Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

In UKkasie-sirkus tog êrens 'n sprankie hoop te vind

Ingrid Bremer

Ek's eintlik in die Verenigde Koninkryk om iets van medisyne te leer, maar ek bevind myself alewig tussen treine. Soos nou. Langs my wag 'n maer man met vuilgrys dreadlocks, 'n swart oogklap en net een, tabakbevlekte voortand.

Sorry ... ek's besig om te derail, ek moet eintlik oor UKkasie skryf. Die opdrag was: "Skryf oor UKkasie as jy begeesterd voel." Ek wil dit duidelik stel dat ek nié begeesterd voel nie en veel eerder meer wil skryf oor die misterieuse Walliese omie hier langs my. Maar ek dink die volk moet weet!

Vrydag 9 Julie 2004: Lig-tot-laat - ek's opgewonde!

Ek ontmoet my ou sangmaat van skooldae af op Trafalgar Square. Ons twee en sy makkers gaan drink 'n bier in die naaste pub. Na meer as één bier en baie gesoebat kry ek hulle so ver om my te gaan wys waar's die Zulu Bar. Ons ry met die Central Line na Leytonstone. Die boys is nie amped nie; hulle was gisteraand daar en sê dis common. Ek bly maar stil.

Dit gons Afrikaans op die hoek voor die Zulu Bar. Dié met kaartjies smile, die res lyk maar afgepis (soos ons). Ek het gehoop om ten minste 'n bier saam met 'n paar oulike expat-rekenmeesters of -dokters te kon drink. Helaas is daar net dié een ou plekkie. Ek sug. Die boys kon gisteraand ingaan en kuier. Arnold Schwarzenegger by die deur sê ook ek mag nie ingaan nie, en ek stry liefs nie met hom nie.

Waar is die kamtige fees dan? Ek praat met 'n kort mannetjie in opgeboude skoene gekoppel aan die kommunikasie-apparaat in sy bak oor. Hy bevestig Arnie se posisie. Waar moet ons dan nou kuier? DNA Strings se krulkop stap verby. Hy sien duidelik die uitdrukking op my gesig en mompel iets om my gerus te stel.

Ek gaan soek toe maar 'n stalletjie of iets: stof tot retail therapy. Uit die hoek van my oog gewaar ek so vier of vyf stalletjies en loop versigtig nader. Ek sien nie kans vir 'n "pomp, bliksem, pomp"-hemp nie en is lankal gatvol vir rooibos-produkte. Hard luck vir die mense by die werk wat orders vir koeksisters en biltong ingesit het. Voorwaar 'n voortreflike illusie! Dit was my "dag 1" van Ukkasie: fokken main.

Saterdag 10 Julie 2004: Voor die Royal Albert Hall - ek het erge voetpyn!

Ek wag vir Niggie en haar crowd voor deur 8. My voete is deurgeloop van die hakskoen-stap-soektog na die Tate Modern. Ek moes net verligting kry na gister se no-show. Ai, ek staan elke keer bewoë voor die lewensgroot Roy Lichtenstein-kunswerk. Sorry, ek's van my deuntjie af ...

Al die skapies is bymekaar en ons gaan die saal binne. Orals hoor ek Afrikaans. Daar's bariton-omies met Springboktruie wat onbewus aan hulle balle krap. Daar's skrilstem-tannies in ligblou stywe jeans en gepermde oranje hare. Daar's 'n moffie of twee wat 'n sing-song-storie vertel en teatraal met hul hande beduie. (Van die os op die jas: Gay Pride wás 'n fees!) Om die hoekie staan Stander se double stil en wag. Waarvoor wag ons? Na gisteraand is ek te bang om te vra. Ek raak gemaklik in my stoel. Die Royal Albert Hall het 'n ambience van sy eie ...

Ons is omtrent gaar na die eerste helfte. Ek is bietjie embarrassed vir die girl langs my wat haar Engelse boyfriend saamgebring het. Krisis! Die klank was pateties. Ek was erg confused oor wat aangegaan het. Die voice-over is dikwels deur die man met die mike onderbreek. En wat was die idee met die screen? Die kore het so hard probeer en die ligte was nie eers op hulle nie! Dit het gelyk na een groot improvisasie.

Sterre sal wel sterre bly. Laurika Rauch en Lucas Maree het uitgestaan. Laurika se professionele houding het haar gedra deur hierdie sirkus. Die gehoor is betower deur haar presence, haar stem. Ons gedagtes het ver gaan draai met songs soos "Blouberg se Strand", "Stille Waters" en "Lisa se Klavier". Lucas het ons vermaak met sy spontane humor en treffende lirieke. Hy sing toepaslik "Ek sou kon doen met 'n miljoen ... pond!"

Heinz Winckler het my verras. Hy sing puik pop en is 'n natural op stage. Dis juis toe hy so lekker dans op die verhoog dat Niggie in my oor fluister: "Dis nou die tipe kêreltjie wat jy nodig het." Nianell is nuut op my oor, maar genotvol. DNA Strings mag maar speel. Hulle't die plek aan die brand gehad! (Toemaar, al die firedoors was toe.)

Steve Hofmeyr en Dozi het die gehoor op hul voete gehad! Die hele lot sing kliphard saam: "Ou ryperd, ons ry die pad tesame." En: "… sing ons die oukraalliedjie saam ... sing ons van waterstrome ..." Aanvanklik was dit corny, toe't dit lekker geraak om saam te sing. Maar tóé het dit te veel geraak. Die FAK is 'n dik flippen boek. Niggie sê ons is nie hier vir 'n sing-along nie!

Francois le Roux, ons eie Mozart, dink hy's die goewerneur se hond se oom. (Hoender.) Hy't gedurig van agter die tjello 'n eier gelê: "Nogge tien jaar, SA, nogge tien jaar." Sy rap met Steve was nou 'n formidabele flop. Weet hierdie ouens nie white men can't jump nie? En dat die woorde Boer en hiphop nie baie in dieselfde konteks voorkom nie? Maar die man kon eenvoudig net nie ophou nie! Hy't ook op die mees onvanpaste oomblikke agter die orrel ingevlieg en vir 'n vale losgetrek! Teen hierdie tyd is ek al in denial en baie bly dat ek nie 'n date gebring het nie.

Hierdie produksie is 'n mylpaal in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse musiek. Ons beste kunstenaars voer ons mooiste musiek op in die bekendste konsertsaal in die wêreld. Die tema van die produksie is "'n plek in Afrika" - en spesifiek Suid-Afrika - is die geboorteplek van die mensdom. Ons is almal kinders van Afrika. Ons moet elkeen ons oerwortels in Afrika herontdek.

Die produksie is gedeeltelik geïnspireer deur 'n lied van Francois le Roux, getiteld "Her Time Has Come". "Her" verwys na Afrika. Hierdie lied - wat ook die klimaks van die produksie sal vorm - inspireer 'n nuwe geslag om hande te neem met Afrika as die moederkontinent, die geboorteplek van die mensdom. Die lied kry gehore op hul voete in SA asook in Europa, die VSA en VK waar dit die afgelope jaar opgevoer is. Elemente van die lied sal deur die produksie geweef word as 'n samebindende tema. Dis is 'n ware klimaksstuk wat die Royal Albert Hall waardig is.

Aldus die UKkasie Tuisblad.

Ek dink nie ek't probleme nie, maar vir my was daar geen klimaks nie. Daar was in elk geval geen aanloop tot 'n klimaks nie. Of dalk was ek net nie daar nie. Om eerlik te wees, ons span het vroeg geloop. Ons kon dit net nie face om "Her Time Has Come" (verskoon pun) te sing nie. En ons kon nie meer die irriterende mimiekkunstenaar hanteer wat ons die woorde moes "leer" nie. Die massakoor was net té pynlik. Volgens die program het ons ook "almal met die volkslied" en "almal met finale medley" gemis.

Vroeg Sondagoggend (ja, dit was so lank!): In die taxi op pad na Fulham - ek's naar

Almal lag lekker vir die spektakulêre sirkus waarvoor ons 30 pond betaal het. Die snaaksste was seker die Engelse Fishpond-koor met "Ou Tante Koba". Ons filosofeer en wonder oor die toekoms van ons ou landjie. Ons harte trek gesamentlik 'n punt huis toe toe ons praat oor Lucas en Laurika - wêreldklas-kunstenaars. Ons voel trots. Hulle sing musiek wat selfs die geharde ekspat vir 'n oomblik kan oorreed om terug huis toe te gaan. Ja, die aand hét sy moments gehad, soos ek en Niggie wat hande hou en saggies 'n traan pink tydens Laurika se uitvoering van Pa en Don se "Die Nostalgie".

Die taxi stop en ons moet eers ietsie gaan eet.

Die grys rasta staan op en ek volg hom. Die treindeur gaap oop. Ek hop in. Ek het hierdie naweek van 'n ander tipe medisyne geleer: musiek-medisyne. Met hierdie musiek maak dit nie saak of dit gesing word in die Royal Albert Hall of in 'n stowwerige saaltjie in Velddrif nie - die boodskap bly dieselfde: 'n goeie Afrikaanse song dra 'n boodskap van hoop.



LitNet: 27 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.