Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die bekoring van die liefde lê in woorde

Marina Griebenow


Lief-lief deur Afrikaans

Met Johann Nel en Joanie Combrink

Onder spelleiding van Juanita Swanepoel


Dis eers na afloop van die woordkunsvertoning Lief-lief deur Afrikaans dat ’n mens besef waarom jy die moeite gedoen het om op ’n killerige herfsaand ná werk in jou motor te klim en die tog na Stellenbosch aan te pak.

Vir net langer as ’n uur het jy in die knus atmosfeer van die Dorpstraat-teaterkafee gesit en geluister na van die mooiste woorde in Afrikaans oor die een ding in die lewe wat terselfdertyd die grootste ekstase en die grootste verlies meebring: die liefde — en sodoende het jy ook weer bewus geraak van die wonder van taal. Dat dit boonop jou eie is, is verdere beloning.

Die impak wat die poësie kan hê, ontgaan ’n mens dikwels in jou daaglikse sleur. Dan het jy egter onverwags die voorreg om ’n uitstekende produksie soos Lief-lief deur Afrikaans te sien en opeens onthou jy daar is mense wat die soet en suur van hul lewens op ’n diep persoonlike manier verwoord. Gelukkig is daar ook ander wat die poësie vir jou dan só aanbied dat die emosies en ervarings daarin vir jou ’n spieëlbeeld van jou eie word. Sodanige mense is die drie stuks Juanita Swanepoel, Johann Nel en Joanie Combrink.

Swanepoel, die samesteller en regisseur van Lief-lief deur Afrikaans, het vanjaar by die KKNK die Kannaprys vir Woordkuns ingepalm vir die einste produksie. Dis uit die staanspoor duidelik waarom. Van reg oor die spektrum van die Afrikaanse poësie is gedigte saamgesnoer om ’n geheelbeeld te vorm van die pad wat verhoudings loop — sowel hul pieke as hul valleie — asook die mense binne daardie verhoudings.

In haar gedig “there’s more to love than boy meets girl” voer Joan Hambidge aan: “daar is meer aan liefde as patrone.” In hierdie produksie word ’n smorgasbord van woorde toeganklik en betekenisvol aan die teaterganger opgedis sodat jy uiteindelik daardie “meer” raaksien.

As woordkunstenaar en akteur het Nel geen bekendstelling nodig nie. Sy besige skedule spreek vanself. In Lief-lief deur Afrikaans vertolk hy met deurdagte nuansering en subtiele karakterisering die groot verskeidenheid manskarakters wat deur die onderskeie digters veronderstel word. Sy uitstekende stemplasing en knap aanwending van lyftaal — nooit oordadig nie — gebruik hy tot volle effek om emosies weer te gee wat wissel van die vertedering wat ’n minnaar voel by die aanskoue van sy geliefde in “slaap klein beminde” van Breyten Breytenbach tot die geweld wat hy ’n lewensmaat aandoen in “Reëlmaat vir ’n herinnering” van Wessel Pretorius.

Combrink is Nel se pasmaat. Dít wys onder meer in die gemak waarmee albei die fisieke spel behartig, wat wissel van lighartig en romanties tot uiters hardhandig. Waar nodig, vorm Combrink se ligter aanslag ’n goeie kontras met Nel se forser benadering, terwyl sy in haar vertolking van “hoe en waarmee oorleef mens dit?” van Antjie Krog oor die frustrasies van vrou en ma wees, hom woord vir woord in intensiteit ewenaar. Haar puik voordrag van “Jan” van Ina Rousseau, oor die ware liefde in haar lewe, is eweneens ’n hoogtepunt en ’n gepaste dog ironiese afsluiting van die program.

Met tussenposes word die saksofoonspeler Renée Belcher ingespan om die voordragte musikaal in te kleur en by geleentheid word sy selfs deel van die spel.

Dis egter Nel en Combrink wat aan die produksie lewe gee. Om na hulle te luister, is soos om ’n goed uitgevoerde pas de deux dop te hou — elke beweging, gebaar en woord van die een in perfekte harmonie en in antwoord op die van die ander. En deur hul woordedans word die hartstog, passie en patos van die liefde skitterend blootgelê — op Afrikaans.

  • Lief-lief deur Afrikaans word weer op 15 en 16 Mei 2003 aangebied in die Kleine Libertas-teater op Stellenbosch.


    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.