Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

PERSVERKLARING

Taalwetgewing

  • Die Taalsekretariaat
  • Doelstelling
  • Die beoogde taalwet wat uitvoering gee aan die aanbevelings van ’n paneel van kundiges, is heel waarskynlik ongrondwetlik, daar is ’n oorvleueling met die PANSAT-wetgewing, dit is regstegnies onduidelik, administratief onuitvoerbaar en kan nie die magte van PANSAT uitbrei soos dit beoog om te doen nie. Die status en aansien van Afrikaans en die swart inheemse tale word deur die beoogde wetgewing verder ingekort. Dit is die mening van mnr. André van der Walt, uitvoerende hoof van Die Taalsekretariaat, Stellenbosch.

    Die beoogde taalwet probeer om op ’n rotasiebasis van tale, ’n taalbeleid vir elke staatsorgaan daar te stel sodat elke staatsorgaan ten minste vier tale moet gebruik uit kategorieë wat in die wet voorgestel word. Afrikaans word byvoorbeeld saam met Engels gegroepeer, wat in die praktyk kan beteken dat Afrikaans op die rotasiebeginsel byvoorbeeld nooit die status sal bereik van geskrewe taal met die publiek, soos in artikel 7 van die wetgewing beoog nie. Die wetgewing stel ook voor hoe die taalbeleid hanteer moet word in mondelinge en geskrewe situasies tussen departemente, en tussen departemente en die publiek. Volgens mnr. Van der Walt is die kern van die taalwet die groepering van tale wat volgens ’n rotasiebasis moet plaasvind. Volgens die regsmening van ’n senior advokaat is die kernbepaling heel waarskynlik ongrondwetlik, want dit skryf ’n ander basis van die gebruik van die amptelike tale voor as wat in die Grondwet bepaal word.

    Volgens mnr. Van der Walt is een van die groot probleme van die wetgewing dat dit ’n klousule bevat dat iemand (die wetgewing definieer nie wie nie, vermoedelik ’n direkteur-generaal van ’n departement) in “belang van effektiewe regering en kommunikasie”, ’n alternatiewe beleid kan toepas, anders as wat deur die wetgewing voorgeskryf is. Daar bestaan geen twyfel nie dat die bepaling in die wet die praktyk van kommunikasie sal word, want die ander bepalings is administratief lomp en onuitvoerbaar. Die klousule word dan ’n wetlike deurgang om Engels te verhef as die lingua franca van alle staatsorgane, ten koste van Afrikaans en die swart inheemse tale van Suid-Afrika. In die praktyk sal dit beteken dat die status van die swart inheemse tale van Suid-Afrika ingekort en hulle aansien verminder word. Dit is direk strydig met wat die Grondwet beoog met die taalstatus van die inheemse swart tale.

    Die wetgewing poog ook om die magte van PANSAT uit te brei. Volgens mnr. Van der Walt is dit nie duidelik waarom die bepaling van die voorgestelde wet nie in die PANSAT-wetgewing opgeneem kan word nie. As die doelstellings van die voorgestelde wetgewing met dié van die PANSAT-wetgewing vergelyk word, is dit nie duidelik waarom daar twee afsonderlike wette moet wees nie. Die probleem is verder dat die magte wat in die voorgestelde wet veronderstel is om aan PANSAT tande te gee, totaal onvoldoende is om die taalbepalings in die Grondwet af te dwing. Oortreders van die taalregte soos in die Grondwet geskep, kom nou skotvry juis omdat daar geen strafbepalings in enige wet is om die oortreders vas te vat en te beboet nie. In die praktyk beteken dit dat die taalregte soos deur die Grondwet gewaarborg, eenvoudig nie werk nie. Trouens, bestaande wetgewing ondermyn die status van PANSAT omdat laasgenoemde se aanbevelings nie bindend is nie. Die voorgestelde wetgewing verbeter die situasie geensins nie. Die ironie van die saak is dat die gebrek aan magte vir PANSAT nie net Afrikaans nadelig tref nie, maar ook al die swart inheemse tale. Die aansien van PANSAT is volgens mnr. Van der Walt een van die belangrikste sake in die Suid-Afrikaanse taalopset, juis omdat PANSAT veral gemoeid is met die ontwikkeling en gebruik van alle amptelike tale, meer spesifiek die swart inheemse tale.

    Volgens mnr. Van der Walt moet die huidige konsepwet geskrap en ’n nuwe wet opgestel word, wat op ’n deursigtige wyse en wye openbare deelname, uitdrukking kan gee aan die taalnorme soos deur die Grondwet gestel. Die Taalsekretariaat beoog om saam met ander nie-regeringsorganisasies van inheemse swart tale, die saak van taalspesifieke wetgewing verder met die Departement Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie te bespreek. So ’n afvaardiging sal sekere beginselvoorstelle waaraan die wetgewing moet voldoen, met die minister bespreek.

    André van der Walt
    28 Junie 2000


    PERSVERKLARING

    Taalregte en PANSAT in perspektief

  • Die Taalsekretariaat
  • Doelstelling
  • Die erkenning van taalregte is een van die basiese hoekstene van ’n demokrasie. Trouens, om jou vir taalregte te beywer, is juis ’n poging om die demokrasie te verbreed en te verdiep. Die geskiedenis het getoon dat die miskenning van taalregte tot konflik, wrywing en selfs bittere stryd aanleiding gee. Die potensiaal vir konflik rondom taalregte in Suid-Afrika is soveel groter omdat ons die meeste amptelike tale van alle lande ter wêreld het. Trouens, taal was een van die deurslaggewendste faktore wat die apartheidsideologie reeds in 1976 laat begin verbrokkel het.

    Die konflikpotensiaal van taal en die miskenning van taalregte moet nooit onderskat word nie. Dit is juis daarom dat ons grondwetskrywers sekere taalnorme in die Grondwet ingeskryf het om seker te maak dat die taalkwessie nie in die weg sal staan om ’n verenigde Suid-Afrikaanse gemeenskap te bou nie. Die wyse waarop die taaltafel in Suid-Afrika gedek moet word, word in artikel 6 van die Grondwet uitgespel. Die Grondwet bepaal dat daar elf amptelike tale is, dat die swart inheemse tale se status en gebruik bevorder moet word, en dat die staat in sy kommunikasie met die publiek ten minste twee van die amptelike tale moet gebruik. Watter twee, of meer tale dit sal wees, sal afhang van faktore soos doenlikheid, koste, streeksomstandighede en voorkeur van die bevolking in die streek wat bedien moet word. Munisipaliteite is nie aan die norme van twee tale gebind nie. Hulle moet net die taalvoorkeure en -gebruike van hulle inwoners in ag neem. By die toepassing van die taalregaansprake volgens die Grondwet, moet die reg op gelykheid (artikel 9), die reg op menswaardigheid (artikel 10), en die reg op gelykheid voor die reg (artikel 35) in ag geneem word.

    Wat hier belangrik is, is om te onthou dat elke Suid-Afrikaner taalregte het. By gebrek aan spesifieke taalwetgewing wat spesifieke tale vir regeringskommunikasie voorskryf, kan elke Afrikaansprater ten minste wat kommunikasie met die staatsdepartemente en semi-staatsdepartemente betref, aandring op die taal van sy keuse. Die reg is gesetel in die Grondwet wat bepaal dat alle amptelike tale gelykheid van aansien sal geniet, en billik behandel moet word. Dit is dus ongrondwetlik vir ’n staatsdepartement of munisipaliteit om te verklaar dat hy net in een taal, naamlik Engels sal kommunikeer. Dit is grondwetlik vir Afrikaanspraters om op kommunikasie met die staat in Afrikaans aan te dring. Dit is hulle reg. As Afrikaanspraters dit nie doen nie en die maklike uitweg kies deur maar net met Engels in te val, dra ons nie daartoe by om die Grondwet te benut nie. Volgens prof. E.F.J. Malherbe van RAU kan taalreg nooit anders vertolk word nie as ’n erkenning en bevestiging van ons verskeidenheid, spesifiek ons veeltaligheid, en ’n strewe om aan al ons mense erkenning te gee en ons veeltaligheid te bevorder. Artikel 6 van die Grondwet is ’n erkenning van een van die hoogste waardes in die Grondwet, naamlik die menswaardigheid van elke Suid-Afrikaner. Dus, Afrikaansprater praat Afrikaans, dit is jou reg. As die staat of semi-staatsinstellings jou nie as Afrikaansprater erken nie, word jou menswaardigheid aangetas. Wat vir die Afrikaansprater geld, geld natuurlik ook vir die Xhosa of spreker van enige swart inheemse taal, as so ’n persoon met die staat sake doen.

    Die regering kan natuurlik nie wetgewing maak wat die taalgebruik in die private sektor voorskryf nie. Verbruikersentiment en die taalvoorkeure van die verbruiker is die enigste metode om die privaatsektor te dwing om die meertalige karakter van die verbruiker te erken. Die mobilisering van verbruikersentiment kan in ’n opvolgartikel bespreek word.

    Die vraag kan met reg gevra word: As die Grondwet taalregte waarborg, waarom word Afrikaans in die openbare sektor geminag? Hoe is dit moontlik dat korrespondensie en kommunikasie eentalig Engels is? Deel van die antwoord is wat dr. Essack in ’n vorige artikel die slapgatgeit van Afrikaanspraters genoem het om aan te dring om Afrikaans te praat. Dit is ook ’n feit dat daar ’n toenemende irritasie by ’n groot aantal Afrikaanspraters oplaai omdat Afrikaans deur staatsorgane en munisipaliteite misken word. Beleefde buigings deur politici in die rigting van die erkenning van die Afrikaans as taal en die Afrikaanse gemeenskap is nie genoeg nie. Die regering sal moet kennis neem dat die koste wat meertaligheid in alle staatsorgane verg, ’n baie klein prys is om te betaal vir geïrriteerdheid by wit en swart inheemse taalsprekers wat tot irrasionele optrede aanleiding kan gee.

    Die groot probleem is egter dat PANSAT wat deur die Grondwet ingestel is en veronderstel is om die taalregte te monitor, net nie by magte is om dit te doen nie. Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad is volgens die Grondwet by nasionale wetgewing eintlik ingestel om die ontwikkeling en gebruik van die amptelike landstale te bevorder en omstandighede vir die groei van die tale te skep. PANSAT se taak is ook om wedersydse respek vir die tale onderling te bevorder. Die wetgewing wat PANSAT magte gee om taalregskendings te ondersoek, is om dit eenvoudig te stel pateties. PANSAT-besluite het geen regskrag nie en is nie bindend op die skuldige party nie. Daar word nie in die wetgewing bepaal watter tipe bevele n hof kan uitreik nie. ’n Mens vra jouself af watter sin ’n bepaling in die wet het dat ’n aangeleentheid terugverwys kan word na die staatsorgaan wat in die eerste instansie die oortreding begaan het én die bevinding van PANSAT geïgnoreer het. Die uiteinde van die saak is dat taalregte in die Grondwet geskep word, maar dat daar geen magte bestaan om ’n skending van die regte af te dwing nie.

    Die toedrag van sake moet vierkantig voor die deur van die regering en opposisie-politici gelê word. Dit is die wetgewers wat per slot van sake die regte deur die Grondwet geskep, moet beskerm. Daar word selfs deur opposisie-politici gewag gemaak van die feit dat PANSAT moet ontbind. Wat ’n belaglike stelling. PANSAT is ’n grondwetlike instelling, met ander woorde om die liggaam te ontbind moet die Grondwet verander word — en ek hoop nie een van u geëerde lesers dink in dié rigting nie. As aan die Grondwet getorring word, kan daar dalk ander goggas ook te voorskyn kom. Daarbenewens moet die brose strukture vir taalbevordering en taalontwikkeling vir alle tale, met ander woorde vir Afrikaans én die swart inheemse tale, versterk en nie afgebreek word nie.

    Die oplossing moet gesoek word in die rasionalisering van die verskillende wetgewende maatreëls. PANSAT moet ’n taalontwikkelings- en taalbevorderingsliggaam bly, die regering moet sy plig doen soos deur die Grondwet aan hom opgedra en taalwetgewing op die wetboek plaas ná ’n proses van openbare deelname en deursigtigheid wat uitvoering gee aan die taalregte van elke Suid-Afrikaner. Verder moet die regering sorg dat die regte effektief afgedwing kan word en strafmaatreëls skep vir die skending van taalregte. Daar moet ernstig besin word of daar nog ruimte en ’n behoefte is vir die beoogde Kommissie ter Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe soos wat nou beoog word. Dit lyk vir my tog na ’n “overkill” op kulturele gebied. Ons het dan nou nog nie eens wetgewing wat ons taalregte beskerm nie!

    André van der Walt
    26 Junie 2000

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.