Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Staalkorset vir Juliette

Marietjie Luyt

In die Jare van die Vinger kon ek nie wag dat Vrydae aanbreek sodat ek my Vrye Weekblad by die Griek op die hoek kan gaan koop nie. Wat ’n fees van onverbloemde subversie het die amperkoerantjie nie vir ’n goeie Afrikaanse meisie ingehou nie! Twee stories veral bly my by: Lothar Neethling se “gifhand” wat die blad gesink het; en die “met groot deernis”-uitgawe die week toe FW en sy Binnekring die Vinger gepos het.

Ewe goed onthou ek die beroerde Afrikaans, veral in die nuusberigte. Onbeholpe sinne. Beteuterde woordkeuses. Vrot spelling. Die redaksie is seker te arm om vir ’n sub te betaal, het ek toe maar gedink.

Nou lees ek in die Plus Pearlie en kie het aspris so sleg geskryf. Max — “I’m too sexy for my words, for my words!” — het besluit om al die baie Afrikaanse woorde wat nie in sy eie, persoonlike woordeskat voorkom nie, te pos. Soos ook die begrippe wat daardie woorde onderlê. Binne so ’n vereenvoudigde woordwêreld hoef mens dankie tog nie te bodder met nuansering, differensiëring of skakerings van die waarheid nie. Fyn dink is ’n “dominee- en Broederbondagtige borstrok” en daarmee basta.

Kyk. Sê borstrok en ek skree. Vir die wat toe nog nie gebore was nie: “Afrikaans — van die borstrok bevry” was die slagspreuk wat Linette Retief in vergange se dae in haar ad campaign vir die eerste KKNK uitgedink het. Toe het almal nog gedink haar tjiekfliekerige, Engels-bespekte idiolek is cute.

Sedertdien “borstrok” almal wat innerlik geknel voel, onverpoosd voort.

Byvoorbeeld Antjie Krog. Hier is sy in Beeld van 12 Desember 2002: “Dis lekker om nou in ’n taal te werk sonder die benouende staalkorset waardeur jy vroeër met woede moes moer, moes kap, om iets te sê wat nie die pynlike staalsplinters saamdra nie.”

Genade. Waarvan praat sy? Woorde en gedagtes is mos vry. Niemand kan jou dwing om iets te sê wat jy nie wil nie. Jy kan mos nie ’n taal vir jou eie bevangenheid verkwalik nie. As jy nie in Afrikaans vry is nie, gaan jy dit ook nie in Klingon wees nie.

Of selfs nie in Frans nie. Hoe graag sou ek darem nie met my eie oë vir Juliette Binoche in Antjie se staalkorset wou gesien het nie! Die een wat sy aangetrek het die dag toe sy in Antjie se klerekas gaan rondkrap ter voorbereiding van haar fliek oor Antjie nie!

Waar het ons ooit aan die onheuglike gedagte gekom dat al die baie woorde in ’n taal jou aan bande lê of knel? Dat lang en moeilike woorde taboe is? Dat vername of hoogdrawende woorde verbied moet word? Dat ’n bliksemstraal jou gaan tref as jy hert sê? Dat jargon en vaktaal elitisties is? Dat kort woorde, kort sinne en maklik verteerbare gedagtes, bevatlik vir ’n graad eentjie parrabeentjie, al is wat in Afrikaans geduld sal word? Kortom, dat taalrykdom ’n knelling en ’n las is, denke verdag is, en vryheid verkieslik vermy moet word?

Van wanneer af is mens ’n rassis as jy is wie jy is in Afrikaans? Of bevry van die skuld van apartheid as jy die tussentaal praat? Of slim as jy jou kind na ’n Engelse skool toe stuur? Hoekom gee kerksale vol Afrikaanse ouers hul kinders name soos Chané, Chanté, Chandré, Chimoné of Chardonné, eerder as, sê maar, Alida, Elisabeth of Marthie? Ai, die alewige ou minderwaardigheidsgevoel!

Wanneer gaan ons weet dat vryheid in ’n mens se kop begin, en dat alle woorde geoorloof is? Maar dat Afrikaanse woorde mooi is? En dat ’n mens nie altyd so vreeslik onderdanig hoef te wees nie? Wanneer gaan ons wat Afrikaans praat, begin lees, verkieslik darem ook ’n Afrikaanse boek of twee? Wanneer gaan daar op Rapport se Boekeblad berigte oor Afrikaanse boeke verskyn?

Ek word skoon verdrietig as ek sien hoe die destydse ou lefties in evangeliese prekerigheid verval het. Miskien omdat hulle hulle nie steur aan die “fyn, fyn net van die woord” nie? Vanselfsprekend is die wonderbaarlik getransformeerde voormalige adjudante van die Vinger en die Deernis vandag nog net so onderhorig en voorskriftelik soos altyd. Hul base het verander; hul belange nié.

Al die dinge laat my vreeslik alleen voel. Waar’s Jan Rabie?


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.