Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Lus en vrede


Lusistrata

Regie: Marthinus Basson

Met Yolandé Rabe, Denene Erasmus, Hilda van Lill, Janna Austin, Geon Nel, Phillip Botha, Ockert Coetzer, Francois Huyshamen, Jacques Theron en ander
HB Thom-teater, Stellenbosch
2 tot 6 September 2003.

Cor Scoltz

Skreeusnaaks is dié eietydse Afrikaanse verwerking van die klassieke stuk van Aristophanes, gebaseer op die vertaling van JPJ van Rensburg. Marthinus Basson en die studente van die Universiteit van Stellenbosch se Drama-departement blaas nuwe lewe in dié antieke Griekse komedie wat pleit vir die oorwinning van redelikheid en diplomasie oor magslus en geweld.

Moeg vir die ewigdurende oorlogvoering span die vroue van Athene en Sparta saam agter die voorhoede van Lusistrata, wat hulle oortuig om seks as wapen te gebruik teen hul mans se oorlogsywer. Die idee is dat indien hulle hul mans lank genoeg sou weier, laasgenoemde eindelik tot inkeer sal kom onder drif van die lendene en dat hulle in ooreenstemming met hul vroue se voorwaardes hul swaarde sal neerlê.

Aanvanklik is die skoner geslag nie te gretig om die genietinge van die vlees op te offer vir so ’n edele saak nie, maar die vroue is immers in dié verhaal die bewakers van gesonde verstand. Redelikheid seëvier kort voor lank.

Die eerste stap in hulle plan is die besetting van die Akropolis en die oorname van beheer oor die stadstesourie. Geld is immers die wortel van alle kwaad. Gou besef die mans dat die vroue gedugte teenstanders is. Met vuur kom hulle aan om die besetters van die Akropolis “aan die brand te stéék”; met water word hul vlammetjie geblus. Vir die mans is dié pantoffelregering ’n erge vernedering, maar bang blyk hulle nogtans te wees vir hierdie skaamteloosste van alle wesens.

Aristophanes se oorspronklike teks is berug vir sy gewaagde seksuele innuendo. Dié aanpassing van Van Rensburg se vertaling gaan selfs verder, met ’n goeie dosis vulgariteit. Deur die gebruik van limerieke, geskryf deur Mareli Hattingh, en slim woordspelings, maak die verhaal hom gemaklik in Afrikaans tuis. Dalk word daar egter te veel gesteun op dubbelsinnighede om die gehoor te amuseer; tog is die spelers se comic timing die meeste van die tyd heel in die kol.

Yolandé Rabe vertolk die rol van Lusistrata (terloops, nie ’n speling op “lus” nie, maar die korrekte Afrikaanse vorm van “Lysistrata”) en heers met outoriteit gemaklik oor die verhoog. Soms jaag sy dalk bietjie deur die dialoog en pla haar deklamerende styl van praat effens. Meer modulasie in die stem sou baie tot ’n andersins goeie vertolking bydra.

Denene Erasmus skitter in die rol van die terterige Kalonike, met haar genotvolle en self-ironiserende spel. Hoewel die meeste van haar dialoog reg aan die begin van die stuk is, is sy byna deurentyd op die verhoog en verbreek sy nie vir ’n oomblik die skyn van die akteur se eenheid met sy karakter nie.

Basson se vermoë om ’n gehoor om sy pinkie te draai is die duidelikste in die laaste verleidingstoneel tussen Muurrine en Kinesias te sien. ’n Gefrustreerde Kinesias keer na ’n lang afwesigheid na vroulief in Athene terug, waar sy soos ’n stiervegter om ’n bul trap. Sy’s gewillig om weer die huweliksbed met hom te deel, op een voorwaarde … Die manipulasie van die gehoor is volmaak: ademlose afwagting en skaterlag perfek in pas met die ritme van dié toneel.

Basson speel deurentyd slim met die gehoor; hy hou hulle vasgenael deur die spelers redelik baie lyf te laat wys, sonder om die spanning enigsins te verbreek. Dié taktiek word vir beide komiese effek én seksuele uittarting gebruik.

Hilda van Lill se Muurrine tref ’n delikate balans tussen jeugdige onskuld en verleidelikheid, terwyl Geon Nel manlief Kinesias se onhoudbare seksuele ontbering en emosionele gekwestheid met humor en vertedering uitbeeld.

Die vertolking van die kleiner rolle beïndruk ook baie: elke lid van die koor van vroue en mans het as individu ’n eie karakter wat bydra tot die geheel. Die Pro-Boelie-driemanskap Ockert Coetzer, Francois Huyshamen en Jacques Theron sorg vir groot vermaak met hul parodie van die Angola-recce-tipe wat ’n baie herkenbare Suid-Afrikaanse kleur aan die stuk verleen. ’n Hele spektrum van mans- en vrouekarikature kry in die hande van dié span talentvolle spelers op die verhoog lewe.

Lusistrata is ’n betoog vir groter samewerking tussen mans en vroue in politieke besluitneming en keer die stereotipiese vooroordeel dat vroue te emosioneel en onbetroubaar is, terwyl mans rasioneel en pragmaties is, op sy kop. Die adamsgeslag se geneigheid tot irrasionaliteit, hardkoppigheid en lafhartigheid word treffend uitgebeeld.

19 September 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.