SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole: VraNet

Janet Maree neem deel aan die jongste prosa Sanlam/LitNet aanlyn-prosa-skryfskool, SkryfNet IX.
   Terwyl sy studeer vir Laerskool Onderwys Diploma, neem sy aandklasse by die Universiteit van die Vrystaat. Doen Geskiedenis Honneurs tydens eerste swangerskap. Kry Diploma in Kleuteronderwys tydens tweede swangerskap. Plant tamaties in tonnel tydens derde swangerskap. Begin Bambi Kleuterskool onder Onderwysdepartement. Skryf vir eie plesier nadat sy sowat vyf jaar gelede rekenaarvaardig moes raak. Skilder en lees graag. Bly tans in Hermanus.
Dr Riana Scheepers is gebore in KwaZulu-Natal. Reeds op jong ouderdom wen sy verskeie pryse in poŽsie- en skryfkompetisies. Haar eerste kortverhaalbundel, Die ding in die vuur, is in 1991 bekroon met die ATKV-Prosaprys en die FAK-prys. Haar tweede bundel, Dulle Griet, het in 1992 die Akademie vir Wetenskap en Kuns se EugŤne Marais-prys verower. Haar publikasies sluit in 'n Huis met drie en 'n half stories, Die heidendogters jubel, Haai Katriena, wat vertel jy my nou!, Katriena, nou lieg jy mos! en Katriena, nťť!
    In 1997 verskyn 'n bloemlesing verhale waarvan sy samesteller is, getiteld Dogters van Afrika. Feeks, 'n bundel kortverhale, verskyn in Oktober 1999 en in Maart 2000 in Nederlandse vertaling. In 2001 verskyn haar eerste jeugroman, Blinde sambok, asook haar eerste digbundel, Met die taal van karmosyn. Blinde sambok word in 2003 bekroon met die ATKV Kinderboek-prys.

Riana Scheepers beantwoord Janet Maree se vrae omtrent die skryfproses

1. Hoekom, al het ek nie die dringende begeerte om te skryf soos skrywers nie, gebeur dit dat as ek begin tik, daar iets soos 'n storie gebeur? Moet iemand my dalk 'n skop onder die agterent gee? As daar so iemand is, waar kry mens hom of haar?

He he he ... jy is 'n skrywer - daaroor het ek geen twyfel nie. As jou stories net sommer gebeur, is jy 'n geseënde skrywer! Die meeste jong skrywers het die dringende begeerte om te skryf, maar sit vir ure wroegend agter 'n rekenaar om iets te láát gebeur. Daardie mens wat jou 'n skop in die regte rigting gaan gee, is nogal so skaars soos 'n hoendertand. Baie min ervare skrywers is bereid om 'n mentor te wees vir iemand anders. Soms kry mens 'n natuurlike mentor, 'n onderwyser of 'n vriend(in) wat bereid is om te lees en kommentaar te gee, en leiding en rigting, maar dit is 'n uitputtende en gevaarlike werk. Diegene wat dit doen, se waarde is ver bo dié van Mevrou Spreuke s'n. Ek doen hierdie soort skopwerk met die skrywers wat my Skryfskool bywoon - al is die skop partykeer 'n bietjie hardhandig.


2. As ek dink dat iets goeds uitkom, sal ek méér wil skryf? Daar is ewig die
gevoel dat dit tripe is.

Daar is niks so bevredigend as om 'n teks kant en klaar en afgehandel te hê - en dan nog daarmee geprys te word - nie! Hierdie positiewe energie is wonderlike stimulasie om weer iets nuut te begin skryf, iets wat selfs beter sal wees as die vorige een. En dan besef jy skielik tot jou afgryse dat jy weer terug is by die begin - en dat die nuwe teks soos 'n berg voor jou lê en álles van jou gaan eis.
       'n Goeie teks agter jou naam is geen waarborg dat die volgende een pêrels uit die hemel gaan wees nie. 'n Skrywer moet ook maar nooit té gerus raak oor sy/haar vermoë nie, want 'n selfgenoegsame skrywer is 'n lui skrywer, is 'n slegte skrywer.
       Skrywers kan dikwels nie 'n betroubare oordeel uitspreek oor hul eie werk nie - dit is nie 'n vreemde verskynsel nie. Dit is egter beter om te voel dat jou werk tripe is, as wat jy dink alles wat jy doen is fantasties. Dink só, en jou terugkom aarde toe is groter!

3. Is dit beter om net te skryf en nie ander dinge te wil doen wat baie aandag
verg nie?

Elke skrywer moet sy eie ritme en roetine bepaal. Een skrywer vind baat by 'n vaste roetine en dodelike dissipline, 'n ander een skryf wanneer die wil en die lus hom/haar pak. Jy sal al twee metodes moet beproef om te kyk wat vir jou werk. Dit is wel nodig (dink ek) om skryf-fiks te bly. 'n Atleet hardloop baie kilometers om fiks te word, 'n pianis speel baie ure lank toonlere om soepel te bly, 'n skrywer moet baie skryf om skerp te bly. Moet net nie dink alles wat jy skryf is wonderlik nie, smyt gerus maar jou oefeninge weg - dit doen geen skrywer kwaad nie! 'n Goeie oefening is om briewe te skryf. Probeer dit!

4. Hoe suiwer moet die taal wees om aanvaarbaar te wees en wanneer mag mens skryf soos jy praat? Ek praat redelik onsuiwer en partykeer kry ek die gevoel dat daar nie dieselfde gevoelswaarde in Afrikaans soos aan 'n Engelse woord of sinsnede is nie.

Ek weet nie wat die tema van jou skryfwerk is nie, want die genre en die tema en die teikenleser sal wel die soort taalgebruik bepaal. Tieners en jongelinge praat nie 'n suiwer Afrikaans nie, daarom gaan jy nie (noodwendig) perfekte taal in 'n jeugroman kry nie.
       Ek verkies om korrekte taal te gebruik, want dit hoef nie noodwendig formeel te wees nie. En dan hét ek ook al verhale in 'n bepaalde idiolek geskryf, omdat dit die taalgebruik van daardie karakter is. Die uitdaging lê daarin om korrekte, maar opwindende taal te gebruik wat steeds kenmerkend is van 'n bepaalde groep mense (karakters) se taalgebruik. 'n Teks wat links en regs slang rondgooi en Engelse woorde en uitdrukkings sonder enige funksionaliteit gebruik, skep die indruk van slordigheid. Ek kan jou wys op tekste wat wel hierdie soort taal gebruik en wonderlik lewendig is, omdat dit effektief en eerlik en funksioneel is; en dan kan ek vir jou tekste wys wat sommer net op effekbejag uit is. Vir my is die wagwoord eerlikheid. As jou karakter op 'n eerlike en ongedwonge manier slang gebruik, laat dit dan so wees. Laat ek bysê: 'n skrywer wat suiwer taal gebruik, en effektief, beïndruk my baie meer. En, o ja, wát is daardie Engelse woorde of uitdrukkings wat net nie dieselfde in Afrikaans is nie? (Jy sal my moeilik oortuig!)


5. Mag stories wat na aanleiding van 'n Bybelverhaal geskryf is, feite bevat wat
glad nie skriftuurlik korrek is nie?

Maar natuurlik! Dit is een van die kenmerke van kreatiewe denke: dat 'n kunstenaar op 'n bepaalde gegewe reageer en dit dan vars en nuut en revolusionêr of dwars of aweregs verwerk. Skrywers "herskryf" nie net die Bybel nie, maar ook die wetenskap, die politiek, die filosofie ... en dan beslis nie volgens die "wette" van daardie spesifieke denkrigting nie. As jy Bybelgegewe wil gebruik en jou eie interpretasie daarvan gee, beteken dit regtig nie dat jy die antichris is nie, dit is myns insiens 'n anduiding dat jy die Bybel (wat een van die belangrikste invloede in die Westerse beskawing is) as 'n opwindende en kreatiewe bron ervaar.





LitNet: 29 Junie 2006

Wil jy reageer op VraNet? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.