Wie is ons? - van die redaksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Gevaarlike ruimte

Etienne van Heerden

Dat die internet ’n gevaarliker medium as die papierwêreld is, het LitNet se vinnige ontwikkeling van aanlyn-literêre tydskrif na uitgesproke opiniegemeenskap bevestig.

LitNet het hom tromp-op geloop teen probleme rondom keuring — sommige mense praat van sensuur — en vryheid van spraak — ’n interessante kennisname van die toutrek rondom ’n gegewe webwerf se webmeesters / redakteurs en die lede van daardie werf se gemeenskap.

Ek is na die destydse 24.com met die voorstel dat ons tesame ’n literêre tydskrif op die internet stig — Standpunte is saliger, het ek verduidelik, baie van ons het heimwee na Die Suid-Afrikaan en little magazines soos die destydse Graffier, Bloody Horse, Taaldoos, Spado en Stet. Ander papiertydskrifte (soos Ensovoort en Tydskrif vir Letterkunde) sukkel kennelik met finansies en leweringsdatums. Dis tyd dat ons ’n tydskrif vir skrywers en literati op die Internet begin.

Min het ek destyds — byna twee jaar gelede — besef dat die Internet ’n ongekaarte streek van die gees is — wat as internet-tydskrif begin het, het gou ontwikkel in ’n robuuste opinieruimte op M-Web.

LitNet het ’n organisme geword; ek moes vinnig voet versit van redakteur na regisseur; van keurder na versigtige skeidsregter.

Ek het begin lees oor die begrip virtuele gemeenskap, en besef dat LitNet inderdaad besig was om uit sy nate te elmboog — dit wou nie net ’n literêre tydskrif met al die konnotasies van strenge keuring, elitisme en akademiese droogheid wees nie.

As sodanig is LitNet ’n lewende, aanlyn demonstrasie van konseptuele skuiwe wat wêreldwyd deur baie mense rondom die Internet gemaak moet word; van kubergemeenskappe wat ruig groei; van nuwe magsverhoudings en -verskuiwings wat konvensionele regsopvattinge en handelspraktyke aan die tart is.

Die vraag was slegs of LitNet se mense gereed was om vinnig genoeg die ontwikkelende energie te ondervang en te kanaliseer.

Daar was vroeg in LitNet se bestaan reeds ’n aanduiding dat LitNet meer as slegs ’n literêre tydskrif sou word. LitNet se gemeenskap wou kennelik ’n fokus op boeke behou, maar die briewe wat begin instroom het, die e-posboodskappe en telefoonoproepe, die restaurantgesprekke — alles het daarop gedui dat hier ’n gemeenskap is wat die LitNet-webwerf voortdurend besoek, dit as hul eie beskou, en dit op ’n eiendomlike manier as ’n besondere uiting van vrye spraak en opinie toe-eien.

Ek sou versigtig moes trap. Op opwindende wyse is iets uit my hande gegryp — en tog is ek verantwoordelik. Dit het ’n gevaarlike, veeleisende reis geword. ’n Daaglikse pendeltog, want materiaal, opinies, insette, aanmoedigings en voorstelle stroom na LitNet se kuberadres.

Daar is, byvoorbeeld, voortdurend eise dat LitNet ’n kletskamer / chat room oopmaak. Ek weet egter hoe bitsig mense in veral die Afrikaanse literêre bedryf teenoor mekaar kan wees, en daarom sal ek dit nie toelaat nie. Eerder dan maar ’n duurder ruimte, ’n brieweblad soos SêNet, waar ingestuurde briewe eers deurgelees en versorg kan word voor plasing en oplaai. Ons is op die uitkyk, veral, vir kopieregskending en laster — met die wete dat juis hierdie twee aspekte die verwagtinge rondom die Internet tot die uiterste gaan toets.

Die Internet, kortom, is ’n ruimte van durf en roekeloosheid. Laat ons dit nie romantiseer nie. Daar is reeds miljarde webtuistes beskikbaar. Kliek maar ’n muis. Ons kan die energie huldig, maar ons moet suutjies trap met die veelheid, die oordaad, die spoegspattery en beskikbaarheid. Kwantiteit is nie gelyk te stel aan kwaliteit nie.

Natuurlik moes ek my rol as redakteur / bestuurder / regisseur van hierdie kotiljons bedink — ek doen dit steeds daagliks. Aan die een kant is ek onbeskaamd akademikus; ek hou van die oopkloof en dieper boor en die laaggedagte. Van die uitpluis en die lang, indringende teks. Vir my as universiteitsmens is die Internet ’n wonderbaarlike versit van die kampus se grense — in die belang van my vak. Ek reken dat die Internet ’n dieper dink oor sake by veel meer mense kan kweek. Dinge wat normaalweg tot seminaarkamers en vakjoernale beperk was, kan nou stadig uitsyfer na ’n breër publiek.

Aan die ander kant het ek ook ’n klap van die populistiese weg en hou ek van die gevoel dat mense binne ’n projek wat ek aan die loop gesit het, vry voel om hulself te wees en om hul eie branders te ry.

Rondom LitNet se kern as dinkjoernaal sal vermaakinhoud dus gaandeweg uitkring — maar nie net oppervlakkige tydverdrywery nie; ek het eerder intelligente fliekresensies, gesprekke oor ons kunstefeeste, mooi rubrieke deur rocksangers en gedurfde fotoverhale in gedagte. Jongmense is meer en meer gerig op die visuele en mediatekste en LitNet kan aan die een kant hierdie manier van kyk stimuleer en intelligent ontleed, en (vergewe my) aan die ander kant jongmense se belangstelling in meer konvensionele genres bly prikkel.

Ook die inskakeling van LitNet by ander betrokkenes: tv (ons loop reeds met ’n insetsel op kykNET se Kunskafee), radio (die insetsel op Radio Punt se Boekepunt is baie gewild), koerante (LitNet se gesprekke is alte dikwels groot nuus in dagblaaie), akademiese joernale (LitNet het met verskeie joernale ’n samewerkingsooreenkoms), ensomeer.

Daarbenewens wil LitNet ook satelliet wees om instansies soos Kalahari.net, uitgewers, universiteitsdepartemente waar ons tale en kulture bestudeer word en, les bes, ’n skerp satellietoog hou op straatkultuur en ander, nuwe ontwikkelinge.

Vir my as akademikus is dit ’n riem onder die hart om hier in Nederland, waar ek tans vanuit LitNet se virtuele kantoor van etlike draagbare kilogram steeds daagliks die werf bestuur, soveel studente, akademici en navorsers te ontmoet wat LitNet as navorsingsargief gebruik — hulle beskou LitNet nie net as ’n kunstefees-op-wiele wat Suid-Afrikaanse energie uitstal nie, maar ook as ’n barometer van wat tans in bepaalde gemeenskappe gedink word.

Wat hierdie gemeenskappe betref — ek glo dat die Internet groeiplek bied vir — globaal gesproke — kleiner tale, en daarom probeer ons hard om tale soos Xhosa ook op LitNet vastrapplek te gee.

Ek het baie by LitNet se bydraers geleer. Hulle stry oor dinge wat wissel van Freud tot God, van emigrasie tot Sangomas, van astrale reise tot, nouja, ’n mens moet maar gaan kyk wat vandag op SêNet aangaan om te weet ...

SêNet is ons populistiese brieweruimte — maar ons plaas nou ses dae per week, en soms sewe dae, nuwe materiaal op ander ruimtes ook — LitNet se gemeenskap vra na musiek-, fliek-, teater en boekenuus. Dis belese, interessante mense, wat wil weet wat in die wyer wêreld aangaan, maar wat ook wil stry en baklei oor die eie wêreld.

LitNet het in die byna twee jaar van sy bestaan ’n groot rol gespeel om die Groot Debat aan die gang te hou. Die webruimte is een van die belangrikste stoomaflaatplekke na die stywedeksel-dae van Apartheid. Dit is ook een van die belangrikste manifestasies van nie slegs kreatiewe energie binne Afrikaanse geledere nie, maar ook lopende bewys (en ons loop 24 uur per dag, sewe dae ’n week) van hierdie gemeenskap se nuutgevonde vryheid.

Daar is dus dikwels kennelik ’n onbeholpenheid met nuutgevonde spraakvryheid; dit stotter na buite, soms ongeskik en opruiend, ’n keer of meer doodgewoon platvloers; dis ’n Breugheliaanse viering van die sinnelike genot van die tong.

Hier is Suid-Afrikaners wat myns insiens elkeen ’n tersaaklike opinie het; elkeen moet asemplek kry vir sy of haar gevoelens. LitNet se briewekolom, SêNet, bied hierdie asem-uitstoot; selfs uitasem-geid of hyg. As ons praat van hygromans, kan ons van SêNet praat as ’n plek van hygsê — maar ook dan haastig byvoeg dat ook gevestigde mense soos Joan van Zyl, Deon Opperman, Dan Roodt, Leopoldt Scholtz, Johann de Lange en ander hier hul sê sê — selfs die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die ATKV laat soms van hulle hoor!

SêNet is dus nie net — soos een briefskrywer pittig opgemerk het — die Jerry Springer-show in Afrikaans nie. Dis ’n soort Speakers’ Corner; iets tussen ’n tipiese Internet-kletskamer, ’n chat show op radio of TV, ’n wroeg-in-die-kroeg-gestry en ’n dagblad se briewekolom. Dis ’n hibriede ruimte dus, wat vermaak, irriteer, aanhits en prikkel. Vir die Afrikaanse gemeenskap is dit ook ’n barometer van wat in die gedagtes van mense omgaan.

Dis die koorspennetjie onder die Afrikaanse tong.

LitNet het wel mettertyd, ondanks beperkte fondse (’n bruinbroodkorsie-begroting), sy eie keuringsprosedures ontwikkel, wat van ruimte tot ruimte verskil. Subwerwe op LitNet — soos byvoorbeeld NetFiksie, SeminaarKamer, Isikhundla Sababhali en PoësieNet — het kenners wat versigtig kyk na bydraes en keur. Ons gee effe meer skiet as wat ’n papierjoernaal met ’n groter frons op die voorkop sou doen, maar die kwaliteit is onteenseglik daar. Wat SêNet betref, is dit inderdaad ’n vryer ruimte — en ek gaan dit so hou. Maar ook hier vind keuring plaas — ek persoonlik waak teen, byvoorbeeld, kopieregskending en laster.

My waakskof is nogal soos die vroegoggend-nagwaak van die Middeleeuse wagter op die toring: dit geskied in vrees en bewing, met die vermoede dat allerlei onheilighede hier onder my oë afspeel. Die LitNet-gemeenskap is nie op sy bek geval nie. Wanneer keuring op LitNet ter sprake kom, gebruik hulle — vies en ongedurig — die term sensuur. Hulle sal normaalweg aanvaar dat ’n papiertydskrif of dagblad met meer stigtelike strewes ’n gekeurde briewekolom het. Maar nie LitNet nie. Hier voel hulle skynbaar dat die Hollandse spreuk geld: niks moet, maar alles kan! As daar maar ’n aanduiding van keuring is, word geroep: Sensuur! Sensuur! Hulle is natuurlik geskool in die kletskamer-tradisie van die Internet, en loop hulle dikwels vas teen diegene wat ’n swaarder Big Brother-sensorhand op SêNet wil sien.

Dit laat ’n mens besef dat die Internet opnuut ons houdings oor wat goed en reg is, gaan toets. Die Internetgebruiker beskou sy geliefkoosde werf skynbaar as allemans- en allevrousbesit. Dis ook die kopseer van webmeesters: As jy van mense verwag om te betaal (behalwe vir pornoruimtes) is hulle vies. Die Internet, dink hulle skynbaar, moet so gratis wees soos die lug wat ons inasem. As jy hul toegang vertraag met, byvoorbeeld, bandwydteprobleme, is hulle woedend. As jy hulle wil sensureer, stap hulle gewoon weg, elders heen. Verbete beskou hulle die reg om hul sê te sê as deel van hul vryheid van spraak. Hier is ’n nuwe, ongebreidelde massa-energie wat aan die opstoot is. Gevestigde opvattings oor kopiereg en laster sal voortdurend, binne hierdie nuwe, uitdagende ruimte, aan debat onderwerp word.

Mense wat dink dat ek ’n nuwe, anargistiese free-for-all verkondig, is gewoon opsetlik. Dis gewoon ’n saak van: kyk realisties na Internet-gebruikers se verwagtinge en kom met strategieë om hul energieë te benut en — ook — bo ordentlikheidspeil te hou. Dikwels gaan dit oor stemme wat opeens op die net praatplek kry, en nog behoorlik moet besin oor die grense van die eie reg om ’n mening te huldig.

Ontwikkelinge in die musiekbedryf — ’n mens dink aan die Napster-sage — het getoon dat allerlei gevare lê en wag — gevare ook, ironies, vir diegene wat te hoog wil opgee oor die Internet as vrye, ongekaarte ruimte.

Elke beskawing is gebou op die hoekstene van ingeburgerde verwagtinge; elke generasie moet, aan die hand van nuwe vermoëns, hierdie gevestigde verwagtinge toets. Dis gewoon ’n feit — en uitdaging! — dat nuwe tegnologiese vermoëns hierdie verwagtinge vandag so vinnig en blitsig uitdaag; ’n hardnekkige dringendheid wat vele mense ongerieflik laat. En in die LitNet-verband laat uitroep: maar ons soek ’n literêre tydskrif!

Terwyl die energieë al haastig by hulle verby is. Nuwe moontlikhede waar radio, tv, die internet en draagbare tegnologie versmelt, is om die maandelikse draai. Ons moet dit uitbuit, of in spinnerakke terugsak. As ons lief is vir literatuur; as ons mense graag van boeke wil vertel; as ons hou van studente en akademiese debat; as ons ons vakgebiede wil borsweer teen die wêreldwye inkalwing van die Geesteswetenskappe — dan moet ons die nuwe medium benut.

Of ten minste probeer.

As ons gewoon intelligente, nuuskierige mense is wat graag lees, musiek luister, fliek of teater toe gaan, bied nuwe tegnologie ’n wonderbaarlike geleentheid. Ons moet dit aangryp. Ineens is soveel dinge moontlik, soos LitNet se e-posium, soos ek dit graag noem — die skrywersberaad, wat aangebied is deur LitNet en die Taalsekretariaat van André van der Walt, in samewerking met die UK se Departement Linguistiek en Suider-Afrikaanse tale en die Iilwimi sentrum vir veeltaligheid en taalpraktisyns aan die UWK.

Binne ’n breë, vrye raamwerk van berekend vae gespreksonderwerpe (om kreatiwiteit vrye speling te gee) het allerlei gedagtes losgeraak; dit was ’n loswikkelberaad; ’n versigtige uittoets van gedagtes rondom verlede, hede en toekoms. Meer as 40 van ons voorste skrywers en denkers het deelgeneem, en die gesprek op SêNet het nuwe impetus gekry. Vir my het die e-posium in die teken gestaan van ’n begin van die eeu-gevoel; tye van oorgang waarin min dinge klinkklaar vas te vat en af te handel is. ’n Egte skrywersberaad was dit natuurlik nie, maar dit het indringende dinkwerk aan duisende mense wêreldwyd beskikbaar gestel — gratis.

In samewerking met Tafelberg-Uitgewers sal die beraadboek met referate binnekort verskyn — ja, papier is nog koning! Tans is ’n kompetisie op LitNet aan die gang waarin LitNet-lesers (Litmate, noem een van hulle hulself) ’n titel vir die beraadboek kan voorstel. Dit is besonder jammer dat Breyten Breytenbach sy loskruit-openingsrede nie vir opname in die boek beskikbaar gestel het nie — na MC Botha se aanval op hom, het hy hom, luidens ’n omsendskrywe aan belanghebbendes, aan die openbare debat onttrek.

Ten slotte: die Internet, en ruimtes soos LitNet, behels bemagtiging soos ons selde tevore gesien het. Dis vrystemmery, veelpratery, kletsgeruis — dis inderdaad ’n nuwe vorm van oratuur. Ons moet ’n balans probeer vind tussen oudmodies en elitisties of selfs gewoon ordentlik reageer, aan die een kant, en prakties omgaan met ’n nuwe, gevaarlike ruimte aan die ander kant. Dis die Internet; dis ’n gevaarlike land. Dis haastige energie; en energie sal altyd iemand, iewers kwaad laat voel.

Dit, ten minste, is ’n reaksie wat so oud is soos die berge.

Die res is nuut en onontdek.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.