Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

2004: Die trosse en korrels van vyf wynstyle: Van tak na tafel in een jaar

Pieter du Toit

Week een
’n Wynstyl is nie noodwendig dit wat op die etiket gedruk is nie, baie maal wel. Dit het niks met die naam van die plaas te doen nie. Maar later in die reeks meer oor style. Neem ’n Chenin Blanc as voorbeeld: Jy kan van ’n Chenin Blanc-druif baie style wyn maak, soos byvoorbeeld ’n semi, ’n vonkelwyn, droë, gehoute of edel laat-oes. Die Chenin Blanc is die kultivar (druifsoort) en die styl is die soort wyn wat van die kultivar gemaak word.

Vanaf 19 Januarie gaan ek elke week rapporteer oor vyf wynstyle. Met ander woorde, hoe loop die pad van die korrel vanaf die wingerdstok in die grond en area waar dit gepluk word tot waar dit op die tafel van ’n verbruiker as ’n glas wyn beland? Foute wat insluip, sal ook beskryf word, om sodoende juis die probleme aan te dui waarmee die wynmakers te make het. Sodoende die lief en leed van die wingerdsap op die webwerf in jou gemakstoel.

Hoe kies ’n mens uit die ongeveer 350 plase en wynplekke? Soos volg: Ek woon op Stellenbosch en dus moet die proses maklik wees vir my om te volg - Robertson, Upington en Malmesbury is te ver om elke week te besoek! Die oggend na ek my idee geformuleer het, het ek besluit om die eerste vyf plase in die Stellenboschstreek te nader wie se logo’s of persone ek raakloop, en om so “regverdig” te bly. So het dit dan gebeur. Twee van die plase is baie bekend: Delheim en Simonsig. Die ander drie is minder bekend aan die leek, maar helaas nie onbekend in die bedryf nie!

Die druifsoorte op elke plaas is:

— Die Chenin Blanc- en die Sauvignon Blanc-kultivar tot ons weet watter een die wynmaker gaan gebruik vir die edellaatoes-wyn op Asara.

— Op Delheim ’n Pinotage-druif wat ’n Rosé gaan word, nl ’n Delheim Pinotage Rosé ’04 .

— By De Meye ’n Cabernet Sauvignon-druif en ’n Shiraz-druif wat ’n rooi versnit gaan word, nl ’n De Meye Trutina ’04 .

— Op Lourensford volg ons ’n eerste drag van die Sauvignon Blanc-kultivar wat presies dit, nl ’n Lourensford Sauvignon Blanc ‘04 gaan word.

En by Simonsig die Pinot Noir-, ’n Chardonnay- en ’n Pinot Meunier-kultivar wat ’n egte cap classique gaan word, nl ’n Simonsig Kaapse Vonkel ’04 .


Ter inleiding, iets meer oor die vyf plase

  • Asara
    Hierdie plaas is te vinde aan die regterkant op die Kuilsrivier-pad (die R306 of M12), dit is as jy Stellenbosch verlaat via Onderpapegaaiberg-woonburt. In wynterme sê ons die plaas is geleë in die Vlottenburg-area aan die voet van die Bottelaryheuwels wat in die Stellenbosch-distrik val, wat op sy beurt weer deel uitmaak van die Kusstreek. Asara se wynbure is Neethlingshof.

    Asara, soos die plaas vandag daar uitsien, behoort aan Markus en Christiane Rahmann. Die plaas het eers bekend gestaan as Verdun en die Rahmanns het die plaas in Februarie 2001 bekom. Mnr Rahmann, ’n Duitse sakeman, het die plaas se naam gaan haal by drie Afrika-gode, nl Asis (son), Asase (aarde) en Astar (lug/uitspansel). Jan van Rooyen is in 1999 reeds as die wynmaker aangestel, terwyl Pieter Rossouw in 1997 as wingerdboukundige aangestel is. Die plaas is 180 ha groot, waarvan 120 met wingerd beplant is. Ons kontakpersoon vir die jaar is Jan van Rooyen.

    Die plaas plant 30 persent wit kultivars en 70 persent rooi kultivars aan. Dit bestaan uit Cabernet Sauvignon, Merlot, Shiraz, Chardonnay, Chenin Blanc, Pinotage, Malbec, Petit Verdot, Cabernet Franc, Gamay Noir en Sauvignon Blanc.

    Ongeveer 650 ton druiwe word tans gepluk.

  • Delheim
    As jy Stellenbosch verlaat om Paarl toe te ry via die Klapmuts-kruising (R44), sal jy Delheim se afrit aan die regterkant vind. In wynterme sê ons die plaas is geleë binne die Simonsberg-wyk; dit ressorteer ook onder die Stellenbosch-distrik en is sodoende in die Kusstreek geleë. Delheim se wynbure is Uitkyk, die nuwe Quoin Rock, Knorhoek en Muratie.

    Dink jy aan Delheim, dink jy aan familie. Tans bestuur Spatz Sperling en sy familie die plaas. Spatz is ook een van die drie stigters (1971) van die eerste wynroete in Suid Afrika. Spatz se seun, Victor, is die wynboukundige en ook die hoofbestuurder van die plaas sedert 1993. Gedurende 2003 is Brenda van Niekerk die wynmaker. Dan is daar is nog Nora Sperling-Thiel, Victor se suster. Nora is verantwoordelik vir die bemarking van Delheim-wyne. Die plaas ontleen sy naam aan ’n vorige eienaar, ene Dell Hoheisen, en Delheim beteken “Dell se huis”. Dell was ’n groottante van Spatz. Die plaas is 300 hektaar groot, waarvan 150 hektaar met wingerd beplant is. Ons kontakpersoon vir die jaar is Nora Sperling-Thiel.

    Die plaas bestaan uit 30 persent wit kultivars en 70 persent rooi kultivars. Die druifsoorte is: Cabernet Sauvignon, Merlot, Pinotage, Shiraz, Chardonnay, Rhine Riesling, Colombar, Gewürztraminer, Chenin Blanc en Sauvignon Blanc.

    Ongeveer 1 000 ton druiwe word tans gepluk.

  • De Meye
    As jy Kaap toe ry met die R304, of Paarl toe met die R44, is daar ’n verbinding tussen die twee paaie wat die Stellenbossers die Elsenburg-pad noem. Op die roete is die Elsenburg Landboukollege geleë en nie baie ver daarvandaan nie, vind jy De Meye. In wynterme sê ons die plaas is geleë binne die Groter-Simonsberg-wyk wat dan ressorteer onder die Stellenbosch-distrik en sodoende in die Kusstreek geleë is. De Meye se bure is Hoopenburg, Joostenberg en Starke/Muldersvlei.

    De Meye is vernoem na ’n rivier in Holland naby die plek waar die Myburghs vandaan kom. En moenie eers probeer uitvind wie wie in die Myburgh-familie in Stellenbosch is nie - die telefoongids het amper 40 inskrywings! Die plaas behoort aan die Jan Myburgh-Trust. Philip Myburgh, seun van Jan, is die bestuurder sedert 1998. Marcus Milner is die wynboukundige sedert 1999, met Aby Bodlani die assistentwynmaker sedert 2000. Die wingerdboukundige sedert 2001 is Tim Melck. Die plaas is 150 hektaar groot en 60 daarvan word met wingerd beplant. Die kontakpersoon vir die LitNet-projek is Philip Myburgh.

    Die plaas plant 30 persent wit kultivars en 70 persent rooi kultivars aan. Die aanplantings bestaan uit Cabernet Sauvignon, Pinotage, Shiraz, Chardonnay, Chenin Blanc en Sauvignon Blanc.

    Ongeveer 400 ton druiwe word tans gepluk.

  • Simonsig
    Soos in die geval van De Meye, ry jy met óf die R304 óf die R44 Paarl toe, maar kyk jy uit vir die duidelike borde wat Simonsig aandui - Stellenbossers praat van die Kromme Rhee-pad, wat later die Bottelary-pad word. Simonsig se wynbure is Slaley. In regte wynterme sê ons die plaas val ook onder die Groter-Simonsberg-wyk soos De Meye.

    Soos Delheim, is ook hierdie plaas ’n familie-besigheid. Frans Malan was een van die drie stigterslede in 1971 van die Stellenbosch-wynroete. Dit is maar net een van die baie wonderlikhede wat ons hom kan toeswaai. Hy word die eerste persoon in Suid-Afrika wat ’n vonkelwyn volgens die klassieke Franse méthode champenoise maak. Hierdie bekende wyn staan vandag nog bekend as Kaapse Vonkel. Frans Malan sterf gedurende Augustus 2003, ’n dag na sy 75ste verjaarsdag. Vandag is sy drie seuns voltyds by een van die grootste landgoedere in privaatbesit in Suid-Afrika betrokke. Johan Malan is die wynmaker sedert 1984. Sy twee assistente is Van Zyl du Toit en Debbie Burden. Francois Malan is die wingerdboukundge en Pieter die bemarkingsbestuurder. Die plaas se naam kom, voor die hand liggend, van die wonderlike uitsig wat die eienaar gehad het en sy seuns nog vandag het oor Simonsberg. Daar word 205 hektaar met wyndruiwe beplant. Ons kontakpersoon is Liz Greyling, nasionale verkoopsbestuurder.

    Die plaas plant Cabernet Sauvignon, Merlot, Pinotage, Shiraz, Chardonnay, Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Viognier en Mouvedre aan.

    Ongeveer 2 000 ton druiwe word tans gepluk.

  • Lourensford
    Ry Somerset-Wes toe vanaf Stellenbosch (R44) en draai links asof jy na S’Wes-middedorp gaan. As jy die sakegebied binne ry, sal die predikant aandui jy moet regs draai om na die dorpshospitaal toe te gaan. Dit is ook die pad wat jy neem om by drie baie bekende plase, nl Morgenster, Vergelegen en Lourensford uit te kom. Lourensford is geleë binne die Lourensriver-vallei, wat onder die Stellenbosch-distrik val, wat op sy beurt weer deel uitmaak van die Kusstreek.

    Wat deserdae as die Christo Wiese-portefeulje bekendstaan, sluit onder andere die Five Heirs- en Eden Crest-reeks asook die Lourensford-reeks in. Vir hierdie doel fokus ons op laasgenoemde. Gedurende 2003 word die eerste wyn op Lourensford gebottel. Philip Costandius, die eerste en huidige wynmaker, maak onder andere op die volgende drie persone staat: Wynand Lategan, die assistentwynmaker, Hannes Nel, wynmikrobioloog en Annelie Viljoen, die wingerdboukundige. Roux van Zyl is die plaas se hoofbestuurder.

    Meneer Christo Wiese, die eienaar van Lourensford, se filosofie is om die plaas as ’n klomp minilandgoedere te bestuur en nie as een eksklusiewe eenheid nie. Sodoende bring dit ’n gefokusde kwaliteit met baie meer individue betrokke en ’n verskeidenheid. Die nuutaangeskafte eiendom is 4 000 hektaar groot. Daar word beoog om 500 hektaar met wingerd te beplant.

    Die rivier wat oor die plaas loop, se naam is Tweederivier. Ene meneer Lourens het jare gelede daar verdrink. ’n Vorige eienaar wat van Waterford in Ierland gekom het, het die Ford-deel gekombineer met Lourens, ’n klein eerbetoning, en vandaar die naam. Ons kontakpersoon vir die jaar is Philip Costandius, die wynmaker.

    Die plaas sal uiteindelik 20 persent wit kultivars en 80 persent rooi kultivars aanplant. Hier is ’n lys van sommige van die kultivars op Lourensford: Mourvèdre, Cabernet Sauvignon, Cabernet Franc, Merlot, Pinotage, Shiraz, Chardonnay, Sauvignon Blanc, Semillon en Viognier.

    In 2004 sal daar 900 ton druiwe geoes word.

    Net voor ek groet, hier is al die kultivars wat ek genoem het; kyk of jy ’n nuwe naam bygeleer het - ék het:

    Cabernet Franc, Cabernet Sauvignon, Chardonnay, Chenin Blanc, Colombar, Gamay Noir, Gewürztraminer, Malbec, Merlot, Mourvèdre, Petit Verdot, Pinot Meunier, Pinotage, Rhine Riesling, Sauvignon Blanc, Semillon, Shiraz, Viognier.

    Volgende week gaan ek nog bietjie skryf oor die plase, maar gaan ons begin kyk na die grond, hellings, opleiding van die stokke en die weersomstandighede vanjaar, “want,” seg Johan Malan op Simonsig, “jy moet roer, ons begin oes!”

    21 Januarie 2004

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.