Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kommentaar van die Vriende van Afrikaans op die konseptaalbeleid en -plan van die Universiteit van Stellenbosch

Graag lewer die ondergetekende op versoek van en namens die Vriende van Afrikaans (VVA) die volgende kommentaar op die Konseptaalbeleid en -plan van die Universiteit van Stellenbosch, wat so pas vrygestel is.

1. Afskaling van Afrikaanse karakter van US

Die VVA wil sy teleurstelling uitspreek oor ’n plan wat tot ’n groot mate nie alleen die status quo wil institusionaliseer nie, maar inderdaad die posisie van Afrikaans ernstig sal afskaal aan die US. In plaas daarvan dat die US voortaan geprojekteer sal word as ’n Afrikaanse universiteit wat meertaligheid toepas, stel die beleid ’n radikale afwyking voor: dat die US voortaan ’n meertalige universiteit sal wees waarin Afrikaans geakkommodeer word. Die US verloor met die konseptaalbeleid en -plan sy Afrikaanstalige karakter wat oor ’n eeu heen gebou is en trouens die vernaamste rede vir die stigting van die US was.

Hierdeur word die plek van Afrikaans afgeskaal en verswak, terwyl Engels se posisie terselfdertyd aansienlik versterk en geÔnstitusionaliseer word. Afrikaans is die verloorder in die konseptaalbeleid, en Engels tree as oorwinnaar na vore. Vir alle praktiese doeleindes word die US se status as histories Afrikaanse universiteit hiermee beŽindig, ten spyte van onoortuigende stellings dat die US juis deur die konseptaalbeleid en -plan Afrikaans wil koester en bevorder.

2. Versterking van Engels

Die kruipende indringing van Engels op die kampus word aansienlik versterk deur die konseptaalbeleid. Dit word oa gedoen deur

  1. die nie-eksklusiewe gebruik van Afrikaans as onderrigtaal op voorgraadse vlak, wat ’n glybaan is na Engels-oorheersing, met die institusionalisering van sowel dubbelmedium-onderrig (die sogenaamde T-module) as parallelmedium-onderrig (die sogenaamde A&E-module) as opsies;

  2. die afskaling van Afrikaans as voertaal op nagraadse vlak met die bepaling dat “op nagraadse vlak is die E-taalspesifikasie (met Engels as die primÍre taal van kommunikasie) ’n algemene opsie” en “Engels is die primÍre taal op nagraadse vlak en in navorsing”;

  3. die afskaling van Afrikaans as interne-kommunikasietaal, waar dit vaagweg as “primÍre interne kommunikasietaal” beskryf word, en die beleidstelling: “Engels is naas Afrikaans ’n interne kommunikasietaal van die US”.

3. Afrikaans as ankertaal verdwyn

Die Oorlegplatform het voorgestel dat die US Afrikaans as ankertaalaanvaar; hierdie voorstelle is deur die VVA ondersteun. Met die konseptaalplan word Afrikaans se de facto-status as ankertaal verwerp.

Waar die huidige taalbeleid eksplisiet verklaar: “Die voertaal aan die Universiteit van Stellenbosch is Afrikaans”, word hierdie bepaling deur die konseptaalbeleid geskrap en vervang deur ’n vae stelling dat “die primÍre kommunikasietaal van die Universiteit Afrikaans (is)” en “Engels is naas Afrikaans ’n interne kommunikasietaal van die US”.

4. Volhoubare ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal in gedrang

Die Engels-eentalige oorheersing op nagraadse vlak is veral kommerwekkend aangesien dit ernstige gevolge inhou vir die handhawing en uitbou van Afrikaans as volwaardige akademiese taal. Vaktaal word ontwikkel op die terrein waar nuwe kennis ontdek en geskep word, dws op nagraadse vlak en in navorsingswerk. Die voorgestelde kosmetiese “inisiatiewe” om die US “se verbintenis tot die voortgesette bevordering van Afrikaans as akademiese taal”, wat sekere voorgestelde aksies “kan” insluit, te ondersteun, is geheel en al onvoldoende. Dieselfde geld ten opsigte van die lippetaal wat gebesig word ten opsigte van die ontwikkeling van isiXhosa, wat die US - aldus die taalbeleid - “nie as sy primÍre verantwoordelikheid” sien nie. Met die voorgestelde taalbeleid op nagraadse vlak en in navorsingswerk is die dood in die pot vir Afrikaans as akademiese taal en kry sy volhoubare ontwikkeling as akademiese taal die kus van die dood.

5. Vaagheid van konseptaalbeleid en -plan

Sommiges beweer dat die bestaande taalbeleid vaag is wanneer verwys word na terme soos “taalvriendelik” en “Afrikaans as uitgangspunt”; daarteenoor is die voorgestelde konseptaalbeleid en -plan aansienlik meer vaag met die gebruik van ongedefinieerde terme wat voorkom in stellings soos:

  • primÍre mondelinge kommunikasietaal van doserende personeel in klasse op voorgraadse vlak, asook van sommige programme op nagraadse vlak”;

  • primÍre interne kommunikasietaal”;

  • “in voorgraadse studie het die modules van akademiese programme dus in die algemeen die A-module-taalspesifikasie”.

    Wat word bedoel met “primÍre”, “sommige”, “in die algemeen”, ens? Op skoolvlak, byvoorbeeld, is ’n primÍre skool se posisie tov ’n sekondÍre skool s’n duidelik; geld dieselfde indien die konseptaalbeleid impliseer dat Engels die sekondÍre taal aan US sal wees?

    Die ervaring aan ander HOI’s het bewys dat dubbelmediumonderrig (die sogenaamde T-module) ’n eenrigtingverkeer na Engels-oorheersing beteken. As studente genoeg Afrikaans verstaan om dubbelmediumklasse te kan volg en die Afrikaanse helfte daarvan te verstaan, kan hulle sonder probleme die ander helfte ůůk in Afrikaans volg en kan die onderrig in elk geval volledig in Afrikaans geskied. Die T-module moet summier afgeskaf word as moontlike alternatief.

    6. Afwesigheid van implementeringsvoorskrifte en -kriteria

    Die vae beleidstellings word verder bemoeilik deur die totale afwesigheid van duidelike en ondubbelsinnige implementeringsvoorskrifte, wat een van die ernstigste tekortkominge van die konseptaalbeleid en -plan is. Wie, byvoorbeeld, bepaal welke van die sogenaamde A-, A&E- of T-modules op voorgraadse vlak van toepassing sal wees, en onder watter omstandighede? Kan ’n Afrikaanstalige voornemende student nog na die US toe kom in die verwagting om in Afrikaans onderrig te ontvang? Het ’n Afrikaanssprekende student die reg om te eis dat sy/haar kursus in Afrikaans aan hom/haar aangebied sal word? Word dit aan “programkoŲrdineerders” oorgelaat wat volgens die Taalplan “die taalspesifikasie van modules in programme binne en tussen fakulteite koŲrdineer” en, belangriker, bepaal? Bepaal hulle hoedanig “nie alle modules in ’n program (hoef) noodwendig ’n eenvormige taalspesifikasie (...) te hÍ nie”?

    Die lang en ingewikkelde konseptaalplan bestaan hoofsaaklik uit omslagtige tegniese definisies en voorskrifte (watter taal op watter bladsy van klasnotas, toets- en eksamenvraestelle, ens verskyn) sonder enige implementeringsvoorskrifte. By die totale afwesigheid van sodanige voorskrifte en duidelike kriteria is dit geheel en al onduidelik wie, of watter liggaam, besluitnemingsbevoegdhede het vir die uitvoering van die voorgestelde taalbeleid en -plan op grondvlak. ’n Lang en omslagtige beleidsdokument (soos wat die konseptaalbeleid en -plan inderdaad is) is geen waarborg dat dit ’n goeie beleid sal wees nie.

    7. Paternalisme, uitnemendheid en akademiese standaarde

    Met ’n paternalistiese benadering dat

  • studente “bemagtig (word) om meer as een taal akademies goed te kan beheers”;

  • “Voorgraadse studente se akademiese geletterdheid in Engels (...) stelselmatig ontwikkel (word)”; en

  • “’n praktyk van taalgebruik van Afrikaans en Engels in onderrig- en leerkontekste op ’n beplande, georganiseerde en sistematiese wyse (gevolg sal word) (...) ten einde effektiewe leer en onderrig deur alle studente maksimaal te bewerkstellig”,

    word beweer dat juis laasgenoemde “die strewe na uitnemendheid bevestig”. Uitnemendheid volg deur die handhawing van hoŽ akademiese standaarde, nie deur ’n potjiekos-benadering van taalgemengde vakmodules nie. Trouens, die handhawing van akademiese standaarde word nÍrens in ůf die konseptaalbeleid ůf die konseptaalplan genoem nie.

    Dit kom voor asof die US die enigste Suid-Afrikaanse universiteit sal wees wat hom ten doel stel om Afrikaanstalige studente se vermoŽns om hulself in Engels uit te druk, te ontwikkel deur hulle (ten minste ten dele) in Engels te onderrig. Die Engels-eentalige universiteite het, vreemd genoeg, nie so ’n behoefte om meertaligheid te bevorder nie, en word daarvoor nie verkwalik nie. Mens sou kon dink aan vele ander vaardighede wat ook deur die US in sy studente ontwikkel kon word.

    8. Koste van die voorgestelde taalbeleid

    Die konseptaalplan en -beleid maak geen melding van die aansienlike addisionele koste en werk wat deur die implementering van die plan veroorsaak sal word nie. Die vernaamste koste is die verpligte duplisering van klasnotas in ’n tweede taal wanneer die A-module- en T-module-benadering gevolg word. Dit val op dat, met die E-module (Engels-eentalig), geen soortgelyke verpligting op die dosent geplaas word om klasnotas ook in Afrikaans te voorsien nie. Hierdie diskriminerende voorskrif word nie gemotiveer nie.

    Die aansienlike toename in die las van dosente sal sonder enige twyfel ernstige addisionele aansprake op hul beskikbare tyd maak, met ’n gevolglike nadelige effek op veral navorsingsuitsette. Dit sal die strewe na uitnemendheid aan die US kniehalter. Uit mismoedigheid sal dosente inderdaad daarna strewe om maar liewers na die E-module-model oor te skakel, en druk uitoefen om diť model ook op voorgraadse vlak te implementeer.

    9. Voorstelle

    Die VVA volstaan met die voorstelle van die Afrikaanse Oorlegplatform, wat hy volmondig ondersteun het, en bepaald oa die volgende:

  • Verklaar Afrikaans as ankertaal aan die US.

  • Alle voorgraadse modules word verpligtend in Afrikaans aangebied.

  • Waar ekonomies geregverdig kan Engels as onderrigtaal in eerstejaarsmodules in parallelmediumklasse gebruik word.

  • Voorsien toets- en eksamenvraestelle in sowel Afrikaans as Engels, en laat studente toe om toets- en eksamenantwoorde in sowel Afrikaans as Engels in te gee.

  • Bemark die US aktief as Afrikaanstalige universiteit aan voornemende voorgraadse studente; lig voornemende voorgraadse studente wat nie Afrikaans magtig is nie, in dat van hulle verwag sal word om ’n voldoende gebruikskennis van Afrikaans tydens die eerste jaar van studie op te doen ten einde voorlesings vanaf die tweede studiejaar in Afrikaans te kan volg.

  • Voorsien omvattende ondersteuningsfasiliteite om nie-Afrikaanstalige studente toe te rus om akademiese Afrikaans te kan volg.

  • Vereis van dosente wat nie Afrikaans magtig is nie, om binne twee jaar na aanstelling oor voldoende kennis van akademiese Afrikaans te beskik om daarin te kan klasgee.

    10. Ten slotte

    Beweringe in die pers dat die behoud van Afrikaans as ankertaal aan die US gebaseer is op “blatante historiese taal- en kultuurimperialistiese, nasionalistiese en rassediskriminerende ondertone” word met minagting verwerp. Dieselfde geld tov beweringe dat eksklusiewe voorgraadse onderrig in Afrikaans “persepsies versterk dat studente op grond van politieke of rassevooroordele doelbewus uitgesluit word van toegang tot tersiÍre onderrig”. (Laasgenoemde geld eweneens vir onderrig aan Engels-eentalige universiteite.)

    Die Universiteit van Stellenbosch het ’n unieke geleentheid om, deur middel van Afrikaans, die wÍreld van kennis te ontsluit vir almal wat die begeerte het en oor die vermoŽns beskik om aan diť unieke inrigting te studeer. Dit is jammer dat die konseptaalbeleid en -plan die geleentheid laat verby gaan het om met sinvolle en vindingryke voorstelle vorendag te kom om juis dŪt moontlik te maak.

    HC Viljoen
    Namens: Vriende van Afrikaans
    2002-10-02

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.