Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ken jy die woord piel op Potch?

Theo Kleynhans

is 'n bekende plaaslike kunstenaar. Hy het vanjaar sy hande vol by die Aardklop-kunstefees. Hy is een van die keurders vir die Aartvark-prys, bied die begeleide kunstoere op kampus aan, skryf kunsresensies vir die feeskoerant Spat en behartig die interieur vir Sarie se VIP-tent. Tussen dit alles lewer hy daagliks vir LitNet verslag oor wat by Aardklop gebeur ...
  Theo Kleynhans

Ek het heerlik geslaap. Natuurlik te min, maar droomloos. Opgestaan, Spat-kantoor toe gegaan en die oggend verwyl met stories skryf. Die koerant lyk baie nice en die gremlins wat die kop op die voorblad gecorrupt het, is by die drukkers uitgesort. Die poster vir Spat lees "KEN JY DIE WOORD PIEL?" na aanleiding van die stuk Manionet. Ek is seker die kak gaan nog daaroor spat, maar wat 'n versamelaarsitem is dit nie! Veral op konserwatiewe Potch, waar mense tot onlangs nog nie mog dans op die kampusgronde nie.

Daarna het ek Zietsman se nuwe show Smallchange gaan kyk in die Elgro-saal - en wat 'n polished performance! En 'n héérlike teks. Alles oor die klein veranderings wat mens se lewensperspektief verander. En die mooiste beligting (alles in magentas en congo blues) en stel.

Daarna na die gasvryheidslokaal, waar die wit tuinbankie uiteindelik opgedaag het en nou mooi onder 'n geraamde poster van Sarie staan. Die verlore Hertex Fabrics-postertjie het ook weer sy verskyning gemaak en die lokaal is nou 'n ware oase op Die Bult.

By die Boek Oase word die nuwe Boerneef-boek vanmiddag bekend gestel deur Onse Mimi en dinge is in rep en roer daar. Ek kry Fritz Deelman en die Gori Lama en Fritz Deelman en die Swart Eiland op die tweedehandse boeketafel en betaal R75 vir beide.

My dag is besig om baie lekker te raak en ek begin al daaraan dink dat ek miskien vanaand moet afvat en miskien 'n ou vodkatjie moet gaan drink by Ommihoek. Maar eers is dit Skroothonde.

Ons klim in 'n taxi by die pendelstasie en vertrek na Ernst Scrap Metal in die industriële gebied. Edward vertel dat die lewe van die taxibestuurders maar soms moeilik is hier in Potch. Hyself besit drie taxi's, waarvan twee vir Aardklop werk. Die ander een moet sy gereelde kliënte versorg tydens die fees. Daar was moeilikheid in 'n nuwe area van Ikageng omdat dit vreeslik uitbrei het en die groep taxi-eienaars wie se area dit was, nie kon bybly nie. Toe Edward se groep aanbied om te help, was daar amper oorlog. Soos hy ons aflaai voor die rooi hekke van Ernst Scrap Metal is sy laaste woorde: "Eish, geld ... geld is 'n ou duiwel."

Skroothonde speel af binne-in die scrapyard. Met die aankoms bestorm 'n vrou jou met 'n grassnyer en daarna beweeg groepe mense wat elke vyftien minute opdaag, deur die skouspel. Jy stop by een karakter wat geplaas is binne sy spesifieke stel (wat alles scrap is) en sodra daardie tafereel klaar is, word jy óf gelei óf gekom haal deur die volgende akteur wat jou vergesel na die volgende vignette. Die winkelier en sy speelse vrou is wonderlik. Die taal en woordkeuses fokus op karre en onderdele. Daar is 'n karakter met die naam Smoorklep. En dit is volmaan en die lug is oortrek met vlieswolke en orals brand daar vure en daar is 'n orkes wat soos Battery 9 op scrap speel. Ek is energised deur die produksie. Hoewel daar teks- en vertolkingsprobleme is, is die gestalt daarvan oorrompelend.

Op pad terug gons dit in die taxi. Diane de Beer, Matthew Krause, June Seymour, Woutrine Theron, Kirby van der Merwe en Kobus Burger is aan die stry. Dit is vernuwend, sê die een groep. Ja, maar ons het al iets soortgelyks gesien, sê die ander. Ek kyk na buite deur die venster - verby die truspieëltjie wat met duct tape vasgeplak is, na die maan. Ek wil nie meer praat nie; ek wil net die ongelooflike visuals, die skaduwees, die scrap en die volmaan indrink. Daar is nie 'n manier dat ek verder sal werk vanaand nie. Hierdie ervaring moet gevier word.

Reguit Ommihoek toe. Daar sluit ek aan by 'n tafel vriende en drink die een dubbelvodka en Coke na die ander uit. As punktuasie sluk ons mind-erasers.

Langs die kroeg loop ek vas in Richard Strydom, die kurator van die uitstalling in die Snowflake-gebou, en koop op die plek sy foto en tekswerk. Dit is 'n vreeslike pienk en oranje sunset en bo-op dit staan die woorde THE CURATOR IS GOD. In wit blokletters. Ek wil dit onder my Hylton Nel-bord in my eetkamer hang. Die bord het 'n pienk rand en binne is daar 'n ou quote van Francis Bacon wat lees: "Champagne for my real friends". Ek dink die jukstaposisie gaan my laat glimlag.

Die nag word wilder. Daar is 'n band wat speel met 'n jong girl op die viool. Sy maak my mal. Mense neem foto's van my en noem my Peet. Ek laat hulle begaan, want ek dans tussen tafels in my Rabubi rooi skoene. Spiderman, Spiderman ...

Ek kom twee-uur by die huis aan. In my kamer is net my bedlampie weer verander. Dieselfde styl as die vorige een, maar nou net effe korter met 'n groot vierkantige lampskerm. Ek weier dat dit my pla. Ek stel my wekker vir sewe-uur en lê terug op my onbeweegbare bed en begin lees:

I 'n Boodskap uit die Ooste

Iemand klop aan die deur. "Kom binne," roep luitenant Fritz Deelman van die Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie waar hy by sy lessenaar sit en skryf. Hy neem die briefie by die bode …





LitNet: 29 September 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.