Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Onthou om te onthou

Francois Tredoux

Met: Jana Cilliers, Antoinette Kellermann, Floyed de Vaal
Teks: Saartjie Botha
Regie: Marthinus Basson

HB Thom Teater, Stellenbosch
4 tot 7 November.

1975 lê iewers tussen “memory and desire” en “ignorance is bliss”. Saartjie Botha en Marthinus Basson (twee-derdes van Rys, Vleis en Aartappels) se nuwe produksie, wat wel al ’n draai by Aardklop gemaak het, vra wat Afrikaanse mense onthou van ’n betreklik “onbelangrike” jaar soos 1975. 1976 was mos eintlik die groot jaar: Ons het televisie gekry, net betyds vir die beelde van die Soweto-onluste. Dit bring ook die generasiegaping aan die bod: Die “kinders van vandag” vra ongemaklike vrae oor wat hul ouers en húlle tydgenote geweet het, en wat hulle gedoen het met dié kennis.

Saartjie Botha se teks speel met die gehoor, met begrippe soos “eerste indrukke” en “blywende indrukke” en “waarheid”, en met geheue, kort- en langtermyn. Eers dink jy die opset werk só: ’n Jong (joernalistiek-?) student (De Vaal) voer ’n onderhoud met twee veteraanjoernaliste (Cilliers en Kellermann) oor 1975. Die twee vroue het vir ’n tyd saam by dieselfde dagblad gewerk, die een as nuusverslaggewer, die ander op die kunsredaksie.

Saam-saam probeer hulle 1975 onthou: Ryg name van bekendes in die klein Suid-Afrikaanse mediawêreld in, skinder ’n bietjie, verwys na internasionale gebeure, en vul mekaar aan en verskil oor insidente soos ’n ou-getroude “couple”. Dis juis die verskil oor een bepaalde persoonlike insident wat die agterdog oor onthou-vermoëns laat posvat: Jy onthou die rooi rok wat jy daai tyd gehad het, maar jy onthou nie die keer toe jy so kwaad was vir jou redakteur dat jy jou tikmasjien by die venster uitgesmyt het nie. So hoe goed onthou jy dan wat jy geweet het van wat in die land aangaan?

Winter kept us warm, covering
Earth in forgetful snow  ...

Die voortvarendheid van die jeug konfronteer die gemak waarmee die ouer garde ’n holte vir die voet uitgeskrop het in die post-alles Suid-Afrika. Wat het julle geweet? En — belangriker nog — wat het julle gedoen toe julle geweet het? Die feit dat die twee ouer karakters juis joernaliste is maak dit vir hulle moeiliker as vir die gewone Jan Alleman en sy gedienstige vrou om te skerm: Ons het nie geweet nie.

Maar die oumense kry ook hulle kans: Die jeug word berispe oor laksheid, oor die feit dat hulle dit soveel makliker het, soveel gemakliker nou as toe. En die wysvinger word gewaai: Daar was nie destyds soveel kommunikasiemiddele soos nou nie, ons het nie die internet gehad waar ons kon gaan leer het om bomme te maak nie.

Dan begin die speletjie: Dele van die teks kom ’n tweede keer verby. Die lig gaan geleidelik op: Dis akteurs wat repeteer aan ’n stuk oor 1975. Hulle sukkel om die (te lang) teks te onthou; hulle sukkel ook om die regte emosionele “pitch” te kry. Dis juis hier waar die slim teks se lekkerte in die gehoor se tone krul. Onthou jy die gebare, die stemtoon, die tempo toe hulle die eerste keer hierdie woorde gesê het? En hoe verskil dit nou? Hoe goed is jóú geheue? Dit word ’n woordsirkel, ’n wentelbaan van onthou rondom die kern van vergeet, met af en toe ’n poging om aan die noodwendige gravitasie te ontsnap: ’n droom, ’n persoonlike herinnering — “ek en Regardt is in ‘76 getroud” sê Jana.

Ek kan nie onthou wanneer laas ek dit so geniet het om teater toe te gaan nie. Juis dalk ook omdat hierdie nie ’n poging is om nog ’n waarheidskommissie te wees nie. En wat ’n plesier om twee van die grootste Afrikaanse aktrises saam op die verhoog te sien! En hoe gemaklik is hulle nie met mekaar en die teks nie. Daar is oomblikke wat my nog lank sal bybly: Floyed de Vaal se “venster”-monoloog, Jana se droom, Antoinette se klein oorwinning oor die jeug met haar spraakoefeninge. Sulke dinge vergeet mens nie maklik nie. Of hoe?

Shanti shanti shanti ...

14 November 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.