Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ontwortel eerder dié boom

Gerjo Hoffman


Komedie: Rootz
Met: Nazli George
Regie: Janice Honeyman.

In die Baxter se Sanlam-ateljee.

Tot 7 Junie.


Die tyd het aangebreek dat die sogenaamde bruin teater moet aanbeweeg. In die soveelste poging om Kaapse Vlakte-karakters op ’n komiese wyse uit te beeld, staan dié stuk in die skadu van veel meer geslaagde produksies.

As dramaturge verwag om met sulke toneelstukke enigsins sitplekke in klein teaters (soos die Sanlam-ateljee) vol te maak, sal die huidige teaterdiskoers moet verander. Miskien is die antwoord ’n dringende vernuwing of daadwerklike ommeswaai in die huidige bruin diskoers.

Dié diskoers stel bruin karakters soos die wat Marc Lottering aan ons voorgestel het, aan die woord. En doen Lottering dit nie tog so goed nie! Die manier waarop hy satiries die mense van die Kaapse Vlakte opstuur, het teatergangers blootgestel aan die besonderse mense wat daar woon.

Rootz bied egter werklik niks nuuts nie. Oor die afgelope paar jaar het die meeste teatergangers dié stereotipes goed leer ken. Die vraag is of daar net dié grappige en soms patetiese karakters is wat op die Kaapse Vlakte woon? Is daar moontlik ander, meer interessante, mense wat uit dié hutspot van taal en kultuur kom?

Rootz is wel nie net komiese vermaak nie. Onderliggend kom sosiale kwessies aan die bod. Maar die geyktheid van die karakters laat die subteks vervaag.

Nazli George (van Off the Cuff, Daai’s Mos Reality en Vatmaar) stof die geykte karakters weer in ’n minder oorspronklike eenvrouvertoning af. Barbie, die geharde nuwe eienaar van Barbara’s Mansions, besluit sy gaan sommige van die huurders by die Mansions in die pad steek om plek te maak vir meer gegoede inwoners.

Al die Mansions-bewoners kry kennis dat hul weer moet aansoek doen om daar aan te bly. Die teatergangers is die nuwe aansoekers en word voorgestel aan ’n groep vroulike inwoners, wie dalk ’n ander heenkome sal moet soek. George vertolk al ses karakters. Behalwe Barbie is daar ’n skoonmaker, ’n Christen-tannie, ’n prostituut, ’n Moslem-tannie en ’n bergie.

Dié karakters se gedeelde wortels lê in hul ruimte, die woonstelblok, in hul gedeelde kultuur en in die besondere verhouding wat elkeen met ’n manlike figuur het. Die Christen-tannie se verhouding met God is kenmerkend van die met ’n vaderfiguur — daar bo — wat haar met weerlig sal slaan as sy dalk iets verkeerds doen. Die Moslem-tannie weer — sekerlik een van die karakters wat George die knapste vertolk — het ’n verhouding met haar God asook met haar gestorwe man wie se foto langs haar op die koffietafel lê. Die karakters van die prostituut, skoonmaker en bergie, weer, is afgesaag.

Die uiterste omstandighede van die karakters, soos dit in die geval van die meeste stereotipes is, lei wel tot komiese tot tragiese oomblikke wat soms tot goeie afwisseling in die tempo van die toneel bewerk.

Die teaterganger loop egter meesal die gevaar om belangstelling te verloor weens die feit dat sekere karakters se aksente en die uitspraak van woorde onduidelik is. Veral die bergie se spraaktempo raak gans te vinnig en dié resensent het baie van dié monoloog gemis.

George sukkel om onder die vel van die karakters te kom. Dat sy ’n talentvolle aktrise is, is nie te betwyfel nie. Maar meer aandag aan karakterisering en veral fyner omlyning sal haar spel meer geloofwaardig maak.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.