Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die lotto, die teater se toekoms en ’n taai blerrie klap*

Albert Maritz

Met elke PANSA- (’n nasionale teaterliggaam) vergadering vra John Cavviggio — ’n Engelse teaterman — die volgende: wat word van Afrikaanse teater? Dit was — soos Afrikaanse TV-programme ook eens was — die beste gehalte werk. Die waarheid is deesdae egter dit: ons vesel skeur saam met die verval van kultuur op alle terreine.

Langs die CP Nel Museum op die bruisende KKNK-basaar is die mees sentrale stuk grond. By die onlangse Jeugfees was dit beset deur ’n Lovelife-tent — miljoene rande se bemarking, handelsmerke, advertensies, klankapparaat, voertuie — en meer werknemers as toeskouers, en die boodskap — onhoudbare gedonder van progressiewe rap-musiek met ’n kwalik verbergde boodskap van ondermyning van gesag, doen wat jy wil — ’n onbegrensde mutasie van vryheid, en die aanwakker van seksuele aktiwiteit by die jeug. As die hoogs befondste Lovelife-tent iets anders in gedagte het, sal hulle dit moet adverteer.

Teenoor hierdie ondeurdagte vervlakking is daar darem nog juwele wat rondlê.

Ek het ’n storie beleef, omdat twee akteurs my weggevoer het in ’n verhaal — wat hulle uitbeeld met duidelik genoeg tekens — die komposisies — die gebare, die manier hoe hulle staan, die manier hoe hulle beweeg in harmonie met die teks; soms juis in kontras met die teks, om goeie rede. Wanneer hulle iets doen op die verhoog, beeld dit ’n aanslag uit, beeld dit ’n houding uit, beeld dit ’n verhouding uit. En om alles te kroon skep hulle met hierdie vakmanskap boonop ’n realisme. Taal is maar net ’n hulpmiddel tot kommunikasie. En al twee is duidelik hoorbaar — of hulle aksente namaak, of self het — hoorbaar vertel hulle ’n knap teks met taal en gebaar.

Hoe skaars is sulke meesterlike werk soos in Happy Natives nie? Om goeie rede. En dan — simpel gestel — hoe min sien mens nie iets in Afrikaans — waarna jy Afrikaanse kinders kan neem om te sien nie? Sonder goeie rede.

In ’n artikel enkele maande gelede (wat nie gepubliseer is nie) het ek saamgestem met die briljante kunsjoernalis Gabriel Botma — oor die laaste spyker in die doodskis van Afrikaanse teater — die Gert Garries-aand. En was ek ook opgewonde oor die herlewing van Afrikaanse teater. Ek was ook opgewonde oor die bereidwilligheid van sommige owerhede om die kunstenaars te help — hoewel hulle te gereeld tekort skiet weens onkunde.

My alternatiewe was dat kundigheid bekom word. Dat gevestigde strukture soos die van die ATKV hul ontferm oor die wat sukkel. En dat steun aanvaar word sonder ’n gees van wedywering en verdagmakery en rugstekery — waarvoor daar in ons klein kunstekoek nie plek is nie.

En alhoewel daar positiewe belewenisse is, is ek vir eers nou bekommerd oor die uitvoerende kunste.

Pierre van Pletzen van 7de Laan-faam het in Pretoria groot suksesse met klugte op die verhoog. Maar hy is self uitgemergel deur teater, soos Ilse van Hemert voor hom al was. Hulle is almal nou by sepies betrokke. Soos die belowende teater-talent, Chris Vorster, en vele ander. Maar behalwe vir die sepies, is daar weinig anders wat aangaan. Veral nie in Afrikaans nie.

Dis ’n welbekende feit dat toneel in geen land sal bestaan, en inderdaad bestaan, sonder befondsing van die staat nie. Dit geld ook ander kunsvorme. Dis hoekom mens sterk films uit byvoorbeeld Australië kry — want die staat befonds die industrie. In Suid-Afrika bestaan liggame vir dié doel. Onder andere die Nasionale Kunsteraad (NAC), die Lotto, Arts & Culture Trust, en die Wes-Kaapse Kultuurkommissie. Hierdie is ’n paar van die liggame wat dit vir die kunstenaar moet moontlik maak om in sy kosbare beroep te staan.

Die enigste manier waarop die kunste nou egter oorleef hier is op die feeste, deur privaat borgskappe, of deur populêre materiaal of populêre name.

Wat is die kanse op die tipe materiaal wat die publiek, soos vroeër, bywoon, om daar ’n ervaring te hê wat spreek tot die hart en siel? Waar die gehoorlid vasgenael sit, en so ’n belewing het dat hy/sy daar uitstap en verklaar hul mis dit nooit weer nie?


Wat is fout?
Wat is hierdie essensie? Die meelewing van louter genot, of selfs van trauma — wat so genesend is omdat dit die mens laat voel jou eie pyn word gedeel deur die wêreld om jou? Jy’s nie alleen nie. Daar is begrip vir jou ook. In die ligste of swaarste teatermoment lê genesing, begrip, opvoeding.

Is ’n sterk kunstekultuur dan ’n boublok van ’n sterk demokrasie? Van ’n gevorderde samelewing? Is jou toneelheld dalk kosbaarder weens die feit dat hy jou het? Is jy as Jan Publiek-teaterganger eintlik dit wat kosbaar is? En waar is ons helde dan? Behalwe die oues. Waar is die essensie in die materiaal wat ons geniet dan? Is die skaal nie te veel in die guns van sensasie of bloot populariteit nie?

Reflekteer dit nie sleg op almal van ons nie? In die tagtigs reeds was ek in ’n stuk vir Marthinus Basson — ook op die duur verhoog. En saans was daar meer mense op die verhoog as in die ouditorium.

En die stuk het in Bonn in Duitsland gespeel vir 80 000 mense.

Die teater-industrie het nie sedertdien verbeter nie. Essensie is nie die spil waarom ’n sterk TV- of filmindustrie hier draai nie. Ons het die kar voor die perde. 1994 is ook nie die probleem nie. Die staat is ook nie die probleem nie. Wat is dan? En waar is die antwoord?

Baie het die gemeenskap se gebrek aan belangstelling in sy ernstige werk, en gevolglik sy beweerde finansiële noustrop, die skuld gegee vir Johannes Kerkorrel se desperate stap. Maar die gemeenskapselfmoord duur elke dag voort. Spelers, regisseurs, projekte, mense — neem die wyk uit die bedryf uit; van dié wat oorbly, is 90% onder die broodlyn. ’n Stuk wat vol sale trek op die KKNK en Aardklop — met sterre in die geselskap — kanselleer aand na aand by ’n Kaapse Noordelike-voorstede-teater.

En dalk die grootste sonde is dié gepleeg teenoor ons kinders. Waar is hulle teaterblootstelling in hulle moedertaal? Waar is die leergeleenthede; speelgeleenthede van die studente wat opgelei word — of dié met natuurlike talent wat by die amateurgeselskap wil aansluit?


Wat is die oplossing?
Waar is die toekoms van hierdie ding, van essensie en van die ware demokratiese gevorderde gemeenskap?

Happy Natives is oor essensie ipv sensasie. En die stuk eindig as die ware kunstenaar besluit om hef in eie hand te neem en essensie te kies. En Florence se monoloog is dit. Een van die mooiste passasies in die stuk. Die stuk eindig hiermee, as die kunstenaar dit herhaal. Vir my ’n sterk herinnering aan die ervaring wat Master Harold and the boys vir my was.

Juis die aand vantevore sit ek in ’n groot ouditorium en kyk na ’n ander skouspel — met so min spel — voor my op die duur verhoog. En ek smag na die gees, waagmoed en ywer wat die jong kunstenaar se energie hom gee. Hoe hy als probeer. Grense wil verskuif. Nie skroom om te vernuwe nie. Foute maak uit sy baldadige waaghalsigheid.

Wat hy later temper met beheer en insig en verstandige selfstandigheid — en ’n goeie regisseur.

En ek smag na die plek om dit te laat herleef. En ek weet dit kan nie nou nie. Nie voor daar hulp is nie. Want daar is nog ’n paar kunstenaars oor — van die immergroen mense wat soveel kan verduur, en vasbyt om net meer te verduur. Disrespek. Finansieel te na gekom. Ingedoen. So erg dat dit grens aan slawerny. Mense met grade, werkywer, selfdissipline, lewenservaring, moed, gees, en respek. Maar nêrens om te kan nie.

Die refrein is bekend. Oorsee word die kunste deur die staat gesubsidieer. Oorsee is die kunste hulle Lotto se grootste charity.


Dis nie die gehore se skuld nie
Hier is skaars gehore. Vir Afrikaanse teater amper geen. En met rede. Vir dekades is die Afrikaanse ou gedwing in soveel dinge in. Hy moes kerk toe, army toe, en teater was so ’n outomatiese iets — soms selfs lekker. Toe begin die streeksrade-soustrein eksperimenteer — as sulks ’n goeie idee. Maar die populêre teater val toe amper heel weg.

Afrikaanse teater kom nie meer in aanmerking vir die Fleur du Caps, of watter toekennings daar nog ook al is nie — wie sal weet — maar nou het ons ten minste keuses.

En wie wil kerk toe? Dis nie ’n show met substance nie. Hulle deliver ook nie. ’n Paar is darem nice. En wie wil teater toe — dis al so lank nie ’n goeie show nie. En amper-amper is dit — wie wil rugby toe — selfs dit is nie meer ’n goeie show nie.

En geen volk sal dit ook vir altyd verduur nie. Geen intelligente volk nie. En na ‘94 skop die trauma op ’n menigte geposttraumatiseerde mense weer in. Die status quo verander. En ons is op ’n tightrope. Maar daar’s een ding ten opsigte waarvan almal beter daaraan toe is. Die vrymaak om te kies.

Jan Publiek het deesdae ’n keuse, en — knap gedaan — voer die keuse uit. Dis demokrasie. En lê goeie smaak aan die dag. Moenie swak toneel of rugby gaan kyk nie.

Maar die teenpool is — hoe leer die publiek daar is darem nog goeie toneel hier en daar? Hoe leer hulle dit na soveel teleurstellinge? En as die goeies so skaars is. Want dit is so skaars. Hoe leer hulle jy kry goeie teaterervaring nêrens anders nie — net daar.

Maar rugby se sugardaddy was dusver nog daar. En klubrugby hang nog aan. Maar teater? Waar is ons sugardaddy? Waar is ons klubrugby? ’n Goeie teateraand is deedae Donderdagaand, want dit maak nie inbreuk op Vrydag- en Saterdagaandvermaak nie.


Wat doen die befondsers dan, is daar alternatiewe?
Wel — om dringend aandag te gee aan die liggame wat teater moet befonds. Die National Arts Council. Die Wes-Kaapse Kultuurkommissie. Die Lotto.

En ek kom agter as ek namens myself praat, praat ek namens amper almal. Ek was nou vir vier jaar in ’n doodloopstraat wat al drie betref. Ure en dae vermors om aansoeke te doen. ’n Werkswinkel van PANSA bygewoon hoe om aansoeke te doen. ’n Klein bedraggie verlede jaar by die NAC het my mond gesnoer vir ses maande. Een Afrikaanse stuk. Maar nou’s die geld op die stuk toneel gespandeer, en het nou nog nie al my geld wat hulle my belowe het, ontvang nie. Ek werk in skuld. Ek verloor al vier jaar geld, want ek werk met die kunste. En nou knyp ma my lippe wat smag na moedersmelk. Die NAC keur aansoeke af, want “daar bestaan nog nie ’n produksie nie.” Ek appelleer.

Volgende keer, sê hulle. Ek vra weer. Nog ’n aansoek. “Nee,” kom die laaste antwoord, want die projek “is of no national significance”. Ek besoek hulle in Johannesburg. Hulle is gaaf en wil help. Niks sover nie. Net “Nee”. Een keer sou ons ’n antwoord kry van Pieter Toerien. Hy antwoord nou — ses maande later — nog nie.

Maar steeds het ek die idee die NAC wil. Hulle probeer. Hulle is gaaf daaroor en sal nog help — later ... Of dalk draai hulle my ’n rat voor die oë? Ek bly hoop ...

Die Wes-Kaap Kultuurkommissie hersien (hopelik) tans my appèl. Is daar ’n kans dat vier jaar se ongeluk, lang en hard verwerfde vergaderings tot op die hoogste vlak, na ’n appèl meer kan oplewer as die krummels waarmee elke teaterpraktisyn in die Kaap al moes tevrede wees? Daar’s geen voortrekkery nie. Ek’s nie ’n uitsondering nie. Niemand kry iets beter nie.

En die groot raaisel ... die Lotto — daar’s geen show nie. En hulle deliver definitief nie. En die main man is nie eens nice nie.

Ek doen 18 maande gelede aansoek om befondsing. Hierdie liggame bestuur ons toekoms. Die werk is in Afrikaans, Engels en Xhosa. Teen misdaad. Protes teen geweld teen vroue. Dis vermaak. Dis rasloos. Dis vir almal — jonk, oud, dorps- en stadsjapies, mans en vroue — opheffingswerk. Dis logies die spil in die bou van teatergehore.

Die PANSA-werkswinkel het gesê: bogenoemde aspekte is die meriete wat hulle soek. Nog advies is — doen aansoek as ’n CC, of ’n artikel 21-maatskappy — lg ’n omvattende proses van “window-dressing”.

So gesê, so gedaan. Maar die Lotto antwoord nie. Net ’n brief wat sê hulle sal kontak maak. En daarna niks.

Die Lotto antwoord met ’n brief. Ons kan ons gereed hou vir miskien ’n ter plaatse inspeksie. Eendag, maande later — ’n gesprek met Londani Mathavhana. Iewers ’n oproep van Yvonne. Ook kontak met Thembisa. Lang gesprekke waarin die enigste duidelikheid is dat hulle my nie ’n antwoord kan gee nie. Sedertdien nie ’n woord nie. Ek doen navraag. Ek e-pos en faks na Pretoria. Eendag ’n boodskap van Zinzi. Ek moet hom bel. Ek doen dit. Niemand weet wie hy is nie. Ek faks. Ek e-pos. Geen reaksie. Ek doen weer aansoek ’n jaar na die eerste aansoek. Weer die een brief as reaksie.

Ek besluit ek moet hulle besoek. Ek faks. Ek e-pos vir ’n afspraak. Geen reaksie. Ek bel die oggend en kry ’n afspraak met ’n vriendelike Vhontsia. Ek daag op. Sy kan my nie sien nie, maar Zinzi kom uit. Alles by die ontvangstoonbank. Ek vat aan sy arm. Bedank hom dat hy my sien. Ek vertel hom watter wonderlike werk ons doen. Hulle moet asb help. Hy raadpleeg ’n rekenaar. Nee, ons is ’n CC. Ons kan nie befonds word nie. Ek vra ons moet die kwessie opneem met sy meerderes. Hy roep Sershan Naidoo. En om die trap wals ’n doelgerigte man. Hy weier om na my te luister:

“Hy weier om te luister na aansoekers. Hulle ontvang duisende aansoeke.”

“Ek moet beter weet as om op te daag sonder ’n afspraak.”

“Ek moes myself vergewis het van hul reëls voor ek eers my tyd gemors het om aansoek te doen.”

“Dis publieke geld, en die wet van die Dept Trade and Industry sê net CC’s mag aansoek doen.”

“En — sê hy trots, sy eie opinie is — as ek in ’n BK aansoek doen; en dalk ’n wins kan maak, behoort ek nie befonds te word nie.”

“En ja — dis vir hom heeltemal in orde dat ek sedert Februarie 2002 nog nie ’n antwoord gehad het om vir my te sê my aansoeke is afgekeur nie. Die mense wat goedgekeur word, hoor eerste.”

En ek voel dis erg genoeg as hy net met my so praat. Maar ek voel ek staan daar as “teater” — verteenwoordiger van nog duisende ander uitgelewerdes soos ek. Mense vir wie hy geen respek het nie. Want niemand word befonds nie. Nie die artikel 21-maatskappy van High Street-teater nie. Nie die Klein Libertas-amateurteater nie. Nie Cape Heart nie. Nie Chris April in Guguletu nie. Niemand.

Ek moes my balans mooi tjek om nie op hom te val nie. Dink net hoe ek dit uit die tronk sou verduidelik! En hy mag hard met my praat — my afransel, maar ek moenie op hom “skree” nie. Veral nie in die foyer nie. Dis hoe ver hulle mens verwelkom. My afspraak kry my so ver as die ontvangstoonbank.


Waar om nou teater op te voer
Later is ek by die Staatsteater ook buite ontvang. Te duur. Jy kan nie ’n stuk daar aanbied sonder fondse nie. Algaande besef ek toe — die deure is toe.

En toe sit ek met ’n paar kinders in die soveelste produksie — en hulle kan hulself nie heeltemal verkneukel nie, want dis Engels. Hul laaste Afrikaanse stuk was Stander — teen watter verlies dit nie speel nie! Voor dit die Klein Libertas-amateurproduksie van Mistero Buffo. Voor dit die opvoedkundige stukke wat ons opvoer as deel van ’n antimisdaad-projek — dankie vir die organiseerders wat wonderwerke verrig in hierdie dae.

Maar daar is dit nou. Die deure is toe. Teaterrestaurante is die een kans. Essensie by die geklik van messe en vurke — soms ’n beskonke een wat eerder op die verhoog wil wees as jy. En die feeste! Dank Vader daar’s iewers iets Afrikaans, of ten minste met iets Afrikaans naby.


Die toekoms
Lank lewe die droom van regte teater. Van ’n loopbaan vir akteurs en regisseurs. Van ’n aftrede anders as die armoede van die grote Jannie Gildenhuys, Anna Cloete en die honderde ander soos hulle. Van befondsing — selfs van beslote korporasies — sodat die kunstenaar nie outomaties as slaaf, sonder winsoogmerk, gebrandmerk word nie; die droom van die velerlei werksgeleenthede op die periferie van verantwoordelike bestuur. Die droom van befondsingsorganisasies wat die kunstenaars identifiseer, steun, adviseer en befonds — in diens van die kunstenaar, en nie andersom nie.

’n Toneelfees soos die pas afgelope een by Springbok wys die tendens, die behoefte — skole so wyd uitmekaar soos Wynberg, Strand, Kathu, Garies en Upington is daar! En skole soos Durbanville, Tygerberg, Jan van Riebeeck en Martin Oosthuizen wat elke jaar meer en meer lyk soos teateropleidingsentra — weens die groot getal deelnemers, en goed afgewerkte stukke met toneelspel uit die boonste rakke.

Hierdie golf van inspirasie verdien ’n gelyke pad vorentoe. Vir die onthalwe van die droom van vol sale vir die stuk waar die akteur Sello die oppervlakkigheid van die tafel vee, en sê: Sy storie begin met Florence ...

Strukture soos die ATKV ondersoek die herlewing van amateurklubs — ’n krag tot en met die tagtigs. Hierdie is ons klubrugby. Dit gee almal toegang tot teaterdeelname. Die eerste stap na die essensie. Soos Happy Natives.

Moenie dit misloop nie.

*Lesers kan reageer by katvis22@yahoo.com


Augustus 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.