Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Woordfees beloof 'n oorvloed vermaak, plesier en diep denke - kaartjies nou beskikbaar!

Erns Grundling

Klik op plakkaat vir vergroting!
Klik op plakkaat vir vergroting! Die Universiteit Stellenbosch se Woordfees 2005 vind oor presies 'n maand plaas, van 7 tot 13 Maart. Die kaartjiekantore het pas geopen en voornemende feesgangers sal gou moet spring om betyds te bespreek, want vanjaar se opwindende program is iets wat woord- en feesvrate nie durf mis nie.

Kaartjies kan op die volgende maniere aangeskaf word:

  • Vir telefoniese kredietkaart- en kontantbetalings:
    Skakel die kaartjiekantoor by: 021 808 2859 en 808 2160.

  • Vir e-pos-besprekings:
    Stuur na fees@sun.ac.za u kontakbesonderhede, naam op kredietkaart, kredietkaarnommer, laaste 3 nommers agterop die kredietkaart, vervaldatum, kredietkaarttipe (bv Visa) en die programdetail.

  • Kaartjies direk te koop by:
    Kaartjiekantoor, Kamer 682, 6de Vloer, Lettere A-gebou, h/v Merrimanlaan & Van Ryneveldstraat, Stellenbosch.

  • Die Burger Plusvoordele
    Goeie nuus vir Burger-intekenare met 'n Plus-kaart: bespreek vier kaartjies per produksie en kry 'n ekstra een gratis! Voordele slegs van toepassing met bewys van kaart. Nuwe intekenare: skakel 0860 2000 10.

    LitNet het gesels met Naomi Bruwer (NB), projekbestuurder van die Woordfees.

    1. Wat hou vanjaar se Woordfees in vir die gesoute feesganger?

    NB: Bitter lekker feesproduksies en soet herinneringe … Genugtig, waar begin mens met meer as 80 produksies om van te kies?

    Ons fokus vanjaar op die Tagtigers - 'n opwindende, dinamiese tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en letterkunde. Ons het die opwinding en dinamika van dié tyd in die program ingebou met musiekprogramme soos Anton Goosen en Jennifer Ferguson se Na die Rubicon; skrywersprogramme soos Grensoorlog met Zander Strachan, Piet Haasbroek en Jeanette Ferreira; diskoersprogramme soos Little Magazines en Hoofopskrifte.

    Op die dramafees het ons Prinsloo versus en Elke boemelaar se Droom, wat spesiaal vir die Woordfees weer op die planke gebring word; en dan is daar ook Brêkfis met vier - 'n lekker ontbytprogram rondom die debuutbundel van vier van die belangrikste Tagtigers: Etienne van Heerden, André le Toit (Koos Kombuis), Peter Snyders en Daniel Hugo.

    Ook die kunsfees fokus op die Tagtigers met Landskap in transito - 'n uitstalling wat skilders se reaksie op die sosiopolitieke gebeure van die tagtigerjare verbeeld.

    Die feesprogram is goedgebalanseerd. Ons het 'n uitstekende dramafees en musiekfees. Die skrywersfees betrek 'n wye verskeidenheid skrywers en ons Aan tafel-program spog met heerlike etes, onder andere 'n lekker storievertelaand, Om die vuur, met storievertellers soos Fanus Rautenbach, Elias Nel, Dirk van Schalkwyk en Florence Ann Filton.

    2. Waarom sal iemand wat nog nooit by die Woordfees was nie, die moeite doen om fees toe te kom?

    NB: Want dit is nie moeite nie. Maak eenvoudig 'n kredietkaartbespreking by 021 8082859 en kom! Ons sal sorg dat al jou kaartjies beskikbaar is by die eerste produksie wat jy bywoon. Die feesprogram is uitstekend en dis 'n fout om dit nie by te woon nie! Ons produksies is so geskeduleer dat daar nooit 'n oorloop van mense is nie, sonder om die feesatmosfeer te verloor. Die Woordfees het ook 'n groot verskeidenheid produksies wat jy by geen ander fees gaan kry nie. Of jy lus is vir pret en plesier of intellektuele stimulasie (of natuurlik beide) - die Woordfees is die plek daarvoor.

    3. Wat bied vanjaar se Woordfees vir jongmense en studente?

    NB: Enige jongmens of student wat bietjie belangstel in musiek, drama en letterkunde het 'n oorvloed dinge om te sien op vanjaar se Woordfees. Woensdagaand 9 Maart word beide Zinkplaat en Brixton Moord en Roof Orkes se CD's gelaunch by Ambiorix. Donderdagaand 10 Maart is daar Vlugskrif - 'n boheemse program met jong skrywers wat voorlees, en Trike, Bacchus Nel en die Naaimasjiene wat musiek maak. Moet ook nie die Huisgenoot Paartie innie Park op Vrydagaand 11 Maart vergeet nie - met bands soos Anton Goosen, Gian Groen, Koos Kombuis, Gert Vlok Nel, Gorki en Klopjag is dit 'n absolute bargain.

    Ons gratis Straatfees op Saterdag 12 Maart voor die HB Thom het 'n great line-up van 11:00 tot 23:00, met bands soos Bed on Bricks, Trompie is Dood, Malva Centauri, Brixton Moord en Roof Orkes, die Melktertkommissie en Fokofpolisiekar - om maar net 'n paar te noem.

    Vir die teatergangers is Die Francois Toerien Show en Onbekend met Nina Swart, Lize Beekman en Nicole Holm 'n moetsien (bestaan daar so 'n woord?). En vir dié wat ernstig is oor die stand van kuns in ons land het ons 'n vuurwarm debat: Kunstenaars vs Entertainers - wanneer kwalifiseer jy as "kunstenaar" en wanneer is jy bloot 'n "entertainer"?

    4. Hoe het verlede jaar se fees gevaar wat statistiek en bywoning betref?

    NB: Die fees het al ons verwagtinge oortref! Ons moes stoele indra vir debatte en mense het baklei vir kaartjies. Die gemiddelde bywoning van produksies het 'n ongelooflike 84 persent gehaal, met 'n derde van die produksies heeltemal uitverkoop. En om die statistiek in te bring het ek gou 'n klein grafiekie getrek om te wys hoe ons bywoning eksponensieel gegroei het oor die afgelope vyf feeste.

    5. Wat lyk op hierdie stadium na die gewildste produksies by die fees?

    NB: Moeilik om te sê, aangesien ons kaartjieverkope nou eers begin. Ons het wel al heelwat navrae gehad oor die Filosofiekafee, Om die vuur, waaraan ondere andere Fanus deelneem, Boland & Beyond met Sarah, Pedro & die DNA-strings, Goue Stemme met Rina Hugo, Jannie Moolman en die Anglo Gold-koor, en Verleiding - die nuwe drama deur Reza de Wet.

    6. Hoe het die Woordfees se infrastruktuur oor die afgelope aantal jare verander?

    NB: Dit is vanjaar die sesde Woordfees. Die fees het 'n geweldige groei ondergaan sedert 2000 wat omvang, gehalte en infrastruktuur betref. Ons het nou 'n kantoor met drie voltydse personeellede: Theo Kemp (bemarker), Fiona van Kerwel (koördineerder: spesiale projekte) en ek (projekbestuurder). Die Woordfees is nie net beperk tot die fees self nie; ons jaarprogram behels 'n verskeidenheid gemeenskapsgerigte projekte, 'n nasionale kortverhaalkompetisie in samewerking met LitNet en Protea Boekhuis, en talle addisionele skrywerproduksies.

    7. Wat maak jou die mees opgewonde oor die Woordfees?

    NB: Oor die algemeen: die entoesiasme van ons deelnemers en die publiek; die mag van samewerking om dinge reg te kry wat andersins onmoontlik sou wees; die bevordering van letterkunde, kuns en Afrikaans binne 'n diverse samelewing.

    Oor die Woordfees spesifiek: die feit dat ons oor die afgelope ses jaar ons identiteit behou het as skrywersfees en nie veralgemeen het tot die aanbied van populêre produksies wat op baie ander feeste te sien is nie.

    Oor Woordfees 2005: die uitstekende feesprogram.

    8. Enige interessante staaltjie wat jy kan onthou van verlede jaar se Woordfees?

    NB: Nee, ek gaan niks sê oor almal wat my gebel het oor die plakkaat nie … Maar ek is seker Johan Bakkes sal my vergewe as ek sy "rum & Coke"-episode vertel. Johan het die Sondagoggend deelgeneem aan die Baie Belangrike Boekebrêkfis, waar 'n klompie mense moes kom vertel watter boek 'n belangrike invloed op hul lewe gehad het. Met die addisionele skedulering van Bakkes innie môre het hy twee ontbyte dié dag gehad en moes hy hom haas na Dorpstraat Teater, net om vinnig 'n paar rum & Cokes af te sluk om die senuwees te kalmeer voor hy die verhoog moet op. Volgens oorlewering het een van die toeskouers na die tyd opgemerk: "Het jy daai man gesien? Hy drink ses rum & Cokes op 'n Sondagmôre en dan lees hy nog voor uit die Bybel ook …"

  • Klik hier om die Woordfees se webwerf te besoek vir meer inligting!



    LitNet: 7 Februarie 2005

    Wil jy reageer op hierdie inligting? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.