Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

'n Fees is vir fees

Doks Briers, voorsitter van die Volksbladfees, se reaksie op die Teaterindaba

As organiseerder van die Volksblad-kunstefees, 'n kleiner kunstefees wat deel uitmaak van die kaleidoskoop van feeste wat jaarliks in Suid-Afrika aangebied word, is ek immer op soek na 'n instrument of 'n resep of 'n formule waarvan die toepassing waarde tot die kunstefeespakket kan toevoeg (enige mens mag droom!). Dit spreek dus vanself dat ek die insette van my kollegas en ander kunssinniges wat aan die die debat rondom kunstefeeste en teaters in jul Teaterindaba deelgeneem het, met groot belangstelling en spesifieke verwagtings gevolg het. Of ek na die lees van die bydraes enigsins vordering op my bedevaart gemaak het, is ongelukkig nie 'n uitgemaakte saak nie. Die redes, so kort en saaklik as moontlik, die volgende:

Dit spreek vanself dat so 'n indaba die geleentheid daar moet stel om probleme uit te wys en griewe (as dit dan moet) te lig. Die vraag of daar 'n verskil is tussen kuns en vermaak; dat die global village waarin ons woon vervlakking van die kunsproduk en -ervaring meebring; dat borge die waarde van branding ver bo waarde-toevoeging tot die kunsgebeurtenis ag; dat waar daar 'n rokie draai en wors gebraai word die ondersteuning van die ernstige kunste soos mis voor die son verdwyn; dat Die Taal nie net wit is nie; dat regeringsondersteuning en daarmee saam gehoorontwikkeling nie bestaan nie of dat die gebrek aan strukture die ontwikkeling van die kunstebedryf strem, is enkele van die onderwerpe wat nou al so lank deel van die openbare gesprekvoering rondom kunstefeeste geword het dat dit feesvoos deurdink en deurpraat is. Nuwe invalshoeke ten spyt.

Menings oor wat gedoen kan of moet word om die speelveld meer gelyk te maak is daar wel:

Saartjie Botha: 'n Kritiese besinning deur alle rolspelers, op 'n deurlopende basis, is nodig, oor ten minste hul bydrae tot die bedryf en verkieslik 'n meer holistiese perspektief.

Vicky Davis: Maar voor sukses in die verband behaal kan word … moet die feeskomitees van die verskillende feeste koppe bymekaar sit om 'n visie vir die uitvoerende kunste in Suid-Afrika te skep.

Clinton V du Plesssis: Tensy Afrikaanse kunstenaars en ander rolspelers … daadwerklik begin om hul vaardighede te deel met die niebleek medetaalsprekers is hulle besig om hulleself in die voet te skiet.

Louis Heyneman: As die kitskultuur van die wëreld ons beskawing begin oorheers, sal ons kunsvaardighede verdwyn.

Steve Hofmeyr: Dis ook 'n herwaardering van ons mense, ons kollegas, hul produk en ons ouditorium vanaand. Dis 'n 9/11 vir almal wat nie 'n Boeing wil sien val in Baron van Rheede nie.

Jan-Jan Joubert: As ons ruimte laat vir 'n veelheid van menings, hetsy in ons beoordeling van kunstefeeste of resensies.

Lynette Marais: My personal ideas about a possible solution would depend on the funds available and the most effective ways to tailor them to best serve our community. Remember, I'm an administrator and even though I have some wonderful and wild ideas, I'm aware of what I call " rand reality".

Karen Meiring: Laat ons die kunstebedryf konsolideer. 'n Gesamentlike oorhoofse strategie bepaal en dit implementeer met net die kunste ten doel.

Martie Meiring: Die pad vorentoe vir kunstefeeste kan alleen lewensvatbaar word as daar by voorbeeld regte teaters by kunstefeeste beskikbaar sal wees, as nou gelet word op werklike innovering in die kunste en as daar werklik opleiding plaasvind.

Dis die hoe en wie waaroor daar die dood se stilswye hang! Dalk die volgende onderwerp vir 'n Groot Gestry? As dit die dood van die bedryf kan weghou - watter groter bydrae kan die Groot Indaba dan maak?

Groete van huis tot huis - ek is op pad om nog meer diaboliese strafmaatreëls uit te dink om die slaapervaring by ons fees te verongeluk. 'n Fees is vir fees en nie vir slaap nie!



LitNet: 25 Oktober 2004

Wil jy reageer op hierdie inligting? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.