Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die braaikraai* in Dorpstraat

Katvrou

I

Die ding sit mos so skeefkop op Dorpstraat Teater se dak. As jy Kamer 7 se venster oopmaak sodat Stellenbosch kan inkom en jy die groen kan ruik, sit die braaikraai met sy grys bliksnawel vir jou en betrag. Moerkierie. Wat dié voël ook elke dag onder sy snawel sien verbyloop sal straks ‘n dikke dagboek bou.

Die vlug na Rohan en Eldré se teater is nooit vir my lekker nie. Wanneer ek so skrams ‘n oogskoot kry van die swart berge onder die kotsgroen vliegtuig sodra die wolke ‘n stukkie oopmaak, flapper my hart siek van paniek en sak ek terug in my sitplek en probeer stadiger asemhaal, maar dis so hoog dis so hoog dis so verskriklik hoog en wat de moer maak ek hier, dis so onnatuurlik, hierdie DUISENDE VOET HOOG IN DIE LUG WEES MET NET ‘N STAALBUIS TUSSEN MY EN PLETTERVREKVAL, AG HEMELLLLLL …

Nietemin. Die tyd in Dorpstraat Teater is elke sekonde in die lug se verlammende vrees werd.

Laatskemer. ‘n Ligte bries swaai guitig deur die akkerboom se blare bokant my kop. Die witwyn is koel. My niggie se wange gloei van liefde en haar verloofde verslind haar met sy oë. Hulle trou oor twee weke. Sy lag vir my omdat ek te bang is om die (geleende) Nokia en kamera so oop en bloot op die tafel te los. Ek drink nog bietjie wyn. Sy plons nog ys in haar wyn. “Ek moer jou as jy nie volgende jaar KKNK toe kom nie. Toe nou man, kry jou gat in rat. Jy was 2000 laas daar. Skaam jou.” Ek is nog besig om die finansiële implikasies van ‘n enkelsalarisverdiener aldus opperste musiekverslaafde se week in Oudtshoorn aan haar te probeer verduidelik, wanneer die gaste om ons begin opstaan en rigting kies deur die voordeur.

My ambrosyn is hier.

II

Die ou swart verhoog is ‘n rukkie terug behout in ‘n neuterige ligbruin en word geruisloos omhels deur ‘n dik purper gordyn. Daar is vanaand twee stoele. Een vir Mauritz Lotz met sy kitaar, en ‘n ander sitplek met ‘n Kurzweil klawerbord vir Matthys Maree - die pedaal doeltreffend met maskeerband op die verhoog vasgepen. Mauritz en Matthys se album is getiteld The M and M Project en dit is nou die eerste keer wat ek die kitaar en klawers lewend onder hulle meesters se hande gaan sien kadriel.

Rohan glip in agter die mikrofoon en vertel van Mauritz en Matthys se kitaarspeel-slypsessie wat hulle môre-aand in die Durbanville Kunskafee gaan hou. Hy glimlag in die donker in, en sê dankie dat ons kom luister het. Dan maak hy plek vir Mauritz op die verhoog. Mauritz se baadjie is donker en kwaai tot onder sy knieë. Hy tel die Taylor 6-snaar in die hoek op, tuur teen die lig in na ons. Op sy skoensole talm die spore van ander plekke se stof.

Dan draai hy om na Matthys, grinnik soos ‘n skoolseun, en sê: “OK. GOOI.”

Zuhhkka-zuhkkka pruttel die snare onder Mauritz se vingers en gaan gooi blitsig ‘n streep skadu’s oor Matthys se hande. Dis ‘n bose vennootskap. So ook vernuftig, venynig en verskriklik vinnig. Die Kurzweil se swart staalpote wikkel onder Matthys se ritme met die regtervoet wat so slinks op en af die maskeerband laat frommel. Hulle doen alles wat die album in jou huis vir jou doen. “Withering Heights” begin hierdie aand met ‘n doelgerigte rammeling en getrippel tussen klawers en stywe snare wat op die plek ‘n pas de deux na ‘n pas de donner laat lyk.

Ek sit en hap nog na lug wanneer Mauritz die volgende liedjie tussen ons inslinger. “Now we’re going to need some audience participation for this.”

‘n Senuagtige geskuifel agter my. Iemand giggel.

“Yes, I do mean participation. There are parts in this song where I’m going to need you to say HEY! really loud. Like this: HEY!!!”

Hahahahahaha, dit klink gek, maar vreemd genoeg, agter Mauritz se ernstige gesig blyk daar ongeveer sewentien baldadige narre te wees wat mekaar klap om uit te kom, en dis absoluut befok om te aanskou. Sy oë is onnutsiger as Francois Blom s’n by ‘n KOBUS! optrede net voor einste Blom daardie plastiekpop se broekie so gluiperig met die voorvinger wegtrek.

“Got it? You will sing HEY and HEY!!! This is how you’re going to do it, HEY!!!” Nog ‘n geskater van agter af. “HEY!!” wys Mauritz met ‘n streng vinger vir ons.

Ons probeer. Maar “The Bash” is lankal om die hoek met olieblertse terwyl meeste van ons halfhartig ‘n “Ummm-HEY…” probeer inpas. Later word dit makliker. Mauritz se dringende trommel teen die Taylor se buik, trrrrrommppp-doesssjjj, Matthys druk met 20 vingers die kommas en punte in, en tussen drie sekondes se duidelike weifeling gooi die ouens agter my ‘n luide “HEI!” in. Soms ‘n “HOEI!!”, dan weer ‘n “HOI!!”. Maar dis vlymlekker. Die spoed begin tol, trrumm-trrummm-toesjj-trummm, al vinniger en vinniger, mal in die rondte, tot ek nie meer Matthys of Mauritz se vingers sien nie, net natgeswete voorkoppe, breë grynse, en ‘n sporadiese “HEY!” waar daar ook al plek is. En Mauritz gryns vir Matthys, terwyl dié sy toonlere in hulle moer in beklawer met ‘n wilde ritme wat elkeen in sy stoel laat sit en wikkel.

Met “Spider’s Waltz” raak dinge onhebbelik lekker. Nou lyk Matthys éérs soos ‘n skurweknie-agarob met ‘n skewe kuif - en hy gooi ‘n string note vir Mauritz. Check hierdie move, my ou. Mauritz skuif reg op die houtstoeltjie. Jou moer, man. Hier’s jou move terug, met ‘n hoop dorings en klitsgras. VAT SO. En hy pluk ‘n geordende raserny note uit daardie Taylor wat Mozart sal laat stertswaai. Matthys vat dit soos ‘n man. Glimlag slu, en sit dan nog regopper, die ene meerkat. Hahaha, is dit al wat jy het, boetie? Ek skrik jou niks. Vat bietjie VAN DIÉ.

Hyg, hyg. Jy sien die tweespel voor jou oë gebeur, maar dis of jou brein dit nie lekker wil snap nie. Jy registreer stadig. Soos ‘n vlieg wat deur ‘n blik stroop swem.

Mauritz vee gou sy voorkop droog. Dan staan hy kiertsregop met die kitaar agter die mikrofoon, rek ‘n bietjie.

“Now for a costume change.” Hê? Waarso? ‘n Ander baadjie, of wat? Hy grinnik weer. Sit die Taylor neer en tel die glimblou Gibson op. “I am going to play you something from the Earthtones album.”

Ek sit sommer regop. Dalk is dit die betowerende “Karoo Trance” – of miskien “Tidal Spirit”. Hy tuur weer skeef teen die lig in. “Ummm. Yes. It’s probably nothing like this on the album.”

En dit is ook totaal onherkenbaar vir my. Dis stil in Dorpstraat Teater. Sy vingers vat ‘n ritme – hipnoties en dringend. Sy bolyf gebuig oor die kitaar, gesig verberg agter sy hare. Binne die kitaar. Matthys kyk vir hom met ‘n stil respek wat nie net in sy oë sit nie.

“Jisssss …” hoor ek iewers vanuit die agterste tafels.

Hier sien jy die hande en snare asemhaal. Vingertoppe wat klanke vir jou uithaal en tussen die tafels en wynglase neersit met ‘n vlugheid wat jou in dieselfde beweging toor en opdonner. Nee. Dit kan nie. Ek wil nie eens asemhaal nie. Te bang ek mis iets van wat hy hier voor ons sit en doen. Die melodie vorm haarself in sy hande, groei boontoe, vorentoe na ons toe - en gooi haarself oop voor elke oor in die gehoor.

‘n Paar sekondes se stilte. Ek hoor net die sagte wupp-wupp-wuppppp van die plafonwaaier bokant my kop.

Dan ‘n sagte “Sjoe …” agter my.

Die applous hou nie op nie.

Tot Mauritz weer die mikrofoon nadertrek. “And now – for the ultimate costume change.”

Hhhhnnnnn??? WAT NOU????

Matthys staan op, en Mauritz kom sit agter die klawerbord. O. Hier kom ‘n ding. Matthys gaan tel die Taylor op en kry sy sit op die houtstoeltjie. Mauritz loer vir Matthys - en plonk-plonkkkk ewe windgat met die linkerwysvinger op die klawers. Matthys lig een wenkbrou. Speel dan dieselfde note vir hom terug. OOEEEEEE. NOG, NOG, NOG, sê my gees. En so doen hulle “Vivaldi Andante”. Matthys wat eers ‘n stadige ritme op een snaar uitpluk, met Mauritz wat met ‘n rustige hopie note in die klawers die wysie vir ons wys. Stadig. Lieflik. Die ritme kry lewe met Matthys wat ‘n dringender dumm-dummmm deur die agterdeur intrek met die kitaar. Hier word ‘n eenvoudige struktuur voor ons ore gebou met met kleure en vlakke wat nog nie eens name het nie. Tyd staan stil vanaand.

Die knop kom sit sommerso in my keel. Mense spandeer soveel van hulle tyd deur Idols te kyk. En hier is Mauritz Lotz en Matthys Maree besig om met twee primêre instrumente vir ‘n vyftigtal mense te wys hoe musiek nou eintlik gebou en vir jou aangebied kan word.

Bliksem.

Die applous ná Mauritz se donker solo op die hitsige Gibson is al lankal stil.

Hy sit buite by een van die houttafeltjies in Dorpstraat Teater se agtertuin. Matthys rustig langs hom. Ek kan voel hoe die braaikraai van die dak af vir ons kyk.

Ek wil weet hoe Mauritz tyd kry om nog klavier ook te speel. Hy lag. “Ag, I just plonk a little.” En die glimlag in Matthys se oë is maar net ‘n stukkie van die geestige geskater op The M and M Project – veral snit 6. Jy’t nog nooit bas- en dromeffekte só gehoor nie. Die CD gaan jou ontkreukel. Beleef dit.

III

Elfuur op Dorpstraat Teater se stoep. Ek sluk ‘n handvol Grandpa-tablette. Verdomp. Een donnerse glas Kaapse witwyn en my brein is ‘n kwal. Hoe pateties.

Die sonbesies streep ‘n skril area in die akkerbome voor Die Kelder. Bokant my is Stellenbosch se lug ‘n swembad sonder bodem.

Tannie Linda bring vars filterkoffie. Sy is die een wat soggens die CD-speler wakkermaak. Meestal met Jan Blohm. Deesdae ook Chris Chameleon met Ek herhaal jou. Agter in die kroegarea sing Jan oor Anna. “Sy’s ‘n fox in ‘n box, pick Pappie se locks …”

“Ja,” sê Tannie Linda. “Dit hou nooit op nie. Hierdie musiek. Die liefde binnekant. Dis soms stil vir ‘n ruk, maar dan kom Chris weer, of Jan, en dan’s dit klaarpraat. Dan is jy verlore.”

Sy sien vir Riaan raak wat al van vroegoggend met sy twee manne besig is om die plante en struike om die teater met die snoeiskêr reg te ruk. Hy buk tussen die laventelbossies langs die bougainvillea voor die muurtjie en woel verwoed tussen die grysgroen stammetjies rond.

Tannie Linda se oë rek. Dit lyk of sy haar wind uitgeval het.

“Kyk nou hoe snoei jy my lavender?”

Riaan kyk op, en lag. “Nee Tannie Linda, dis French lavender hierdie.” Hy beduie na die regterkantste muurtjie se kant met die snoeiskêr. Daardie, dáárso, dis English lavender.”

Sy is nie beïndruk nie. “Ja? En?”

Riaan vee oor sy kennebak. “Nee kyk, hierdie een is besig om dood te gaan, hy’t Australian lice, kyk hier.”

Sy kyk.

“Nou dis nie regtig lice nie, dis meer ‘n siekte, maar dit moet gaan, Tannie. Engels bly, Frans gly.”

Agter haar aan die ander kant van die straat kom twee bergies uit Wynland Superette en Wynhandelaar met ‘n nuwe bottel wyn gestap. Slinger ‘n bietjie. Hulle koes vir die motors, loop dan weer doelgerig oor na die groot akkerboom voor Die Kelder. Vandag is hulle vier wat om die bottel kuier. Daar word hard geredekawel.

Hulle sien vir Hermien raak wat van Die Hidden Cellar se kant af gestap kom met haar opgerolde swart voorskoot en handsak. Haar hare blink in die son. Een kalant hou aan vir haar iets sê, maar sy maak of sy nie hoor nie, en sy woorde word harder hoe nader sy na die stoep gestap kom, met ‘n laaste kwasterige “Ag jou ma se poes man!!” wat na haar rug geslinger word.

Ek is in die Kaap. Inderdaad.

Sy trip-trap elegant met die trappies op – reg vir die skof. Ek hap steeds na lug. “Is dit elke dag se ding?”

“Nee,” lag sy. “Net Vrydae.”

Nod die papegaai begin van die agterstoep af te snater. Hy’s verveeld. Duidelik het hy nog nie geleer om met die braaikraai te praat nie. Ek loop agtertoe deur die stil teater en kry hom op sy stok. Hy draai sy kop en bekyk my met sy geel kraalogies.

“Hallo Nod,” sê ek. Steek dan versigtig my hand uit om sy grys veerkop te krap. Hy reageer deur ‘n allemintige byt met sy snawel oor my voorvinger in te slaan en dit met mening vir ‘n paar sekondes so te hou.

Tannie Linda kom verbygestap en hy vergeet van my vinger. “Preeuu-prroooeeiii,” kweel hy vir haar. Sy sê hy’s nou 17. Dis dan ook waarskynlik hoekom hy meeste van die tyd so beneuk is. “Hy word ouer, en hy’s ‘n man ook, jy sien.”

Peet en Kobus, die twee nuwe voorslagkokke, kom ingestap. Die kombuis trek sy skouers regop. Hermien gooi my CD4 album in die CD-speler en Chris Chameleon doen ‘n akoestiese “Come”. Dan KOBUS! met daardie stil sterk en onthutsende “Jou Oë.”

En die dag skop sy deure op.

Ek’s terug op die stoep, langs die Engelse laventelbossies. Bra Gustav kom briek met die viertrekmasjien langs die akkerbome, klim uit, haal sy sonbril af en betree die koelte. Op die glasdeur agter hom praat die plakkate met my. Koos Kombuis. André Swiegers. Charlene Truter. Hier links onder peins Chris Chameleon met gevoude arms. Almal ken die binnekant van hierdie plek. Die kaggel, die hout, die wyn. Die verhoog. Die mense.

Gustav het tyd gemaak vir my tussen sy dagboek se afsprake. Hy vertel my van die iPod wat hy as sy nuwe motorradio stewig neffens die rathefboom vasgeskroef het. Al die musiek wat hy nou kan speel terwyl hy en die teerpad met mekaar praat. Ons mymer in eerbiedige stemtone oor Deltablue se Heaven. Henry Steele se meesmuilende voorkitaar in die titelsnit.

Dit herinner my om by daardie Classix CD-winkel hier naby, twee blokke boontoe, uit te kom. Ek soek Blues Broers se Cellar Tapes met ‘n seer hart. Gustav skud die kop stadig. Ek het blykbaar nie ‘n kat se kans nie. Maar hy bied aan om my by die bank af te laai. Hy ry rustig ‘n draai verby die BP motorhawe, boontoe. Diana Krall speel klavier binne die iPod. Sy doen Joni Mitchell se “A Case of You”.

I met a woman
She had a mouth like yours
She knew your devils and your deeds
She said
"Go to him, stay with him if you can
But be prepared to bleed"
You are in my blood like holy wine
You taste so bitter and you taste so sweet
Oh I could drink a case of you darling
Still I'd be on my feet
I'd still be on my feet

Vir ‘n paar minute verdwyn ek in hierdie vrou se gees. Dis so intens, ek voel die hoendervleis tot in my kopvel klim. “You are in my blood like holy wine …”

Gustav was reg. Cellar Tapes is nêrens meer beskikbaar nie. Ook nie Frosted Orange se My Love is a Leopard nie. Ek grawe desperaat tussen die CD’s rond en kry twee troospryse. Valiant Swart se Mystic Boer en Gian Groen se Soet September. Dit word vir my in ‘n bruin papiersakkie oor die toonbank gegee. Ek maak dit stilweg my missie om die Blues Broers te teister tot daar iewers ‘n kopie van Cellar Tapes te koop verskyn. Net om te hoor hoe doen Simon Orange tussen die verbete dromme en Albert Frost se rooi kitaar: “I’d rather be saaaaaaad than happily married …” En dan nog “Glove” en “Black Eye Snake” …

*SUG*

Buitekant is Stellenbosch groen en oop en vars. Daar’s vars vrugteslaai in die winkelsentrum, met stukkies kiwi en spanspek en papaja. Ek eet dit met ‘n plastiekvurk op die sypaadjie terwyl die dag om my gebeur. Al die motors se nommerplate is CL. My voorletters.

Dalk moet ek vir Jozi onder haar teeflike gat skop en hier kom bly.

BraaikraaiWant die plek práát met jou. Klap jou wakker. Die dronkgat bergies. Dorpstraat Teater se kombuis in die oggend. Die bemoerde papegaai. Die plakkate teen elke muur. My sagte bed met die lekkerslaapduvet. Tannie Linda se filterkoffie. Rohan en Eldré se gees in elke plant en tafel en portret. Die purper gordyn.

Alles práát in Dorpstraat.

Alles. Tot die braaikraai.

* Die braaikraai is daardie blikvoël op jou dak wat al die kaggelrook so geduldig opsnuif. So gedoop deur KOBUS! sê Francois Blom.





LitNet: 20 Desember 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.