Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dié hamerslaners is sterk, ja, maar waarom tref die instrument so sag?

Hamer van die Hekse

Teks: André P Brink
Regie: Niël Rademan
Met: Stian Bam, Frieda van den Heever, Marthinus J van Vuuren, Cindy Swanepoel, Louis Loock, Eben Genis, “and a cast of thousands”
Verhoogbestuur: Ingrid van der Spuy.

HB Thom Teater, Stellenbosch
23 tot 27 September 2003.

Francois Tredoux

Die regisseursnota sê, onder andere:

Vir my as regisseur moet teater hoofsaaklik daarop uit wees om iets emosioneel teweeg te bring. Al is dit net verdeelde emosies. Die rede vir die keuse van die spesifieke teks is gedeeltelik om saam met Brink, Leipoldt te verheerlik, maar om die emosionele reaksie van mense te toets ten opsigte van ’n Suid-Afrikaans verwyderde kwessie wat in ons moedertaal vasgevang is. Wat ek wel wil benadruk is die feit van ’n baie toepaslike parallel wat tussen dié historiese absurditeit en die hede getrek kan word.

Ek weet nie of verveling ’n emosie is nie. Ek hoop so, want dan sou dit beteken ek het ten minste emosioneel gereageer op dié toneelstuk. Dis nie eintlik ’n ideale situasie nie; dié sou wees ervarings van angs (oor die mag van die kerk oor eenvoudige mense se lewens), van geregverdigde woede (oor ’n basiese boodskap van liefde vir alle skepsels wat verlore geraak het in magsbeheptheid), van ontsettende simpatie met die eenvoudiges van gees wat toegespin is in die web van hulle eie woorde, verdraai deur arrogante inkwisiteurs se venynige intelligensie. Maar ek was merendeels onaangeraak.

Laat ek onmiddellik sê: Hierdie produksie is nie ’n mislukking nie. Daar is baie potensiaal wat uitroep om verder verfyn te word. Stian Bam het die regte statuur en “presence”, die regte stembeheer en -tegniek, om die Kardinaal se sielewroeging tot sy volle reg te laat kom. Frieda van den Heever se ingeleefde spel as Elsa die heks het my geboei elke keer wat sy op die verhoog was.

Marthinus J van Vuuren het gelyk asof hy dit baie geniet het om aan die legaat se wêreldsheid, sy korrupte motiewe, sy wellus, met fyn tydsberekening en detailspel gestalte te gee. En Cindy Swanepoel as Janetta, Elsa se dogter wat saam met haar ma verbrand word net oor die bloedband tussen hulle, het die skreiende skande van dié donker deel van die kerk se geskiedenis tasbaar gemaak met haar oproep na logika en die rede.

Dis sterk akteurs, soos mens oor die jare geleer het om van die Stellenbosse Dramadepartement se studente te verwag. Die insluiting van ’n (groot) kamerkoor, en die amper filmiese gebruik van koorsang, eerder as ’n geblikte klankbaan, om die tonele aan te vul en uit te bou was ’n briljante idee.

So hoekom, dit alles ten spyt, was ek nogtans nie beïndruk met die produksie as geheel nie?

Die taal is stokkerig. Dis welluidend, ja. En dis mooi Afrikaans. En ek weet vrye vers is veronderstel om die emosionele kwaliteit van die dialoog te verhoog, maar hier het ek dit net as vervreemdend ervaar. Mense praat nie so nie, selfs (veral?) nie as hulle met hulle diepste emosies omgaan nie.

Die leemte wat my egter die meeste gepla het, is relevansie. Ek kan nie regtig verstaan hoekom Niël Rademan, ’n begaafde akteur en regisseur, hierdie teks gekies het nie. Alhoewel hy pertinent die kwessie van relevansie in die programnota aanraak, ontgaan die “toepaslike parallel” my. Wil hy sê die kerk is vandag ’n irrelevante instelling? Dan sou ek ’n ander regiestyl verwag, ’n gefokusde dekonstruksie, eerder as ’n gewyde homage aan Leipoldt en Brink. ’n Gehoor moet nie alles “met ’n lepel” ingegee word nie. Ek stem saam. Maar ’n regisseur moet ten minste aanduidings gee van die interpretasie waaroor hy wil hê die gehoor moet begin dink.

Indien die opvoering deel is van ’n groter navorsingsprojek “om die emosionele reaksie van mense te toets” oor ’n kwessie wat in tyd en afstand ver verwyder is van die huidige Suid-Afrikaanse werklikheid, dan sou daar seker tekens hiervan wees: vraelyste wat die gehoor moet invul, onderhoude met van die teatergangers. Hoe anders kan ’n regisseur dan die reaksies toets?

Dis ambisieus, en belangrik vir kulturele groei, om ’n ou toneelstuk van ’n gekanoniseerde skrywer te takel en om in die huidige tydsgewrig sin daarvan te maak. Die teks word aan die toets van die tyd, en van universele relevansie, onderwerp. Daarom is dit jammer dat my uiteindelike reaksie is: “So what?”

7 Oktober 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.