Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Collaborations 2000

Charles J Fourie

Die Collaborations 2000 seisoen van nuwe inheemse Suid-Afrikaanse toneelstukke wat tans in die Nico Arena Teater in Kaapstad te siene is, het reeds twee diamante opgelewer en bevestig die sukses van hierdie inisiatief deur die Kaapstadse Teaterlaboratorium en Kunstekaap wat nou in sy tweede jaar is.

Solomon’ s Pride, geskryf deur Graig Coetzee en Bheki Mkwhane, waarin Mkhwane self uitblink as speler, en Graig Freidmond en Joss Levine se Gorfinkel and Son het die seisoen die afgelope weke op ’n hoogtepunt laat afskop met twee uiteenlopende dog meespelende produksies.

Beide toneelstukke word vanuit ’n historiese perspektief vertel, en in Solomon’ s Pride kom die trots van ’n Zoeloe trekarbeider op die Randse myne in die dertigerjare ter sprake. Gorfinkel and Son speel ook in Johannesburg af en vertel weer die verhaal van ’n blanke skoenwinkeleienaar in Commissionerstraat oor vier generasies heen. Opmerklik in albei toneelstukke was die mens se wil tot selfversoening wat hom bo sy sosio-politieke omstandighede laat uitstyg.

Die nuutste aanbod in die reeks plaaslike dramas, The Blue Song, geskep deur Sabata Sesiu, gebruik ook die onlangse geskiedenis as vertrekpunt en word opgedra as huldeblyk aan Amy Biehl, die Amerikaanse student wat tydens ’n besoek aan Guguletu om die lewe gebring is, asook aan die vryheidsvegter Steve Biko.

Inderdaad ’n gespanne vertrekpunt vir ’n toneelstuk wat pleit vir die wegdoen van alle vorme van rassisme en volgens die programnota Rudolf Steiner se siening deel dat ’n gesonde gemeenskap alleen moontlik is wanneer die gemeenskap homself herken in die spieël van die menslike siel en individu. Ongelukkig vervaag hierdie tematiese gegewe in die teks tot ’n vereenvoudigde en klakkelose diskoers rondom hedendaagse politiese en kulturele klowe tussen ons mense.

Een van die karakters in die toneelstuk, Mike Peters, beland in ’n rolstoel na ’n sootgelyke aanval as die op Amy Biehl in die township. Hy woon by sy suster, Wendy, in die herehuis wat hulle van hul ouers geërf het uit ’n bevoorregte verlede. Mike sukkel egter om hom met sy gestremde self en die nuwe Suid-Afrika te versoen en steun swaar op sy suster se gemoedelike aanvaarding van sy situasie.

Aan die ander kant van die dramatiese gegewe bevind Sipho Mosala, ’n eertydse vryheidsvegter, homself onversoenbaar met die witman in ’n postapartheid Suid-Afrika, alhoewel hy deur sy eie mense verwyt word as ’n impimpi (verraaier). In die woorde van Malcolm X het hy nie tyd vir “house-niggers” nie. Langs hom staan die karakter van Zanele, ’n jong swartvrou en Sipho se liefdesbelang wat die potensiaal besit om ’n operaster te word. Zanele is egter vir Sipho ’n verleentheid deurdat sy eerder La Traviata wil sing as tradisionele Afrika musiek.

Laasgenoemde aspek van die drama en die slim metateks-inwerking van La Traviata kon veral eerder die fokus van ’n meer gekonsentreerde drama wees, maar ongelukkig word ook hier die diskoers rondom die tematiese bo die verhaal van die karakters self gestel - ’n probleem wat telkens voorkom by ontluikende toneelskryftalent wat al te maklik ideologiese en filosofiese bewuswordinge in karakters se monde plaas. Mens wil hier die raad van gesoute skrywers deel - vertel die storie, of nog beter, vertrou die storie om sy eie punt te stel as jy dan ’n punt wil maak.

So word die spelers in die produksie dan ook voor die moeilike taak gestel om gestalte aan idees eerder as aan karakters te gee, en by tye staan hulle ongemaklik rond met die dialoog wat in hul kieste bol. Die probleem vir die akteurs word verder vererger deur ’n lompe regie-aanslag waartydens die gehoor onnodig in die donker sit en wag vir oorgange tussen verskillende tonele. Veral aan die einde, wanneer Zanele se karakter as Violetta sing, kon treffend wees maar val plat weens ’n lompe oorgang.

Die gedagte met die Kaapstadse Teaterlaboratorium se Collaborations projek is juis om toneelstukke en produksies af te rond en te slyp vir opvoering, en waar dit by Solomon’ s Pride en Gorfinkel and Son tot sy reg kom, is daar nog heelwat skaafwerk te doen met The Blue Song. Miskien juis hierom dat Sabata Sesui dan ook in die programnota aandui dat die produksie ’n werkstuk in ontwikkeling is, want dit is al wat dit op hierdie stadium is.

Ander stukke uit die Collaborations 2000 projek wat nog tot 11 November duur, is Going Home onder regie van Royston Stoffels en What The Water Gave Me met Rehane Abrahams.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.