Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Op soek na Tsjechof se seemeeu

Alice Garnaeva-Smith

Wie soek sal vind. Meermale is dit nie die vind self nie, maar die proses van navors, uitsnuffel, warm op die spoor wees wat die lewe uitmaak. Vind kan soms ’n teleurstelling wees, nie aan alle verwagtinge voldoen nie, net ’n tydelike bevrediging wees, en dan begin die verlange weer in die hart klop om dieper te delf - dalk (wie weet?) is daar iets meer.

Tydens drama-opleiding op universiteit het ons in ons derde jaar Tsjechof bestudeer. Eintlik het ons reeds van ons eerste jaar af van hom geweet, want wat ons in daardie stadium gedink het is sy eerste drama, Die seemeeu, is deur Stanislawski se Moskouse Kunsteater (die Russe kort dit as MGAT af, maar dít het ek toe natuurlik nog nie geweet nie) opgevoer. Soos die meeste van ons seker weet, word Stanislawski as die vader van die moderne toneelspeltegniek beskou. In Amerika staan sy tegniek as “The Method” bekend, met al die groot akteurs, soos Meryl Streep en Robert de Niro, wat dit beoefen.

Ons derdejaardosent, Peet van Rensburg, het ’n fiksasie met Tsjechof gehad en ek’t toe noodgedwonge dié fassinering, dié respek, bewondering en liefde vir Tsjechof begin deel. Ons is mos maar almal sponsies, soveel meer op universiteit - ’n gevaarlike tyd waarin mens dié kant toe of daai kant toe kan oorhel.

Wat ek van Potch se dramadepartement waardeer het, is dat hulle vir elkeen ’n gelyke kans gegee het, dat selfs ons dommetjies, talentloses, die geleentheid gekry het om die towerwêreld van die teater te betree. Dis mos ’n heiligdom, ’n tempel waar magiese kragte saamwerk om ons vir ’n paar uur mee te voer, te inspireer, diep aan te raak … en dan, poef, is dit verby en kan die oomblik slegs in die geheue herleef word, maar dan reeds gesensor, verwring en in flenters.

HOD is mos die verveligste, sielsdodendste jaar, waar mens veronderstel is om te leer hoe om ’n onderwyser te wees en dan vir ure na verstofte professors moet luister wat hul teorie oor die pedagogiek aflees van ou motgevrete geel papiere. Hoekom sal mens nou vrywillig so ’n marteling deurmaak? Kan mens dit nie met iets opwindends kombineer nie? My HOD-jaar het ek besluit om ’n drastiese stap te neem om my eie verkrampte grense te oorskry: Toe’s ek UCT toe!

Julle kan julle voorstel hoe uit plek uit ’n koekie van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys by dié Leninisties-Marxistiese, Feministiese universiteit gevoel het! Om dit nog meer opwindend te maak was daar bergklim en wyn drink, surfing, onderwaterduik en in die son lê oor naweke. Ek het my boonop ook sommer by “Drama as Skoolvak” ingewurm. Was dit nou vir jou sports! Hiér het ons minder van Stanislawski gehoor, meer gespeel, meer geëksperimenteer. Ons was vry; vir my was dit soos om in die ruimte ingeskiet te word.

Ná my HOD moes ek terug Potch toe om my Honneurs in Engels te doen. Ek was toe oorgedoen as ’n Marxis, liberalis en feminis. In 1992 het dít nou nie juis so goed afgegaan by Potch nie. In my vrye tyd was ek darem steeds by die dramadepartement betrokke.

Dit was ’n hartseer jaar: die jaar toe ons departement toegemaak het.

In 1993 is ek Moskou toe, en een van my eerste uitstappies was na die Stanislawski-huismuseum. Dit was ’n belewenis, ’n magiese ervaring, soos prof Botha van ons dramadepartement sou sê. (Dalk kan ek in ’n ander bydrae hiervan vertel.)

In daardie stadium kon ek egter nie ’n woord Russies praat nie. Daarom was die Russiese teater self vir my nog ’n geslote wêreld. Ek het eenkeer na ’n eenvrouvertoning van ’n beroemde Russiese aktrise by die MGAT II gaan kyk, maar dit het heeltemal by my verbygegaan.

Net ter inligting moet ek verduidelik dat daar twee teaters met die naam MGAT in Moskou is: die eerste een is die Tsjechof-MGAT; die ander is die Gorki-MGAT. Die eerste MGAT open op 14 Oktober 1889 met Alexei Tolstoi se Tsar Fjodor Ioannowitsj. Konstantin Stanislawski en Wladimir Nemerowitsj-Danstjenko se ontmoeting in die “Slawjanski-bazaar”-restaurant word amptelik beskou as die begin van die Moskou Kunsteater.

Die eerste lede van die beroemde geselskap sluit mense soos Olga Knipper (wat later Tsjechof se vrou geword het) en Meyerhold in. Die embleem van die teater is natuurlik ’n seemeeu, omdat die produksie van Tsjechof se Die seemeeu vir beide die geselskap en die dramaturg beroemdheid verwerf het. Boonop word dit beskou as die fondament van die Nuwe Drama in Rusland en die wêreld. Tans staan die teater onder leiding van die komiese akteur Oleg Tabakof en dit hou min of meer tred met strominge in moderne teater.

Die “moderne” Gorki-MGAT het in 1987 afgestig van die Tsjechof-MGAT en staan nou onder leiding van die formidabele Tatjana Doronina. Sy bepaal in baie opsigte die lot van die teater, omdat sy nie net die grootbaas is nie, maar ook meermale die hoofrol in van die produksies vertolk, en soms selfs die regie behartig. Die repertorium is klassiek, en die spel ook.

In my derde jaar is daar dus ’n saadjie in my hart geplant, en het ek begin soek na die betekenis van Tsjechof se seemeeu. Wat wou hy nou eintlik met dié toneelstuk sê? Hoekom noem hy dit ’n komedie as die toneelstuk eindig met die selfmoord van Trepljef, ’n jong man wat in die fleur van sy lewe is en wat op die drumpel staan van sy droom om skrywer te word? Dit was waarskynlik my begeerte om toegang te hê tot die oorspronklike teks wat my gemotiveer het om deur te druk met my Russiese studies.

In 1995 het ek ingeskryf vir Russies I by UNISA en in 1997 is ek terug Rusland toe, dié keer na Sint Petersburg, waar ek vir my ’n privaatonderwyseres gekry het wat my oor die struikelblok van begin praat en poog om myself uit te druk gehelp het. Aan die begin was ek nog naïef en het ek gedroom om hier by die Russiese teater in te kom. As ek geld gehad het, sou ek dit waarskynlik sonder te veel moeite reggekry het, maar daarsonder is dit soos om ’n fort wat van alle kante verdedig word - met hoë mure en ’n diep moot daarom, met krokodille en piranhas daarin - te probeer binnedring.

Ek het begin aand-”dramaklasse” draf by ’n vergete Russiese regisseur. Gou moes ek uitvind dat dit maar net ’n geldmaakstorie was. Tog het ek vir die maand waarvoor ek betaal het, aangebly en soveel daaruit probeer neem as wat ek kon.

Hier het ons Tsjechof se Die seemeeu bestudeer, en ek het die drama vir die eerste keer in Russies gelees. My Russiese juffrou het my deur elke reël gehelp. Wladimir by die dramaskool het ook die teks saam met ons deurgegaan en sekere aspekte vir my geopenbaar, byvoorbeeld dat Trepljef nie klein en pieperig kan wees nie, maar eintlik groot, sterk, breedgeskouerd en vreeslik manlik is.

Toe gaan kyk ek my eerste opvoering van Die seemeeu by die BDT (Bolshoi Dramateater, nie die Bolshoi in Moskou nie; bolshoi beteken “groot”), waar ’n beroemde Russiese primadonna die rol van Arkadina gespeel het. Dit was ongelukkig ’n rampspoedige belewenis wat my heeltemal ontmoedig het. Die regisseur het om een of ander rede besluit om die gevoelloosheid en onbetrokkenheid van die karakters fisies uit te beeld deurdat al die karakters op dieselfde stemtoon - met ander woorde met ’n monotoon - gepraat het, mekaar nie in die oë gekyk het nie, so half net met hulself gepraat het.

Nou julle kan julle voorstel hoe sielsdodend dit moet wees om Tsjechof se lang stuk, wat maklik trekkerig kan raak, deur te sit as almal mens mmmmmmmmm in ’n slaap in sus met hulle eentonige gemompel. Die regisseur het hiervoor probeer vergoed deur die akteurs hulle reëls teen tongknoopspoed te laat aframmel. Nou, vir my as ’n student van Russies, wat met soveel selfversekering my eerste Russiese drama gaan kyk het, heilig oortuig dat ek goed genoeg voorbereid is vir die opvoering, was dit ’n groot skok en ’n uiters onaangename ervaring. Hier sit ek in die teater, met hoë verwagtinge dat die Russe uiteindelik vir my Tsjechof gaan oopmaak en wat kry ek? ’n Binnensmondse gemompel. Ná die produksie het ek - soos telkemale vantevore - oorweeg om dalk ’n ander taal aan te leer, miskien Frans of Duits.

Gelukkig het ek darem oor my eerste ontnugtering en teleurstelling gekom en nie die handdoek ingegooi nie. Na die eerste ontmoeting met Tsjechof op die Russiese verhoog het ek nog enkele ander heeltemal uiteenlopende produksies van Die seemeeu gesien, waarvan ek kortliks my indrukke sal probeer weergee.

Met die een opvoering het die regisseur baie duidelik die skoktegniek probeer gebruik deur skandalig en sensasioneel te probeer wees. Dit was by Die Mironof Antrepriza Teater. Die motto van die geselskap is ligte vermaak en aangesien dit na die briljante Russiese komedie-akteur Andrei Mironof vernoem is, kan mens nie anders as om heerlike vermaak van hoë gehalte te verwag nie. Mironof was ’n meester - oor hom sal ek ’n aparte artikel kan skryf - dis werklik ’n jammerte dat die wêreld nie toegang tot sy talent het nie. Ongelukig is hy in baie opsigte onvertaalbaar, soos ons Tobie Cronje, ’n plaaslike juweel, alhoewel mens natuurlik steeds sy mimiek en tegniek kan geniet en bewonder.

Die teater het my egter liederlik teleurgestel. Dalk is hulle ander produksies beter, maar Die seemeeu was ’n mislukking. In die skandalige produksie het Arkadina en Trigorin seks op die verhoog! Arme Tsjechof tol seker met elke opvoering in sy graf. Gelukkig vind die daad self agter die tafel plaas, maar dit maak dit net meer suggestief en skokkend, soveel te meer aangesien die res van die produksie in die klassieke Tsjechof-styl vertolk word.

’n Ander produksie wat ek gesien het, was die mees kontroversiële een, getiteld Die seemeeu: ’n Eksperiment. Dit was lank terug; gelukkig kon ek ’n paar resensies op die internet opspoor om my geheue te verfris. Vir hierdie produksie het die Oekraïense regisseur Andrei Zholdak sommer ’n hele spul groot name in die Moskouse teaterwêreld bymekaar gegooi (ongelukkig sal die name nou nie juis enige klokkies lui vir iemand in Suid-Afrika nie, dus sal ek julle nie verveel met onnodige besonderhede nie). Die “geselskap” het hier in Sint Petersburg kom draai.

My Russiese vriendin kon nie die stuk deursit tot die einde nie. Sy was nie die enigste een nie: die saal was so te sê leeg ná die eerste pouse. Dis net ons spul bittereinders wat dit deurgesit het. Tot aan die einde het ek gehoop dat daar vir my ’n lig sal opgaan en dat ek iets sal verstaan. Ek moet egter erken dat die stuk vir my heel stomp geëindig het en dat ek met ’n groot vraagteken op my voorkop by die teater uitgestap het.

In essensie was dit ’n eksperiment in die gees van Stanislawski, nie iets vir die algemene publiek nie, meer ’n werkswinkel, ’n repetisie. Die stuk was gelaai met simboliek, klank, spel, beligting. Die teks is heeltemal gedekonstrueer; slegs reëls wat lukraak gekies is en buite konteks voorkom, is deur die akteurs uitgeroep, gesing, gefluister en gedramatiseer.

Een van die Russiese resensente stel dit so: Die toneelstuk is ’n metafoor en die inhoud is genoeg vir tien produksies. Alles wat in Tsjechof amper onmerkbaar is, soos ’n fyn potloodskets, is in Zholdak se produksie verander in ’n groot skilderdoek met helder olieverfhale daarop.

“Die toweragtige meer” wat in die toneelstuk êrens in die verte weerkaats, vul hiér die hele verhoog en die karakters swem daarin soos eienaardige amfibiese diere. In Die seemeeu vertrek die persone van tyd tot tyd êrens heen, maar in Zholdak se stuk word hulle ewige reisigers en hou hulle altyd hul massiewe tasse by hulle. Die verhoog word bestrooi met klippe en blikkies wat deur een of ander meganiese wese geproduseer word.

Die uittoets van Stanislawski se sisteem (soos die Russe dit noem - die Amerikaners verkies die uitdrukking The Method) word letterlik vir die akteurs ’n fisiese toets. Hul monde word toegeplak en hul oë word toegebind en dan word hulle geforseer om toneel te speel terwyl hulle bewegingloos op hoë stoeltjies sit. Ander kere weer spring en hardloop hulle of klim hulle op die deurkosyn wat sonder ’n muur in die middel van die verhoog staan, of gly hulle op die vloer rond met hulle mae op groot skaatsborde.

Zholdak het vir niemand genade nie - nie eens vir sy geesgenoot Trepljef nie. Soos mens na die stuk kyk, besef jy dat dit net sowel iets kon wees wat Trepljef self sou wou opvoer. Ek weet nie van julle nie, maar ek het nog altyd gewonder hoe verloop Trepljef se stuk wat so wreed in Die seemeeu onderbreek word. Blykbaar het Tsjechof aanvanklik ’n baie langer uittreksel in Die seemeeu ingeskryf, maar toe in die finale teks uitgehaal. In Zholdak se stuk sit Trepljef op ’n opgeligte verhogie, behoorlik soos ’n uil op ’n kluit, met ’n propeller op sy rug vasgebind en klippe aan sy voete.

Die karakters verander in diere; Dorn word ’n vis, ander word paddas wat kwaak en wat goggas vreet. Arkadina ontsê haar nie die genot om soos ’n hond te blaf nie en Nina, getrou aan haar ware natuur, skree van die begin af soos ’n seemeeu. Sommige van dié tegnieke is interressant, ander sinloos. Arme Trepljef hardloop amper die hele opvoering lank rond. Blykbaar het die regisseur dié kiemsaad vir hom geskilder na aanleiding van die reël uit die stuk: “Ek hardloop soos Maupassant van die Eiffeltoring weggehol het.” Indien die klassieke Franse skrywer soveel gehardloop het soos Zholdak se karaker, sou sy lewe êrens in die Verre-Ooste geëindig het.

Die laaste ontmoeting van Nina en Trepljef speel woordeloos af. Die hele dialoog klink uitdrukkingloos en sonder intonasie op ’n “backtrack”. Terloops, die klank is een van die belangrikste aspekte van Zholdak se toneelstuk - te oordeel aan die volume, dalk die heel belangrikste. Dis sou nogal gaaf gewees het indien hulle vir mens oorpluisies uitgedeel het soos jy inkom. Tasse en ander swaar voorwerpe val deurentyd op die verhoog en met dinamiese donderslae ploeter die karakters “per ongeluk” in die onsigbare waterplassies. Die heeltyd breek daar onsigbare glas, blykbaar die grense wat die karakters van mekaar skei. En wanneer hulle met ’n skerp rubber-teen-glas-geluid skoon gevryf word of met ’n yster gekrap word, dan staan mens se hare behoorlik regop en slaan groot hoendervleisknoppe oral op jou lyf uit.

Ten spyte van al die effekte moet die akteurs probeer om die verhaal uit te speel, en verbasend genoeg kry hulle dit nogal goed reg. Hulle word nou wel van hul stemme ontneem, maar ten minste het hulle nog oë, gesigsuitdrukkings, mimiekspel, en lyftaal. Die eindresultaat is dat sommige episodes stereoskopies vergroot word, voller en veelduidender word.

Dan is daar ’n hele paar amusante tonele: die akteurs se geskaatsery op hulle mae in die meer; Trigorin se verslaafdheid aan letterkunde, wat uitgebeeld word in ’n toneel waar hy hom inspuit, nie met ’n naald nie, maar met ’n veerpen wat hy eers in ’n inkpot doop; Arkadina verskyn in ’n groot wye hoed met seemeeuvlerke wat egalig oop en toe klap; al die karakters is in langtoonstewels, nes narre.

Die samovar stoom die heeltyd en, wanneer Kostja met die samovar ’n sirkel op die verhoog hardloop, kan die klank van ’n stoomtrein gehoor word. Die stoom styg op en verdamp stadig en onder die verhoogligte lyk dit soos donserige wolkies. Die groot ruimte word gevul met ’n deursigtige mis.

Die akteurs se toneelspeltegniek was beslis uit die boonste rakke. Die beklemtoning van die vertoning as proses het my nogal herinner aan my studentejare en my vreeslik laat verlang na daardie tyd van onbeheerde en vreeslose eksperimentering. Die stuk sou vir my nog baie meer beteken het as ek die hele repetisieproses kon gesien het. Of dalk sou dit sinvol wees om weer te gaan kyk. Ek kon nie anders as om die akteurs te beny en te bewonder vir die oorgawe waarmee hulle met Tsjechof se teks gewerk en gespeel het nie.

Weer eens het ek egter uitgesluit en geïgnoreer gevoel: die regisseur en akteurs weet alles en ons spul idiote is heel per ongeluk daar en, as ons nie verstaan nie, is dit ons eie probleem. Interessant dat die mees normale deel van die produksie juis Trepljef se moderne toneelstuk was; Nina se relaas oor die Ewige Siel was liries, poëties, emosioneel, kragtig, amper realisties.

Die stuk het baie vrae by my laat ontstaan: Wat is die rol van die gehoor? Moet die stuk meer toeganklik gemaak word? Is dit regverdig teenoor die gehoorlid om hom geld te vra vir iets wat baie aan ’n repetisie herinner? Wat sou Tsjechof se reaksie op dié produksie gewees het? Hoe kan die spesifieke produksie meer toeganklik gemaak word? Wat op aarde het die regisseur probeer sê?

Die enigste produksie van Die seemeeu in klassieke en ligte luim - volgens my die naaste aan Tsjechof se oorspronklike konsep - was ’n opvoering in die Mali-teater in Moskou (mali beteken “klein” en dis regs langs die legendariese Bolshoi geleë). Ironies genoeg is dit die Mali wat aanvanklik geweier het om die skandalige Tsjechof op te voer en slegs Stanislawski met sy vooruitstrewende denke, insig en vernuwing wat Die seemeeu die eerste keer suksesvol opgevoer het. Dis verder ironies dat ’n modernisering van Tsjechof tans as godslastering beskou word. Hy’s reeds vasgemessel in die klassieke kanon, onaantasbaar.

In die Mali-produksie is Arkadina deur ’n ouerige, mollige aktrise vertolk. Sy’t haar uitstekend van haar taak gekwyt. Sorin en Trepljef, wat in Tsjechof se stuk amper soos pa en seun is, word in dié produksie deur ’n ware pa en seun gespeel. Dít beteken dat hulle mekaar werklik goed aangevoel het, en dat die deernis hier opreg was. Die algemene indruk was bevredigend. Dié keer het ek met ’n huppel uit die teater gestap met ’n ligtheid in my hart, met ’n besef dat mens nie een van die karakters in Tsjechof se stuk kan haat nie - daar is by hom nie so iets soos “bad guys” en “good guys” nie. Almal is net mense vol foute, selfsugtige egoïste verwring in hul eie klein wêreldjies, maar hulle is terselfdertyd ook naïef en onskuldig en bedoel nie noodwendig kwaad nie. Hulle worstel almal en maak mekaar in die proses seer, maar hulle is mense van vlees en bloed.

My droom is om eendag al die ondervinding wat ek hier opdoen, te benut. Wie weet, dalk bring ek nog eendag my eie produksie op die planke. Intussen is ek nog steeds op soek na die sleutel tot Die seemeeu, ’n modernisering wat iets nuuts kan sê oor Tsjechof. The search is still on!

4 November 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.