Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Afrikaans - tien jaar later (1994-2004)

Prof. WAM Carstens, Direkteur Skool vir Tale, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit

Referaat gelewer tydens simposium van SA Akademie vir Wetenskap en Kuns op 25/06/2004 op Potchefstroom
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

  1. Inleiding

    Die titel van hierdie referaat ("Afrikaans - tien jaar later") hou reeds in dat daar iets verander het in 'n bepaalde tydperk, in hierdie geval in terme van die breë kongrestema in die tydperk 1994-2004. Verandering as sodanig is 'n omvattende term in Afrikaans en dit word ook nogal baie in SA gebruik sedert die totstandkoming van die sg. 'Nuwe SA' in 1994. (Die mees gebruikte term om verandering in SA aan te dui, is transformasie en dit hou in dat iets 'anders' moet wees as wat dit voorheen was. Dis egter nie die doel van die referaat om hieroor te praat nie.) As ons die term verandering spesifiek op die talesituasie in SA van toepassing maak, is dit opvallend dat daar ook baie 'aanpassings' gekom het sedert 1994. In hierdie referaat gaan ek kortliks aandag gee aan 'n paar aspekte wat van belang is as ons moet probeer vasstel wat het nou presies gebeur om die talesituasie in SA 'anders' te maak as wat dit voorheen (d.i. voor 1994) was. In hierdie proses sal sake soos die volgende aan die bod moet kom:

    • Wat het verander?
    • Waarom het dit verander?
    • Hoe het dit verander?
    • Wat nou verder?

    Ek vertrou dat ek teen die einde van die referaat antwoorde hierop sal kan gee.

  2. Die talebedeling vóór 1994

    In die politieke bedeling voor 1994 was daar slegs twee tale wat kon aanspraak maak op 'amptelike status' in SA - dit was Afrikaans en Engels. Die geskiedenis hieroor is redelik goed aan almal bekend. Ek vat dit egter ter wille van agtergrond vir die gesprek net baie kortliks hier onder saam:

    [Wys hier transparant uit Webb 2001.]

    • 1652-1806: Nederlands is na die kolonialisering die amptelike taal ná die vestiging van die nuwe kolonie aan die Kaap
    • 1806-1925: Engels (ná die besetting van die Kaap in 1806 deur Brittanje) en mettertyd ook weer Nederlands. In hierdie tydperk was Afrikaans nog besig om as taal gevestig te word (vgl. o.m. Raidt 1989 & 1991, Scholtz 1980, Steyn 1980, Van Rensburg (red.) 1997, Zietsman 1992).
    • 1925-1948: Engels en Afrikaans In hierdie tydperk was die staatsadministrasie, die weermag en die radio hoofsaaklik Engels, met Afrikaans wel as amptelike taal en as 'n skooltaal, maar sonder enige werklike mag (Webb 2001: 171). Die Afrikatale in SA 'het geen openbare rol gehad nie' (Webb 2001: 171) - dit was om die waarheid te sê, beskou as streekgebonde tale wat 'n beperkte kommunikatiewe rol gespeel het.
    • 1948-1994: Afrikaans en Engels
      • Ná die politieke bewindsoorname in 1948 deur die 'wit Afrikaanssprekende kieser' (Webb 2001: 171) het Afrikaans spoedig die dominante taal in die openbare lewe (die staatsdiens, weermag, media, kerk, onderwys) geword en die rolle ná die tweede Britse besetting van die Kaap in 1806 is in der waarheid omgeruil. Engels het as amptelike taal wel 'n groot rol bly speel in die openbare lewe, maar die politiek is grootliks bedryf in Afrikaans. Engels was in 'n groot mate ondergeskik aan Afrikaans. Die Afrikatale in SA is volgens Webb (2001: 171) "formeel erken in goed gereglementeerde 'nasionale state' en 'selfregerende gebiede', en (is) 'n netjies beheerde rol gegee in onderwysprogramme en die elektroniese media, met verdere erkenning deur die totstandbrenging van taalrade (vir die onderskeie Afrikatale)".
      • Die gebeure rondom Soweto 1976 (16 Junie 1976 - wat jaarliks herdenk word as 'Vryheidsdag') het 'n groot rol gespeel in die ontvouing van die politieke proses ná 1976. Dis 'n aanvaarde feit dat die wyse waarop Afrikaans as onderwystaal op skole in die swart gebiede afgedwing is, wel 'n invloed gehad het op die proses wat uiteindelik sou uitloop op die totstandkoming van die nuwe demokratiese SA aan die begin van die 1990's. Dis wel belangrik om te besef dat Afrikaans as taal hier die slae vat vir foute wat sprekers van dié taal op politieke vlak gemaak het. Van Rensburg (1989), Steyn (2000b), Schmidt (2003), Pienaar (2004) het hierdie punt deeglik beklemtoon in terugskouings oor hierdie tydperk. Afrikaans was naamlik slegs één van die redes wat die opstande laat ontvlam het, maar Afrikaans was nie die primêre rede daarvoor nie, soos in so baie bronne te kenne gegee word nie - dis belangrik dat ons dit wel besef. Roup (2004), 'n sg. 'Boerejood', som die houding in hierdie verband soos volg op - dis naamlik vir hom belangrik om te weet "if a language is to be crucified because of its use by a former oppressor, what of English, of German, of Spanish? Do these, among so many others, do not also have blood on their vowels? Should we justify the disappearance of a language because of what was done in its name?"
    • Reeds in 1984 het daar 'n belangrike bespiegelende publikasie oor Afrikaans en dié taal se pad vorentoe as taal in Suid-Afrika verskyn.

    [Wys transparant met titels van hoofstukke uit Prinsloo & Van Rensburg (red.) 1984]

    In Prinsloo & Van Rensburg (reds.) se boek Afrikaans: Stand, Taak,Toekoms (1984) het onderwerpe soos die volgende aan die bod gekom: "Die oorlewing van Afrikaans", "Afrikaans binne meertalige verband", "Afrikaans in Afrika", "Stand van die Afrikaanse taal: tans en in die toekoms", "Gesindhede t.o.v. taal in die onderwys in Suid-Afrika", "'n Kultuurstrategie van Afrikaans", "Die handhawing van Afrikaans", "Afrikaans: die pad vorentoe", "Die toekoms van Afrikaans", "Afrikaans" 'n toekomsblik". JC Steyn se bekroonde boek Tuiste in eie taal (1980) het die gesprek oor Afrikaans reeds aan die gang gesit en dit was duidelik dat daar veranderinge sou moes kom om Afrikaans se posisie te handhaaf. Uit die titels van die genoemde hoofstukke hier bo uit Prinsloo & Van Rensburg (reds.) 1984 blyk dit al duidelik dat daar bekommernis is oor die toekoms van Afrikaans in 'n verwagte nuwe politieke bedeling. Steyn (1984: 19-20) sê bv. ook dat "Afrikaans dit nie (kan) bekostig dat dit ('n deel van) sy blanke sprekers of ('n deel van) sy bruin sprekers verloor omdat sy kultuurskeppings, as geheel genome, nie genoeg verskeidenheid vertoon om nie. Afrikaans moet iets beteken vir sowel die konserwatiewe as liberale deel van sy gemeenskap; dit moet, sy dit in verskillende publikasies, draer bly van die ideale, belange en strewes van wit en bruin." Steyn (1984: 27-28) gee selfs ook goeie raad oor watter bevorderingsaksies ingespan kan word om Afrikaans se pad vorentoe te bepaal:

    • Afrikaans moet 'n taal van waarde in die ekonomiese lewe van SA gemaak word.
    • Afrikaans moet een van die tale van die land se bestuursapparaat gemaak word.
    • Die oopstelling van Afrikaanse universiteite aan gekleurdes.
    • Afrikaanse koerante en tydskrifte moet ook 'n groot sirkulasie onder gekleurdes probeer opbou.
    • Afrikaanse kleuter- en bewaarskole moet aan die Rand opgerig word.
    • Die Afrikaanse rolprentbedryf moet uitgebou word.

    Die debat oor Afrikaans het dus reeds in die vroeë 1980's begin en nie eers teen die vroeë 1990's nie.

    Uit hierdie uiters kort oorsig kan gesien word dat Afrikaans as taal wel 'n rol gespeel het in die ontwikkeling van Suid-Afrika sedert die vestigingsjare, maar dat politiek in die tydperk sedert 1948 wel daartoe bygedra het dat Afrikaans die (geregverdigde? of ongeregverdigde?) etiket van 'taal van die onderdrukker' om die nek gekry het. Dié ongelukkige stigma is iets waarvan Afrikaans vandag nog sukkel om ontslae te raak. Die erg negatiewe gesindheid is skynbaar wel aan die verander geoordeel aan reaksies in die pers die afgelope tyd - vgl. hieroor o.a. Klopper 2001, Hoeane 2003, Moleko 2003, Schmidt 2003 en Roup 2004. 'n Tipiese voorbeeld in hierdie verband is Roup (2004),'n sg. 'Boerejood' wat ná 'n verblyf van 25 jaar in Engeland skielik gevind het "strangely, after almost 25 years living in England, I find myself treasuring my Afrikaans heritage, and concerned that this eloquent language might be lost". Dis daarom vir belangik om te weet wie kan vandag werklik ten gunste van Afrikaans praat. Dan voeg hy by: "I do. I speak because, despite everything, Afrikaans forms one of the dual chambers of my hart, and as such it must survive if I am to live fully."

  3. Afrikaans in die nuwe politieke bedeling: 1994-2004

    Die totstandkoming van die nuwe demokratiese SA in April 1994 het ook ten opsigte van taal - soos ook die geval op talle ander terreine in die SA samelewing - groot verandering meegebring. Dinge was beslis nie meer dieselfde as in die 'ou SA' nie. Die nuwe Grondwet het dit o.m. duidelik uitgespel dat daar nie meer net twee amptelike tale in SA is nie, maar wel elf.

    [Transparant met art. 6 uit Grondwet.]
    [Transparant uit Webb 2001.]

    Hierdie grondwetlike bedeling se implikasie vir Afrikaans (asook vir Engels) was groter as wat 'n mens sou kon dink. Skielik was Afrikaans één van elf en nie meer een van twee nie. Status- en selfs getalsgewys was dit 'n terugslag vir Afrikaans, maar aan die ander kant weer 'n mosie van vertroue in die vermoë van die vroeër gemarginaliseerde tale (die politiek korrekte term vir Afrikatale) om 'n eie status te ontwikkel. Webb (2001: 169-170) sê dat die begrip 'linguistiese pluraliteit' (oftewel meertaligheid") hierdeur gevestig is. Dit veronderstel naamlik dat 'n kultuur van meertaligheid tot stand gebring sal word en dit hou o.m. die volgende in:

    • 'n sterk sin vir linguistiese toleransie (d.w.s. verdraagsaamheid teenoor ander se tale)
    • 'n sterk sin vir respek vir ander se eiesoortigheid
    • 'n aanvaarding van linguistiese diversiteit as 'n konstruktiewe hulpbron.

    Webb (2001: 170) sê "ideaal gesien, behoort die elf amptelike tale van SA in 'volkome ewewig' te bestaan, dit wil sê hulle moet werklik gelykwaardig wees, Suid-Afrikaanse burgers moet mekaar se tale ken en geen huiwering ondervind om van een oor te slaan na 'n ander in 'n gees van respek en erkenning nie, en die konflikpotensiaal wat daar dikwels in taalgemengde gemeenskappe voorkom, moet afwesig wees." Dis inderdaad 'n pragtige en uiters lofwaardige ideaal, maar iets wat in die praktyk van die SA van dag tot dag nog baie ver van verwesenliking is. Kom ons droom van die dag dat so iets wel sal kan waar word!

    Hierdie referaat handel in wese oor die posisie van Afrikaans nadat tien jaar in die nuwe demokrasie verloop het en die bogenoemde uiteensetting was bedoel as agtergrond vir die gesprek. Die vraag is nou: hoe gaan dit met Afrikaans in die nuwe SA ná tien jaar van 'n nuwe politieke bedeling, van 'n bedeling waar Afrikaanssprekende nie meer 'n politieke krag is nie (en waar die historiese apartheidsparty - die NNP - na afloop van die 2004-verkiesing in wese opgeneem is in die regerende ANC-party)? In die afgelope tien jaar is daar al besonder baie geskryf oor Afrikaans in die nuwe SA (vgl. bv. Alexander 1994; Carstens 1994; Combrink 1991; Du Plessis 1992, 1996; Du Plessis & Du Plessis (reds.) 1987; Schmidt 2003; Steyn 1980, 1984, 1992a, 1995b, 2001; Truter & Lubbe 2002; MCJ van Rensburg (red.) 1997; FIJ van Rensburg (red.) 2004; Verhoef 1996, 1997, 1998, 1999; Webb (red.) 1992; Webb 1997 - om maar slegs enkele publikasies te noem). Die briewe wat bykans daagliks in Afrikaanse koerante en tydskrifte asook op internet-gespreksforums verskyn, is tekenend van 'n lewendige debat van 'n taalgroep wat stry om 'n eie plek in die Afrika-son. Opskrifte soos die onderstaande dui ook op bekommernis oor die pad vorentoe met as kernvraag: Sal Afrikaans op die lang termyn as taal van openbare kommunikasie in SA behoue bly? - "Herwin julle wortels", "'Salami'-taktiek teen Afrikaans", "Mooi bydraes oor Afrikaans in die vergeetboek", "Engels, Engels, alles Engels", "Die basis van voortbestaan lê tussen die ore", "Engels ander tale se grootste bedreiging", "Afrikaans sal leef! Nog 'n taalbeweging is onnodig", "Afrikaans: die brugbouer en versoenende taal", "Hoe kry ons 'n teenvoeter vir aftakeling van Afrikaans?", "Toekoms van taal lê by sy sprekers", "Afrikaanssprekendes se koopkrag formidabel", "Afrikaans 'n reus in sakewêreld", "Hoe Afrikaanse koopkrag verskeie markte oorheers", "Afrikaans het meeste koopkrag, sê verslag", "Afrikaanssprekendes speel groot rol in die IT-bedryf", "Vergewe tog dié wat Afrikaanse verbruikers ignoreer", "Afrikaans kan behou word in onderrig van wetenskap", "Die taalkwessie: onderhandel, beding, stry nóú", "Hoe kry ons 'n teenvoeter vir aftakeling van Afrikaans?", Afrikaans word só mét ander geborg: Mbeki herinner Afrikaner hy word nou bevoordeel", "Min optimisme vir Afrikaans - gesprek met Asmal 'gespanne'", "Dis hoekom Dan Roodt se dinge Afrikaanse jonges koud laat", "Taal 'reg vir toekoms', sê Britse blad", "Hou op om Afrikaans te begrawe - Taal het nog lank nie siek geword", "Taalraad skop vas oor Engels in parlement", "Die nuwe Afrikaans vir Afrika", "Asmal dom oor taalonderrig", "Afrikaans op laaste bene in sommige skole - hulpbronne gaan eerder aan ander vakke", "Geskiedskrywers het 'ereplig' oor Afrikaans - Vaktydskrif in net Engels trek streep deur Grondwet", "Engels is norm in bedryf", "Die Afrikaner het 'n toekomsdroom nodig", "Betaal vir skooltaal", "Departement gee ná 9 jaar toe oor taalbeleid" "Afrikaanse skole boer agteruit", Swak uitslae aan taalbeleid gewyt", "Kenners aanvaar nie regering se woorde oor moedertaal", "Afrikaanse leerlinge 'nie so erg minder'", "Bring moedertaalonderrig terug!", "Moenie Afrikaner-Afrikane uitsluit", "Staat oortref Milner se aanslag op taal" (14/06/04), ens. ens. ens.

    In die debat oor Afrikaans word daar voorts gewoonlik drie belangrike argumente gebruik om Afrikaans (en ook ander tale) se posisie te bepaal ten opsigte van ander taalgroepe in SA:

    • Die getalle-argument: Afrikaans is die derde grootste moedertaalsprekersgroep in SA (t.w. ongeveer 14%), naas Zoeloe (ong. 22%) en Xhosa (ong. 18%) (vgl. Van Rensburg (red.) 1997: 78-83). Dit dui daarop dat Afrikaans getalsgewys bó Engels as taal gereken kan word. Die demografie van die Afrikaanse gemeenskap kom dan onder die soeklig en dit blyk uit beskikbare navorsing dat daar besliste demografiese verliese is, o.m. as gevolg van 'n laer geboortesyfer en die effek van emigrasie op die Afrikaanse bevolking - die talle Suid-Afrikaners wat verhuis het na die VSA, Kanada, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland is tekenend hiervan. Ek voeg hierby nie eens die regstellende-aksie-argument soos dit daagliks in Afrikaanse koerante te berde gebring word nie. Sien in hierdie verband o.m. Giliomee & Schlemmer (reds.) 2001; Sadie 1996; Steyn 1980; FIJ van Rensburg (red.) 2004; Webb, Dirven en Koch 1992.

      [Paar transparante oor statistiek]

    • Die funksie-argument (soos uitgelig deur o.m. Combrink 1991, Steyn 1980, 1984). Steyn (1980: 15-18) noem 'n hele aantal funksies (hoë en lae funksies) wat 'n taal moet hê of behou om nie die kreeftegang te gaan nie. As 'n taal van hierdie funksies begin inboet, begin die probleme. Een hoë funksie wat verlore gaan (soos bv. 'n media- of onderwys-taalfunksie), kan die begin aandui van ander funksies (soos taal van die staatsdiens, die howe, kerke, ens.) wat ook algaande kan afneem en mettertyd selfs kan verval. Jaap Steyn het heelwat geskryf oor die potensiële funksieverliese vir Afrikaans op die terrein van die ekonomie, die onderwys en die howe (vgl. Steyn 1980, 1984, 1992a, 1995b, 2001). In Giliomee & Schlemmer (reds.) 2001 (Kruispad. Die toekoms van Afrikaans as openbare taal) asook in Van Rensburg (red.) 2004 (Afrikaans - lewende taal van miljoene) kom bekommernisse na vore oor moontlike funksieverliese oor Afrikaans as taal van die hoër onderwys, as literêre taal, as teatertaal, as uitsaaitaal, as kultuurtaal, as onderwystaal, as regstaal, as taal van die teologie, as wetenskapstaal, as reklametaal, as werksplektaal, as publikasietaal, e.s.m. Scholtz (2001) wys daarop dat 'n taal ten minste op vyf vlakke 'n funksie moet hê (vgl. ook Steyn 1980: 15-18), naamlik:
      • Die taal moet tuis gepraat word.
      • Die taal moet 'n letterkundige funksie hê en dan in die besonder 'n skriftelike weergawe daarvan.
      • Die taal moet wetenskaplike en akademiese funksies hê (dus as taal van onderwys op 'n verskeidenheid vlakke).
      • Die taal moet ekonomiese nut hê. (Mense moet dus die taal kan gebruik in die werksplek.)
      • Die taal moet 'n owerheidstaal wees. (Mense moet in hulle taal met die staat kan kommunikeer.)
        Miskien maak die strewes van 'taalvegters' meer sin in die lig hiervan.
        • Die gesindheidsargument: Die houding wat baie mense teenoor Afrikaans het (wat of ons dit nou wil weet of nie, in 'n groot mate in die hand gewerk is deur die stigma van Afrikaans as 'taal van die onderdrukker'), is ook bepalend vir die pad vorentoe. Hoe voel mense oor Afrikaans en veral oor die sprekers van Afrikaans? (Vgl. hieroor o.m. Carstens 1994, Steyn 1995, Schlemmer 2001.) Watter beeld projekteer politici en openbare figure (soos bv. Eugene Terre'Blanche) oor Afrikaans na buite? Watter beeld kom na vore oor Afrika anssprekendes in publikasies soos Giliomee se The Afrikaners (2003)? Watter bydraes het Afrikaanssprekendes gemaak om van die 'Nuwe SA' 'n sukses te maak? 'n Ondersoek wat in 2001 uitgevoer is deur 'n Ph.D.-student in KwaZulu-Natal (vgl. Klopper 2001) het bv. verrassende resultate gelewer - naamlik dat 75% van die swart leerders wat by die ondersoek betrek is, uiters positief is oor die aanbied van Afrikaans as tweede taal in primêre skole. Dit kom dus voor asof die negatiewe persepsies oor Afrikaans stadigaan begin wegkwyn.

      Dis moontlik dat 'n mens uit hierdie oorsig die gevoel kan kry dat daar nie hoop vir Afrikaans in die toekoms is nie, dat ons almal nou maar moet swig voor die openbare druk en die versoeking om maar toe te gee om Engels as primêre taal in SA - soos ook in talle ander wêrelddele - te begin omhels. (Vgl. Smith 2001 oor die bedreiging wat Engels vir ander tale asook vir die praktiese deurvoer van meertaligheid inhou; Du Plessis 2003 verwys ook pertinent hierna in 'n oorsig oor die wyse waarop Engels dit regkry om die SA samelewing te domineer.) Dit sou egter nie die volle waarheid wees nie omdat daar reeds baie inisiatiewe en prosesse gevestig is wat juis kan bydra om hierdie negatiwiteit om te swaai. In die laaste gedeelte van hierdie referaat word kortliks enkele aspekte in hierdie verband genoem.

    • Inisiatief: 'n Nasionale strategie vir Afrikaans

      Dit sou nie regverdig wees om hierdie oorsig te eindig met 'n gevoel van "doom and gloom" nie! Te veel prosesse en inisiatiewe is reeds gevestig om dit teen te werk. Dit is so dat daar wel funksieverliese was: die SAUK is deesdae die SABC, die SAL het die SAA geword en Afrikaans word selde op hierdie lugredery se vlugte gehoor, Afrikaans kry nie die geld wat dit nodig het om funksies in stand te hou nie (die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het bv. sy staatsubsidie verloor), in die staatsdiens word Afrikaans genegeer, Afrikaanse skole word onder druk dubbelmedium (en mettertyd slegs eentalig Engels), Afrikaans is onder druk in die howe en in talle werksplekke - en so kan 'n mens aangaan. Maar daar was ook winste wat die gevolg was van inisiatiewe van Afrikaanssprekendes se kant af. Die druk op Afrikaans het gehelp dat Afrikaans via die kunstefeeste bloei, Afrikaanse musiek word deesdae sonder skroom deur Afrikaanssprekende jongmense geluister, Afrikaanse sangers is gewilder ooit (Steve Hofmeyr is bv. onlangs aangewys as die SA musikant met die beste plateverkope in SA), ens. (Vgl. hieroor o.m. Jackson 2003.) Die vraag is nou: waarheen met Afrikaans?

      Reeds in 1993 het prof. Hans du Plessis gesê dat Afrikaans vir sy eie voortbestaan verantwoordelik is en dat Afrikaanssprekendes iets moet begin dóén: "Die hele taalaksie moet ingestel wees op die behoud van die aantal mense wat Afrikaans gebruik, die behoud van die funksies van Afrikaans en die herstel van houdings oor Afrikaans. Hou op om Afrikaans uit 'n toekoms uit te koop en te beskinder, hou op om Afrikaans uit 'n voortbestaan te hensop en hou veral op om Afrikaans te begrawe nog lank voordat hy siek geword het" (Altern 1993). Buys (2004) sê dat die tyd aangebreek het vir aksie: "Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk. Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheidsvennote waar nodig en waar moontlik. Dit help nie om aan 'n afhanklikheids- of onttrekkingsindroom te ly nie. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie en die toekoms laat nie op hom wag nie."

      Dit kom voor asof hierdie tyd nou aangebreek het vir Afrikaans en dat daar rondom Afrikaans 'n aantal taalaksies aan die gang gekom het. Ek gaan hier slegs berig oor een aksie wat tans gevoer word om Afrikaans se belange uit dra. Vanselfsprekend is daar ook ander aksies, maar weens die besondere koördinerende moontlikhede van hierdie aksie word daar verder net hierop gefokus.

      Hierdie aksie begin by die Grondwet (art. 6, in die 1993- en 1996- Grondwet) wat bepaal het dat daar elf amptelike tale in SA sal wees en dat afgesien van die plig op die staat om die status van veral die 'inheemse tale' 'te verhoog en hulle gebruik te bevorder' (art. 6 (2)), die staat moet besef dat alle amptelike tale 'gelykheid van aansien' moet geniet en 'billik behandel' moet word (art. 6 (4)). Verder moet daar 'n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad tot stand kom met as doel die volgende:

      Art 6        (5)     'n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad deur wetgewing Ingestel, moet -
                  (a)     die ontwikkeling en gebruik bevorder en omstandighede skep vir die ontwikkeling en gebruik van -
                      (i)     alle amptelike tale;
                      (ii)     die Khoi-, Nama- en Santale; en
                      (iii)     gebaretaal; en
                  (b)     respek bevorder en verseker vir -
                      (i)     alle tale wat algemeen deur gemeenskappe in Suid-Afrika gebruik word ...

      Pansat het hierdie taak aangepak deur 'n aantal liggame tot stand te bring wat elkeen 'n eie opdrag gehad het om hierdie grondwetlik opgelegde taak ten uitvoer te bring, t.w.

      • Provinsiale taalkomitees (nege - een per provinsie en wat saamgestel is op grond van die taalsamestellings van elke besondere provinsie): die taak van hierdie komitee is om in elke provinsie taal te bereël vir die betrokke provinsie, en dit behoort te geskied in terme van 'n eiesoortige provinsiale taalwet.
      • Nasionale taalliggame (13 in totaal - een vir elke amptelike taal asook een vir gebaretaal en een vir die Khoe- en die Santale): die taak van hierdie liggame is om vir elke taal die nodige maatreëls te tref om daardie besondere taal optimaal te bevorder, o.m. deur die status van die betrokke taal in stand te hou of uit te bou (in die geval van die inheemse tale) en die struktuur van die betrokke taal te handhaaf.
      • Nasionale leksikografiese eenhede (13 in totaal - een vir elke amptelike taal asook een vir gebaretaal en een vir die Khoe- en die Santale): hierdie liggame het ten doel om die woordeskat van elke taal op te teken en desnoods ook te bevorder.

      Teoreties klink dit of alles goed behoort te gaan met hierdie take, maar in die 'paradys' is dinge nie altyd wat dit veronderstel is om te wees nie. Die betrokke taalentiteite is nie almal so effektief as wat Pansat seker sou wou hê nie. Selfs ná tien jaar is die provinsiale taalkomitees in min provinsies werklik funksioneel (met die Wes-Kaap as uitsondering), hoofsaaklik weens gebrekkige politieke en infrastrukturele steun. Die meerderheid NTL'e vergader bloot gereeld en kom weens 'n gebrek aan befondsing nie behoorlik van die grond af nie. Wat betref die NLE'e is daar ook nie te veel positief te rapporteer nie omdat daar met die uitsondering van die Afrikaanse NLE (die Buro van die WAT op Stellenbosch) en die Engelse NLE (in Grahamstad) nog nie besondere werk tot stand gekom het nie. Beteken dit dan dat Pansat se strukture oneffektief is? Dis moeilik om regtig te sê wat die rede vir die skynbare gebrek aan effektiwiteit van die Pansat-strukture is, maar myns insiens is dit tweeledig: (a) gebrekkige finansiële steun van sowel die nasionale as provinsiale regerings en (b) 'n gebrek aan politieke wil om taal die staanplek te gee wat dit in die SA samelewing behoort te kry. Taal is lastig vir die regering - dit is duidelik vir almal van ons wat in die taalstrukture werk. Taal is helaas nie vir politici 'n dringende saak nie, maar sake soos naamsveranderings wel, want dis sigbare veranderinge wat die kieserskorps kan raaksien.

      In Augustus 2003 het daar 'n berig (Olivier 2003a) in koerante van Media24 verskyn oor die behoefte aan die totstandkoming van 'n taalinstituut vir Afrikaans en opeenvolgende berigte hieroor (vgl. Olivier 2003b, Zietsman 2003) het sterk steun hiervoor uitgespreek. Die FAK het besluit om na aanleiding hiervan 'n ope gesprek (met as tema: "'n Groter voetspoor vir Afrikaans") oor die saak te reël en dié geleentheid het plaasgevind op Saterdag 13 September 2003 in Pretoria. In 'n referaat tydens hierdie gespreksgeleentheid het Carstens (2003) die vraag gestel oor wat so 'n taalinstituut presies inhou: Is dit so dat hierdie instituut slegs onderrig aan niemoedertaalsprekers moet bied? Wat dan van moedertaalonderrig of van Standaardafrikaans? Watter beeld moet hierdie instituut hê? Wie gaan die instituut befonds? Dan ook die volgende vraag: Is daar nie dalk reeds die een of ander instansie wat al klaar so 'n funksie verrig nie? Sal dit nie onnodige duplisering van aktiwiteite meebring nie? Wat van die persepsie dat 'Afrikaners al weer laer trek rondom hulle taal'? Die gedagte is verder uitgespreek dat daar eers 'n haalbaarheidstudie van so 'n instituut gedoen moet word en dat dit in die vorm van 'n taaloudit moet geskied. So 'n oudit moet dan behels 'n bestekopname van bestaande Afrikaanse kundigheid en bestaande Afrikaanse strukture en dat die resultaat hiervan gebruik moet word om behoorlik te beplan alvorens daar nóg 'n struktuur vir Afrikaans tot stand gebring word. Sodoende sou ons ten minste kon weet wie kan dóén en wie kan net práát oor Afrikaans (Carstens 2003).

      Tydens dieselfde geleentheid het dr. Christa van Louw, voorsitter van die NTLA, gesê dat daar op 'n breër vlak na 'n taalinstituut gekyk moet en dat dit eerder in die raamwerk van 'n nasionale strategie vir Afrikaans moet geskied. So 'n strategie moes as doel hê die koördineer van Afrikaanse aktiwiteite sodat die Afrikaanse gemeenskap as 'n eenheid vorentoe vir Afrikaans kan beplan en kan ophou om dit as los entiteite te doen. So 'n strategie kan egter net slaag indien dit toegeëien en gedryf word deur bestaande organisasies en individue wat hulle vir die bevordering van Afrikaans beywer. PanSAT stel in hierdie inisiatief van die Afrikaanse taalgemeenskap belang omdat dit beskou word as 'n model wat al die ander inheemse taalgroepe ook sal kan volg, tot voordeel van 'n gesonde veeltaligheidsopset in die land.

      Ten einde hierdie proses aan die gang te sit, is daar 'n sg. Voortsettingskomitee aangewys (met prof. WAM Carstens, ondervoorsitter van die NTLA, as sameroeper). Die lede van hierdie komitee was verteenwoordigers van 'n verskeidenheid Afrikaanse organisasies (soos die FAK, ATKV, Groep van 63, Vriende van Afrikaans, SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Vrydaggroep, Die Taalsekretariaat, Die Meertaligheidsaksiegroep, die NTLA, die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans). Dié komitee het in die tydperk Oktober 2003 tot Mei 2004 verskeie beplanningsvergaderings gehou en die uiteinde hiervan was die volgende:

      • Dat besluit is die NTLA sal as Pansat-struktuur (wat nog geen bagasie dra nie) ingespan word om die nasionale strategie te verwesenlik. Volgens Brand (2004) is die NTLA die ideale liggaam om die proses vorentoe te dryf omdat dit sal kan meehelp om 'n gesamentlike forum vir Afrikaans tot stand te bring. Brand (2004) se dokument oor "Op pad na 'n Afrikaanse forum" dien inderdaad as rigtinggewende dokument oor die pad wat in hierdie verband in die belang van Afrikaans geloop (kan) word. Dis opvallend dat 'n vorige poging om so 'n Afrikaanse forum tot stand te bring - die sg. Oorlegplatform (vgl. Steyn 1998 hieroor) - in werklikheid nie die konsoliderende en koördinerende rol kon vervul wat die plan daarmee was nie. Dat die NTLA dit kon regkry in 'n taalomgewing wat aan Engels voorkeur gee (sommige tale is mos meer 'gelyk' as ander!), is aanduidend dat die klimaat vir so 'n inisiatief waarskynlik ná tien jaar tog beter was.
      • Die NTLA as instrument is om alle moontlike rolspelers te besoek in hulle in te lig oor planne vir die pad vorentoe. In hierdie verband het die voorsitter en ondervoorsitter van die NTLA tyd afgestaan om op verskeie plekke in die land van die rolspelers persoonlik op hoogte te bring van die proses. (Vgl. die NTLA-persverklaring wat op 09/12/2003 oor die planne en doelwitte met hierdie proses uitgereik is.)
      • Dat die Afrikaanse publiek ook ingelig is oor die planne en doelwitte met die nasionale strategie. Dit het geskied op 'n verskeidenheid wyses: d.m.v. radiopraatjies in September 2003 tot Junie 2004 waaraan die voorsitter en ondervoorsitter van die NTLA asook mnr. Hennie de Wet as interim sekretariaat deelgeneem het, persverklarings (soos NTLA 2003) terwyl daar 'n hele aantal koerantberigte hieroor verskyn het (soos Olivier 2003a, 2003b, 2003c, 2003d, 2004).
      • Dat die FAK ingewillig het om hulle administratiewe strukture beskikbaar te stel as interim sekretariaat vir hierdie proses, by gebrek aan 'n behoorlike ondersteuningstruktuur van die kant van Pansat vir die NTLA.
      • Dat daar begin is met die proses om die taaloudit te laat doen. Die projekleier hiervoor was dr. Karel Prinsloo en die doeldatum vir hierdie oudit is einde Junie 2004. Die vraelys is via e-pos en gewone pos aan bykans 2 300 instansies uitgestuur en spoedig het die inligting begin instroom. Daar is selfs 'n webadres taaloudit@mweb.co.za tot stand gebring vir hierdie doel. Die hoofdoel met die projek was om vas te stel in hoeverre die Afrikaanse gemeenskap taalverwante projekte en dienste onderneem ten einde die taalverwante behoeftes in die gemeenskap te bevredig. 'n Sekondêre doel was om, in die lig van bevindings uit die taaloudit, 'n strategie te bespreek vir die pad vorentoe sover dit Afrikaans in 'n veeltalige Suid-Afrika betref. Mikpunte met die oudit was in die besonder (a) om 'n katalogus van taalverwante projekte, dienste, kursusse, energieë en netwerke wat in die Afrikaanse gemeenskap beskikbaar is, saam te stel; en (b) om leemtes te bepaal in die lig van taalverwante behoeftes wat deur die Afrikaanse gemeenskap uitgespreek is. Die resultaat van so 'n oudit sou dan gebruik kon word om as Afrikaanse gemeenskap op 'n inklusiewe wyse sáám te beplan oor hoe om oplossings vir probleme t.o.v. van Afrikaans te vind. Die tyd vir dóén het dus duidelik vir Afrikaans aangebreek! Van die voorlopige resultate dui reeds daarop dat daar besondere prestasies is waarop Afrikaans met reg trots kan wees (soos dat daar jaarliks 14 Afrikaansgerigte kunstefeeste in SA en 5 in die buiteland plaasvind - vgl. Olivier 2004) terwyl daar ook bepaalde leemtes is wat in die toekoms indringend aandag sal moet kry.
      • Dat 'n nasionale Afrikaanse taalberaad gehou sal word waar in samewerking met alle rolspelers, 'n strategie vir Afrikaans in veeltalige verband beplan sal word. In hierdie proses sal daar deur die taaloudit en taalstrategiebespreking, 'n model daargestel word wat ook deur ander inheemse taalgroepe in Suid-Afrika gevolg kan word indien hulle dieselfde sou wou doen. In hierdie opsig dien die Afrikaanse proses dan as voorbeeld vir ander tale in SA, en desnoods wêreldwyd. Hierdie beraad sal vanaf 25-27 Augustus 2004 op Stellenbosch plaasvind en die program vir hierdie beraad is tans in die finaliseringsfase. Dis 'n program wat ten doel het om die resultate van die taaloudit as vertrekpunt in alle besprekings te gebruik sodat daar beplan kan word vir die pad vorentoe. Dis inderdaad 'n inklusiewe proses en het ten doel om enigeen te betrek wat graag sou wou kom saampraat en saambeplan. Hiermee word inderdaad aansluiting gevind by Buys (2004) wat sê dat die tyd aangebreek het vir aksie: "Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk. Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheidsvennote waar nodig en waar moontlik... Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie en die toekoms laat nie op hom wag nie."
      • Die beplanning van die beraad as sodanig is reeds tekenend van 'n nuwe gees van samewerking en ondersteuning wat in die Afrikaanse gemeenskap losgemaak is - "'n Proses is begin waar mense en organisasies wat mekaar tradisioneel waarskynlik nie sou ondersteun nie, begin saamwerk het" (Carstens, aangehaal in Olivier 2004). Die FAK het onbaatsugtig opgetree (en doen dit tans nog) as interim sekretariaat vir die hele proses, die Taalsekretariaat het fondse beskikbaar gestel vir bepaalde bemagtigingsprojekte wat onder die vaandel van die NTLA aangebied is, die hoofkantoor van die Vriende van Afrikaans tree op as organisasiekantoor vir die beraad, die Wes-Kaapse Provinsiale Taalkomitee stel kundigheid en befondsing beskikbaar om die reëlings te help vergemaklik, die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans asook die Buro van die WAT en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns bied belangrike morele steun, Solidariteit het fondse beskikbaar gestel om die taaloudit te help afrond, Rapport het ingewillig om die koste van die verslag te dra, die Skool vir Tale van die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit het beperkte finansiële en organisatoriese steun vir die projek gegee, Pansat het fondse beskikbaar gestel ter delging van reis- en verblyfkostes in hierdie tyd en dié liggaam sal waarskynlik ook een van die hoofborge van die beraad wees, die Universiteit van Stellenbosch het verdere steun belowe, finansiële steun van die Het Jan Marais-fonds op Stellenbosch en van die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl is 'n sterk moontlikheid. Ons het selfs al genoeg wyn vir die beraad van Simonsvlei-Kelders in die Paarl gekry!
      • Fondse bly 'n probleem vir so 'n projek en ek is dankbaar om te kan sê dat die nodige fondse om die beraad bekostigbaar aan te bied reeds belowe is - maar nog nie alles daar is nie. Ons vertrou dat die Afrikaanse gemeenskap dit finansieel moontlik sal maak dat die nodige fondse beskikbaar sal wees. Bydraes is vanselfsprekend nog welkom! 'n Entoesiastiese inwoner van die Strand het na aanleiding van 'n radiopraatjie oor die proses en die belang daarvan vir Afrikaans laat wet dat sy as 'professionele kollektant' die strate sal invaar om geld vir Afrikaans te gaan soek. In die ou dae het ons gesê dat ons met so 'n persoon oor die Drakensberg sou trek, maar deesdae kan ons seker sê dat ons saam 'n Afrikaanse beraad sal reël in 'n tyd wat die hande ongelukkig redelik toe is vir Afrikaans...

    • Samevatting

      Aan die begin is vier vrae gestel oor die dekade wat verloop het en dit kan dalk net gou beantwoord word na aanleiding van die bespreking hier bo.

      • Wat het verander?
        Die taallandskap in SA het drasties verander en Afrikaans is nie meer een van twee amptelike tale nie, maar wel een van elf. Dit het onvermydelik 'n effek gehad op die status van Afrikaans in SA.
      • Waarom het dit verander?
        Die politieke klimaat het in sy geheel verander en die Afrikaanse gemeenskap het inderdaad in hierdie proses seer gekry. Daar was duidelike funksieverliese, maar tegelyk ook 'n paar winste (vgl. bv. Jackson 2003, Steyn 2001).
      • Hoe het dit verander?
        Die politieke klimaat het noodwendig Afrikaans status- en houdingsgewys geraak. Dit het ook die houdings van baie mense teenoor Afrikaans verander - negatief sowel as positief. Daarvoor is daar meer as genoeg bewyse in die briewekolomme van koerante en in internetgespreksforums (soos Litnet). Dit kom wel voor asof die klimaat nou wel meer positief begin word teenoor Afrikaans. Pres. Mbeki het in Maart 2004 tydens die onvangs van 'n eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch o.a. die volgende oor Afrikaans gesê: "Now that Afrikaans has been liberated from its narrow Afrikaner nasionalist straitjacket, Stellenbosch University must answer a important question - how can the university as an academic and educational institution, equip and motivate Afrikaners and other citizens with Afrikaans as their first language to be participants in the common journey towards the birth of a united but diverse nation." (Matieland 2004: 1, bl. 6.) Beslis 'n aanduiding van 'n belangrike houdingsverandering - dis so asof te kenne gegee word dat Afrikaans nou sy 'straf uitgedien het' en weer volwaardig deel kan word van die nuwe SA. Voeg hierby die sienings van twee briefskrywers oor Afrikaans in die Sunday Times van 2 November 2003: "It is time for South Africans to claim the language and rightly place it where it belongs: not as superior or inferior to any other" (Hoeane 2003) en "Let officialdom not make an endangered species of this language. Viva die taal!" (Moleko 2003).
      • Wat nou verder?
        In hierdie referaat is daar besondere klem gelê op een inisiatief vir Afrikaans - die 'nasionale strategie vir Afrikaans' wat gedryf word deur verskeie rolspelers in die Afrikaanse gemeenskap onder leiding van die NTLA. Ria Olivier (2004) wys in haar oorsig oor 'Afrikaans ná tien jaar van demokrasie' op die belang van 'die groter bewustheid omtrent die waarde van die eie taal naas die ander' in die land. "Mense moet daarvan bewus raak dat die boodskap van die beter lewe ook deur medium van die eie taal gedra kan word, in hierdie geval Afrikaans." Daar moet volgens haar sterk standpunt ingeneem word teen "enige vorm van taalbenadeling of eensydige imperiale bevoordeling van 'n enkele taal of 'n enkele groep taalgebruikers." Dis daarom belangrik dat Afrikaans ook bydra tot die lewensbevordering van sy sprekers en dat Afrikaans inderdaad 'n bemagtigende taal is.

      Dus: As 'n mens sou terugkyk oor tien jaar van demokrasie en oor Afrikaans se rol in hierdie tyd, sou 'n mens kon sê dat Afrikaans wel gely het onder historiese bagasie, maar dat dit voorkom asof daar nou nuwe energie vanuit die Afrikaanse gemeenskap loskom om Afrikaans as taal onder tale in SA stewig te vestig. Kom ons as Akademielede werk ywerig hieraan mee!

      Viva die taal!

      Dankie!

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Bronne

  • Alexander, N 1994. "Die toekoms van Afrikaans in 'n demokratiese Suid-Afrika", in: February, V (red.) 1994. Taal en Identiteit: Afrikaans en Nederlands. Kaapstad: Tafelberg. (bl. 18-28)
  • Altern, J 1993. "Hou op om Afrikaans te begrawe." Beeld, 27/04/1994, bl. 13.
  • Brand, G 2004a. "Op pad na 'n Afrikaanse forum." Plasingsdatum 26/04/2004. Beskikbaar op . Onttrek op 27/05/2004.
  • Brand, G 2004b. "From racial to linguistic capitalism." Plasingsdatum 04/03/2004. Beskikbaar op http://www.litnet.co.za/taaldebat/lingcap.asp. Onttrek op 27/05/2004.
  • Buys, F 2004. "Afrikaners moet hul toekoms help vorm." Rapport, 20/06/2004, bl. II (Perspektief).
  • Carstens, WAM 1994. "Om ou koeie uit die sloot te grawe: is daar lesse te leer uit die verlede? Enkele kantaantekeninge." Literator 15(2): 16-33.
  • Carstens, WAM 2003. "'n Afrikaanse taalinstituut - Ja of nee?" Teks van referaat tydens FAK se ope gespreksforum oor "'n Groter voetspoor vir Afrikaans", op 13/09/2003, Pretoria.
  • Combrink, JGH 1991. "Die toekomstige status en funksies van Afrikaans." Tydskrif vir Geesteswetenskappe 31(2): 101-112.
  • Du Plessis, H 1992. En nou, Afrikaans? Pretoria: JL van Schaik.
  • Du Plessis, H 1996. "Afrikaans: 'n toekomsperspektief." Aambeeld 24(1): 47-49. Junie 1996.
  • Du Plessis, H 2003. "Engels, Engels, alles Engels!" Die Taalgenoot, Februarie 2003: 58.
  • Du Plessis, H & LT du Plessis (reds.) 1987. Afrikaans en Taalpolitiek: 15 Opstelle. Pretoria: HAUM.
  • Giliomee, HB 2003. The Afrikaners. Biography of a People. Kaapstad: Tafelberg/University of Virginia Press.
  • Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001. Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.
  • Hoeane, T. 2003. "Let us reclaim Afrikaans." Sunday Times, 02/11/2003, bl. 19.
  • Jackson, N 2003. "Afrikaans se wins en verlies - Die taal se kleurryke gemeenskap is nog vol lewe." Beeld, 10/09/2003, bl. 10.
  • Klopper, R 2001. "Thumbs up for Afrikaans analysis." Mail & Guardian, 03/08/2001.
  • Moleko, M T. 2003. "Let us reclaim Afrikaans." Sunday Times, 02/11/2003, bl. 19.
  • NTLA 2003. Mediaverklaring deur die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans op 21 November 2003 - "'n Nasionale strategie vir Afrikaans in wording". Plasingsdatum 09/12/2004. Beskikbaar op http://www.litnet.co.za/taaldebat/nta.asp. Onttrek op 27/05/2004.
  • Olivier, A 2003a. "Skep 'n manier vir kinders, nuwe praters om Afrikaans te leer, sê taalmense. Plant nou, oes later." Beeld, 12/08/2003, bl. 11.
  • Olivier, A 2003b. "Taalinstituut vir Afrikaans kry wye steun." Beeld, 18/08/2003, bl. 9.
  • Olivier, A 2003c. "Afrikaans los kokon. Organisasies span saam om taal te bou en te bevorder." Beeld, 05/12/2003, bl. 17.
  • Olivier, A 2003d. "Praat uit een mond. Pansat vra roetekaart vir Afrikaans." Die Burger, 09/12/2003, bl. 17.
  • Olivier, A 2004. "Beraad gaan Afrikaans help." Beeld, 21/06/2004, bl. 4.
  • Olivier, R 2004. "Afrikaans ná tien jaar van demokrasie." Plasingsdatum 26/04/2004. Beskikbaar op http://www.litnet.co.za/taaldebat/olivier10.asp. Onttrek op 27/05/2004.
  • Pienaar, L 2004. "Die Soweto-onluste van 16 Junie 1976 en die gevolge daarvan vir Afrikaans", in: Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans - lewende taal van miljoene. Pretoria: JL van Schaik.
  • Prinsloo, KP & MCJ van Rensburg (reds.) 1984. Afrikaans: stand, taak, toekoms. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewery.
  • Raidt, EH 1989. "Ontwikkeling van vroeë Afrikaans", in: Botha, TJR e.a. (reds.) 1989. Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 96-125)
  • Raidt, EH 19913. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou.
  • Roup, J 2004. "Lost for words." Plasingsdatum 24/05/2004. Beskikbaar op http://www.litnet.co.za/seminarroom/jroup.asp . Onttrek op 27/05/2004.
  • Sadie, J 1996. "Die demografie van Afrikaans". Afrikaans Vandag 4(1): 6-7. Desember 1996.
  • Schlemmer, L. 2001. "Taaloorlewing en die glybaan van goeie gesindhede: 'n meningsopname en ontleding", in: Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001: 94-114.
  • Schmidt, M 2003. "The rediscovery of Afrikaans." Sunday Times, 26/10/2003.
  • Scholt, J du P 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.
  • Scholtz, L 2001. "Omvang van taalsterfte is totaal sonder weerga." Die Burger, 01/06/2002, bl. 10.
  • Smith, C. 2001. "Engels ander tale se grootste bedreiging." Beeld, 05/07/2001, bl. 15.
  • Steyn, JC. 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.
  • Steyn, JC 1992a. "Drie soorte dreigende funksieverliese vir Afrikaans." Tydskrif vir Geesteswetenskappe 32(2): 155-163. Junie 1992.
  • Steyn, JC 1992b. "Die behoud van Afrikaans as ampstaal", in: Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. (bl. 201-225)
  • Steyn, JC 1995a. Die taalstryd in die oorgangstyd. Gesindhede teenoor Afrikaans 1990-1994. Stilet, Supplement 1, April 1995.
  • Steyn, JC 1995b. "Afrikaans in 'n nuwe bedeling: terugslae, groei en reaksies op bedreigings." Tydskrif vir Geesteswetenskappe 35(4): 280-292.
  • Steyn, JC 1998. "Nuwe aktiwiteite rondom Afrikaans: die totstandkoming van 'n 'Afrikaanse Oorlegplatform'." Tydskrif vir Geesteswetenskappe 38(4): 253-264.
  • Steyn, JC 2000a. "Stryd moreel reg. 'Salami'-taktiek teen Afrikaans." Beeld, 25/04/2000, bl. 11.
  • Steyn, JC 2000b. "As jy op my liddoring trap, gaan ek jou slaat, vir ou goete ook". Beeld, 16/06/2000, bl. 11.
  • Steyn, JC 2001. "Afrikaans 2000: Nuwe suksesverhale en terugslae." Tydskrif vir Geesteswetenskappe 41(2): 118-132.
  • Truter, EJ & HJ Lubbe 2002. "Die polemiek in die oorgangstyd (1994-1996) rondom die taalbesluite van die SABC rakende Afrikaans." Tydskrif vir Geestes-wetenskappe 43(3): 197-214.
  • Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans - lewende taal van miljoene. Pretoria: JL van Schaik.
  • Van Rensburg, MCJ 1989b. "Oor die depolitisering van Afrikaans: vertrek-punte vir 'n gesprek. Tydskrif vir Letterkunde XXVII (2): 42-47. Mei 1989.
  • Van Rensburg, C (red.) 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: JL van Schaik Akademies.
  • Verhoef, MM 1996. "Politieke determinante in die hedendaagse gesprek oor Afrikaans." Literator 17(3): 29-44. November 1996.
  • Verhoef, MM 1997. "Die transformasie van Afrikaans - die afgelope dekade se mediadebat in oënskou." Literator 18(1): 1-20.
  • Verhoef, MM 1998. "Funksionele meertaligheid in Suid-Afrika: 'n onbereik-bare ideaal?" Literator 19(1): 35-50.
  • Verhoef, MM 1999. "Die mites oor Afrikaans: 'n inleidende beskouing oor die persepsie van Afrikaans as onderdrukkerstaal." Literator 20(2): 123-135.
  • Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: JL van Schaik.
  • Webb, VN 1997. "Afrikaans in een democratiserend Zuid-Afrika." Ons Erfdeel 40(2): 225-236.
  • Webb, V 2001. "Die bevordering van Afrikaans", in: Carstens, A & H Grebe (reds.) 2001. Taallandskap. Huldigingsbundel vir Christo Verhoef. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 164-178)
  • Webb, VN; R Dirven & E Koch 1992. "Afrikaans: feite en interpretasies", in: Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 25-67)
  • Zietsman, PH 1992. Die taal is gans die volk. Pretoria: UNISA.
  • Zietsman, PH 2003. "Taalinstituut kan 'n belangrike rol speel." Rapport, 24/08/2003, bl. 21.



    LitNet: 30 Junie 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.