Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Taliep en David se Ghoema: Deel 1

Lize Odendal

Taliep Petersen en David Kramer Die wêreldberoemde duo Taliep Petersen en David Kramer se jongste musiekblyspel, Ghoema, open op 11 November in die Baxter-teater in Kaapstad. Dié musiekblyspel handel oor die geskiedenis van slawerny in Suid-Afrika van 1652 tot 1795 toe die Hollandse Oos-Indiese Maatskappy aan bewind was. Met die musikale versorging en navorsing oor die historiese akkuraatheid van die blyspel het Petersen weer eens sy unieke stempel op die produksie gelaat. Lize Odendal het met hom gaan gesels.

Taliep tik liggies met sy fyn vingers op my pols en raak amper opstandig. “’n Mens kan nie snooty wees oor freedom nie.” Hy het min tyd vir mense wat neersien op hul eie geskiedenis. “Hulle dink hulle se geskiedenis issie goed genoeg nie.” As dit nie Amerikaanse hero-worship is nie, dan is dit blykbaar sleg, sug hy en beskou die koue mure van die Baxter se koffiekroeg kwaai.

“Ek was self skuldig,” erken hy ruiterlik en gesels ‘n paar minute oor die lang jare wat hy goed geld gemaak het uit die crooner besigheid, selfs op die verhoog verskyn het met legendes soos Percy Sledge. “Om sis ‘n American hero te sing, was jou passport uit, man,” sê hy. Hy onthou van die dekades wat hy in Sun International se casino’s gesing het met sy band. En die dag toe hulle hom van die verhoog af geroep het om te sê sy ma is dood. “Toe’t ek vi’ Sol en daai manne gesê: ‘Ek gat terug Kaap toe. Huis toe. Stuur my of verloor my. Maar huis toe gat ek nou.’”

En vir hom gaan Ghoema, met sy onbeskaamde trots oor invloed van die slawetydperk op die hutspot van Suid-Afrikaanse musiek, oor “die huis se goed”.

Sy wortels, sê hy, is vasgevang in die musiek van Distrik 6. “My familie’t hul se dues betaal in daai plek,” raak hy weer passievol. Hy het in die straat geleer van die moppies en ghommaliedjies. “Ons’t mos nie drama- en musiekskole gehad nie. Ons’t van die meesters geleer.”

So het hy en David in Maleisië gaan soek na die wortels van die slawe aan die Kaap. “Ek het na my persoonlike wortels gaan soek, man. En dit daar gekry.” Hy gesels blinkoog oor die “keroncong”, die kwarttoon-sang van die Maleiers wat ons so goed ken ter plaatse. “Ons Maleiers noem dit sommer karinkel. Jy weet mos, dis klink soos die muezzin wat die mense roep vir die bid,” verduidelik hy.

Ghoema is net die begin,” vat hy dan weer die draad. “Daar moet nog baie geskryf word. Ek’t gevaarlik baie navorsing moes doen oor die tydperk van die slawe. In argiewe en orals. Maar nou is dit tyd vir ander mense om op te tel waar ons gelaat los het. Die stories moet vertel word ... Ek sê net dankie vir God dat ek die kans gehet het om iets te doen. Mens moet darem die eer gee waar’it toekom …” Deel van sy Distrik 6-agtergrond is ‘n diepgewortelde geloof in Islam.

“Man, die musiek was gevaarlik challenging,” gebruik hy weer sy gunstelingwoord en begin beduie oor die instrumente. “Ek moes na Boeta Achmat toe gaan vir die ghoema. “Maak vir my ‘n ghoema, man,” was my woorde, “en ‘n week later toe gat haal ek hom.”

Die musikale uitdaging was duidelik vir hom ‘n groot ene. “Jy kannie ‘n synthesizer en ‘n viool en ‘n groot orkes op die verhoog sittie. Dissie ons verduidelik van die Portugese fado invloed, die Britse sing-alongs, die Hollandse moppies, die Arabiese invloed deur Islam. “Man,” raak hy weer aan my pols, “dis mos nou proudly South African. Ons ken dit almal, maar nou sien ons dit op die verhoog. Daai’s mos ons.”

Hy moes lekker bontstaan met die musikale regie. “Nou werk ek mos met ‘n trekorrel en ‘n kitarra (kitaar van Portugese oorsprong), mandolien, ‘n banjo en ‘n bass. En ‘n ghoema-drom en ‘n rabanna.

“Hoe’s daai vir kwaai irony? Moslems mag nie drink nie, maar hulle maak die ghoemas!” Hy verkneukel hom. ‘n Ghoema-drom word gemaak deur ‘n wynvat in twee te sny en die een kan met ‘n vel oor te trek. “Jy lossie onnerste deel oep virrie resonance,” verduidelik hy.

En die musikante, vra ek. Waar is hulle?

“Hier om ons,” verseker hy. Oral kan mense nog die instrumente speel. Maar hulle kan nie musiek lees nie. En dis hoekom hy nou begin met hulle werk vir ‘n week. Sodat hulle kan onthou. En dan begin hy met die sangers werk. Hy soek nie Amerikaanse frasering nie, hy soek mense wat kan karinkel. Dis mos sing.

Een ding is vir hom duidelik, sê hy. “Ons mense het ‘tarik’. Dis die Arabiese woord vir ‘another energy’,” vertaal hy. “Jy het dit of jy het dit nie. Niemand kan dit vir jou leer nie.” Dis hoekom ons musiek so praat met die mense, sê hy.

En wat is volgende?

“Ons (ek en David) het altyd iets op die backburner. Ghoema was lank op die backburner voor ons besluit het dis nou die tyd. Maar ons het darem daai besluit geneem lank voor Blackman Ngoro besluit’t om kontroversieel te wees. Ons issie opportunists nie,” verseker hy vinnig. “Ons weet mos waar onse kultuur lê. Ons hettie eers geweet ons het ‘n ‘identity crisis’ tot hy dit vir ons uitgewys het nie,” steek hy na die gewraakte skrywe van Ngoro.

Die toekoms?

Taliep se oë begin sprankel. “Dink net, man. Dink net. Ek en Dozi en Steve saam op die verhoog. Heh? Dit het dekades gevat voor ons saam nou die dag by die Skouspel was. Dis mos nou geskiedenis. Boesman Taliep en Boer Steve saam op ‘n verhoog en ons maak musiek. Classic. Dalk eendag,” spot hy fyn.

Dan is dit knap voor 12 nm op ‘n Vrydag en Taliep maak aanstaltes.

“Ek moet na my kerk toe,” verduidelik hy en soengroet warm. “Jy weet, Lize. Islam sê jy moet jou vriende kies as mense by wie jy iets kan leer,” is sy laaste woorde aan my.

Geëerd is Taliep se vriende.

In deel 2 van Lize se artikel gesels sy met David Kramer.




LitNet: 3 Oktober 2005

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.