Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Toespraak gelewer by die loodsing van die “Kom Huis Toe”-veldtog, 6 Maart 2003

Ockie van Schalkwyk

Ek begin graag vanoggend se gesprek met dié bekende woorde wat Van Wyk Louw al in 1951 geskryf het in Liberale Nasionalisme:

So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ’n volk. Die sirkulasie van gedagtes: dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ’n wisselwerking ontstaan … en mettertyd miskien ’n wederkerige begrip en ’n mate van gemeenskaplike oortuiging; dit is die “oop gesprek” nie alleen tussen individue nie, maar ook tussen groepe. En hiersonder is geen gesonde politieke lewe moontlik nie.

Dit is bekend dat Van Wyk Louw al kort na die Nasionale Party se oorwinning in 1948 sy kommer uitgespreek het oor die toekoms van die Afrikaner. Op ’n stadium het daar selfs ’n duidelike breuk tussen Van Wyk Louw en Verwoerd ontstaan wat verreikende gevolge gehad het in later jare. Die “oop gesprek” waarvan hy in Liberale Nasionalisme praat, het ’n geslote gesprek geword en intellektuele en skrywers is vir dekades lank onder druk geplaas deur die regering.

Ons denkers se stemme is gestil en van ons voorste skrywers het tyd in die tronk deurgebring vir hul standpunte. Die gevolg van die gebrek aan intellektuele volwassenheid en leiding sou die ergste sigbaar word met die oorgang na ’n apartheidvrye Suid-Afrika.

Die hele proses is in Londen en in die binnekamers van die destydse regering beplan en bo die koppe van die destydse kiesers uitgevoer.

Na 1994 is die Afrikaner vir alle praktiese doeleindes leierloos gelaat en in die steek gelaat deur ’n intellektueel bankrot en oneerlike leierskorps wat feitlik deur die bank in rand en sent gesorg het dat hulle val heel weelderig sou wees.

Op sigself was die verlies aan politieke alleenheerskappy nie noodwendig ’n slegte ding nie. Die einde van apartheid het ook die einde gebring aan die houvas van die Broederbond en die kerke op die gees en denke van die Afrikaner.

Vir die eerste keer in dekades kon Afrikaners weer met vrymoedigheid vir hulself begin dink. Weliswaar het dit nie op groot skaal gebeur nie. Afrikaners was maar in die kruipstadium van selfstandige denke - maar die ongekende opbloei van die kunste, waarin Afrikaanse musikante en liriekskrywers die voortou geneem het, het gewys dat Afrikaners se gees nie dood is nie, maar dat ons aan die begin van ’n toekoms staan waar ons vry is van dié dinge wat ons die muishond van die wêreld gemaak het.

Afrikaners het die nuwe realiteit op verskillende maniere hanteer. Daar was diegene wat groot geleenthede gesien het in die nuwe geglobaliseerde ekonomie.

Onlangse navorsing wys dat blanke Afrikaanse mans se ondernemings dié sektor op die JSE is wat die vinnigste groei toon.

Daar was ook diegene wat weens verskeie redes erg verarm het. Ons sien hierdie mense elke dag op die straathoeke by verkeersligte staan. Hopeloos uit hulle diepte uit in die nuwe ekonomie en wêreld.

Dan is daar diegene wat ’n balansstaat opgestel het oor Suid-Afrika en besluit het dit is beter om te groet. In die diaspora-debat in Beeld het ons baie van hulle stemme gehoor. Dit is hierdie mense wat die teiken van die “Kom terug huis toe”-veldtog is.

’n Groep wat egter nie uit die oog verloor moet word nie, is diegene wat in my posisie is: ek is deel van ’n groep mense wat in staat is om te trek, maar amper desperaat soek na redes om hier te bly. Die blote gedagte dat ek die Afrika-bodem moet groet, is genoeg om my keel toe te laat trek. Ek het hierdie kontinent en land so lief dat die lewe waarde sou verloor as ek dit elders moet voortsit.

Die swartmense van ons land het ’n mooi manier om iets oor die verhouding tussen mens en omgewing te sê. Hulle sê: “Grond behoort nie aan my nie, ek behoort aan die grond.”

Ek wil in dieselfde gees vandag vir u sê: ek behoort aan die Afrika-bodem. Hier is ek gevorm, hier lê my hart en in die woorde van Koos Kombuis: hier lê my toekoms.

Natuurlik is daar dinge wat pla. Natuurlik is daar gereeld dinge wat gebeur wat Europa baie aanloklik laat lyk.

Die uitdaging vandag is om dié dinge wat ons laat wonder, aan te spreek - dinge soos misdaad, korrupsie, geweld, swak dienslewering, mediese dienste wat verval, ’n verbrokkelende infrastruktuur, die krisis in die onderwys en die regering se onverklaarbare houding jeens Zimbabwe moet alles aangespreek word.

Ja, al hierdie dinge is belangrik, maar ek is van mening dat daar belangriker sake is.

Die Duitse akademikus Frederick Herzberg het ’n teorie ontwikkel wat ’n groot invloed op die wetenskap van organisasiegedrag het. Die teorie is gebaseer op ’n studie waarin hy onderhoude gevoer het met meer as 200 ingenieurs en rekenmeesters om te bepaal watse faktore lei tot werksbevrediging en watse faktore lei tot ongelukkigheid in die werksplek.

Die resultate was verstommend: Herzberg het twee groepe faktore geïdentifiseer. Die een groep het hy higiëniese faktore genoem, die ander groep het hy motiveerders genoem. Die interessante van sy bevindings was dat dinge soos salaris, goeie mediese fonds en goeie administrasie nie gelei het tot motivering nie. In gevalle waar hierdie faktore sleg lyk, was sy proefkonyne ontevrede. In gevalle waar hierdie faktore goed lyk, was sy proefkonyne bloot nie ontevrede nie. Hierdie faktore het hy dus as higiëniese faktore beskou.

Faktore wat sy proefkonyne gemotiveer het, was prestasie, erkenning, stimulerende werk, verantwoordelikheid en bevordering.

Dames en here, dink u vir een oomblik dat die situasie van die Afrikaner opgelos sal wees as die higiëniese faktore soos misdaad, korrupsie ens aangespreek word? Dink u vir een oomblik ons mense in die buiteland gaan terugkeer as hulle in die koerante lees dat misdaad afneem terwyl daar vir die Afrikaner geen erkenning en toekoms in die land as Afrikaner is nie?

Om iemand sy kultuur te ontken is om daardie persoon in sy diepste wese te ontken en te beledig. Dink u vir een oomblik die breindrein gaan stop voordat die Afrikaner as Afrikaner erken word?

Die belangrikste ding wat vir my moet gebeur in Suid-Afrika, is dat die owerheid my nie as ’n tweederangse burger hanteer nie. Ek betaal eersterangse belasting, en verwag eersterangse erkenning.

As my opinies, my verwagtinge, my drome en my vrese as Afrikaner deur die owerheid as ’n lastigheid hanteer word in plaas van ’n prioriteit, tree daar vervreemding in tussen my en die staat en kry ek daardie ongemaklike expat-gevoel wat duisende van ons mense in Abu Dahbi, Sydney en Londen mee saamleef, en ek kry dit reg hier waar ek gebore is en waar my wortels lê.

Die regering moet hard en duidelik die boodskap kry dat ek geen plan het om Engels te word nie. Hulle moet hard en duidelik die boodskap kry dat ek ’n Afrikaner is en altyd een sal bly. In lyn met internasionaal aanvaarde reg het hulle ’n verantwoordelikheid om my as Afrikaner te erken en hulle het ’n verantwoordelikheid om ons belastinggeld terug te ploeg in ons gemeenskappe en hulle het die verpligting om ons toe te laat om self te besluit oor ons eie sake soos onderwys en nog meer.

Wat die werksplek aanbetref: Ek wil dit vandag kategories stel dat my generasie ’n reusebydrae het om te lewer. Ons is jonk, ons is energiek, ons is patrioties en ons is deksels goed opgelei. Oral waar ek in die wêreld kom, sien ek Afrikaanse mense wat met hulle vindingrykheid en harde werk groot bydraes tot die welvaart van ander lande maak. Ek het hulle gekry in Europa, tot so ver as die koue Stockholm, ek het hulle gekry in die fabelagtig ryke Abu Dahbi, ek het hulle gekry in Parys. Van my vriende woon in Den Haag, Sydney, New York, Londen en Abu Dahbi. Daar is hulle goed genoeg; trouens, daar is hulle gesog, maar hier is hulle stiefkinders en word ons soos stiefkinders behandel.

Ek het ook al ’n aanbod uit die vreemde gehad van ’n $100 000 per jaar. In my bedryf het die meeste van my kollegas wat reis, al sulke aanbiedinge gehad, maar ons wil hier bly. Ons sal met graagte help bou aan die land saam met die res van die bevolking, maar nie as ’n gemeenskap van expats nie, wel as eersterangse burgers wat die redelike verwagting het dat daar vir ons en ons kinders ’n volwaardige toekoms is as Afrikaners in Suid-Afrika.

Ek beskou my generasie as ’n bate vir Suid-Afrika. Waarom hanteer die regering ons as ’n las?

Ek dank die FAK vir die geleentheid om my saak ook hier te stel, en pleit by u almal vandag om in alle erns te begin saamgesels en saamwerk aan ons toekoms en welvaart in hierdie land wat ons so passievol liefhet. Ek hoop dat u die waarde van ’n geleentheid soos hierdie sal insien en dat u sal besef dat daar nie meer tyd oor is vir ons om apaties langs die kantlyn te staan nie.

Ek is tans besig om so wyd as moontlik met mense te gesels, veral op ’n paar internetposlyste, oor die stigting van ’n Forum vir Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners.

Die doel van die forum is om ’n platform te skep waar Afrikaanssprekendes van alle rasse oor ’n wye front met mekaar kan gesels oor die toekoms van Afrikaanssprekende gemeenskappe in hierdie land.

Dit het tyd geword dat gewone mense, soos u en ek, weer die selfvertroue kry om verantwoordelikheid vir ons eie toekoms te aanvaar en om bemagtig te word om deel te neem aan ’n politieke proses wat ruimte laat vir kultuurpolitieke realiteite.

Ek rig dan ook graag die uitnodiging aan die FAK, en almal wat luister of hierdie inligting hoor - mnr Hennie de Wet, dr Pieter Mulder, mnr Cassie Aucamp, dr Francois Venter, dr Dan Roodt, dr Van Zyl Slabbert, Dirk Hermann, Kallie Kriel, Max du Preez, ons bruin en swart broers en susters en almal wat ons taal deel en Afrikaanse belange dien: Steek julle hande op en verklaar julle bereid om ter wille van die breë Afrikaanse bevolking met mekaar te begin gesels en laat ons mekaar vind op ’n vlak waar ons iets kan doen om te sorg dat ons as gemotiveerde Afrikaanse burgers ook saam aan hierdie land kan bou.

Ek sluit af met die woorde van Van Wyk Louw waarmee ek begin het:

So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ’n volk. Die sirkulasie van gedagtes: dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ’n wisselwerking ontstaan … en mettertyd miskien ’n wederkerige begrip en ’n mate van gemeenskaplike oortuiging; dit is die “oop gesprek” nie alleen tussen individue nie, maar ook tussen groepe. En hiersonder is geen gesonde politieke lewe moontlik nie.

Ek dank u.

Ockie van Schalkwyk

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.