Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die wondere van virtualiteit

Jean Jordaan


Eens op ’n tyd was die Web, naas die Stealth-bomwerper [1] en Star Wars [2], ’n duur projek van die Amerikaanse Departement van Verdediging [3] — maar deur die loop van die 90’s het dit op die elektroniese speelgronde van whizzkids en in die binnekamers van eensames losgebars, en die globale dorp is waarlik gebore.

Selfs in die papierpers kan mens lankal lees oor die nuwe vorme van samesyn, genaamd virtuele gemeenskappe, waar mense wat verenig is deur hul liefde vir poësie of die omgewing [4] hul kennis kan saamsnoer of kan gesels oor die dinge wat ons menslik maak [5] (besluit maar self).

Maar die harde werklikheid van die virtuele gemeenskap word meer selde belig. Virtuele gemeenskap beteken in vele gevalle eintlik om vreeslik baie vuil werk te doen om daarvoor uitgeskel te word. Neem byvoorbeeld Attrition.org. Hulle het al die jare — tot so ver terug as 1995 — ’n argief bygehou van webblaaie wat geskaad is deur vandale: “defacements”. Hierdie argief het ’n waardevolle bron geword vir die rekenaarsekuriteitsgemeenskap, en het dikwels opgeduik in gesprek by byvoorbeeld bugtraq [6], die mees snydende forum vir sekuriteitskritiek (’n vinnige soektog vir “attrition” in hulle argief [7] wys 81 treffers).

Van die antisosiale lede van hul virtuele gemeenskap, asook van die oningeligtes, het Attrition daarvoor veel te verduur gehad ... “headaches, complaints, criticisms, slander and attacks” en “massive denial of service attacks” (waaroor nou-nou meer). Soveel so, dat hulle uiteindelik besluit het dat genoeg genoeg is, en hulle emdefacement mirror/em staak [8]. Per dag word daar deesdae meer as drie keer soveel webwerwe gevandaliseer as in 1995 en 1996 saam. Wow! Die wondere van virtuele gemeenskap.

Wat is dit met mense? KayCee was ’n alledaagse, aantreklike middel-Amerikaanse tiener wie se stryd met leukemie talle mense se harte geraak het, danksy die sorgvuldige webdagboek wat sy en haar ma, Debbie, deur die hele moeilike tyd bygehou het [9]. Die bemoedigings en gebede het ingestroom, en daar is selfs ’n KayCee-klub by Yahoo! gestig.

Nou ja, sy’s toe dood, so teen die 18de.

Toe bieg haar “ma” dat sy KayCee eintlik opgemaak het en self al die dagboekinskrywings geskryf het. Nou — as die vandale en net-terroriste onvriendelik geklink het … hulle verbleek in vergelyking met die wrewel wat losgelaat word deur al die teerhartige virtueel-gemeenskaplikes wat vir KayCee gerou het. Toe hulle uitvind dat KayCee fiksie was, begin roep die stemme dat Debbie gearresteer moet word vir posbedrog, dat sy verneder behoort te word in haar tuisdorp, en verdwyn die barmhartigheid oor die algemeen soos mis voor die son. Deurgrawe die gemene argiewe by [10].

Distributed denial of service attacks

Nou nog ’n woordjie oor daardie aanvalle wat ek daarstraks genoem het. ’n DDOS is wanneer ’n aanvaller jou bediener met miljarde (ja, miljarde) pakkette data bombardeer vanaf honderde bedieners gelyktydig, vir dae of weke aaneen, sodat jy netsowel maar jou bediener kan afskakel — jy is dood vir die wêreld. (Die man op straat hoef hom nie te veel te bekommer nie; hy’t gewoonlik nie genoeg status om aangeval te word nie. Besighede kan egter enige tyd uitgevat word.)

Wie doen dit? Terroriste uit die Midde-Ooste? Nee, laaities wat nie kan spel nie, soos byvoorbeeld die dertienjarige “Wicked” uit Kenosha, Wisconsin. Danksy Microsoft se ellendige ingesteldheid teenoor sekuriteit lê die meeste mense se rekenaars oop vir krakers om te misbruik as die enjins agter ’n DDOS.

En dit raak binnekort erger ... baie erger. Tuisgebruikers gebruik op die oomblik almal vroeër weergawes van Windows (95, 98, ME of NT). Dit is eers vanaf Windows 2000 dat Microsoft die volle TCP/IP internet-protokolsuite geïmplementeer het. Die vroeër weergawes kon nie “IP-spoofing” doen nie — dit was altyd moontlik om te sien watter masjiene jou aanval (dan’t jy nog lank nie die aanvaller beet nie, maar darem). Die opkomende Windows XP, wat alle ander weergawes gaan vervang, implementeer egter wel die volle suite. Dan gaan krakers in volkome anonimiteit die internet kan afbreek na willekeur

Lees Steve Gibson se fassinerende verslag van die aanvalle wat hy oorleef het [11], en sy kampanje om Microsoft van die saak se erns te oortuig [12].

RMS in Suid-Afrika

Net ’n vinnige nota: Richard Stallman is in Suid-Afrika. Stallman is die stigter van die Vrye Sagteware-beweging, die mees versiende en verantwoordelike standpunt wat myns insiens oor die rol van rekenaars in ons lewens ingeneem word. Hy gaan oor die volgende paar weke praat by Wits, die Universiteit Kaapstad, en in Stellenbosch (navrae aan Ben van der Merwe: bvdmerwe@sun.ac.za). Die details is by [13]. Gaan luister!

Groete

Jean Jordaan


[1]theprices.net/humor/government/b2ornotb2.html
[2]whyfiles.org/089missile/
[3]www.dei.isep.ipp.pt/docs/arpa.html
[4]birdsource.cornell.edu/
[5]www.cat-e-corner.com/
[6]www.securityfocus.com/forums/bugtraq/intro.html
[7]search.securityfocus.com/search.html
[8]attrition.org/news/content/01-05-21.001.html
[9]strangecat.org/kaycee/debbies_weblog/
[10]groups.yahoo.com/group/kaycee-nicole/links
[11]grc.com/dos/grcdos.htm
[12]grc.com/dos/winxp.htm
[13]Richard Stallman-lesings — bevestiging

Finale en bevestigde besonderhede van plekke en tye

Maandag 11 Junie 2001: 20h00 Universiteit van Kaapstad
Leslie 2A Lecture Theatre, Upper Campus

Woensdag 13 Junie 2001: 20h00 Universiteit van die Witwatersrand Wits Main Theatre, East Campus

Huidige webwerf-URL: cyberlink.co.za

Toegangsgeld: Studente, Dosente en Pers gratis. Publiek: R25
(vrywillig en opsioneel)

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.