Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My generation
Jaco Jacobs Jaco Jacobs (24) was born in the Karoo town of Carnarvon and is the author of 13 youth novels published by Lapa and Human & Rousseau since 2001. He has also published short stories and poetry in various journals and anthologies, and has translated a number of children's books. He completed a BA in Communication Science at the University of the Free State in 2001, and an honours degree in Afrikaans & Nederlands in 2002. He is currently editor of JIP, Joernaal and the book supplement at Volksblad in Bloemfontein.
"Die feit is, die Afrikaanse letterkunde sien op die oomblik goed middeljarig, selfs bejaard, daar uit. Ek is nie besig met 'n geringskatting van ons ouer skrywers nie, maar daar is besig om 'n groeiende gat in ons letterkunde te ontstaan, 'n black hole waar 'n hele generasie nie saampraat in die gesprek wat die letterkunde veronderstel is om te wees nie."
"For the sake of convenience, forget about theories on the nature and function of literature. The fact is that Afrikaans literature at present looks solidly middle-aged, even old. I am not trying to disparage our older writers, but a gap is developing in our literature, a black hole in which a whole generation is not joining in the conversation that literature is supposed to be."

Waar is die nuwe geslag jong Afrikaanse skrywers?

Jaco Jacobs

Also available as: Where is the new generation of young Afrikaans writers?

Wend jou tot die jeug: hulle weet alles.
- Barthélemy-Catherine Joubert

Dis al wat die jonges vir die oues kan doen, om hulle te skok en op die hoogte te bring.
- George Bernard Shaw

In 'n artikel vanjaar in Die Burger (28 Junie 2004) vra Francois Smith 'n paar vrae rondom die feit dat die kykNET-prys vir jong Afrikaanse skrywers nie vanjaar toegeken is nie. Die prys is in 2003 van stapel gestuur om jaarliks 'n Afrikaanse skrywer jonger as 35 te bekroon. Die enigste verduideliking wat Smith uit die borge kon kry, is dat die prys gestaak is omdat dit teen ouer skrywers en ander tale diskrimineer. Myns insiens 'n vreemde verklaring: die borg is immers 'n Afrikaanse uitsaaier en daar is heelwat ander pryse vir skrywers in alle ouderdomskategorieë.

Wat egter meer verontrustend is, is die vermoede dat die prys onttrek is weens 'n gebrek aan tekste om te bekroon.

Jackie Nagtegaal se Daar's vis in die punch is met die eerste (en enigste) kykNET-prys bekroon. Na die beste van my wete is 'n kortlys met die name van ander finaliste nooit gepubliseer nie - moontlik omdat so iets nie bestaan het nie. 'n Uitgewer wat destyds navraag gedoen het oor die prys, is ingelig dat die toekenning jeugliteratuur, poësie en godsdienstige boeke uitsluit. Ek mag verkeerd wees, maar dit kom daarop neer dat net een skrywer (of andersins enkele skrywers) vir die prys in aanmerking gekom het. 'n Borg kan in so 'n geval beswaarlik verkwalik word as hy 'n prys onttrek.

Maar vergeet van die prys.

Die vraag is: Waar is die nuwe geslag jong Afrikaanse skrywers? Waar is Toast Coetzer se digbundel en Angola Badprop en Jacques du Preez se bundels met essays? Hoekom is die JIP- en SL-generasie so stil? Het die Afrikaanse boek enigsins 'n benul hoe lyk en voel Oppikoppi? Het 'n uitgewer al met Francois van Coke onderhandel oor die Fokofpolisiekar-songbook? Wil iemand nie by Justin Nurse smeek om sy jaarlikse tydskrif, The Laugh It Off Annual, in Afrikaans ook uit te bring nie?

Wat is "jonk"? In die terme van die heengegane kykNET-prys en selfs hierdie LitNet-kongres beteken jonk 35 of jonger. 'n Mens kan sekerlik allerhande besware inbring teen so 'n indeling, maar die feit is dat daar in Afrikaans baie min skrywers is wat as "jonk" geklassifiseer kan word.

Waarom is dit nodig dat jong Afrikaanse skrywers se stemme gehoor word? Die antwoord lyk voor die hand liggend, maar dit word bittermin geformuleer.

Vergeet geriefshalwe van teorieë oor die aard en funksie van letterkunde. Die feit is, die Afrikaanse letterkunde sien op die oomblik goed middeljarig, selfs bejaard, daar uit. Ek is nie besig met 'n geringskatting van ons ouer skrywers nie, maar daar is besig om 'n groeiende gat in ons letterkunde te ontstaan, 'n black hole waar 'n hele generasie nie saampraat in die gesprek wat die letterkunde veronderstel is om te wees nie.

Probeer vir 'n oomblik 'n beeld vorm van hoe Afrikaanse jong mense se leefwêreld deesdae lyk …

- Die gemiddelde 2004-eerstejaarstudent was nege jaar oud toe apartheid finaal van die wetboeke verwyder is.

- Baie jong mense ken Londen beter as Johannesburg.

- As jy oorsee werk, is die wisselkoers belangriker as om te weet wie die Suid-Afrikaanse minister van finansies is. (Ek vermoed Afrikaanse twintig-ietsers ken meer hip hop-kunstenaars se name as Suid-Afrikaanse politici s'n.)

- Inligting = Google.

- Dis makliker om koerante op die internet te lees as om hulle by die kafee te gaan koop.

- Die kans is goed dat jy eendag jou troeteldiere kan laat kloon. Trouens, die kans is goed dat jy eendag jou kínders kan laat kloon.

'n Mens kan jou vervolgens afvra hoeveel van die boeke wat in die afgelope vyf jaar in Afrikaans verskyn het, enigsins 'n weerspieëling van hierdie leefwêreld is. Miskien is dit waarom Jackie Nagtegaal se debuut soveel mense regop laat sit en laat vra het: "Genade, is dit hoe hierdie kinders práát?" Dalk is dit waarom Manie de Waal se Trips soveel resensente half onverhoeds betrap het.

Dis moeilik om 'n generasie op te som wat hom nie laat opsom nie; om namens 'n generasie te praat wat niemand namens hom laat praat nie. Maar maak 'n paar veralgemenings, formuleer 'n paar sienings en toets hulle aan 'n paar twintig-ietsers. Politiek ruik na ideologie - vergeet van politiek. Afrikaans is oukei, maar as Afrikaans na ideologie en patriotisme begin ruik - vergeet daarvan. Taalverenigings en -instansies is liggame wat redenaarskompetisies en olimpiades geborg het toe jy op skool was - die oomblik as hulle allerhande uitsprake begin maak en na monumente begin opmarsjeer, is hulle besig met politiek. Die debat oor wie of wat "die Afrikaner" is, is min of meer so relevant soos die poskantoor se telegramdiens - die woord word op sy beste benut om na 'n beesras te verwys.

Is dit regtig hoe baie jong Afrikaanssprekendes voel? Moeilik om te sê. Onmoontlik om te sê as jy 'n antwoord uit die Afrikaanse boek probeer kry.

Op enkele uitsonderings na is daar bloedweinig oor die hedendaagse jong generasie geskryf, en nog minder daarvan déúr die hedendaagse jong generasie - in die tradisionele Afrikaanse letterkunde in elk geval. Die samelewing is besig om in baie opsigte jonger te word; ons letterkunde is besig om in baie opsigte ouer te word.

Jong Afrikaanssprekendes se stemme is meer volop as wat baie mense dink. Daar is nie 'n gebrek aan kreatiwitieit nie, maar jy moet weet waar om te kyk. Die vraag is dalk nie wáár kyk jy nie, maar wát kyk jy. Soos in: www.watkykjy.co.za 'n Mens kry die indruk dat die internet nog steeds as 'n minderwaardige publikasieplatform beskou word, selfs al het 'n webwerf soos LitNet hom die afgelope paar jaar gevestig as dié plek waar literêre en kulturele debatte gevoer word. Dit lyk egter of die literêre establishment 'n debat eers ernstig begin opneem as dit die koerante haal. Eweneens word iemand beswaarlik as 'n "digter" of 'n "skrywer" beskou as hy of sy poësie of prosawerk elektronies gepubliseer het.

Tydens 'n gesprek op die Volksblad-kunstefees sê Antjie Krog (Volksblad, 19 Julie 2004) dat jong Afrikaanse digters dalk in Afrikaanse rock "ontsnap". Jong Afrikaans lyk springlewendig op kunstefeesverhoë, waar daar tussen die bokkie-bokkie en sokkie-sokkie genoeg Fokofpolisiekar, Gian Groen, ddisselblom en Klopjag is wat jou kan oorreed om die saak ernstig op te neem.

Ek staan by die punt wat ek as naïewe standerdvyfie eendag in 'n debatstoespraak gemaak het: Jong mense skryf nog in Afrikaans, hulle sing in Afrikaans, vloek in Afrikaans, maak grappe in Afrikaans, het mekaar lief in Afrikaans. So, Afrikaans is oukei. Die Afrikaanse boek, daarenteen, is nié. En ek vermoed wat baie jong Afrikaanssprekendes betref, is dít óók oukei. As Karel Schoeman of iemand anders van sy generasie binnekort Die allerlaaste Afrikaanse boek skryf, sal daar hopelik nog genoeg mense oor wees om dit te koop.

My belewenis is dat jong mense nie so boeksku is as wat hulle dikwels voorgestel word nie - maar boeke is duur, lees is tydrowend en boeke is 'n vorm van vermaak wat inspanning verg in 'n media-omgewing waar kitsvermaak aan die orde van die dag is. Die dae toe mense uit patriotisme, gewoonte of onkunde Afrikaanse boeke gekoop het, is gelukkig verby. As daar in Afrikaanse boeke niks is wat tot my spreek nie, sal ek iets anders lees. As Afrikaanse boeke nie meer 'n plek is waar ek iets kan sê nie, sal ek dit iewers anders gaan doen.

Dit gaan ook nie hier noodwendig om 'n "vervlakking" in die letterkunde nie, maar die dae toe mense wenkbroue gelig het omdat uitgewers 'n groot aantal liefdesverhale en selfhelpboeke uitgee, is gelukkig verby. Hoekom is daar oor die wye spektrum van Afrikaanse lektuur - van selfhelpboeke tot "hogere letterkunde" - so min wat op my generasie gefokus is? Ja, 'n goeie boek is veel magtiger as ouderdomsgrense. Maar die Afrikaanse boek is besig om al hoe meer na die rand van ons kulturele en vermaaklikheidwêreld te beweeg. Ek het mense al dikwels hoor sê die Afrikaanse leeskringkultuur hou die Afrikaanse boek aan die lewe. Goed so. Maar wat daarná? Is daar iewers 'n volgende geslag leeskringlede wat regstaan om as redders vir die Afrikaanse boek op te tree? Kruip daar iewers 'n volgende geslag skrywers weg wat in hierdie volgende geslag leeskringlede se leesbehoeftes gaan voorsien?

Uitgewers van Afrikaanse boeke moet dringend aandag gee daaraan om jong Afrikaanse stemme, oor die wye kulturele spektrum van Afrikaanssprekendes heen, aan te moedig om van hulle te laat hoor. Ja, dit gaan geld kos. Dit gaan moeite en beplanning verg om jong stemme se aandag te trek en uiteindelik publiseerbare manuskripte uit hulle te kry. Dit gaan bemarking verg om hierdie boeke by die regte mark uit te bring. Dit sal beteken dat die Afrikaanse boek meer bewus moet word van sy omgewing, van die wêreldletterkunde en van ander mediavorme soos die internet, rockmusiek en tydskrifte. En nee, dis sekerlik nie so eenvoudig soos dit klink nie.

Die paar jong swaeltjies wat op die oomblik in Afrikaans aangekom het, tjilp heel lustig, maar as hulle die enigstes is, is dit 'n triestige somer wat voorlê.

Bron
Claassen, George ea. 1998. Die groot aanhalingsboek. Kaapstad: Human & Rousseau.

<< Back to all authors <<


LitNet: 01 November 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.