Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jan en Jorie - 90 minute wat ‘n mens se lewe verander

Deborah Steinmair

Jan en Jorie
Teks: Malan Steyn
Akteurs: Nicole Holm en Francois Toerien
Regisseur: Juanita Swanepoel
In die Kunstekaap Arena, tot 7 Mei
Bespreek by Computicket of Kunstekaap Bel-‘n-sitplek by (021) 421 7695.

Die gehoor bevind hul in die studeerkamer/voorhuis/kombuis van Jan Rabie en Marjorie Wallace. Ons word voyeurs in die komplekse verhouding tussen twee mense wat deur Jan se ma as “hoog vreemd” beskryf is. “Ons het ‘n gesprek begin wat ons nooit klaargemaak het nie,” vertel Marjorie Wallace van hul stormagtige en woordryke verhouding. Die interafhanklikheid tussen die sterk, ekstroverte, boheemse Skotse kunstenaar en die idealistiese, naïewe, Christus-agtige Afrikaanse skrywer met ‘n sosiale gewete laat onwillekeurig dink aan die woorde van Herman van Veen:

Als liefde zoveel jaar kan duren,
dan moet het echtwel liefde zijn.
Ondanks de vele kille uren,
de domme fouten en de pijn.
Deze kamer waar ons bed steeds heeft gestaan,
draagt sporen van een fel verleden.
De wilde hartstog blijkt nu heen,
de zoete razernij vergaan,
de wapens waar we toen mee streden.

Jan het geglo dat liefde beteken: aanhou beweeg en geraas maak. Dat liefde beteken om te ontdek, nie om te besit nie. Jorie was baie meer aards, hartstogtelik, veeleisend. Sy sê dat Jan soms so deurskynend was dat sy nie seker was of hy net ‘n figment van haar verbeelding was nie. Die rolle was as ’t ware omgekeer, met Marjorie die sterker, manliker karakter en Jan die ontwykende, eteriese, “vrouliker” siel.

Ons leer hulle ken aan die einde van Jan se lewe, wanneer hy afgetakel en verwar is deur Louis Barre-sindroom; volgens Jorie: “nie depressie nie, maar ‘n mengsel tussen Parkinson en Alzheimers”. Sy wil die gesprek ten alle koste voortsit, sy wil namens hulle altwee onthou. Sy het boek gehou, gedokumenteer, en wil hom wegruk van die muur wat hy in die gesig staar. Sy wil hom aan die speel hou. Sy wys na die gehoor en roep in haar sonderlinge Skotse Afrikaans uit: “Daar is gaste, Jan!”

Soos hulle terugkyk op hulle lewe saam, herwin Jan sy lewenskragtigheid en idealisme, word Jorie weer die onstuitbare jong Skot met problematiese heupe wat deur prins Philip opgehelp is toe sy telkens op die ys neergeslaan het tydens skaatssessies. Sy wonder met ‘n vonkel in die oog of sy dalk ‘n koningin of iets sou gewees het as sy tog net meer grasieus geval het. Soos ou getroudes val hulle mekaar in die rede en praat rondom mekaar, met ‘n geïrriteerde deernis. Voor ons oë (ook deur middel van projeksies van Marjorie se skilderye) ontvou die lighoofdige dae van edel armoede in Parys.

Algaande vervaag die grens tussen gehoor en karakters, word die slim dekorstel ‘n reële ruimte, klim ons deur die spieël en word betrek by die spel, die magic, die passie van mense wat voluit geleef en winter en somer in die opelug geslaap het.

Hierdie toneelstuk van een en ‘n half uur is ‘n kragtoer, ‘n binnekamerbesoek, ‘n blik op die hart van ‘n verhouding tot die dood toe. Dit sê baie wat tersaaklik is oor die oorlewing van Afrikaans, die identiteit van die Afrikaner, kunstenaarskap en die onuitspreeklike verlies wanneer ‘n gees- en gespreksgenoot die toneel verlaat.

Die teks is baie vaardig saamgestel uit skrywes van Jan Rabie, onderhoude, biografiese materiaal en die fyn intuïsie van die dramaturg. Die regie is so dig gechoreografeer soos ‘n droom; die akteurs is fenomenaal. Dit voel asof Nicole Holm haar lyf en stem leen aan Marjorie Wallace. Haar gesigspel is anderkant woorde. Sy het die handige “props” van Jorie se eiesoortige aksent en liggaamlike gebrek tot haar beskikking, maar misbruik niks wat voor die hand liggend is nie. Sy is sekerlik een van ons grootste aktrises. Francois Toerien moet sy karakter diep gaan haal en doen dit met volgehoue intensiteit en onderspeelde energie.

‘n Mens steier oorweldig en getraumatiseerd uit die teater, besield om Rabie se hele oeuvre te gaan lees en jou te verdiep in afdrukke van Marjorie se skilderye. Teater op sy heel beste. Onmisbaar, aardskuddend, 90 minute wat ‘n mens se lewe verander. BRAVO!



LitNet: 22 April 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.