Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Klik hier vir Moedersdaggeskenke!

Anton Tsjeggof se Kersieboord deur die Moskou Kunsteater op besoek in St Petersburg se Bolsjoi Drama Teater

Alice Garnaeva-Smith

Die Kersieboord is Tsjeggof se swanesang, sy heel laaste toneelstuk, sy afskeidswoorde; en net soos in sy heel eerste toneelstuk, wat hy op die kwesbare en stormagtige ouderdom van 18 geskryf het, probeer hy in sy laaste drama, wat hy self in die gees van Balzak 'n komedie genoem het, alles sê.

In die program van die Moskou Kunsteater se produksie van Die Kersieboord gee die regisseur, Adolf Shapiro, die volgende verduideliking van 'n Rus se ervaring van Anton Tsjeggof. Ek lê my klein eiertjie ook hier, en hoop dat die lesers my digtersvryheid sal vergewe:

Ek het sy dramas al in Russies, Spaans en Estonies opgevoer en het al gerepeteer met Duitse en Amerikaanse akteurs. En elke keer keer ek terug na dieselfde vraag - hoekom?

Hoekom laat Tsjeggof mens nie gaan nie?

Hoe kan mens verklaar dat hy mens van jongs af betower?

Dis nog verstaanbaar wanneer die krag van nostalgie en verlange na wat verby is, mens vasvang. Nostalgie en kinderjare is onversoenbaar.

Hoekom, dan, het sy dramas juis in mens se jeug mens se bewussyn binnegedring?

Elkeen van ons het sy Taganrog- [Tsjeggof se geboortedorp], sy Kharkof- [die regisseur se geboortedorp] of sy Vanderbijlpark- [my geboortedorp] swaartepunt wat hom inperk en waaruit hy wil ontsnap. As mens nadink, dan is dit waarskynlik die begin. Tsjeggof was in ons begin. Nou is dit duidelik dat hy uiting gegee het aan 'n verlange na 'n ander, interessanter en beter lewe. Maar hierdie verlange na 'n beter lewe is nie die idee of hoofdoelwit soos wat later aan my verduidelik is nie. Dit is die wysie wat daaruit voortspring. Dit is musiek.

Terwyl ek na Tsjeggof se dramas geluister het, is ek in 'n ander wêreld ingetrek, waar mense nie net leef nie maar die heel tyd probeer verstaan hoe hulle leef, hoekom hulle leef, wat die betekenis is. Hy het my in staat gestel om deur die tydperk [waarin hy gegiet is] tot hom toe deur te dring.

Hy het die brug tussen gister en vandag geword.

Ek het saam met Tsjeggof se karakters grootgeword.

In Chernyshevskistraat tussen Tsjeggof se karakters. Uiterlik is daar geen ooreenkoms nie - die baadjies, ballonne, grense van eertydse drome en ideale het verander en is nou verspot as mens dit vergelyk met vliegtuie, maar die sesde sintuig is steeds nie ontdek nie en in 'n belangrike sin het die lewe tog dieselfde gebly - volgens Tuzenbach: "moeilik, vol geheime en gelukkig".

Dus aan die een kant die ver verwyderde, lokkende wêreld van vervloë mense, woorde, gebare en aan die ander die pynlike bekendheid van ons huis. Dis hoe Tsjeggof in my jeug ingekom het. Sedertdien bestaan "Tsjeggof" vir my as 'n uitbeelding van die kompleksiteit en veelduidendheid van ons hele bestaan.

Ek tob herhaaldelik oor die naam Kersieboord ...

'n Kersieboom is nie een van die mooiste bome nie. Afgestomp en knopperig. Maar as dit blom - te pragtig! Dit borrel en skuim in 'n wit-pienk lugspieëling. Dit bewe en dans. En dan waai die wind en die kleur en blomme verdwyn ...

In die naam van sy toneelstuk het Tsjeggof sy verwondering oor die lewe vasgevang en daarvan afskeid geneem. Vir hom was daar nog net 'n paar maande oor. Die vervlietendheid, vir-altyd-verlorenheid van dit wat verby is, is 'n bitter stemming wat die stuk deurdring. In die teks is liefde, drome en al die aardige lompheid van die lewe ineengevleg. Niks is ewig nie, alles word meegesleur deur die storms van die tyd, soos die kleur en blom van 'n kersieboom.

Sy afskeidskomedie het iets gemeen met Salomo se wysheid: "Alles vergaan." Dit waarsku: onthou in gelukkige tye dat dit nie vir ewig hou nie. Wees gereed om dit dapper te aanvaar. Maar ook in die verganklike en in rou, hou aan hoop! Tyd is die enigste heerser van die situasie. Alles is onderdanig aan tyd se mag. Waarskynlik is dit wat ons nie in ons jeug kan verstaan nie, maar wat ons betower en aantrek in Tsjeggof se dramas. Met die jare meer en meer.

Tsjeggof was in ons begin en het ons voortsetting geword. Dis amper onmoontlik om oor hom te praat. Dis net so nutteloos as om te probeer om te vertel van die lug wat ons inasem. Maar een ding is duidelik: Tsjeggof maak dit moontlik om elke nuwe lewensverwikkeling te aanvaar. Dis nie nodig om ontsteld te wees of te kla daaroor nie, want dit, die lewe, beweeg volgens 'n wet wat slegs aan die lewe self bekend is.

Dit is hoe dit is en in my jongste Kersieboord wil ek sê dat in alle bitter verlies moet ons bly wees oor dit wat was.

Op die ou end is die vreesaanjaendste wanneer daar niks meer is om te verloor nie.

Hierdie produksie van Tsjeggof se Kersieboord word vir die eerste keer opgevoer op 3 Junie 2004, maar dis eers amper 'n jaar en baie pyn, hartseer en ontnugtering later dat ek en my gewese man die geleentheid kry om hierdie uitmuntende en inspirerende produksie te sien. Hier geld 'n ander ewige waarheid: dis nooit nie te laat nie. Dank die Vader!

Dis voorwaar moeilik om in die voetspore van die groot meesters te loop, en in die honderdjaar-geskiedenis van die Kersieboord het uitstekende regisseurs, akteurs en ontwerpers al die pad aangewys en 'n hoe standaard neergelê. Wat het die MK-skool deur die jare geleer? Wel, te oordeel aan hul heel jongste produksie ter ere van die honderdjarige herdenking van Tsjeggof se dood en die honderdjarige bloei van sy kersieboom het hulle geleer dat mens Tsjeggof nie moet probeer oormaak nie, nie moet probeer herskryf nie. Wanneer Stanislawski uit radeloosheid 'n verduideliking uit die skrywer probeer wurg het, het Tsjeggof altyd met dieselfde antwoord gekom: "Maar dit staan tog alles in die teks, lees net wat daar staan, alles word daar mooi verduidelik."

Verlede jaar het ek en my gewese man 'n katastrofiese ervaring gehad: ses ure van marteling in 'n moderne produksie van Die Kersieboord met 'n supermoderne "geniale" regisseur van Litaue, Eimuntas Nekrosius. Dis gewoonlik in kontrasterende vergelyking dat mens soveel duideliker foute en waarhede kan raaksien. Maar dis maklik om af te kraak en te verkleineer en ek sal dit liewer nie in hierdie resensie doen nie - dis soveel lekkerder om op te bou en te loof, dus sal ek eerder die bitter ervaring agter my laat en kyk na vandag se produksie.

Die les wat MK geleer het van die groot vaders wat die fondament gelê het, is dat mens moet bou op die grondslae wat deur jare van eksperimentering, breinskrum en deurleef neergelê is. Wat dus heel eerste opval in die MK se Kersieboord is die suggestie van die roemryke verlede en die hulde wat aan die eerste produksie gebring word. Die MK se beroemde gordyn met die embleem van 'n meeu bring die punt duidelik tuis. Verder is daar amper geen verhoogdekorasie nie, slegs klank, lig en die gordyn. Die minimalisme dwing die uitmuntende toneelspel op die voorgrond.

Ryk tradisie word dus voortgesit en op gebou en die briljante keuse van aktrise vir die rol van Lyubov Ranevskaya val op die misterieuse, eksentrieke, esoteriese, sonderlinge Renata Litvinova. Dit is haar heel eerste teaterrol, wat mens ietwat uit die veld slaan. So 'n asemrowende, oorweldigende debuut het my geslag lanklaas gesien. Vir die Russe is sy baie meer bekend as TV- en filmaktrise en regisseur - en tot my verbasing lees ek in die program dat sy eintlik 'n draaiboekskrywer van beroep is.

Laat my toe, my liewe, geduldige lesers, om - soos my gebruik is - bietjie af te dwaal en van Renata te vertel. Sy is inderdaad 'n unieke verskynsel en die Russiese publiek word in twee teenpole verdeel wanneer dit by haar kom. Die een pool word deur haar betower en beskou haar as 'n rare talent; die ander pool beskou haar as aansitterig en word grensloos geïrriteer deur haar eiesoortige mannerismes en sagte, asemrige, nasale stem. Niemand is egter ongeërg oor haar nie - sy lok altyd een of ander emosionele reaksie in haar gehoor uit. Sy is lank en maer soos 'n plank, 'n bietjie hoekerig, met lang hande wat sy blykbaar nie weet wat om mee te maak nie. Sy's glad nie die moderne idee van 'n Hollywood-skoonheid nie; inteendeel, dit lyk asof sy uit die jare '40 gestap het. Regisseurs vertel dat dit amper soos 'n mallemeulerit is om saam met haar te werk, want sy reageer onvoorspelbaar op die impulse wat hulle gee en die situasies wat geskep word. Dis jammer dat sy ontoeganklik is vir nie-Russiese gehore; sy is beslis 'n juweel!

Vir Renata het daar nie 'n maklike taak voorgelê in die Kersieboord nie. Eerstens moes sy in die voetspore van groot geeste volg, en die blote idee sou enige minder waaghalsige en meer papbroekige persoon die hasepad laat kies het. Die eerste aktrise wat Ranevskaya gespeel het, was Tsjeggof se eie vrou, Olga Knipper-Tsjeggof, wat die rol gespeel het tot sy 80 was, meer as 800 keer. Terloops, Stanislawski was grensloos gefrustreerd met Knipper se spel, omdat sy glad nie ag geslaan het op sy sisteem nie en bloot net vir Ranevskaya broos, vroulik en nostalgies gespeel het. Alhoewel daar uiterlik geen ooreenkoms tussen Knipper en Litvinova is nie (eersgenoemde is sag, rond en donker), dink ek dat laasgenoemde wel daarin geslaag het om iets van die heel eerste interpretasie van Lyubov Ranevskaya vir ons terug te bring.

In 1988 is 'n nuwe produksie van die Kersieboord deur die Gorki Moskou Kunsteater op die planke gebring met die legendariese Tatyana Doronina in die hoofrol. Sy is steeds die artistieke hoof van die Gorki MK en hou die geselskap in 'n versmorende ystergreep vas. In 'n vorige artikel het ek reeds verduidelik dat daar twee Moskou Kunsteaters bestaan: die Gorki en die Tsjeggof een. Albei dramaturge was uit die staanspoor daar en ná die rewolusie was dit Gorki wat sy vriend Tsjeggof se plek ingeneem het.

Wat Renata regkry, is om die kiem van haar karakter vas te vang, en vir die eerste keer dring dit tot my deur dat die karakter se naam reeds alles van haar sê. Lyubov beteken "liefde" en Ranevskaya beteken "kwesbaar" of "gewond". Renata het Tsjeggof se raad gevolg en slegs sy teks vertolk. Sy't niks bygevoeg, weggeneem of uitgedink nie. Sy vertolk Lyubov Ranevskaya as broos met 'n oneindige kapasiteit om lief te hê en haarself op te offer, toe te laat dat ander haar misbruik; sy dra soveel seer in haar saam en het gevolglik 'n fatalistiese uitkyk op die lewe. Sy's nog 'n kind, nes haar broer Gaev. Wanneer sy praat van haar klein Grisha wat in die meer verdrink het, dan skeur mens se hart in twee. Haar enigste histeriese uitbarsting is wanneer sy aan die jong Petya verduidelik dat hy nog nat agter die ore is en dit maklik vir hom is om haar te veroordeel vir haar losbandige, sondige lewe in Parys en te sê dat hy hoër is as die liefde. Hy't nog nie geleef nie, is nie 'n man nie, het nie eens 'n baard nie. Hy's 'n teoretikus, 'n ewige student. Wat weet hy van ware liefde? Ten spyte van haar spandabelrigheid, onverantwoordelikheid en lompheid in praktiese dinge kan mens nie anders as om vir haar 'n deernis te hê nie. Dit kan van al die karakters in die stuk gesê word. Mens raak lief vir hulle almal. Hulle is so uiteenlopend, maar elkeen is naïef en opreg in sy ideale en gevoelens en dit verenig hulle.

Dit is een van doktor Tsjeggof se sterk punte dat hy nooit kant kies in sy stukke nie. Sommige beweer dat hy sy karakters sinies en gevoelloos beskryf, maar dis nie waar nie; deurgaans raak mens bewus van sy deernis vir elke lewende wese en besef mens dat sy stem oral te hore is. Sy ouers was vrygekoopte lyfeienes en net soos wat Lopakhin, wanneer hy die kersieboord en landgoed koop, probeer om die slawerny uit sy liggaam te wurg, net so het Tsjeggof sy hele lewe lank gestreef om deur sy skrywery die laaste druppel bloed van 'n slaaf uit sy liggaam te pers.

Tsjeggof wou hê dat sy swanesang 'n komedie moes wees, maar ongelukkig is dit onmoontlik om iemand se toespraak op sy sterfbed as 'n ligte komedie af te maak - die historiese konteks daaragter weeg te swaar - maar wat wel moontlik is, is om die skrywer se idealisme, sy geloof in die toekoms, sy verlange na 'n beter lewe en sy positiewe, speelse, laggende uitkyk op die lewe vas te vang.

Die produksie hou mens vasgevang en sleur mens mee, in so 'n mate dat die drie ure soos 'n oogwink verbyglip en mens, as alles verby is, voel asof jy onwillig uitgespoeg word in die harde, vuil wêreld daar buite en tevergeefs probeer om die towerwêreld van die teater vir net nog 'n paar sekondes uit te rek. Die lewe gaan aan, maar mens bly smag na Tsjeggof se wêreld, en mens wil oor en oor aan sy voete gaan sit en van hom leer.

Op die oomblik sneeu dit saggies buite terwyl ek na die Russiese digteres Marina Tsvetaeva se getoonsette gedigte luister, en ek voel behoorlik asof ek in 'n droomwêreld leef. Maar ek onthou met 'n gril dat nadat ons uit die BDT uitgestap het deur die pragtige middestad, die perfekte Rossistraat, verby die Alekandrinski Teater, ons afgesak het in die moltreinstasie, waar die hoolbestaan van dwelmverslaafde, gomsnuifende Russiese straatkinders ons in die gesig getref het terwyl ek amper in 'n hoop kots getrap het. Was Tsjeggof nes ek 'n nuttelose dromer en is daar in der waarheid vir die nuwe geslag geen toekoms meer nie?

Dis net 'n goeie regisseur en uitstekende toneelgeselskap wat aan die ingewikkelde, multidimensionele Tsjeggof reg kan laat geskied. Die Russe is lief om te praat van hart uitstort, of dat die produksie, regisseurs en akteurs 'n hart moet hê (die woord hart word in Russies vertaal as siel), en dis wanneer mens toelaat dat iets mens se hart aanraak dat dit moontlik is om vir 'n paar oomblikke een te word met die geheimsinnige Russiese hart wat mens omvou en versuip en dronk en verward op die koue sypaadjie laat wakker word, soos 'n boemelaar met 'n groot hoofpyn.

Dankie, Tsjeggof, dat jy mens nog laat dink oor die lewe, laat tob en laat voel en meeleef, laat hoop en laat droom! Dankie dat ons kan huil oor ons kinderjare en nostalgies kan raak oor ons verlede, kan lag oor ons foute en kan uitsien na 'n beter lewe, dat ons kan besef dat die lewe voluit geleef moet word, want dis kortstondig en vervlietend dog diep, betekenisvol en nie vir een oomblik vervelig nie.

Daar is hoop vir die nuwe generasie regisseurs en akteurs in Rusland. Kan dieselfde van Suid-Afrika gesê word? Ek kan nie 'n uitspraak waag nie, want ek's te ver verwyder in tyd en ruimte, en uit eie keuse is ek 'n buitestaander wat nêrens meer inpas nie. 'n Stille, hulpelose toeskouer of 'n fanatiese, obsessiewe, versteurde afloerder!

Vir nog foto's en opsommings van ander produksies wat ons gesien het, besoek gerus ons webtuiste by http://agarn.boom.ru.



LitNet: 21 April 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.