Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Lente in Arles met die Buena Vista Social Club

Johann Rossouw

Na ’n paar weke van onseisoenale koue en reŽn, veral vir die suide van Frankryk, breek die son uiteindelik vroeŽr in die week deur. Die lug trek oop en word helderblou. Saans kan jy tot nege-uur, halftien vir ’n skemerwandeling langs die Rhone met sy wilde, donker strome gaan.

Klaarblyklik is daar, te oordeel aan die veelkleurige massa mense wat ons om sewe-uur buite Arles se Romeinse arena inwag, geen beter manier om die koms van die lente hier te vier nie as met ’n konsert deur die sterre van die eens glorieryke Havanese musieksaal, Buena Vista Social Club, soos deur Wim Wenders verewig in sy deernisvolle gelyknamige rolprent. Met ons aankoms hoor ons die laaste klanke van die musikante se repetisie wegsterf. Daar heers ’n feestelike atmosfeer onder die skare, wat met suidelike geduld wag dat die hekke oopgegooi word.

Ek en Myriam, ’n Nederlandse vertaler, soek tevergeefs in die skare na van ons ander kollegas wat tydelik as inwonende vertalers hier in Arles werksaam is. Ons besef dat ons hulle nooit in die massa gaan vind nie, en besluit maar om liewer ons eie koers in te slaan. Myriam ly aan ligte hoogtevrees en vra dat ons tog net moet seker maak ons kry ’n lae sitplek. Sy het tydens ’n vorige besoek aan Arles een van die bulgevegte meegemaak waarvoor die dorp, naas Vincent van Gogh, beroemd is, en destyds op ’n kontrepsie vergelykbaar met wat ons in Suid-Afrika ’n hoenderstellasie noem, beland. Klaarblyklik was dit geen aangename ervaring nie.

’n Halfuur of wat later word die hekke oopgemaak en begin die skare mense die arena binnestroom. Jy hoor Frans, Engels, Japannees, Spaans. Die vrouens is bruingebrand, die mans dra hoede en almal het sonbrille op. Ons vind ons weg na ’n sitplek omtrent halfpad tussen die hoenderstellasies en die onderste laag sitplekke. Die “arena” is eintlik ’n antieke amfiteater: rondom ’n ovaalvormige stofperk, afgegrens met ’n helder rooi metaalstrook (om die bulle tydens die corrida nog meer op te werk?), is die sitplekke: eers die laer ry plastieksitplekke, dan die gewone betontrappe waarop ons te lande kom, en hoŽr op die grys hoenderstellasies. Onder in die arena is die reuseverhoog opgeslaan, net regs van die middellyn van die stofperk self, sodat goed ’n derde tot ’n helfte van die arena buite sig van die verhoog en dus afgesper vir die aand is. Van waar ons aan die verre regterkant van die verhoog sit, het ons ’n uitsig oor die loopplank agter die verhoog wat na die kleedkamers lei waar die kunstenaars vermoedelik later sal verskyn. Bo die veelkleurige skare, wat nou vinnig besig is om die teater te vul, begin die lug verkleur tot daardie donkerblou wat so eie aan Provence is.

Ons wag ’n goeie uur vir die konsert om te begin. Intussen kom ’n kÍrel met ’n groot maag, ’n vriendelike gesig, ’n onverstoorbare lakoniese humorsin en ’n plat Provensaalse aksent van tyd tot met ’n drabord vol pakkies grondboontjies verby. Bedrewe vang sy oog diť van ’n klant, wat vir hom ’n tienfrankmuntstuk gooi. Hy pluk die munstukkies een vir een uit die lug, gooi ’n pakkie grondboontjies terug na sy klant, en behou sy balans en komposisie deur dit alles heen. Ek en Myriam verwyl die tyd deur te wonder of ’n paar Christene ook op hul dag hier hul leeuebestemming onder wilde Galliese oŽ ontmoet het, en kan geen rede sien waarom dit nie so was nie.

Al mymerende oor die tonele wat diť gedagtes voor ons geestesoog oproep, sien sy wonder bo wonder vir Claude raak tussen die een- of tweeduisend mense wat die stofarena voor die verhoog opgewonde gevul het. Claude is ’n vriendelike Fransman, self ’n vertaler, wat ’n boorling van die streek is en al jare hier woon. Ek waai verwoed vir hom en gelukkig doen my Nepalese fes van Groentemarkplein die ding: sy blik verhelder en hy beduie dat hy by ons hierbo kom aansluit. Ewe rats is hy in ’n kits by ons en gee laggend toe dat ons hipotese oor vroeŽre Romeinse praktyke met Christene heel geloofwaardig is. Ek onthou dat ’n vriend uit Suid-Afrika geskryf het dat die Kathara ook in hierdie streek hul moses met die kerk teŽgekom het. Kennelik voel mense hier lankal sterk oor hul idees, soos wat die instandhouding van Provensaals en verskeie tradisionele feeste deur die jaar ook bevestig.

Die skare begin ritmies hande klap. Teen hierdie tyd is die spreiligte ook aangeskakel. “Hein, regardes!” pluk Myriam aan my mou en wys hemelwaarts: bo ons vlieg ’n wit duif met klappende vlerke verby. ’n Verteenwoordiger van die konsertpromotor maak sy opwagting op die verhoog. Hy dra ’n geel gholfhemp, die onontbeerlike sonbril en vermoedelik te veel naskeermiddel. Hy maak ’n paar gladdebekgrappe, hemel die promotor en die musikante op, en versoek mense om nie foto’s te neem nie. Hy word luidkeels van die verhoog af geboe. Vir afstammelinge van bloeddorstige Romeine vertel jy nie hoe hulle moet fees vier nie. Gelukkig is sy vertrek die teken dat die konsert gaan begin.

Eers verskyn die orkes onder leiding van ’n joviale, selfversekerde reus van ’n kÍrel, pikswart en uitgevat in ’n eksieperfeksie wit aandpak, op die verhoog. Behalwe dat hy as rasieleier en agtergrondsanger optree, is hy ook ’n tromboonspeler van formaat, soos ons later sal agterkom. Die res van die orkes bestaan uit nog ’n tromboonspeler, nog ’n agtergrondsanger, die kontrabasspeler, twee saksofoonspelers, ’n perkussiespeler, ’n tromslaner en ’n trompetspeler: die een netjieser as die ander in pakke uitgevat, en met gladgekamde hare. OuwÍreldse elegansie soos mens nie dikwels meer sien nie.

Die orkes val weg met ’n lusmakertjie wat luide applous van die waarderende skare ontlok. Vir die eerste van vele kere laat die rasieleier ons met sy aansteeklike geesdrif goed verstaan dat ons applous moet gee vir “BU-ENA VIS-TA SO-CIAL CLU-UUB!”. Ons doen genoeglik mee.

En dan breek die eerste hoogtepunt van die aand aan: die nege-en-sewentigjarige Ruben Gonzales, meesterpianis, word skuifelend in sy swart pak deur die rasieleier na die klavier in die linkerhoek van die verhoog begelei. Die oom, sÍ Myriam vir my, is al besig om sy sig te verloor. Hy word staande toegejuig, en waai met versigtige bewegings en ’n fyn glimlaggie vir die gehoor. Dan neem hy ewe versigtig plaas agter die klavier. Wanneer die eerste akkoorde van sy klavier deur die vars aand klink, vergeet jy dat dit ’n man van sewe-en-tagtig naby die einde van sy lewe is wat speel. Behendig rits sy vingers oor die toetse en val die orkes soomloos by hom in. Hy voer drie, vier ou gunstelinge foutloos uit en kry telkens luidkeelse toejuiging. ’n Ware oomblik, dink ek.

Maar oom Ruben is nie meer vandag se kind nie, en aan die einde van sy kort uitvoering word hy weer versigtig die verhoog afgelei. Die orkes gaan voort met twee of drie nommers van die tipiese Kubaanse musiek waarvan hulle sulke meesters is: ’n mengsel van samba, jazz en calypso. Jy kan nie help om te sien hoe hulle dit geniet nie.

Dan breek die tweede groot oomblik van die aand aan as grande dame Oumara Pourtuondo haar verskyning in ’n indrukwekkende swart sjaal, los rooi kortmoubloes met bypassende langbroek, en swart halfhakskoene maak. Nogmaals ’n verwelkoming van staande toejuiging. Sy glimlag breed, maak ’n paar wulpse passies na ons kant en herinner ons dat die lewe nog skaars begin het as jy kort duskant sewentig trek. “Sexy, sexy Oumara!” verklaar ons rasieleier, en niemand gaan met hom stry nie. Die tante trek met ’n groot stem los en sing van liefde, passie, die nag Ö Sy skroom nie om elke dan en wan op die lewendige musiek te skuifeldans nie, en dam selfs ’n keer die rasieleier by. Sy hou ons vir ’n goeie driekwartuur vasgenael, en wanneer sy Ven, Ven met sy bekende Guantanamera-refrein sing, word die hele teater ’n massakoor. Sy neem moeilik afskeid van die gehoor wat vir nog vra.

En dan kom die groot gunsteling van die skare — as ’n mens dit durf waag om een van hierdie kunstenaars bo die ander uit te sonder — die lewensgenietende, onblusbare sanger Ibrahim Ferrer te voorskyn in ’n grys pak en met sy bekende grys petjie. Ook hy staan nie in sy vroeŽ sewentigs terug as dit kom by stamina en flair nie. Ferrer betower ons met die een klassieke nommer na die ander uit die byna vergete musiekskat van Kuba. Na elke nommer sjarmeer hy ons met sy volle Franse woordeskat, ’n staccato, “Mer-sie boekkoe!”, duidelik besig om elke oomblik te geniet. Ferrer vertoon dieselfde ondeundheid wat so opvallend in Wenders se prent was, en met sy stem, soos met diť van Omara Pourtuondo, skort daar nog niks nie. Jy kan nie help om jou te verwonder oor mense wat na ’n leeftyd onder ’n totalitÍre regime nog sulke warmte en vrygewigheid vertoon nie Ö

Ferrer en Pourtuondo trek nog ’n laaste haas uit die hoed as sy by hom kom aansluit en hulle ’n roerende duet sing. Die oomblikke wat hulle tussen die musiek deur oorleun en mekaar iets in die oor fluister, is ongeveins. Hoe moeilik het dit nie geword om opreg op ’n verhoog te wees in ’n era van “opregte” politici en selfingenome kunstenaars nie.

Te gou breek die einde van die aand aan: Ferrer, Pourtuondo en die ander musikante gee vir hulle gehoor applous. As diť twee vertrek, keer die orkes terug vir ’n laaste seepglad encore.

Wat sÍ jy einde ten laaste na so ’n belewenis? Miskien net dit: niks oortref grasie nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.