet nie waar nie

Manie de Waal

Also available as: Flashbacks: I want to pee, but I don't know where

"Just pee in your wetsuit" het die probleem vir my opgelos. Ek, tien jaar oud, op my bodyboard, tussen die surfers. Die branders was reusagtig groot (uit 'n tienjarige se perspektief). Enige vrees is egter verdryf deur die brandende knoop suid van my naeltjie, tot die oomblik wat ek na aanleiding van die surfer se advies genadiglik laat gaan. 'n Welkome warm sensasie versprei tussen my bene, maar soos die een nood verdwyn, maak die volgende sy opwagting. Dit lyk ewe skielik na berge water wat geluidloos ingerol kom en op die strand kan ek nie my ma-hulle se strandsambreel herken nie.

'n Lamheid kom lê in my lyf, voor die eerste trane. Dieselfde surfer as vroeër ontferm hom oor my. Wat hy gesê het, kan ek nie onthou nie; ek weet net ek het myself nie vertrou om in Engels te antwoord nie. Hy kry my in 'n brander in wat my tot op die strand uitspoel, minus een paddavoet wat ek vir Kersfees gekry het. Soos ek hier voor werk sit en tik op my rekenaar, wil ek net teruggaan. (Desember 1983)

*

Die skemer was windstil en warm toe ons fakkels aangesteek word. Die Afrikaanse Taalmonument afgeëts saam met die Paarlberg. Twee duisend Voortrekkers ('n jeugbeweging), tussen ag en agtien jaar oud, staan 'n erewag vir die staatspresident, PW Botha. En hy is laat. En ek moet pis. Dríngend.

'n "Neef" ('n manlike offisier) kom verbygeloop. Ek kán dit nie meer hou nie en vra vir hom of ek nie gou agter 'n bossie kan gaan nie. Sy presiese woorde kan ek nie onthou nie, maar die strekking was dat groter opofferinge as dit al gemaak is vir ons land.

Ek knik. En knyp. Onthou die groot man met die bles wat my reguit in my oë kyk toe hy verby my kom. Tot ons uiteindelik Die Stem uit volle bors sing. Dit voel of my hart wil bars van trots. Iets anders bars toe wel, en loop warm teen my bene af. "Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika." (1984)

*

Wind waai as gevolg van drukverskille. Daarom kan geen een wind op sy eie bestaan nie. Die glas val, jy weet 'n westewind is op pad. Soos die glas styg, swaai die wind meer oos, tot die siklus hom weer herhaal.

In die Oos-Kaap waai daar twee winde: die Suidwes en die Noordoos. Tussenin is daar 'n paar lastige dwarrelinkies, en drie stil dae per jaar, maar merendeels is dit dié twee. Jaar in, jaar uit.

Die Suidwes is soos Madiba. Alles wat goed is. Dit bring die branders vir die surfers, warm water, vis en tjokka na die kus toe.

Die Noordoos is soos ... die Afrikaners? In die sin dat Madiba iemand soos die Afrikaners nodig gehad het om hom legende in sy eie tyd te maak (vergelyk Ali en Foreman). Ek weet nie, ek vra maar net. Maar, anders as die Afrikaners, is die Noordoos vir min dinge goed. Die water raak koud, dit waai die branders plat, en bloublasies maak hulle verskyning. Ek, nou dertien jaar oud, háát die Noordoos.

Tog is ek daar buite tussen die (klein) branders. Vir ure. Ek kan nie meer my hande voel nie. En die pis in my wetsuit het al lankal koud geraak.

'n Klein brandertjie rol in. Ek skarrel daarvoor, en in my geskarrelry omvou 'n bloublasie hom vier maal om my hand. Toe die pyn deur my vel dring, voel ek dit wél. In 'n oomblik van helderheid vee ek die bloublasie met my ander hand af, wat my in nog meer pyn los.

Uiteindelik spoel ek uit op die strand, waar 'n enkele ou kleurlingvisserman staan en vang. Hy (of miskien sy gesin?) moet honger wees - niemand vang vir die plesier in die oostewind nie.

Hy glimlag toe ek vir hom die rooi hale oor my hande wys. "Pis daarop, my basie, dis al wat help."

Ek stap weg. Halfpad huis toe voel ek 'n roering tussen my bene. Glip agter die eerste bossie in en pis op my hande. Dit werk waaragtig. (Desember 1985)

*

"Zero-drie-Charlie" (of so iets), moes dit gegaan het. Ek is ingegrawe in 'n grot, iewers in die Wes-Kaap. Daar buite, in die stiknagdonker, is dit oorlog.

"'n Driehonderdvoet geel lugfakkel, ruitverwysing 23S, 22W, gevolg met twee donderbuise. Teen 01.30, asseblief, Charlie."

"Charlie", oftewel die SAW, help 300 standerdsewe-Voortrekkers oorlog voer. As ek vandag terugdink, is dit maklik om te sien hoe die hele oefening ons reggekry het vir wat wag in Angola. En ons wóú gaan. Recces, die valskermbataljon - ons was reg daarvoor. Eers later besef jy hoekom mens net met agtienjariges kan oorlog maak.

Ons kamp is in twee gedeel, oftwel Kilo teen Tango. Ek is verkies as die generaal van Kilo en as sulks is ek verantwoordelik vir ons oorhoofse strategie om Tango se HK (hoofkwartier) in te neem. Tot my beskikking het ek 150 troepe (medestanderdsewe-Voortrekkers) en die SAW wat 1 000 voet- en 300 voet-ligfakkels, donderbuise, rookgranate en skyngeweervuur voorsien.

En ek wil natuurlik pis.

Saam met my in die grot is Kilo se generalin, wat dieselfde lot as ek deel. Sy weier volstrek dat ons die grot verlaat - dis te 'n groot risiko. Ek dink aan my tjommies daar buite in die nag. Ek weet hulle het hulle al lankal afgesmeer aan ons stryd en is lekker besig is om te vry. Vir my natuurlik geen sulke kanse met die generalin nie.

Ek deel my sentimente (oor my tjommies wat vry) met haar, maar sy skud haar kop. Ons mense sal veg tot op die "bitter einde". Wat is goed aan 'n einde wat bitter is? (September 1987)

*

Londen is toe nie heeltmal so maklik soos ek my ingedink het dit gaan wees nie. Al twee maande sonder werk, buite pis dit reën uit die November grys lug wat my uiteindelik sou dryf tot skryf. Toe ek wel 'n onderhoud kry, is die geld nie naastenby waarvoor ek gehoop het nie, maar ek het iets soos 40 pond in my beursie.

Die onderhoud gaan goed en ek kry die werk. Op my eerste dag word al die nuwelinge aan die bank en sy aktiwiteite voorgestel. En daarna vriendelik, dog verpligtend, uitgenooi om 'n urinemonster af te staan vir die toets van dwelmgebruik.

Dis die een keer wat ek nie wou pis nie, maar geen keuse gehad het nie. Tot vandag weet ek nie hoe hulle daardie urinemonster getoets het nie, maar ek het die werk gekry. Soos vandag het ek ook nie toe geweet wie om voor dankie te sê nie. (Oktober 1999)

*

Drie maande na ek die laaste keer daar was, besluit Al-Qaeda om 200+ jong mense aan flarde te blaas. In die Sari Club, Kuta, Bali. Maklik die helfte was surfers. (In sy boek Future Shock beskryf Alvin Toffler surfers as 'n nuwe orde in die sosiologie. Nie gebind deur taal, godsdiens, politiek of geografie nie, maar deur hul liefde vir die see.)

"The horror, the horror."

Maar dit daar gelaat. Dis my gespaar.

En my onmiddellike probleem is dat ek met elke greintjie in my lyf wil pis, maar nie kan nie. Ek is saam met drie Franse, een ou en twee meisies, in die Sari Club. Vir hom tussen die branders ontmoet, en van daar die twee meisies. Hulle het by my akkommodasie kom intrek. (Op Bingin-strand het ek 'n stort; hulle moet hulle in die see was.)

Ek en Olivier surf elke dag, die meisies lê op die strand. Tot hulle besluit dis tyd dat ons een aand in Kuta gaan kuier. Die twee laat ons ook belowe dat dit 'n groot aand gaan wees, geen verskonings teen middernag dat ons wil gaan slaap om die volgende dag te surf nie. Ons stem in om hulle gelukkig te hou. Dis duidelik hulle vertrou ons nie - hulle neem dit op hulle om te sorg dat ons die aand ver aan die ander kant gaan draai.

Ons maan hulle tot versigtigheid: as jy in die Ooste met dwelms aan jou gevang word, is dit nie 'n grap nie. Die twee vaar Kuta in en koop (volgens wat ek kan onthou) iets soos Slims ('n dieetpil). As jy vyf drink, is dit veronderstel om die effek van een ecstacy-pil te hê. Die twee meisies daag met 80 (tagtig) by die Backpackers op.

Daar word pille gedrink, fyngemaal en gesnuif ... Soos ek nou hier sit, voel dit soos 'n droom. Maar wat nie soos 'n droom gevoel het nie, was my blaas, wat omtrent 'n uur later wou bars in die Sari Klub. En as ek toilet toe gaan kom daar niks uit nie. Miskien 'n paar druppels. Dit gaan vir ure so aan, die presiese fisiese manifestasie van dit in my wat wil skryf, maar die woorde bly weg. (Mei 2002)

*

En vandag?

Ek sit al weer voor werk en tik. Die Kaap is deur die tweede vloed van 2004, gister se reën ook al weer 'n herinnering. Daar is baie om oor te skryf, en te dink, in hierdie land. Veral as woorde die helende uitwerking van urine op die brand van 'n bloublasie het. "VIGS, die toesmeerdery van korrupsie - 'n lang lys wat ons vermy om die braaivleisvure om ons sinne te behou."

Daar is meer om voor enkosi te sê. Dit het vir my, soos ek glo almal in Suid-Afrika, 'n tyd geneem om dit alles in my kop en hart uit te sorteer. Wat was, wat is en wat kom. Ek is nie meer vol vrae, verwyt, kwaad en skaam nie. Eintlik is ek nie meer totaal vasgevang in die hede nie.

Dis om weer kind te word. 'n Getemperde kindwees waar jy nog steeds die wêreld wil red. Dag vir dag, in die klein dingetjies, saam met almal om jou.

<< Back to all authors <<


LitNet: 18 October 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.