Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dié mamba mag maar pik

Ziegfried Ekron

Green Mamba

Met: John van de Ruit en Ben Voss
Regie: Greig Coetzee
Teks: John van de Ruit en Ben Voss
In die Sanlam-ateljee, Baxter-teaterkompleks tot 6 September.

Van lekker lag kom lekker huil, het my ouma altyd gesê. Ek het nooit presies geweet wat sy daarmee bedoel nie, maar het onlangs my eie verklaring gevind. Dis wanneer ’n mens lag tot die trane loop — soos wanneer jy Green Mamba gaan kyk.

Dié tweeman-produksie is uit en uit daarop gemik om jou te laat lag tot jou maag en sye nie meer kan nie.

John van de Ruit en Ben Voss steek die draak met alles wat in hul pad kom. Vandat die ouditoriumligte die eerste keer uitdoof en ’n geblikte weergawe van “Annie’s Song” à la Telkom oor die luidsprekers sweef en ’n eentonige vrouestem die gehoor plegtig gerusstel dat hul teenwoordigheid waardeer word, ’n akteur binne 16 sekondes na hulle sal omsien, weet jy dat hier geen heilige koeie is nie.

Die reeks sketse, wat die twee akteurs self geskryf en aanmekaargeryg het, fokus op die skreeusnaakse sy van die alledaagse lewe in Suid-Afrika. Parkeeraanwysers, Carte Blanche en begrafnisondernemers sal eenvoudig nooit weer dieselfde wees nie. Die skets oor laasgenoemde is galgehumor op sy swartste, maar dit word tog geregverdig deur die hartseer sosiale kommentaar wat dit lewer.

Vir politieke korrektheid is daar nietemin bra min plek in dié twee knape se satire. Daar is geen heilige koeie waarvan dié akteurs nie lus is om maalvleis te maak nie. Dit skyn die gehoor van alle rasse en kulture ook min te skeel. Selfs die stereotipes wat skaamteloos, dog besonder snaaks, uitgebuit word, laat nie die wenkbroue lig nie.

Tog vloei die humor nie egalig deur die program nie. Suid-Afrikaners se onverklaarbare fiksasie met Big Brother verdien met reg die bespotting wat daarvan gemaak word, maar dié brokkies, wat soos ’n draad deur die vertoning loop, voel soos reklameflitse — onnodige vertragings in ’n andersins opwindende vertoning.

Dalk is dit tog goed so, want dit sal moeilik wees om aanhoudend die ore gespits te hou vir die aaneenlopende pittighede, soos in die “voorspelling”. Stel jouself voor ’n man met ’n das en ’n landkaart verskyn net na die seweuur-nuus op jou TV en kondig die volgende dag se misdaadvoorspelling aan, kompleet met minimum- en maksimum-moordsyfers en “verspreide plaasaanvalle elders”.

Die fisieke komedie in die vertoning dra net soveel tot die stuk by as die spitsvondighede in die teks, maar ’n mens wil soms graag meer van die fyn geslypte satire sien as Voss se rubberagtige gesigsuitdrukkings, wat aan Jim Carrey herinner.

Die vertonings spog met spelleiding deur die internasionaal bekroonde Greig Coetzee, maar uit sy programnotas wil dit lyk asof hy skaars meer as morele ondersteuning gebied het. (Probeer tog ’n program in die hande kry; dit bied net soveel vermaak, met dieselfde aweregse humor, as die vertoning self.)

Green Mamba is allermins ’n nuwe produksie en het reeds laasjaar sy eerste verskyning op die Grahamstadse kunstefees gemaak. Dié speelvak by die Baxter is egter die eerste geleentheid wat Kapenaars kry om die skreeusnaakse stuk op eie bodem te sien. Die lokaal is net groot — of eerder, klein — genoeg om so ’n produksie tot sy reg te laat kom.

Green Mamba se grappe en sketse is effe tydgebonde en dikwels slegs binne ’n politieke of eg Suid-Afrikaanse konteks relevant. Dit lê die lewensduurte en die omvang van moontlike gehore dalk ’n bietjie aan bande. Tog het Suid-Afrika nog baie stof daarbuite waarmee dié twee maltrap-akteurs die spot kan dryf. Wie weet, dalk oor ’n jaar of twee is daar ’n Swart Mamba. En soos wat daar aan die einde van die program gesing word, is daar nie juis iets beter op TV nie en is die vertoning beslis die geld werd.

21 Augustus 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.