Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kies vir jou ’n taal: Engels, liberale ideologie en rassisme

Desmond Painter


Deel 1: Agtergrond


A. Inleiding

In hierdie driedelige artikel eksploreer ek die retoriese en ideologiese interaksie tussen alledaagse liberale konsepsies oor taal en veeltaligheid en wat ek, in navolging van Slavoj Zizek (2000), “refleksiewe” rassisme sal noem. Zizek gee ’n nuttige definisie hiervan in ’n bespreking van die liberale Westerse fassinasie, veral in die vroeŽ 1990’s, met etniese geweld en volksmoord in die Balkan:

Dan is daar “refleksiewe” Polities Korrekte rassisme: die multikulturele persepsie van die Balkan as die terrein van etniese verskrikking en onverdraagsaamheid, van primitiewe irrasionele strydende passies, gestel teenoor die post-nasiestaat liberaal-demokratiese proses van probleemoplossing deur rasionele onderhandeling, kompromie en wedersydse respek. Hier word rassisme as ‘t ware tot die tweede mag verhef: dit word toegeskryf aan die Ander, terwyl ons die gemaklike posisie van ’n neutrale, goedgesinde waarnemer inneem ... (Zizek 2000:9, my vertaling).

My fokus, soos reeds gesuggereer, is nie op formele filosofiese en polities-teoretiese argumente nie, maar wel op die alledaagse gesprekke van ’n groep leerders aan ’n veelrassige sekondÍre skool in die Oos-Kaap. Ek voer aan dat ’n “liberale” beklemtoning van individuele regte, en veral die reg om te kan kies, deur die deelnemers in my studie gebruik is om die dominansie van Engels in die publieke ruimte waaroor hulle praat, hulle skool, te naturaliseer, en dat hierdie genaturaliseerde posisie saamhang met ’n konstruksie van die taal as neutraal ten opsigte van etnisiteit en ras. (Ek gaan nie in hierdie artikel in op klaskonstruksies rondom taal nie, maar sal dit wel in ’n volgende artikel bespreek.)

Deur ander tale (nie die apolitiese Engels nie) en ras verder retories te verbind is veeltaligheid deur veral Engelssprekendes, maar ook deur Afrikaans- en isiXhosasprekendes, telkens as ’n onoorkomelike probleem voorgestel - omdat dit inbreuk maak op die reg op vrye keuse en, belangriker, omdat dit “misverstand” en uiteindelik “rassisme” veroorsaak. Die deelnemers in my studie, hierdie “alledaagse politieke filosowe”, kry dit dus reg om die liberale waarde van vrye keuse te onderskryf selfs wanneer hulle slegs Engels voorstaan as openbare taal. Die reg om ’n ander taal te kies word hierdeur verplaas na private ruimtes - die huis en die gesin - ten gunste van ’n inklusiewe en neutrale publieke ruimte wat vry sal wees van misverstand en rassisme.

Wat ons hier het, is natuurlik ’n baie basiese penskets van die klassieke liberale benadering tot die politiek; wat ek in my artikel probeer doen, is bloot om te illustreer hoe hierdie beginsels uitgespeel word op die vlak van alledaagse politieke argumente.

In Deel 1 van die artikel skets ek kortliks die konteks van die studie waarop hierdie artikel gegrond is, sowel as die analitiese benadering wat ek gevolg het. In Dele 2 en 3 analiseer ek die argumente van my deelnemers oor taal en veeltaligheid in hulle skool en in Suid-Afrika in meer besonderhede.


B. Metode

  • Konteks
    Die studie waarop ek hierdie artikel baseer, is in 2001 by ’n stedelike hoŽrskool in die Oos-Kaap uitgevoer. Die meerderheid leerders het in daardie stadium van die omliggende tradisioneel wit, werkersklas-woonbuurt gekom. Hulle was Engels- en Afrikaanssprekend, met eersgenoemde in die meerderheid. Die skool was offisieel tweetalig, selfs al was Engels heelwat beter verteenwoordig in die onderrigsituasie en die daaglikse administrasie en bestuur van die skool as Afrikaans.

    Sedert die middel 1990’s het die aantal swart, meestal isiXhosasprekende leerders in die skool begin toeneem, alhoewel hulle ten tye van die studie steeds verreweg in die minderheid was. Die teenwoordigheid van isiXhosasprekende leerders het op daardie stadium geen invloed gehad op die status quo rondom taal in die skool nie. Ten spyte daarvan dat isiXhosa as ’n derde taal aangebied is, het die taal geen rol in die daaglikse administrasie en publieke bedrywighede van die skool gespeel nie. Trouens, leerders is op verskillende maniere, en in die naam van “dissipline”, aktief daarvan weerhou om isiXhosa hoegenaamd tydens die skooldag te praat.

  • Deelnemers en prosedure
    Die data waarop my analise gebaseer is, bestaan uit drie groepbesprekings met Graad 12-leerders: een elk onderskeidelik met groepe Afrikaans- en Engelssprekers en een met ’n gemengde groep Afrikaans- en Engelssprekendes. Gesprekke met isiXhosasprekende leerders het belangrike ander temas opgelewer, en word dus in ’n opvolgartikel bespreek.

    Deelname aan die groepbesprekings was ten volle vrywillig, en om hierdie rede het ek nie in die keuse van deelnemers gekontroleer vir geslag en ras nie. Ten spyte hiervan het die twee “eentalige” groepe uit twee manlike en twee vroulike deelnemers elk bestaan, terwyl die gemengde groep bestaan het uit drie manlike en een vroulike deelnemer. Al die deelnemers aan die Engelse groepbespreking was wit, terwyl daar in die Afrikaanse groep een bruin vroulike deelnemer en in die gemengde groep twee bruin, Engelssprekende manlike deelnemers was.

    Om die groepe toe te laat om in die taal van hulle keuse te praat was geen onderhoudvoerder teenwoordig tydens die gesprekke nie. Elke groep is van ’n lys vrae en onderwerpe voorsien en gevra om dit op hulle eie tyd en in enige volgorde te beantwoord en te bespreek. Alhoewel geen groepleiers aangewys is nie, het iemand in die meeste gevalle die leiding geneem in die voorlees van vrae en onderwerpe, in die parafrasering en herhaling van vrae, en ook om die gesprek op koers te hou. Hierdie gesprekke is op band opgeneem, met die toestemming van die deelnemers, en later volledig getranskribeer (sien Transkripsiekonvensies aan die einde van Deel 3). Om anonimiteit en vertroulikheid te verseker is aan elke deelnemer ’n skuilnaam toegeken.

    Dit is noemenswaardig dat die gesprekke in die Afrikaanse en isiXhosa-groepe grootliks in Engels gevoer is. Die rede hiervoor kan wees dat die geskrewe vrae en onderwerpe wat aan hulle verskaf is, in Engels geskryf was, of dat hulle aangeneem het dat die navorsers Engels was - my navorsingsassistent, wat in hierdie tyd by die betrokke skool gewerk het en die deelnemers gewerf het, is Engelssprekend, en die leerders was bewus dat die projek met die Rhodes Universiteit geaffilieer was. Wat die rede ook is, dit spreek reeds boekdele oor die bykans onbevraagtekende status wat Engels by hierdie leerders het as ’n taal van algemene omgang.

  • Analitiese benadering
    Analities was ek geÔnteresseerd in hoe leerders van verskillende taalagtergronde sin maak van taaldiversiteit in hulle skool en in Suid-Afrika in die algemeen. Ten einde hulle teorieŽ en representasies van taaldiversiteit en verskillende tale krities in breŽr diskoerse te situeer (of anders gestel: ten einde die ideologiese effekte van hulle argumente en opinies te ondersoek), volg my analise die retories-ideologiese benadering van die sosiale sielkundige Michael Billig (1987, 1991). Hierdie benadering laat analise op verskillende vlakke toe:

    die retoriese analise van spesifieke argumente en strategieŽ van legitimering in gesprekke;

    die inhoudelike analise van gedeelde betekenisse, beelde of diskoerse waarop sprekers hulle beroep;

    en by wyse van ’n fokus op ideologie en “ideologiese dilemmas” (Billig et al, 1988):

    3. ’n kritiese analise van die politieke effekte van hierdie diskoerse - met ander woorde, wie word bevoordeel/benadeel, ingesluit/uitgesluit, ens, deur hierdie maniere van praat.


    C. Analise en bespreking

    Volgens Wetherell en Potter (1992:189) is

    om iets as gedwonge te beskryf, in terme van die liberale diskoers van vryheid en menseregte, om dit negatief te definieer (my vertaling).

    In my data het dwang en die teendeel daarvan, vryheid van keuse, ’n belangrike rol gespeel in die propagering van ’n status quo waarin Engels ’n bykans hegemoniese posisie het - of ten minste behoort te verkry. Hierdie soort argument skep natuurlik ’n teenstrydigheid, of wat Billig en sy kollegas (Billig et al 1988) ’n ideologiese dilemma noem. Dit is ’n dilemma wat dikwels teengekom word in subtiele rassismes: mense gebruik liberale idees op maniere wat hulle klaarblyklik vrykoop van aanklagte van rassisme, maar argumenteer dan voorts vir posisies wat ’n rassistiese status quo implisiet onderskryf.

    In Wetherell en Potter (1992) se studie oor rassistiese diskoerse in Nieu-Seeland het deelnemers hierdie soort dilemma opgelos deur verskillende “praktiese probleme” te opper as kwalifikasie by hulle aanvanklike ondersteuning van liberale politieke waardes en agendas. Die deelnemers in my studie het egter ’n ander benadering gevolg, naamlik om Engels, klaarblyklik heel natuurlik, voor te stel as ’n taal van rasionele keuse. Dit het hule grootliks reggekry deur Engels as universeel te konstrueer - en hiermee geassosieer: neutraal, verenigend, en (polities en ekonomies) noodsaaklik.

    In Dele 2 en 3 van die artikel bespreek ek hierdie konstruksies, sowel as hulle retoriese onderbou en hulle politieke en ideologiese effekte, aan die hand van enkele belangrike uittreksels uit my deelnemers se gesprekke.

    Deel 2: Voorkeurtale

    28 November 2003

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.