Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The Sound of Music munt uit, verfris

Kobus van der Merwe

Musiekblyspel: The Sound of Music

Opgevoer deur Kaapstad se Gilbert en Sullivan-vereniging

Musiek: Richard Rogers
Lirieke: Oscar Hammerstein II
Regie: Brenda Gray
Koreografie: Roxy Levy
Musikale regie: Alastair Cockburn

Tot 21 Junie in die Kunstekaap-teater.


Wanneer ’n mens aan The Sound of Music dink, is dit moeilik om vir Julie Andrews en die res van die ster-rolverdeling van die 1965-filmweergawe te vergeet. In hul nuutste produksie kry die bekwame spelers van Kaapstad se Gilbert en Sullivan-vereniging dit egter goed reg. Dié dinamiese amateurgeselskap blaas op verskeie vlakke nuwe lewe in ’n blyspel wat andersins vervelig en sentimenteel kan wees.

Die blyspel is gebaseer op die boek deur Howard Lindsey en Russel Crouse, wat die aangrypende ware verhaal van die Trapp Family Singers vertel: Die immervreugdevolle Maria, ’n jong non, moet tydelik die klooster verlaat om die sewe woelige kinders van ’n streng vlootkaptein te gaan versorg. Die storie neem egter ’n romantiese draai met kaptein Von Trapp en Maria wat mettertyd die knoop deurhak. Die verhaal speel af in Oostenryk, teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog, en sorg dus vir dramatiese intriges, soos wanneer die gesin aan Nazi-gevangeneming moet ontsnap.

Julie Dickson (as Maria Rainer) kom in die bekende titellied waarmee die blyspel open, aanvanklik nie sterk genoeg oor nie, maar sy beïndruk spoedig met die energieke “Confidence in Me”. Dit is egter veral in die tonele saam met die sewe Von Trapp-kinders waar sy werklik uitblink. Sy oortuig as die deernisvolle Maria, en haar sang is hiér voortreflik.

Die kinders lewer deurgaans eerlike, spontane spel en knap sang. Ook as groep harmoniseer hul mooi saam.

Die ontsagwekkende kaptein Von Trapp word oortuigend deur Shaun Browne vertolk. Hy kry dit ook goed reg om mettertyd dié karakter se sagte sy te toon. Dié rol vereis min sang, maar in die bekende “Edelweiss” blyk dit dat Browne nie slegs ’n bevoegde akteur is nie.

Die regisseur Brenda Gray sorg vir ’n vars aanbieding van dié ou bekende, met die omruiling van die volgorde van sommige liedere. So word die prettige “Lonely Goatherd” byvoorbeeld heelwat later in die opvoering gesing as waaraan gehore gewoond sou wees. Vir diegene wat The Sound of Music goed ken, skep dit afwagting en spanning.

Een van die hoogtepunte van die produksie is beslis die uitgelate toneel waarin in die pragtige Liesl, die oudste Von Trapp-dogter, en jong Rolf, die posbode, hul eerste soen deel. Dié twee klink hier lieflik saam in die bekoorlike “Sixteen going on Seventeen”. Caely-Jo Levy (as Liesl) en Selim Kagee (as Rolf) se soet sang en bekwame spel, asook die speelse koreografie, vermaak werklik.

Nog ’n hoogtepunt is sekerlik die Moeder Owerste se dramatiese oomblik in “Climb Every Mountain”. Adri Louw se soepelheid is hier veral merkbaar in ’n uitsonderlik hoë register.

Die musikale regie, wat deur Alistair Cockburn behartig word, verdien ook uitsondering. Veral die keuse van koorwerke soos “Rex Admirabilis” en Allegri se “Miserere”, wat in die kloostertonele gebruik word, skep telkens ’n besonder realistiese atmosfeer.

Die klein orkes kwyt hulle ook uitstekend van hul taak. Hul begelei en ondersteun die sangers deurgaans goed.

Noemenswaardige byspelers soos Laura Bosman (as die snobistiese Elsa Schraeder), Graham Boxall (as Max Detweiler) en Yvonne Copley (as Frau Schmidt, die huishulp) sorg in geheel vir ’n waarlik afgeronde produksie.

Die Gilbert en Sullivan-vereniging bied vanjaar ’n algeheel verfrissende blik op The Sound of Music en laat ’n mens die werk opnuut na waarde skat.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.