Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Tshepang

Naomi Meyer

Tik die woord Tshepang in die Google-soekblokkie op die tuisblad en sien hoeveel keer daar al oor hierdie toneelstuk op LitNet geskryf is. Ek gee nie voor dat ek werklik iets nuuts oor dié drama te sê het nie. Maar tog: ek kon nie op dieselfde manier na die toneelstuk kyk as al die ander mense wat so kundig hieroor verslag gedoen het nie.

Buitendien oorreed René Huyghe se voorwoord in die Larousse Encyclopedia of Prehistoric & Ancient Art (vertaal uit die 1957-weergawe, bl 12) my toe om tóg maar iets te sê:

Art is the joint responsibility of all men and thus differs from place to place and from century to century with as much variety and flexibility as the customs of different communities. So the history of art cannot be treated in isolation as a separate entity. The most radical differences are in man’s ideas on reality and in his exploration of it. Everything in a particular period is dependent on them.

(...)

A generation of men is like a ship steaming along the coast, with the passengers looking at the shore as it passes: one takes measurements, another a photograph, a third has a paint-box while a fourth records his impressions in a notebook. A superficial observer will see no relationship between these varied activities, but all without exception are looking at the same view from the same standpoint. Of course, it may happen that one passenger has decided to stand in the bows to see what may appear over the horizon, and that someone else, on the other hand, is in the stern to catch a last glimpse of the scene disappearing in the distance. All are, however, literally in the same boat, following the same course and moving at the same speed. The movement of the ship is the progress of a generation.

(...)

Thus the art of a particular period is directly related to the philosophy of that period, to its literature, science and social and economic conditions.

Ek dink vlugtig terug aan ‘n brief van Pierre de Vos wat in Maart op SêNet verskyn het: Hoe kuns hom nie van konteks kan losmaak nie.

Ek loop my vooruit. Tshepang. Oktober 2005, Dublin.

Ons gaan kyk verlede week na Tshepang by die Dublin Theatre Festival. Die stuk is slim geskryf en die akteurs is uitstekend. Die hoofrol, dié van Simon, word vertolk deur Boitumelo Shisana en nie deur Mncedisi Baldwin Shabangu nie. Ek sou graag vir Shabangu in aksie wou gesien het na alles wat ek oor hom gelees het, maar Shisana hou die gehoor insgelyks gevange. Ek sit myself skepties daaraan en herinner dat ek nie ‘n Europeër is nie – hierdie man uit Afrika hóéf my nie te beïndruk bloot weens die feit dat hy uit Afrika is nie. Maar dis nie waarom die verrukking plaasvind nie.

Shisana is werklik baie goed. Hy vertel vir jou ‘n storie dat jy nie anders kán as om hom te glo nie. Alles van hom. Sy storie. Hy ís Simon. Ruth ís sy jeugliefde. Daar gebeur niks, heeltemal niks, op die plek waar hy woon nie, “because here, nothing ever happens”. Van die begin af is hierdie woorde ironies. Soms selfs humoristies (as Simon vertel dat hier so min op hierdie dorp / in hierdie plakkerskamp gebeur dat mens nie eens in vrede kan selfmoord pleeg nie). Die hele tyd weet die gehoor dat Simon op ‘n stadium van die babaverkragting gaan begin vertel. Wanneer hy dan die eerste keer ‘n woord hieroor sê en Ruth hom slaan, is dit steeds ‘n skok. Die akteur vorm, in kombinasie met die dialoog (gaaf, monoloog, maar Ruth se stilswyende teenwoordigheid praat darem net so hard), ‘n absoluut empatiese geheel. Ruth (Kholeka Qwabe) se een enkele woord in die drama is heeltemal voorspelbaar en steeds geweldig kragtig.

Die drama se props werk effektief: ‘n doodgewone brood neem soveel verskillende gedaantes aan. Ditto die besemstok.

Lara Foot Newton, skrywer van die stuk, kry dit selfs reg om nie moralisties met ‘n uiters moeilike tema om te gaan nie. Hierdie is ‘n kleinverhaal wat gróót word.

Alles oor dié drama is, soos gesê, reeds gesê. Maar my invalshoek vind plaas in Ierland. En hoewel ons die toneelstuk sit en kyk in ‘n gehoor wat so wit is dat ons net sowel in Suid-Afrika kon gewees het, reageer die mense rondom ons nie op die toneelstuk soos mens sou verwag Suid-Afrikaners sou reageer nie.

1 . Die Iere word nog geskok
Vertoon die fliek Hotel Rwanda in Ierland, en gemeet aan wat in die koerant geskryf word, lê die hele kleine Ierse nasie van vier miljoen mense weke lank kollektief wakker oor die dinge wat in elders in die wêreld kan gebeur. As ek eweneens na die mense rondom my se reaksies op Tshepang kyk, tref dit my opnuut. Asems word ingetrek, trane word weggevee. As die gordyn metafories sak (daar is geen werklike gordyn nie – die toneelstuk vind in ‘n studenteteater by Trinity College plaas), sit ‘n paar mense met hul hande oor hul gesigte. Ek wonder hoe Suid-Afrikaanse gehore sigbaar hierop reageer het.

2 . Waarvoor lag die Iere?
Miskien is hierdie mense tóg ‘n bietjie soos Suid-Afrikaners: hulle lag met groot verligting – miskien omdat dit so universeel verstaanbaar is – oor die woord fokkol (soos in “In this town nothing ever happens ... fokkol”). Hulle lag vir vertellings oor pubishare en oor vertellings van Simon se ontluikende seksualiteit (wat later slim verbind word met die babaverkragting, sonder om hoegenaamd ‘n vinger na Simon as individu te wys).

3 . Hoe Iere Tshepang sien; waarom Suid-Afrikaners dit behoort te sien
Die skrywer van die drama preek dalk nie in soveel woorde nie, maar die Iere maak wel so:

There appears to be no quick and definite way to fix the problem, but some hope can be found in the very fact that the Baby Tshepang story got the press it did, and that a play was made about it. The fact that the silence has been broken, and that national and international attention is being drawn to the situation, is the first shot in the war. Something can be done about it.
Só skryf die Ier Diarmuid O’Brien, wat pas in Galway ‘n MA in Skryfwerk voltooi het, in die programnota.

En net daar, ver weg van Suid-Afrika, maar so naby my land soos die blikkie ingelegde sardyne wat onder die bed op die stel uitloer, sien ek hoe ‘n Suid-Afrikaner ek is. Ek is nie so geráák soos die Iere rondom my nie. Om afgestomp te raak is dalk ‘n keuse. En miskien het Tshepang in Ierland my aandag op my apatie gevestig. Waarskynlik was juis dít ‘n beter rede as al my ander pseudo-akademiese analises om hierdie toneelstuk te gaan kyk.



LitNet: 22 November 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.