Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Feesvoosheid en die screensavers

Erns Grundling

Ons almal ken screensavers. Flying windows, foto’s van eksotiese bestemmings, of ’n akwarium vol vissies wat voor moeë oë swem. Die screensaver is ontsnapping, ’n wegkruip van werk.

Op ’n manier is Aardklop een reuse screensaver. Vyf dae se doelbewuste wegskram van die daaglikse gedruis en roetine-takies. Grassny, skottelgoed was, die kinders rondkarwei … al hierdie noodwendighede speel skielik tweede viool. ’n Besluit om jouself vrywillig te dompel in al die skakerings van kunste, kuier en vermaak in die algemeen.

Vir diegene wat reeds op dag drie met die aaklige (en dikwels onvermydelike) siekte van “feesvoosheid” gediagnoseer word, is daar gelukkig uitkoms: Ontspan julle kuite, laat sak die dye, sluk ’n Berocca (verkieslik sonder bier) en staar na die onwillekeurige chaos van verbygaande feesgangers. Dit is ’n fees vir die oog.

Die feesgangers op straat is op sigself ’n screensaver. En spits gerus ook die ore. Waar anders as op Potchefstroom hoor mens tegelykertyd (uit verskillende windrigtings) hoe weergawes van “O Heer my God” en “Da-idi” uit luidsprekers blêr? Dit verbyster mens. Of uiteenlopende uitsprake oor vertonings (“hulle klink nes nonne wat hallusineer”) en kommentaar oor al die bedrywighede agter die boereworsgordyn.

Wiegies en rolstoele wiel parallel langs mekaar verby. Jong skoliere doen wawiele en huppel gemoedelik rond terwyl hulle parkeerplek aanwys. Die mense skarrel nes miertjies, maar elkeen is duidelik uitkenbaar. Party lig in die broek, ander dra weer te swaar aan die bierpens. Send in the clowns …

Paartjies — jonk en oud — slenter in koeksistergrepe (met erkenning aan Toast Coetzer) die loom Potchefstroom-skemer tegemoet. Vyf kamele slof met hul boggels deur die verkeer en ’n sotlike student bestyg ’n ponie met gebalde vuis en blikkie Black Label.

’n Selfaangestelde boemelaar vertroetel sy hondjie langs die ATM. Straatkinders torring aan verbygaande dapper stappers, bakhand in afwagting op brons simpatie. ’n Oënskynlik stom blommeverkoper probeer rose tot laat in die nag aan dronkaards voor Die Akker verkwansel.

Binne die teaters en lokale woed die screensavers voort. Plek-plek raak sommiges verveeld, ander buitengewoon begeesterd. Maar die kaartjies verkoop steeds flink en die laatslapers moet dikwels druipstert omdraai by uitverkoopte lokale.

Ten einde laas sal ons elkeen weer die muis moet klik en die screensaver vaarwel roep. Terug na die gewone, die alledaagse roesemoes. Ons opdrag voor hierdie Groot Klik? Geniet, geniet, verdra en verduur … en bo alles: bly staande. Diesnieteenstaande …

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.