Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Enkele gedagtes oor die aard van die teaterruimte

Charles J. Fourie

Daar is deesdae ’n suurstoftekort in ons teaterruimtes soos nog nooit vantevore nie — en ek verwys hier nie na die vraag-en-aanbod sy van sake nie, ook nie na die algar debatte rondom kulturele identiteit binne hierdie ruimtes nie.

En ook nie na die moet ons die “ander” betrek by ons kunstefeeste? en hoe doen ons dit? en as ons dit nie doen nie, wie se “skuld” is dit dan nou? nie.

(In antwoord op die laaste vraag: Definitief nie die feesgangers s’n nie. Ek dink daar is soms vir feesgangers groter geheime in ’n boereworsrolletjie by ’n kunstefees opgesluit as in van die produksies wat vir hulle aangebied word.)

Nee, miskien moet iemand eerder die vraag vra:

    Wat doen ons kunstenaars wat aan die feeste deelneem en in die teaterruimtes skep, om die saak te verander of te bevorder, indien daar enige verandering of bevordering moet kom? Sal ons maar seg dis ’n geval by meeste van ons — moenie slapende honde wakker maak nie, maar hoop die vlooie doen dit namens ons?

En as daar nog steeds die van ons is wat wil weet hoekom dinge nie so lekker werk met die idee van inklusiewe kunstefeeste en teaterruimtes en kulturele identiteit nie, kom ons wees maar eerlik — probeer ’n toneelstuk skryf in al elf amptelike landstale, voer dit op, en kyk wie verstaan wat. Die Toring van Babel sal geen gelyke ken nie.

Maar hokaai, dis ’n ander saak daai, en ek seg nog net dié — nog nooit vantevore was daar so ’n opbloei en lewendigheid in die toneel-en-vermaaklikheidswêreld in Afrikaans soos nou nie. Lekker ou cliché en net jammer die oplewing is so damn oppervlakkig en kommersieel gedrewe, en onderskattend van ons gehore — nie te praat van die “ander” gehore nie.

Hierdie opbloei is natuurlik grootliks aangevuur deur die talle kunstefeeste, beskikbaarheid van (alhoewel steeds beperkte) handelsnaamborge, en die herontdekkingsindroom by die meeste Afrikaanssprekendes dat AfriCaaNs eintlik Cool is. (’n Goedverpakte stukkie aanbod soos daai kondome wat ’n paar jaar gelede by die KKNK-fees naam gemaak het.)

Yes ... man, die AfriCaNer Voël is inderdaad vry van sy lughawe — die Wilgerboom — en hy jol deesdae soos ’n afkophoender, hol soos ’n wilde volstruis, en sweef soos ’n vink (of is dit nou seemeeu of ruitertjie op die windjie?).

Maar soos ’n kennis uit die Vrystaat dit by geleentheid oor ’n paar doppe beter gestel het; “Ek, ou Charlie, is nog altyd ’n bevryde Afrikaner gewees, en don’t you come tjaaf me mossie!”

Alles goed en wel — al gaan dit op ander terreine van die kulturele oplewing nie so wel nie — soos by die SABC, die geregshowe, staatsteater en Spoornet? Asof daar plek in daai burokratiese monsters is vir die kunssinnige.

Dit daar gelaat vir die taalstryders, Stigtings der Stigtings, Boetmanne en Oususse en PRAAG se bloeisels.

Ons moet darem vir Koos Kombuis en sy garde bedank vir hul dagga-geïnspireerde stryd om Afrikaans binne kontemporêre verband tydelik te bevry. Ten minste het hulle dit op die Cool AfriCaaNse manier vermag sonder om te veel aanstoot te gee, en waar hulle het, is die grensdrade van hul loopbane lank terug reeds afgekamp deur hul studentikose-gehore se ouers, wat “oor die bult kon sien”, met die verleidelike Sealy-Posture-Pedic-Middeljare wat op die horison met oop arms vir almal gesit en wag het. Hulle noem dit SUKSES! Die PIEK van jou loopbaan! Ga!

Anycase, daai was ook nog nooit my saak nie, want ek glo mos nie in bevryding van enige vorm nie, en stem saam met die vriend in die Vrystaat — Don’t you come and tjaaf me mossie! (Dis lekker om in die army van die lewe te is, te is.)

Nee, ek is eerder gepla met dit binne eie verband, die klein worsteling met dit wat op die verhoog plaasvind; en deesdae snak ek na my asem elke keer as die huisligte doof en ons moet nog ’n oppervlakkige toneelstuk-cum-vermaaklikheidjie op die planke aanskou — vol kontemporêre kinderlike ideale, en klein filosofiese agterdeurtemas wat herinner aan die lees van ’n Keur-tydskrif-fotoverhaal.

Kyk daar is ’n plek om die tafel vir almal se borde, soos my ouma sou sê, maar dan eet ons my kos. Goddank my ouma het die kitsnywerheid van Wimpybars, McDonald’s en Nando’s ontsnap, en na haar graf is met ’n jaffel in die een en ’n pannekoek in die ander hand.

Waarvan praat ek?

Die klugtige basaar- of dan shoppingmall-sindroom wat ons teaterruimte oorgeneem het! Die kamtige vraag en aanbod na oppervlakkige vermaak wat stadig maar seker die norm op die verhoog word. Kyk jy statisties na die saak, praat ons van 90% van wat byvoorbeeld by ’n kunstefees aangebied word. Ja, veral daai shows waarvoor jy nie meer kaartjies kan kry nie, liewe feesganger.

O wee, en nou hoor mens hulle reeds oor die volstruissteak op Oudtshoorn sê: “Sy soort is net bitterbek omdat hul ‘shows’ so swak bygewoon word.”

Hmmm ... eina, shame, siestog, ek glo nie ons het nog ooit ’n toneelstuk geskryf en gedink dit gaan vol huise trek nie. Ons seg maar ons doen dit vir die saak, want dit betaal ook nie die huur nie, al sit die huise vol.

Maar nee, daai is ook nie my probleem nie. Ek praat hier van die eintlike rede hoekom ons in die eerste plek teater as kunsvorm beoefen, en herinner graag kollegas aan daai gesprekke oor Stanislawski, Grotowski, Brecht, Ionesco, Artaud ... en op die tuisfront, die laatnag-analises rondom Bartho Smit se Die Keiser, of PG se Siener in die Suburbs, of Pieter Fourie se Faan-sage, of die lekker dinge wat ’n Dawie Malan of Francois Swart of Chris Pretorius, en selfs die 80s- (nou 90s-) teater-ikoon, Marthinus Basson, op die verhoog aangevang het.

Waar is ek nou? In die verlede? En ek alleen staan verhewe? Nie noodwendig nie.

Ons dra almal van ons skuld aan die toenemende vervlakking van dit wat binne ons teaterruimtes en by kunstefeeste plaasvind. Die koms van die kunstefeeste, die burokratiese verwikkelinge rondom ons teaterruimtes, die “nuwe” oplewing van die Afrikaanse taal, die interaksie met ander tale en kulture, selfs die koue skouer van die staat as dit by die kunste se finansiële penarie kom — moes kom as ’n uitdaging aan kunstenaars om grense te verskuif binne die verband van hul kunstenaarskap, en die verdere ontwikkeling van die kunsvorm as vorm, en die inhoudelike refleksie van ons samelewing as vertrekpunt.

In plaas daarvan sit ons tans opgesaal met ’n mededingende oppervlakkige shoppingmall-sindroom waar gehoorbywoning en die populariteit van produksies die norm is eerder as die kunswerk of produksie self. Vandaar miskien die netelige gestry en gebaklei rondom die aard van kunstefeeste, die moete en moenies rondom kulturele identiteit, en die vingerwys na almal behalwe die kunstenaar self.

Nouja, dit is seker die probleem van ons tyd. Maar die aard van ons kunste en kunstefeeste, en in dié geval, die “heilige” teaterruimte, lê eerstens by die skeppingsdaad binne die ruimte; en miskien moet kunstenaars dit eerder hul saak maak om oor die bult te kyk as teen die randjies vas. Anders word dit telkens namens hulle vanuit ivoortorinkies gedoen, en voor ons weet lê ons almal gemaklik dik aan die slaap op die Sealy-Posture-Pedic van ons eie klein horison.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.