Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

  Waldo Müller
Waldo Müller het vir sewe jaar as joernalis gewerk by Die Burger in onderskeidelik Kaapstad en Port Elizabeth. Na sy bedanking in 2000 het hy ’n Baaise kwaitogroep help bestuur en vryskut stories geskryf oor swart kuns en kultuur. Hierdie werk is bekroon met die Oos-Kaapse regering se Premierstoekenning vir Kulturele Joernalistiek. Hy is pas aangestel as redakteur by ’n bekende uitgewer in Kaapstad.

Suidoosterfees broodnodig, maar kort meer ballas

Waldo Müller

Die Burger-Suidoosterfees het onlangs plaasgevind op die kampus van Skiereiland Technikon, oftewel Pentech. Ek het die eerste dag van die twee dae lange fees namens LitNet bygewoon, en hier volg my persoonlike indrukke — eers die positiewe en vleiende, dan die kritiese.

Die ASV se Potpourri van Kaapse Skrywers het ’n heerlike geleentheid gebied om mense soos Antjie Krog, Petra Müller en Peter Snyders in aksie te beleef. Krog het op meesleurende wyse voorgelees uit Met woorde soos met kerse en Müller se familiestories was vermaaklik en plat-op-die-aarde. Dit was prikkelend om Snyders te hoor vertel dat hy eers in hoogdrawende Shakespeare-Engels geskryf het — tot hy in 1975 geïnspireer is om in Kaapse Afrikaans te skryf nadat hy by ’n konsert was waar die jazzlegende Abdullah Ebrahim ’n Afrikaanse gedig bo-oor ’n jazzmelodie voorgedra het.

Die Jakes Gerwel-Gesprekkereeks, getiteld “Non-racialism in Afrikaans”, was ’n hoogtepunt. Die paneel en gehoor was uiters veelrassig en het reguit dog versoenend gepraat. ’n Interessante gesprekspunt was die definiëring van mense as “bruin”. Phumzile Malambi van die Universiteit van Stellenbosch se Black Students Association het gesê vir hom is daar net wit en swart, soos in Amerika, maar volgens Heindrich Wyngaard van Rapport is die kwessie nie so eenvoudig nie. Gehoorlede van gemengde ras het verskillende sienings gehad. Een vrou het gesê sy wil “bruin” wees, terwyl ’n ander haarself bestempel het as “swart en Afrikaanssprekend”. Jackie Nagtegaal het ’n insiggewende opmerking gemaak oor die Engelse leenwoorde en straatlingo wat haar Afrikaans deurspek. Volgens haar bring sulke taalgebruik Afrikaanssprekendes van verskillende rasse nader aan mekaar.

Makagano Mamabolo het Vrydagaand vir uitstekende vermaak gesorg met die satire Miss Kwa Kwa. Sy het haar gehoor laat skater met verduidelikings van hoekom swartes Afrikaners bo Engelse verkies, verslae van haar katelkapperjolle met wit mans, kwinkslae oor die aksente van jong swartes wat na privaatskole gaan en grappies oor hoe enigiets vandag op apartheid geblameer kan word — selfs ’n motor wat nie wil vat nie.

Daar was ongelukkig te veel ou produksies op die fees — stukke soos Joe Barber en Kanna. Iets soos Whirlwinds on the Flats, een van die min stukke wat spesiaal vir die Suidoosterfees geskep is, is baie swak bygewoon. In hierdie indrukwekkende dansproduksie het Christopher Kindo saam met die Free Flight-dansgeselskap, Jazzart en die Eoan-groep ’n kombinasie van kontemporêre, Afrika- en Indonesiese danswerke aangebied.

Daar was ook Vrydag teleurstellend min mense by die ontwikkelingsproduksies Kadansas vanuit die Breede Vallei en Applauz. Eersgenoemde verdien lof omdat dit so verteenwoordigend was — met poësie deur sowel ’n bourgeois wit tannie as ’n jong Xhosa-imbongi. Natalia de Rocha se Applauz was ’n vertoonkas van Vlakte-sangtalent. Sommige van die stemme was wêreldklas, maar ’n mens sou graag meer inheemse materiaal wou hoor en minder Amerikaanse poptreffers. Die groep het wel ’n pragtige soul-weergawe van “Jantjie kom huis toe” gedoen.

Gepraat van musiek — die RSG-tent was nie ’n treffer nie. Die reusetent se sitplekke was die hele Vrydag nooit meer as 20 persent beset nie — waarskynlik omdat die meeste musiek in die tent mense eerder laat vlug het as om hulle aan te trek. Iemand het meer as een keer ’n medley van Bob Marley-treffers gesing, ’n soort “Hooked on Bob Marley”. Dit was die pits. Die tent het eers die aand begin lewe kry toe dinge ’n hip-hoprigting ingeslaan het. Die bietjie Afrikaanse hip-hop wat gehoor is, was egter veels te min. Besef die organiseerders nie dat die Kaapse Vlakte krioel van Afrikaanse rappers nie? Hoekom is nie meer van hulle ’n kans gegun om in die RSG-tent op te tree nie? Dit sou die venue beslis gewilder gemaak het.

Die Burger het nie baie eerlik oor sy Kaapse Vlakte-kunstefees berig nie. In Die Burger van 3 Oktober was ’n berig oor die Suidoosterfees met die opskrif “Kaartjies vlieg”. Ek het sowat sewe produksies bygewoon en dit was duidelik dat kaartjies nie gevlieg het nie, want al die vertonings was minder as die helfte vol.

Die Burger het die fees voorts beskryf as ’n kultuurbelewenis met “meer as 100 kunstenaars, sowat 130 vertonings, 2 kunsuitstallings en 14 kosstalletjies”. Met ’n noukeurige bestudering van die feesprogram, asook die RSG-tent se program, kon ek skaars 90 vertonings tel — en dit was met ’n liberale telling waarin ek byvoorbeeld elk van die 18 kere wat The Alchemist’s Heart opgevoer is, as ’n afsonderlike vertoning gereken het. Daar is dus gejok vir die publiek om die fees groter te laat klink as wat dit werklik was. Dit was in der waarheid nie ’n baie groot fees nie.

Daar was ook nie werklik 14 kosstalletjies nie, maar eintlik net een met verskeie onderafdelings: Fedics se Straat van Smake het daarin geslaag om die illusie te skep van individuele stalletjies met individuele karakters, hoewel dit by nadere ondersoek geblyk het ’n klassieke voorbeeld van korporatiewe hegemonie te wees. Dit is immers dieselfde Fedics wat Die Burger se personeel elke dag voer op die 20ste vloer van die Media24-wolkekrabber. As die hele Straat van Smake dan aan Fedics behoort het, beteken dit nie dat sakegeleenthede vir entrepreneurs van die Kaapse Vlakte in die slag gebly het nie?

Ek het Fedics se kerriehoender probeer. Dit het drasties sout gekort, maar daar was geen sout by die betrokke stalletjie nie. Net sulke mikroskopiese plastieksakkies blatjang — waarvan jy net een gekry het saam met jou kerrie, en wanneer jy dit uitgedruk het, was dit skaars ’n halwe teelepel blatjang. Toe ek gaan sout vra by ’n verkoper van daardie kankerwekker duisend, die universeel giftige slaptjip, het sy omtrent twaalf geure sout gehad — alles behalwe doodgewone soutgeur-sout. Ek het ’n hand vol “cream & chive”-sout by haar gekry, maar dit sekondes later op die grasperk gesmyt toe ’n alarm in my kop afgegaan het: MGS! MSG! MSG!

Danksy Die Burger se infrastruktuur het die Suidoosterfees sy eie feeskoerant gehad. Die hoofberig op die voorblad van Vrydag se Sedoos noem die fees “die grootste Kaapse kultuurmakietie tot nog toe”. Yeah right; as dit waar is, is dit seker ook waar dat Die Burger nooit Apartheid ondersteun het nie.

Dieselfde Sedoos-voorblad het gepraat van “die vlytmark se inkopiehemel”. Hierdie inkopiehemel was baie skraps en dit het my sowat twee minute gevat om alles deur te kyk wat by die skamele paar stalletjies te sien was.

Volgens die feesprogram sou Willie Bester se uitstalling ’n “fees vir die oog” wees. Dit was nie. Nie weens die gehalte van die werk nie, maar weens die kleinheid van die aanbod. ’n Mens moes fyn kyk om Bester se uitstalling raak te sien, wat broksgewys en karig versprei was in die foyer van die ouditorium. Daar was teleurstellend min werke en die individuele werke was almal betreklik klein.

Conrad Theys se uitstalling was bietjie groter in omvang, maar (net soos Bester s’n) nie van die grootte wat ’n vooraanstande kunstenaar verdien vir die soort tuiskoms wat die organiseerders beweer het die uitstallings vir die betrokke kunstenaars sou wees nie.

En dit was dit. Daar was geen ander visuele kuns te sien nie.

Hier kan ’n mens nogmaals vra: Wat van die hip-hopkultuur wat so gewild is op die Vlakte? Hoekom was daar geen ruimte vir graffiti-kuns nie? Hip-hop-graffitti kan mos ook in Afrikaans geskep word.

Daar was oraloor ’n lekker atmosfeer by die Suidoosterfees, maar dit sou heelwat feesteliker gewees het as meer mense opgedaag het. Vrydag se gure weer het beslis ’n demper geplaas op die bywoningsyfer.

’n Mens hoop die fees sal in die toekoms groei en tot ’n groter mate die swart studente by Pentech betrek. Hulle was meestal op die periferie van die fees, waar hulle darem heel oulik gelyk het met die geel RSG-sunvisors waarvan honderde vroeër op die kampus uitgedeel is.

Die Suidoosterfees bied ’n broodnodige geleentheid vir kulturele kruisbestuiwing — van intellektuele gespreksforums tot meer fisieke interaksies (soos die wit vroue wat bietjie boude geskud het op die maat van Media24 se Kaapse Klopse-groep).

Terloops, wat gaan die tema van volgende jaar se Jakes Gerwel-Gesprekkereeks wees? Ek wil een aanbeveel: “Die Burger se rol in die instandhouding van apartheid, 1948-1994”. Dit is iets wat te maklik in die nuwe bedeling onder die mat gevee is. Naspers het immers in die jare negentig die Waarheid-en-versoeningskommissie se uitnodiging van die hand gewys om te bieg oor sy jare lange geheul met rassistiese bewindhebbers in die ou Suid-Afrika.

Die Suidoosterfees sal meer ballas moet kry voor dit die indruk gaan wek van ’n volbloed-kunstefees — eerder as ’n kwalik verhulde promosieveldtog van Die Burger om meer lesers op die Kaapse Vlakte te wen.

Om op ’n positiewe noot af te sluit, wil ek dankbaarheid betuig vir die grensversittende soort debatvoering wat op die Suidoosterfees en onlangs (danksy die fees) in Die Burger gefasiliteer is. ’n Mens dink hier aan die publikasie van prof Hein Willemse se stellings dat die topbestuur van die Afrikaanse media swarter moet word. Die winde van verandering waai sonder twyfel.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.