Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

DIE OORLEGPLATFORM
Dennerand 5
Stellenbosch 7600
Tel 8832964
12 Oktober 2002

Die Taaltaakspan (Prof L de Stadler)
Taalsentrum
Crozierstraat 24
US


Beste prof De Stadler

Hiermee ’n voorlegging as reaksie op die konsepplan en -beleid soos voorgestel deur die komitee onder u voorsitterskap.

Die uwe

Hermann Giliomee


Die volgende persone vereenselwig hulle met die volgende dokument:

Andrť P Brink
Ampie Coetzee
Johannes Degenaar
Jannie Gagiano
Hermann Giliomee
Lawrence Schlemmer
Richard van der Ross
Christo Viljoen
Ton Vosloo


Reaksie op die Universiteit van Stellenbosch
se konsep-taalbeleidsdokument en -taalplan


Inleiding

Die Oorlegplatform verwerp die Universiteit van Stellenbosch se konsep-taalbeleid en -plan. Dit voorsien voortdurende en slepende taalonrus op Stellenbosch as die voorgestelde beleid uitgevoer word, veral waar die opstellers van die konsepplan en -beleid blykbaar geensins die konsekwensies van hul voorstelle deurdink het nie.

Oppervlakkig wek die plan die indruk dat dit bloot ’n taalreplika van die Londense stelsel van moltreine is met verbruikers wat verskillende bane kies om by verskillende bestemmings aan te kom; in die praktyk skep dit egter ’n stelsel waarvan die bane mettertyd saamsmelt in net een rooi baan, genaamd Engels, en met net een bestemming, naamlik Engels. Die konsepplan en -beleid kondig aan dat die primÍre onderrigtaal voorgraads Afrikaans is, maar namate `n mens deur die verslag werk, ontstaan die indruk toenemend dat dit slegs ’n vyeblaar is wat die verengelsingsproses moet verbloem.

Die prosesse wat die plan sal loslaat, sal gewis ’n volgende geslag die geleentheid ontneem om aan ’n Afrikaanse tersiÍre instelling te studeer. Dit sal ook sterk druk plaas op Afrikaanse hoŽrskole in die omgewing om toenemend na parallelmedium en uiteindelik na Engels oor te skakel.


Ontleding van plan

Voorgraads
Die konsep skep die indruk dat dit die huidige taalwarboel aan die universiteit wil kodifiseer, saniteer en vergoelik eerder as om aandag te gee aan die werklike probleemkwessie — die bestendige verengelsing van die universiteit op alle vlakke ten spyte daarvan dat daar reeds twee Engelstalige universiteite in die Wes-Kaap is.

Die US-taaltaakgroep se aanbeveling dat US ook toeganklik moet wees vir studente met Engels as voorkeurtaal, is klaarblyklik gebaseer op die konstitusioneel aanvegbare standpunt dat die nasionale demografie ook vir beleid in die Wes-Kaap moet geld en dat taalminderhede oral minderhede moet word. Een formulering van die taakspan se konsepplan skep selfs die indruk dat dit studente wil verbied om hul nagraadse verhandelings in Afrikaans te skryf.

Die dokument verklaar dat Afrikaans die primÍre taal van onderrig voorgraads is, maar maak voorsiening vir vier opsies: A = Afrikaans; A&E = parallelmedium, T = dubbelmedium op 50-50-basis in een klas, en E = Engelsmedium wat kwansuis net as uitsondering toegelaat word (maar daar is tans reeds 93 jaargange waar Engels ’n vetoreg op Afrikaans verwerf het).

As ’n mens egter die paragraaf oor Voorwaardes vir taalspesifikasies in die konsepplan goed lees (par 4) is dit duidelik dat die sogenaamde A&E-modules (parallelmedium) die norm word, so nie word dit die T-opsie (albei tale in dieselfde klas, met die versinsel dat ’n 50-50-bedeling effektief toegepas kan word). A&E-modules moet blykbaar in alle jaargange aangebied word as dit eers op eerstejaarvlak gedoen is.

Mens kry selfs die indruk dat die Afrikaanse opsie die uitsondering moet wees (sien par 2, Toeligting van die Taalplan, par 2.2.a). Daarvolgens is A&E nie uitsonderings nie, maar die norm (sien ook die derde subparagraaf van par A 1.2 van die plan). Die plan gee ook geen versekering dat die Afrikaanse opsie nog wel aangebied gaan word as min studente die opsie kies of as die dosent nie Afrikaans-vaardig is nie.

Alhoewel die plan sogenaamd Afrikaans as primÍre medium op voorgraadse vlak voorstaan, kan Afrikaanse ouers wat hul kind na US wil stuur, nie seker wees dat ’n bepaalde kursus wel hoofsaaklik in Afrikaans aangebied sal word nie.

Die dokument maak ook geen melding van Afrikaans se spesiale plig om deur Afrikaans die agtergeblewe gemeenskappe te bedien nie. Of is die Taakgroep se bedoeling dat hulle in sy Afrikaanse stroom met sy toenemend kwynende status bedien word?

Dieselfde indruk van negatiwiteit teenoor Afrikaans as opsie word geskep deur die dokument se hantering van hoe die keuse tussen opsies geadministreer gaan word. So terloops word gesÍ dat die keuse tussen opsies gemotiveer moet word, maar sonder dat enige voorkeur vir Afrikaanse modules uitgespreek word.

Feitlik weggesteek aan die einde van par A 2.3 van die plan blyk dit dat die programkoŲrdineerders gaan besluit! Alle spesifikasies in ’n program hoef egter nie dieselfde te wees nie. ProgramkoŲrdineerders aan US is soms nie eens professore nie en ’n mens kan jou voorstel watter druk sekere professore gaan uitoefen op departemente wat die Afrikaanse opsie vir sy modules wil kies. Met die kompetisie tussen departemente vir getalle is dit voorspelbaar dat elke departement vir die parallelmedium-opsie sal gaan, so nie word hul modules uit die programme gesny.

Dan meld die konsepplan selfs die soeke na die Heilige Graal van Diversiteit wat as ’n oorweging by sulke besluite in ag geneem moet word!

Die onderskeid wat die taakspan tussen ’n beleid en ’n plan maak, lyk of dit voorsien dat daar gereeld aanpassings gemaak kan word namate die stelsel van parallel- en dubbelmediumkursusse die skaal toenemend ten gunste van Engels laat swaai.

Ons kon ook nÍrens ’n verpligting tot gereelde verslaggewing oor tendense aan die Senaat en Raad vind nie. Verengelsing kan dus blykbaar ongesiens plaasvind.

Iets anders wat Afrikaans net sal verswak en dosente se lewens gaan bemoeilik, is die nuwe plig tot tweetalige klasnotas, wat in die taalspesifikasiemodel voorgestel word, maar — LET WEL — nie op gelyke basis van Afrikaans en Engels wanneer dit by die stroom van Engelse modules (die E-opsie) kom nie. En dit is opvallend dat daar in die geval van die E-opsie net gesÍ word dat kennis van Afrikaans “gewens” is! Wat gaan die impak hiervan buite die klaskamer wees? Dit lyk of ons hier ’n treffende voorbeeld van die oliekolbeginsel het.

NÍrens is daar ’n verwysing in die plan na US se Strategiese Raamwerk met sy uitdruklike verbintenis tot Afrikaans en die erkenning van die historiese taalwortels van US nie.

Dit lyk of die plan wil aansluit by mense wat na US verwys as ’n “oorwegend” Afrikaanse universiteit, asof die karakter van die universiteit nie ’n kwessie van oortuiging en verbintenis is nie, maar bloot van die huidige taaldemografie.

Die taakgroep se dokument gee hoog op oor tweetaligheid en dit word in werklikheid die skuifmeul vir die voorgestelde vinnige en verskerpte verengelsing van US. Behalwe vir een niksseggende frase, spel dit nie uit hoe of wanneer die studente se vaardigheid in Afrikaans getoets gaan word nie. Gaan daar verpligte taaleksamens wees? Het US die kapasiteit daarvoor? Hoekom word slegs lees- en luistervaardighede vereis? Dit vertel ook nie die publiek wat gaan gebeur met dosente wat nŠ die voorgestelde periode van drie jaar nog nie in Afrikaans vaardig is nie.

Die feit dat die taakgroep pryse wil uitloof vir die bevordering van Afrikaans, wys dat dit vaagweg tog besef watter groot druk sy voorstelle op Afrikaans aan US gaan plaas. Slegs vyf jaar gelede sou die voorstel dat pryse vir die bevordering van Afrikaans aan US toegeken word, mense laat skater het van die lag. Die Oorlegplatform vertrou dat die taakspan die voorstel in ligte luim gemaak het.

Nagraads
Die Engelse stroom van die A&E- (parallelmedium-) opsie op voorgraadse vlak word geweldig versterk deur die konsepplan se aandrang op Engels as primÍre of (in een bewoording enigste) nagraadse medium. Knap Afrikaanse studente wat voornemens is om nagraads te studeer, sal ongetwyfeld reeds vanaf voorgraadse vlak die Engelse stroom volg om so vir nagraads voor te berei. So word Afrikaans as medium stelselmatig gestigmatiseer.

Wat betref nagraads, is die huidige posisie dat die fakulteite by die Senaat kan aanbeveel dat besondere nagraadse klasse in Engels aangebied kan word, maar die verstekposisie is en bly Afrikaans. Hoekom wil die US-taakgroep dit ten gunste van Engels omkeer? Daar word geen motivering daarvoor gegee nie.

Tussen 1914 en 1939 het Stellenbosse akademici die deurslaggewende rol gespeel om Afrikaans as wetenskapstaal en akademiese taal te vestig. Saam met Hebreeus, Maleis-Indonesies en Hindi is Afrikaans die enigste taal wat in die 20st eeu gestandaardiseer geraak het en op alle vlakke van die publieke lewe, insluitende nagraadse studies in tersiÍre onderwys, gebruik is.

In 1980 was daar net 31 tale waarin die getal artikels waarna in die Chemical Abstracts verwys word, meer as diť in Afrikaans. In die geval van Index Medicus was Afrikaans 25ste. Die ontwikkeling van Afrikaans as wetenskaps- en akademiese taal is ’n voortreflike prestasie, veral in die lig van die feit dat ons met `n baie klein taalgemeenskap te doen het.

Uiteraard het die gebruik van Engels as wetenskapstaal in die laaste 25 jaar met rasse skrede toegeneem en verdring dit vandag selfs Duits in die lyste van wetenskaplike uitgewers in Duitsland. Daar kan egter nie hiervan afgelei word dat Engels aan die histories Afrikaanse universiteite Afrikaans as nagraadse taal geheel en al moet vervang nie. So ’n stap sal die ontwikkeling van Afrikaans as wetenskaps- en akademiese taal tot die stofblik van die geskiedenis verdoem.

Die waarde van Afrikaans op nagraadse vlak kan nie in twyfel getrek word nie. Dit is op nagraadse vlak dat die beste vaardigheid in taalgebruik ontwikkel word. Die eerste taal van ’n student en junior dosent is omtrent altyd die beste geskik vir oorspronklike denke, diepgaande ontleding en die uitlig van fyner nuanses — en dit is op hierdie terreine waar die grootste akademiese deurbrake gewoonlik gemaak word. Te dikwels lei die gebruik van ’n tweede taal vir wetenskaplike doeleindes daartoe dat die formulering bloot meganies geskied.

Aangesien die konsepplan geen argumente aanvoer waarom dit Afrikaans as nagraadse vlak wil vervang nie, moet ons oor die redes gis. Daar word soms aangevoer dat die teenwoordigheid van buitelandse studente die gebruik van Engels op nagraadse vlak regverdig. Dit is egter sterk te betwyfel of die jaarlikse inname van ’n skamele 500 buitelandse studente wat nie Afrikaans magtig is nie, die versaking van US se plig om Afrikaans op nagraadse vlak te bevorder, hoegenaamd kan regverdig. (En dit is goed moontlik dat sommige van die buitelandse studente bereid is om Afrikaans te leer.)

’n Ander rede wat soms genoem word, is die toenemende gebruik van Engels op nagraadse vlak aan sommige fakulteite van Europese universiteite. Ons moet egter daarop wys dat die landstaal in hierdie universiteite baie sterk staan in die media, sakelewe en die algemene omgang. Juis omdat Afrikaans as publieke taal so sterk bedreig word, is dit nodig dat US ’n spesiale poging aanwend om Afrikaans as wetenskapstaal te bevorder.

Die argument word soms gebruik dat studente op nagraadse vlak deur middel van Engels moet studeer, sodat hulle die nodige skoling kan kry om in Engels te publiseer. Hierdie argument gaan nie op nie. Dit is maar ’n baie klein proporsie van studente wat daarin slaag om hul artikels gepubliseer te kry en dit is te betwyfel of hierdie publikasies voldoende regverdiging is om alle studente te verplig om hul nagraadse werk in Engels te doen.

Dit kan nie van US-dosente, wat oorwegend Engels as tweede taal gebruik, verwag word om studente op nagraadse vlak te leer om Engels te skryf nie. Deur die jare heen het US-studente en -dosente dit as hul plig beskou om buite die universiteit goed genoeg in Engels vaardig te word om in die taal publiseer. Dit is nie duidelik waarom die US-taakgroep die huidige geslag studente van die verpligting wil vryskeld nie.

Daar is verskeie kreatiewe maniere waarop US die gebruik van Afrikaans op nagraadse vlak kan bevorder. Een daarvan is om deur middel van ’n spesiale fonds die beste tesisse en ander nagraadse werk in Engels te laat vertaal met die oog op publikasie. ’n Ander metode is om ’n spesiale subsidie te betaal vir artikels wat in goedgekeurde Afrikaanse tydskrifte verskyn.

Afrikaans as publieke taal sal slegs oorleef as instellings daarvoor verantwoordelikheid neem. Dit beteken ook die voortgesette ontwikkeling van Afrikaans as wetenskapstaal op nagraadse vlak. Om historiese redes kan US, meer as enige ander instelling, nie weier om dit te doen nie, veral nie waar dit die enigste Afrikaanse universiteit is wat geleŽ is in ’n streek waar Afrikaans die dominante spreektaal is nie.


Afwesigheid van ’n vergelykende perspektief

Die Oorlegplatform vind dit uiters vreemd dat ’n komitee wat bekende en gerekende taalkundiges insluit en ’n taalkundige as voorsitter het, geen poging aanwend om die prosesse van taalverplasing elders en plaaslik te ondersoek en die lesse daarvan op US toe te pas nie. Sover ons weet, is daar geen enkele geval van ’n taal wat ’n relatief klein taalgemeenskap bedien (soos Afrikaans, maar dis ook waar van groter taalgemeenskappe, soos Hollanders, Vlaminge of Frans-Kanadese) wat oor die langer duur aan tersiÍre inrigtings oorleef het wanneer die volgende kondisies gegeld het nie: (i) vrye kompetisie met ’n lingua franca binne ’n inrigting of instelling en (ii) ’n omgewing waarin die regering die lingua franca volhardend bevorder. Albei hierdie kondisies geld vir Afrikaans aan US vandag.

Prof De Stadler, voorsitter van die US-taakgroep, waarsku in ’n opmerking teenoor Die Burger teen die “aanname” dat Afrikaans en Engels nie langs mekaar in dieselfde instelling kan bestaan nie. Ons verneem graag watter vergelykende getuienis hy kan bied vir sy stelling. Hoekom is dit so dat al die Europese universiteite, behalwe vir ’n handjievol minderwaardige universiteite, sulke sterk erosiewalle het en juis — en wel om baie goeie redes — nie studente wil toelaat om taalkeuses uit te oefen nie?

In teorie klink parallel- en dubbelmediumopsies billik en aanvaarbaar; in die praktyk is dit ’n blote oorgangsbeleid wat lei tot die uitskakeling van die kleiner taal, soos Jean Laponce in sy vergelykende studie van Kanada, BelgiŽ, Oos-Europa en die Sowjetunie aangetoon het en soos dit aan die Universiteit van die Wes-Kaap en die Universiteit van Port Elizabeth ondervind is.

Ook die onlangse, hoog aangeskrewe werk van Stephen May, Language and Minority Rights: Ethnicity, Language and the Politics of Language (Londen: Pearson, 2001) waarsku dat die aanslag van die lingua franca so fel is en dat die gevaar van taalverplasing so groot is dat nie-universele tale slegs kan oorleef deur sterk erosiewalle aan universiteite en ander instellings te bou en nie keuses toe te laat nie. Die epigraaf in May se boek spreek vir sigself: “Those who seek to defend a threatened language are obliged to wage a total struggle.” Dit is die woorde van Paul Bourdieu, een van die mees seminale denkers oor taal en taalsosiologie.

Vergeefs soek ’n mens in die konsepbeleid na tekens dat die posisie van byvoorbeeld Franstalige universiteite in Quebec en Switserland of Nederlandstalige universiteite in BelgiŽ bekyk is. Problematies is ook die klaarblyklike aanname dat akademiese voortreflikheid nie sonder die oorheersende rol van Engels bereik kan word nie. ’n Mens wonder of daar lede van die taakspan was wat op die opstelle van Van Wyk Louw oor die kwessie gewys het. Daar is ’n opvallende en vreemde verswyging van die feit dat talle Europese universiteite met sukses weerstand bied teen die globalistiese aandrang op Engels.


Ontkenning van historiese wortels

Die Taakgroep se konsepplan ignoreer feitlik totaal dit wat US uniek maak, en saam daarmee die noue verband tussen tersiÍre-onderrigtaal, kultuur en taalgemeenskap, nierassig gedefinieer. Uit ’n taalsosiologiese oogpunt sal die afskaffing van Afrikaans as nagraadse onderrig- en navorsingstaal aan die US ’n uiters negatiewe uitwerking hÍ — op US self en die nismark wat hy wil bedien, en op die langtermyn-handhaafbaarheid van Afrikaans.

Die taalplan posisioneer die US in effek as ’n soort kunsmatig-taalneutrale entiteit en ontken sodoende die reŽle rol wat dit dekades lank gespeel het as Afrikaanse instelling. Daardeur stel die US hom tťťn die belange van die Afrikaanse taalgemeenskap en teen die belange van US as dinamiese instelling, ondanks die mooi geluide van “verbintenis tot die gebruik en voortgesette ontwikkeling van Afrikaans” om donateure te paai.

Dit is vir ons kommerwekkend dat die taaltaakgroep hom klaarblyklik nie gesteur het aan die talle konstruktiewe voorstelle uit die Afrikaanssprekende gemeenskap om ’n billike taalbedeling vir die universiteit te skep nie. Die voorstelle wat ons vroeŽr aan die taakgroep gemaak het, en ook die van die Groep van 63, Aksie vir HoŽr Onderwys en die Taalsekretariaat, is klaarblyklik nie in ag geneem nie. Die taakspan het ook nie die opsie van moedertaalonderrig, wat volgens die grondwet as opsie oorweeg moet word, in aanmerking geneem nie.


Besluit

As hierdie plan deurgaan, sal die taaltaakspan in die geskiedenis bekend word as die Trojaanse perd wat Afrikaans aan US tot ’n val gebring het.
Ons doen ’n dringende beroep op die taaltaakspan om nie net opnuut te kyk na die kritiek wat uit talle oorde teen hul konsep uitgespreek is nie, maar ook om krities hul eie plan in al sy konsekwensies te ontleed. As die plan geÔmplementeer word, sal dit die deur open vir die strukturele aftakeling van die legitieme en grondwetlik gewaarborgde regte op tersiÍre moedertaalonderrig. Dit sal nuwe onreg skep, met al die implikasies vir voortgesette stabiliteit wat daaruit voortvloei.

Kontakpersoon: Hermann Giliomee (021-8832964)


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.