Kannemeyer-toereArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Storietoere se reiskalender vir vanjaar

Die “goue seun”, Uys Krige, kry vanjaar saam met die “bonkige Zoeloelander”, DJ Opperman, ereplekke in John Kannemeyer en Wium van Zyl se bekende reeks Storietoere. Ook die pas gerestoureerde Hugenote-Gedenkskool sal spesiale aandag kry. Toergangers word gelei op die voetspoor van skrywers, maar word terselfdertyd goed op die hoogte gebring van dikwels haas onbekende aspekte van streke waardeur die roetes gaan.

Die program is soos volg:



Langenhoven-toer
Uys Krige op die strand van Onrus

  1. Krige-Rabie-Opperman-reis, 14-17 Junie: Om saam te val met die publikasie van Die goue seun, Kannemeyer se biografie oor Uys Krige, kom ’n vierdaagse Krige-Rabie-Opperman-reis deur die Boland en die Overberg eerste aan die beurt. Hierdie reis, met oornagtings op Onrust, Witsand en Stilbaai, is ’n nuwe toer. Tydens die reis sal deelnemers die Kaapstad en Stellenbosch van hierdie drie skrywers leer ken, en kennis maak met Onrust waar Krige se Oupa Dominee sy vakansiehuis gehad en waar Krige self die laaste agtien jaar van sy lewe in sy huis Swartdakkies langs die “flikkerende vlei” gewoon het. ’n Besoek word ook gebring aan Onrust se tweelingdorpie Vermont, waar Jan Rabie en sy kunstenaarsvrou Marjorie Wallace hulle in 1971 gevestig het en waar hulle, soos vroeër in hulle Groenpuntse huis, baie skrywers en skilders gul ontvang het. Die reis gaan verder na Franskraal aan die Suid-Kaapse kus, waar Opperman telkens ná sy werk op Stellenbosch kom uitspan het en waar hy opwindende gesprekke met sy baie vriende en kennisse kon voer. Van daar gaan die bus deur die golwende landskap van die Overberg na Witsand, dié kusdorp waar die Breërivier uitmond, waar Krige se drama Die twee lampe afspeel en waar, volgens hom, Karoo en see mekaar ontmoet. Op Stilbaai word besoekers bekend gestel aan dié rustige stranddorp met sy ou visvywers en die plaas Riethuiskraal langs die rivier waar Jan Rabie saam met sy broers ’n heerlike jeug gehad het. Op terugweg ry ons deur Riversdal, waar Rabie gematrikuleer het, verby Krige se geboorteplaas Bontebokskloof, en deur Montagu, waar sy skilderbroer François lank gewoon en gewerk het. Daarna keer ons terug huis toe.




    Naby die Augrabies-waterval, een van die besoekpunte van die Kalahari-toer

  2. Kalahari-toer, 14-22 September: Die langste en opwindendste binnelandse toer op vanjaar se program is die negedaagse Kalahari-toer, met oornagting in twee nasionale parke — Augrabies en die Kgalagadi-Transgrenspark — op die voetspoor van die Hobsons, PJ Schoeman en Elizabeth Vermeulen, maar ook van hedendaagse skrywers soos Jan Spies, Donald W Riekert en Willem D Kotze. Met hierdie reis kom deelnemers op die hoogte met die wêreld van die Noord-Kaap, wat vir baie mense onbekend is en ongenaakbaar lyk. Tydens die toer sal u aan die hand van deskundige gidse ook aan die geografie, geskiedenis, fauna en flora van die gebiede wat u gaan besoek, bekend gestel word.




    Die graf van Leipoldt se sendeling-grootvader op Wuppertal

  3. Leipoldt-Boerneef-toer, 26-29 September: ’n Vierdaagse toer na die wêrelde en oorspronge van die skrywers C Louis Leipoldt en Boerneef. Dit beloof om ’n uitsonderlike ervaring te wees, want afgesien van baie inligting oor die twee skrywers word deelnemers aan die toer bekend gestel aan verskillende boeiende dele van ons land: die Boland, die Bokkeveld, die Olifantsriviervallei en Wuppertal, met ritte oor ongelooflike bergpasse, besoeke aan boereplase en besigtiging van die besondere tuisnywerhede van die streke.




    Toergangers gesellig byeen op die Prinsengracht, met die Westerkerk in die agtergrond

  4. Agtien dae Lae Lande, 26 Oktober-12 November: Verlede jaar het ons ’n hoogs suksesvolle toer deur Nederland en Vlaandere onderneem, met Amsterdam en Antwerpen as standplase. Talle van die bekende museums word besoek, uitstappies word gereël na plekke soos die Afsluitdijk, die Muiderslot en die Anne Frank-huis en stede soos Rotterdam, Den Haag, Utrecht, Brugge, Gent en Brussel. Hierdie toer word vanjaar weer aangebied, mits ’n minimum van tien deelnemers aanmeld. Aangesien die toer baie organisasie verg, is dit noodsaaklik dat belangstellendes onmiddellik, maar nie later nie as einde April, bespreek.

  5. Eendaagse literêre rondreis deur die Boland, 30 November: Die eendaagse literêre reis deur die Wes-Kaap, wat nou reeds ’n instelling geword het en waaroor deelnemers in die verlede in ekstase was, begin by die Waterfront in die Kaapstadse hawe en gaan van daar via Groenpunt, Drieankerbaai, Clifton en die middestad op die spore van digters en skrywers na Stellenbosch, die Paarl en Dal Josafat. Binne die bestek van een dag kan deelnemers ’n hele stuk fassinerende geskiedenis meemaak. Toergangers het in die verlede deur ’n kollektebus ruim bygedra tot die fonds vir die Gedenkskool en skenkers word uitgenooi om te kom kyk na hul prestasie.

Lesers wat in hierdie toere belangstel, word versoek om, ten einde teleurstelling te voorkom, so gou moontlik hulle plekke by prof Wium van Zyl by (021) 976-5755 (telefoon en faks) of wvanzyl@uwc.ac.za te bespreek. Hy sal ook inligting oor die koste van elke toer verskaf.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.