Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Afrikaans: Oranje of Garieb?

Gerrit Brand


In sy mymeringe oor “die saak van Afrikaans” wys Hermann Giliomee tereg op die belang van ideologie vir die toekoms van ’n taal. Uiteindelik sal die toekoms van Afrikaans nie afhang van die beskikbaarheid van geld of die politieke wil van die regering nie, maar van die aantal mense wat daartoe gebring kan word om in die belang van die taal se voortbestaan en welsyn te glo — en dit vra ’n visie of ideaal wat mense kan inspireer en mobiliseer. As dŪt eers bereik is, sal die geld kom en sal die politiek ernstiger met Afrikaans moet begin rekening hou. Juis daarom is dit so belangrik dat daar gedroom, gedink en gepraat sal word oor die ideologiese horison waarbinne Afrikaans die beste bevorder kan word.

Nou lyk dit vir my of daar basies drie hoofrigtings is waarin ons in diť verband ideologies kan beweeg:

Die eerste is om te glo of te hoop dat Afrikaans vanself as taal van die openbare lewe sal bly funksioneer sonder dat veel energie daarin geÔnvesteer hoef te word. Volgens hierdie siening is alles basies in orde en moet ons denkaktiwiteite maar hoofsaaklik daarop gerig wees om onsself en ander hiervan te oortuig.

Soos enige ideologie wat ’n bestaande orde wil legitimeer, is hierdie benadering myns insiens naÔef, verteenwoordig dit gevestigde elitÍre belange en het dit nie die potensiaal om vrugbaar op diskoerse en praktyke in die samelewing in te werk nie. Boonop is dit reeds empiries gefalsifieer deur die toenemende oorheersing van Engels op elke terrein, die gepaardgaande afskaling van Afrikaans en die voortgaande verwaarlosing van die ander inheemse tale. Daar kan reeds geen twyfel meer bestaan oor die doel waarop die huidige dinamiek in ons samelewing, as dit ongestoord sou voortgaan, afstuur nie. Om anders te dink, is blote wensdenkery.

Twee opsies bly dus oor. Daar is weliswaar ’n wye verskeidenheid modelle, denkbeelde en strategieŽ wat deur verskillende meningsvormers en groeperinge bepleit word, maar dit is my indruk dat elkeen van hulle uiteindelik hoofsaaklik in die een of die ander rigting neig, dat diť twee breŽ rigtings die moontlikhede basies uitput en dat hulle in die laaste instansie nie met mekaar versoen kan word nie. Ek sou hierdie twee rigtings wou tipeer as die Oranje- en die Garieb-opsies onderskeidelik. Oranje en Garieb is nie net twee name vir dieselfde rivier nie, maar moet hier ook instaan vir twee perspektiewe op die soort toekoms wat ons vir Afrikaans in Suid-Afrika visualiseer.

Die mees treffende vergestalting van die Oranje-opsie is die dorpie Orania op die walle van die Oranjerivier. Dit is egter nie net volkstaters wat onder die Oranje-opsie ressorteer nie, maar ook al diegene wat ’n toekoms vir Afrikaans wil verseker deur afsonderlike, “eie” ruimtes vir die taal op te eis — of dit nou ’n demokraties verkose Afrikanerraad met ’n eie begroting en beheer oor Afrikaanse instellings is, ’n party wat sig as die “politieke tuiste van die Afrikaner” uitgee, pleidooie vir eentalig Afrikaanse instellings of pogings om ’n federale of konsosiale staatstruktuur in plek van die huidige grondwetlike bestel te bewerkstellig.

Hierdie ideologiese opsie het sy wortels stewig in die Afrikaners se republikeinse tradisie, waaronder ook die apartheidsfase, maar het in die jongste tyd ook toenemend aansluiting gevind by nuwe tendense in die liberale tradisie, soos die erkenning van groepsgebaseerde minderheidsregte, asook die kommunitariese en mark-kritiese kante van die sosialistiese tradisie. Dit gaan vandag ook dikwels gepaard met ’n uitdruklike afwysing van nasionalisme in sy tradisionele vorm. Nietemin sluit dit in wese aan by die romantiese nasionalisme van die 19de eeu, aangesien die grondliggende gedagte steeds is dat ’n taal en ’n taalgemeenskap kan oorleef en floreer slegs indien dit in eksklusiewe ruimtes afgegrens, beskerm en gekoester word.

Die rasionaal agter die Oranje-opsie is dat die regering, kapitaal, die nuwe elite en die “swart meerderheid” nie met Afrikaans vertrou kan word nie. Hierdie wantroue hoef nie noodwendig in rassevooroordeel of ’n oordrewe antagonisme teenoor buitestaanders te wortel nie. Daar is genoeg voorbeelde in die geskiedenis van minderheidstale en -gemeenskappe wat deur verwaarlosing en doelbewuste marginalisering tot niet gegaan het.

Sommige voorstanders van die Oranje-opsie beklemtoon selfs dat dit onredelik is om van die “swart meerderheid” te verwag om oor Afrikaans besorg te wees — hulle het immers ander legitieme belange en prioriteite, soos politieke konsolidasie en ekonomiese bemagtiging. Al wat die Afrikaners dus vra (volgens hierdie denkwyse), is om beheer te verkry oor hul eie instellings en dit na hul goeddunke te kan bestuur. Verder kan die dominante groep in die land maar hul gang gaan en met die land maak soos hul wil — die tyd dat Afrikaners aan ander voorsÍ wat hulle moet doen, is vir altyd verby.

Verskeie internasionale voorbeelde dien as inspirasie vir die Oranje-opsie: suksesvolle demokrasieŽ soos Kanada en BelgiŽ, maar ook probleemgebiede soos Israel-Palestina en voormalige Oosbloklande waar gebiedskeiding of kulturele outonomie deesdae na die enigste oplossing vir bloedige konflikte lyk — en dit na dekades se pogings om nasionale identiteite oor etniese grense heen te bou.

Die beroep op groepsgebaseerde minderheidsregte kan ook ’n morele appŤl maak op verskeie internasionale handveste en verdrae waarin die reg op selfbeskikking van kultuurgemeenskappe uitgespel word.

Die ideaal is dus “eie ruimtes” vir Afrikaans, waarvoor deur etnies gebaseerde vakbonde, politieke partye en burgerlike groeperinge en bewegings onderhandel en gestry moet word. Binne hierdie ruimtes — skole, universiteite, uitsaaidienste ens — kan die Afrikanergemeenskap dan ’n basis vir kontinuÔteit kry en kan Afrikaans as openbare taal bly funksioneer.

Die grootste praktiese probleem met die Oranje-opsie is nie die moeite wat dit sal kos om dit aan die politieke elite of die “swart meerderheid” te verkoop nie — al is dit ook op sigself ’n formidabele uitdaging — maar eerder die onwaarskynlikheid daarvan dat die Afrikaanssprekende bevolking self oortuig kan word.

Hierdie soort struikelblok hoef egter nooit die laaste woord te spreek nie. Apatie is al in die verlede deurbreek en die politieke klimaat onder Afrikaanssprekendes kan verander indien en namate die gevoel van marginalisering en vervreemding onder hulle toeneem.

Die rede hoekom ek persoonlik nie die Oranje-opsie kies nie, het minder met praktiese of strategiese oorwegings te doen en meer met die intrinsieke appŤl (of gebrek daaraan) wat van die Oranje-opsie uitgaan. Ek en baie ander Afrikaanssprekendes, veral onder die jonger geslag, het doodgewoon nie behoefte daaraan om in suiwer Afrikaanse ruimtes te leef en te werk nie. Ons wil graag op skool en universiteit en in die werkplek met Suid-Afrikaners van uiteenlopende etniese, kulturele en godsdienstige agtergronde verkeer; ons hou daarvan om ons in ons verskillende interaksies van ’n verskeidenheid tale en idiome te bedien; ons wil “skaamteloos” Afrikaans wees en terselfdertyd ander identiteite verken en “vreemde” elemente toe-eien; ons beleef die nuwe Suid-Afrika — met al sy probleme — nie as “hulle s’n” nie, maar as “ons s’n”; ons word net soveel geÔnspireer deur die geskiedenis van die struggle as deur die Afrikanergeskiedenis; ons empatie gryp wyd oor etniese en taalgrense heen. Kortom, ons wil Afrikaans wees ťn voluit deel wees van die nuwe Suid-Afrika.

Neville Alexander stel in sy jongste boek, An ordinary country, voor dat ons die metafoor van die reŽnboognasie met die van die “Garieb-nasie” vervang. Die Garieb-opsie is dan ook die alternatief vir die Oranje-opsie.

Garieb is ’n Khoi-woord wat “groot rivier” beteken. Die rivier deurkruis die hele land en word konstant gevoed vanuit ’n wye verskeidenheid systrome wat soos ’n netwerk van are die land oorspan. Die hoofstroom is die gedeelde kulturele identiteit van die Suid-Afrikaanse nasie; die strome wat dit voed, is die wye verskeidenheid kulturele tradisies van ons land. Die systrome word nie deur die hoofstroom ingesluk nie, maar hou dit juis lewend. Nietemin word hulle deur die hoofstroom beÔnvloed vanweŽ ’n soort terugspoel-effek. Die rivier loop ook uit in die see en is dus oop na die wÍreldgemeenskap en maak self ’n unieke bydra tot ’n globale kultuur-in-wording. Systrome kan soms met mekaar versmelt, terwyl ander weer kan verdeel. Sommige strome sal onvermydelik swakker word en selfs opdroog, maar ander, nuwe strome sal ook ontstaan. Afrikaans is een van daardie strome ... of liewer, kom in verskeie van die systrome voor.

Anders as die reŽnboog-metafoor, wat ’n statiese naas-mekaar-bestaan van voorgegewe, onveranderlike identiteite suggereer (en as sodanig eintlik subliminaal in die Oranje-opsie meespeel), is die Garieb-metafoor dinamies en veranderlik.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat Alexander nie hierdie beeld gebruik om die bestaande orde goed te praat of liries-optimisties daaroor te raak nie. Inteendeel, hy gebruik dit juis as ’n soort kritiese utopie waarmee bestaande kragte, strukture en tendense bevraagteken kan word.

Alexander sien naamlik ’n sterk rol vir die staat in die beskerming van taaldiversiteit dmv beleidmaking en wetgewing. Hy is dan ook telkens een van die eerstes om te protesteer as Afrikaans in onderwysinstansies, die parlement of die howe afgeskaal en die oorheersing van Engels in die openbare lewe verder gekonsolideer word. Waar sy visie van die Oranje-opsie verskil, is dat hy die beskerming en bevordering van tale nie as vanselfsprekend met die idee van afsonderlikheid of “eie ruimtes” verbind nie.

Laat ons konkreet wees deur na ’n voorbeeld te verwys.

Volgens die Oranje-opsie moet daar vir elke taalgemeenskap — of dan ten minste vir die wat dit wil hÍ, soos die Afrikaners — skole en universiteite wees waar hul taal die uitsluitlike medium van onderrig is en waar slegs mense welkom is wat bereid en in staat is om daardie taal te gebruik.

Alexander, daarenteen, bepleit tweetalige instellings en die leer van minstens drie amptelike tale op skool. Daarmee wil hy ruimte maak sowel vir moedertaalonderrig en kultuuroordrag (die systrome) as vir interaksie en integrasie oor taal- en kultuurgrense heen (die hoofstroom).

Die grondliggende idee is dat een identiteit nie ’n ander hoef uit te sluit nie, dat mense met meer as een kollektiwiteit kan identifiseer en aan meer as een tradisie kan deel hÍ, en dat meer as een taal in dieselfde politieke en institusionele ruimte geakkommodeer kan word.

Waar die Oranje-opsie die toekoms van Afrikaans afhanklik maak van die sukses van die stryd vir groepsgebaseerde minderheidsregte, maak die Garieb-opsie dit afhanklik van die sukses van die stryd vir die implementering van die taalbepalings in die Grondwet, wat in wese daarop neerkom dat alle tale wat tot en met 1994 amptelike status in ’n deel van Suid-Afrika geniet het, dit voortaan op nasionale vlak sal geniet. Die aansluiting by die Grondwet gee dit ’n sekere legitimiteit wat die Oranje-opsie (nog) nie in Suid-Afrika geniet nie. Potensieel kan dit ook op breŽ steun reken deurdat dit ’n appŤl doen op sterk rasse-, klasse- en etniese sentimente onder die meerderheid Suid-Afrikaners. Immers, veeltaligheid sal swartmense en arm mense bemagtig, elke taalgroep in die land tuis en trots laat voel ťn sodoende verhoed dat Afrikaners vervreemd raak van die nuwe Suid-Afrika.

Die Garieb-opsie open dus die interessante en opwindende moontlikheid dat Afrikaners ywerige bondgenote in die stryd vir Afrikaans onder alle skakerings, lae en tongvalle in die bevolking kan kry, omdat hulle hulself ook aanmeld as ywerige bondgenote vir ander tale en die rasse, klasse en etniese groepe wat hul daarmee identifiseer. Meningsopnames toon wye steun vir veeltaligheid onder alle taalgroepe in Suid-Afrika. My persoonlike ervaring in die Meertaligheidsaksiegroep — waarby Neville Alexander ook aktief betrokke is — is dat “andertaliges”, ook die jonger geslag onder hulle, inderdaad bereid is om skouer aan skouer teen die afskaling van Afrikaans te stry, terwyl ons saam stry vir groter erkenning van, en meer plek in ons openbare instellings vir, die Afrikatale.

By die eerste algemene jaarvergadering van die Meertaligheidsaksiegroep het Neville Alexander in die openingstoespraak gesÍ dat die oogmerk van diť groep moet wees om ’n “taalbeweging” op gang te bring, maar dan “’n taalbeweging wat nie ’n etniese beweging is nie, maar ’n beweging vir veeltaligheid”. Die etos van hierdie beweging het hy getipeer met die woorde “saam, nie apart nie”.

As die Garieb-opsie gekies word as die weg waarlangs en die rigting waarin vir Afrikaans gewoeker moet word, dan het dit verskeie implikasies. Dit beteken onder meer die volgende:

  1. Afrikaans behoort nie net aan Afrikaners of selfs “moedertaalsprekers” van Afrikaans nie, maar aan alle Suid-Afrikaners, waaronder etlike miljoene swartmense wat Afrikaans as tweede taal gebruik. Hierdie mense moet betrek word by enige “nasionale strategie vir Afrikaans”, soos deur byvoorbeeld die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), ’n onderafdeling van PANSAT, in die vooruitsig gestel word. Olga Sema, ’n afgetrede vakadviseur vir Afrikaans in Soweto, het onlangs by ’n FAK-kongres gesÍ dat sy, en ander soos sy, nie “derdetaalsprekers van Afrikaans” is nie, maar “Afrikaanssprekendes”.

  2. Daar sal net so hard vir ander tale as vir Afrikaans gewerk moet word, want juis dit is in belang van Afrikaans. Skakeling, koŲrdinasie en samewerking met ander organisasies wat vir die Afrikatale en vir veeltaligheid werk (en waarvan die meeste yweraars vir Afrikaans nie eers weet nie), is van kardinale belang.

  3. Afrikaners sal moet begin om ander tale te leer. Dit is net so belangrik dat ons kinders ’n Afrikataal sal praat as dat hulle Engels sal leer. Die eis dat drie tale op skool geleer word, is nie ’n aparte aangeleentheid nie, maar deel van die stryd vir Afrikaans. Elke Afrikaanssprekende moet minstens drie amptelike tale beheers.

  4. Die kompetisie is nie tussen Afrikaans en ander tale (selfs Engels) nie, maar tussen veeltaligheid en eentaligheid. Dit is op diť basis, en nie op grond van ras, taal of etnisiteit nie, dat die lyn in die sand getrek moet word.

  5. Histories Afrikaanse instellings moet minder doen om Engels te akkommodeer en meer om plek te maak vir die Afrikatale. Alles hoef nie oornag te gebeur nie, maar waar dit ook al moontlik is, moet ’n Afrikataal naas Afrikaans ingevoer word. Saam met andertaliges moet Afrikaners ook druk op Engelstalige instellings uitoefen om naas Engels plek vir ander tale te maak.

Toegegee, die Garieb-opsie konfronteer ons met ’n ideaal wat eintlik geen presiese parallelle in die geskiedenis ken nie. Daar is Switserland, waar die nasionale identiteit nie met een taal saamhang nie, maar juis gebaseer is op die gesamentlike verbintenis tot respek vir al die tale van die land, maar in Switserland word tale hoofsaaklik apart op kanton-basis geakkommodeer.

Die naaste voorbeeld is miskien IndiŽ, waar, naas Engels en Hindi as nasionale tale, onderrig ook op streeksvlak deur medium van die streekstale en selfs op plaaslike vlak deur die plaaslike tale gegee word. Anders as IndiŽ, wil Garieb egter nie een of twee tale in onderskeiding van die ander as nasionale taal uitsonder nie. Hier sal Suid-Afrika nie net moet volg nie, maar ook moet lei, sodat ander eendag na ons kan verwys as ’n voorbeeld daarvan dat amptelike veeltaligheid in ’n eenheidstaat wel kan werk. Dit is ’n groot uitdaging, maar een wat ek glo die potensiaal het om Suid-Afrikaners oor ’n wye spektrum, insluitend Afrikaanspraters, te inspireer en agter ’n gedeelde ideaal saam te snoer.

DŠŠr is nou vir jou ’n idee ...


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.