Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Posie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Toneel blm in Rosestad


Die program vir vanjaar se Volksblad-kunstefees het nege toneelstukke vir volwassenes, en drie kinderstukke ingesluit. Dit klink na net ’n handjievol in vergelyking met ander feeste, maar die verskil is dat jy hier verseker was dat elke stuk een van gehalte was, berig Carin van Vuuren uit Bloemfontein.


Stoele vermaaklik versit

Stoel Manoeuvres was die afskop-produksie, met Barry Strydom en Anel de Swardt as die getroude paartjie in ’n moderne huwelik wat hulself in, om, deur en uit tipiese situasies wat daagliks in die huwelik opduik, “manoeuvre”.

Sue Pam-Grant en DJ Grant se komedie is pittig en intelligent en skep afwagting. Die stuk is aanvanklik komies, maar verskuif tog geleidelik sy grense. Die klein jakkalsies wat aanvanklik kostelik was — soos hr onverklaarbare drang om vadoeke te versamel en s sleutels wat alewig soek is — begin ontaard in monsters wat die paartjie doof maak vir hul huweliksmaats; skielik begin woorde uit hul monde tuimel wat liewers nooit ges moes gewees het nie.

Op daardie oomblikke begin jy wonder of hulle huwelik dit gaan maak. Jy herken ook die magspeletjies wat maar alte bekend in enige huwelik is. Van ’n afstand gesien, besef jy die sinneloosheid, maar ook die vernietigende effek daarvan. Die stuk beklemtoon sodoende die broosheid van di verhouding, en hoe onbesonne ’n mens daarop trap. Tog vat dit s min om dit weer op koers te kry — as mens net die wapens sal neerl, terug sal staan, vergifnis sal vra en begrip sal toon.

Strydom en De Swardt lewer oortuigende spel. Aanvanklik was die ritme bietjie uit en het ek onsekerheid by De Swart bespeur, maar die ewewig is gou herstel en soos die intensiteit van die stuk toegeneem het, het die spelers se talent geblom. Strydom se vertaling is goed en ongeforseerd. Heidi Mollentze se regie ontgin die speelruimte, vergestalt die groeiende chaos in die verhouding en sorg vir ’n afgeronde produksie.


Dinamiet in vroulike pakkies

Jong Dames Dinamiet deur Hennie van Greunen, met Marion Holm en Margit Meyer-Rdenbeck, is ’n klug uit die boonste rakke. Die aktrises se spel was uitstekend en afgerond. Holm se komedie-talent het geskitter en ek is uiters dankbaar dat ek nie in Meyer-Rdenbeck se skoene was nie, want om jou lag te moet hou saam met Holm op die verhoog moet absolute hel wees.

Meyer-Rdenbeck het egter self ook getoon dat sy meer as net ’n dowwe dolla is as dit by toneelspel kom. Haar karakter was net mooi die teenpool van die karakter wat haar bekend gemaak het.

Die toneelstuk speel in Bultfontein af, by die JDD se vyftigste vergadering. Holm is die voorsitter, me Surrisa du Toit en Meyer-Rdenbeck is die ondervoorsitters, mev dr Dina Dreyer, en die gehoor is die lede by die vergadering. Die voorsitter, hoogwaardig en verhewe, deel geniepsige katkrappies uit na haar lede, terwyl sy Dina oordonder.

’n Handsak-demonstrasie volg, waar Holm sonder om ’n woord te s die gehoor laat rol van die lag. Dit ontaard egter in ’n openbare wasgoedwassery. Dina ontdek ’n liefdesbrief aan haar man van ’n onbekende lid van die JDD in ’n handsak en sy besluit om summier uit te vind van wie dit is. Haar “fleurige styl” kan egter nie hond haaraf maak nie en Surrisa neem haar onder hande om haar meer intimiderend te laat voorkom. Onder die invloed van ’n bottel whiskey en ’n sak grimering ontpop hulle as die Thelma en Louise van Bultfontein en neem die stuk ’n verrassende wending.

Van Greunen se teks is vol kwinkslae, en hy skep twee onvergeetlike rolle. Alhoewel dit ’n klug is, stel hy geloofwaardige karakters met meer as net een dimensie daar. Hy verdien ook ’n pluimpie vir sy regie.


Vrou staan man-alleen op

Volgende was Lindie Stander te sien in haar een-vrou-komedie Man-Alleen, onder regie van Gaerin Hauptfleisch. Dis nie soseer ’n toneelstuk nie, as ’n stuk stand-up-komedie. Stander steek die draak met allerhande dinge, van borsgroottes, braaivleis, die renboognasie en nierokers tot Griekse tragedies.

Die formaat is egter anders as die van gewone stand-up. Stander repeteer aan Medea. Haar hart is egter nie in die rol nie, en haar gedagtes maak allerhande draaie op elke plek behalwe die tragedie. Haar verskillende “inklusiewe” weergawes van Medea was skreeusnaaks, en haar wisseling tussen verskillende karakters in die tragedie was puik. Haar eie stories in haar eiesoortige vertelwyse gelewer het die gehoor laat skater.

Sy gebruik die hele verhoog, haar hele lyf en slim rekwisiete om haar standpunte te stel. Die vertoning is soos ’n fyn gechoreografeerde dans en Stander maak uitstekend gebruik van wisselende tempo en ritme om tussen haarself en die karakters wat sy vertolk te onderskei en om die komiese te onderstreep.

Haar kontak met die gehoor is direk en sy is nie skaam om ’n gehoorlid aan te vat en bietjie te melk vir effek nie. Hierdie stand-up maak nie staat op ’n paar grappies of gevatte sgoed nie. Dit is skerp, die materiaal oorspronklik saamgevoeg, die teks deurdag en die aanbieding vars, kreatief en rrig snaaks.


Dot in die kol

So het Dot Serfontein dit vertel is een van daardie sagmoedige produksies wat rustig en sag in jou hart inkruip. Marga van Rooy vertel en vertolk Dot en al die karakters in haar stories. Ons ontmoet Serfontein se oumagrootjies, haar ouma, haar vriendin uit die Kalahari en natuurlik haar dogter Antjie Krog as jong snip, saam met die res van haar gesin.

Van Rooy wissel met gemak tussen die karakters en teken die situasies so lewensgetrou dat jy Serfontein se ouma se kos proe, haar nat hoeders ruik, die dosehuisie sien rys uit die Kalahari se stof, die hitte in die motor op pad na Leipoldt se graf kan voel, en saam met haar verlig is dat die kinders gelyktydig aan die slaap geraak het.

Die keuse van die stories was in die kol en die samestelling daarvan vat jou op ’n reis deur tyd, vanaf die Anglo-Boere-oorlog tot die laat sestiger- en vroe sewentigerjare. Die stories is vol humor en Serfontein se eerlike vertellings is ’n heerlike reis na herinneringe wat ook jou eie familie oproep.

Van Rooy maak effektief van ’n paar eenvoudige rekwisiete gebruik: ’n paar hoede en ’n rok waarvan die soom net hor skuif om die verloop van tyd en die wisseling tussen karakters weer te gee. Sy boei die gehoor deurgaans en haar eerlike spel ondersteun die styl van die stories. Die produksie laat jou ook sommer opnuut na Serfontein se boeke gryp sodat jy jouself verder kan verlustig in haar vertellinge.


Studente behaal makro-sukses met Mikro

Nog ’n boek, Mattewis en Meraai van Mikro, is op die verhoog vergestalt deur die Drama-departement van die Universiteit van die Vrystaat. Die stuk dek al die hoogtepunte uit die romans, van hul opsittery tot Mattewis se heengaan en Meraai se aanvaarding van haar dogter se lewensmaat.

Die tonele word verbind met Mikro as verteller, kommentator en Meraai se gewete. Die stel is slim ontwerp om die huis en die hele dorpie voor te stel; dit skep interessante speelruimtes en -vlakke. Dis egter die akteurs se spel wat die atmosfeer skep, Mikro se wreld laat lewe, en geloofwaardigheid aan die verwerking verleen. Die spelers slaag daarin om die humor uit te lig en ook die gehoor in die teer oomblikke te raak. Die stuk is egter te lank en kon gesny gewees het.

Regisseur Stef Brink verdien ’n pluimpie vir haar spelleiding; An van der Vyver is ’n jong aktrise om dop te hou. Sy skep ’n wonderlike Meraai: van die dun lippies tot die effe skewe voetjie s sy Meraai. Die produksie is fyn afgerond; fyn aandag is aan die kostuums, dekor en rekwisiete gewy. Dis ook nie aldag meer dat ’n mens ’n produksie van di omvang op ’n verhoog sien nie.


Parkeerterrein vol winter is meer as net ’n swaeltjie

Die fees se toneelhoogtepunt was Carwatch. Di stuk deur Maretha Maartens, met verwerking en regie deur Gerben Kamper, en vertolk deur Lulu Botha, het almal se voete onder hulle uitgeslaan en ’n ekstra vertoning moes gerel word.

Die drama skets ’n dag in die lewe van ’n karwag, Glenda Hatting. Van die openingstoneel af verras die stuk. Die struktuur het ’n interessante kinkel wat ook Jan Publiek se houding jeens karwagte onderstreep.

Lulu Botha lewer ’n kragtige vertolking. Sy wrd Glenda, in elke greintjie van haar wese. Jy leer haar as mens ken, nie as net ng iemand wat iets by jou wil h nie. Kar oppas is vir haar ’n werk, en sy is trots daarop en doen dit met toewyding. Sy is nie ’n slagoffer nie. Sy gee vir haar “klante” om, sy maak asof sy ongerg is oor diegene wat haar ignoreer of sleg behandel en sy help nogtans waar sy kan.

Glenda vertel van haar kinders, haar eerste man en die huidige een. Sy vertel hoe sy ’n karwag geword het en hoekom sy dit aanhou doen. Sy onthou gelukkiger dae, en sy deel haar hartseer en haar drome vir haar kinders met die gehoor. Sy hou daarvan om op ’n Sondagmiddag na klassieke musiek te luister en ontvlug dan in haar gedagtes sodat sy kan dans, kan sweef uit haar omstandighede.

Die stuk is vol humor, maar dit ruk ook aan jou binneste. Maartens, Kamper en Botha het ’n pragwerk geskep wat nie net jou hart raak nie, maar op subtiele wyse sosiale kommentaar lewer en ’n mens jou eie vooropgestelde idees en afgestomptheid jeens jou medemens laat ondersoek. Wat skryfwerk, regie en spel betref, het die stuk elke stukkie lof wat dit toegeswaai is, verdien.


Ook ander puik toneel

Ander stukke wat op die fees was, is Raaiselkind en Klarabelle gaan Kaap toe, asook Pendoring Edms Bpk, wat reeds op ander feeste opgevoer is.

Raaiselkind het gemengde reaksies uitgelok. Klarabelle gaan Kaap toe is hoog aangeskryf en Pendoring was uiters geslaagd en het steeds n amper dertig jaar gehore geboei en laat skater.

Wat toneel betref, kon Volksblad-feesgangers nie kla nie. Hulle het ’n verskeidenheid gehad om uit te kies en kon met vrymoedigheid by enige van die produksies instap en weet dat hulle waarde vir hul geld — asook vermaak en kos vir die siel — sou kry.


  • OpStage bedank Carin van harte vir haar harde werk by die pas afgelope Volksblad-kunstefees. Sy het ter elfder ure ingestem om die leeuedeel van die fees se toneelaanbod te dek.

    16 Julie 2003


    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspiel nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.